DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 46

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 44 Die sesde gordelpaar, ooreenstemmend met Uranus. Beskouing van hierdie planeet 1. Reeds by die beskrywing van die vyfde gordel is vermeld dat die waterring deur 'n hoë, in 'n taamlik reguit lyn deurlopende bergwand begrens word. Hierdie bergwand is tegelyk ook die begin van die sesde gordel, beide aan die noorde- sowel as aan die suidekant; die berge aan die suidekant is slegs minder steil as aan die noordekant. 2. Hoe hoog is hierdie bergwand eintlik? Die baie steil gedeelte verhef homself net so tien myl bo die waterspieël. Na hierdie steilte rys die ringgebergte egter met ietwat minder steil hellings, egter nie omlaag nie, maar nog verder omhoog tot 'n hoogte van twintig Duitse myl bo die steil wand. Wanneer hierdie helling haar hoogste punt bereik het, loop die ringgebergte aan die ander kant die sesde gordel in, heel geleidelik afdalend, sodat die val van die verskillende, dikwels verskeie myl breë bergrante oor 'n afstand van 'n myl skaars tweehonderd vadem bedra. 3. En so loop die gebergte heel geleidelik afwaarts tot by die volgende watergordel. Slegs hier en daar verhef daar weer aansienlike heuwels hulleself, wat dan natuurlik steiler afloop. 4. So is die hele sesde gordel dus gevorm, wat derhalwe tot by die hoogste gedeelte bewoonbaar is, wat by geen enkele ander gordel die geval is nie. 5. Dat ook die ooreenstemmende suidelike sesde gordel die vorm het, hoef nouliks vermeld te word; julle moet dit egter nie as presies simmetries voorstel nie, maar slegs in die algemeen. Want in elke gordel is verskillende soorte bergreekse, groot bergvlaktes, mere, riviere en strome en tewens ook vele en baie groot watervalle, wat in beide die gordels verskillend is en wat nou eers hier, dan weer daar voorkom, sonder om daarby simmetries ooreen te stem. 6. Die totale breedte van hierdie land, van die hoogste tot by die laagste deel daarvan, beloop ruim drieduisend myl, en die watergordel is iets meer as 'n duisend myl breed. So het ons nou die geografiese gesteldheid beskryf van die gebied waarop ons onsself sal begewe. 7. Om nou egter die gesteldheid en die bestemming daarvan des te deegliker te leer ken, sal dit ook hier nodig wees om eers 'n blik op die planeet te werp wat met hierdie gordel ooreenstem. 8. Afgaande op die voorafgenoemde volgorde, sal julle wel maklik kan verstaan dat hierdie gordel met geen ander as met die planeet Uranus ooreenstem nie. Ons sal dan ook eers hierdie planeet ietwat breedvoerig beskou. 9. Die afstand en grootte van hierdie planeet kan elke almanak julle vertel; dit is egter die mins belangrike vir die doel, waartoe ons die planeet enigsins in oënskou wil neem. Maar die allerbelangrikste is dat ons ’n idee daarvan kry, hoe en waarom hy so gevorm is. 10. Die volume van hierdie hemelliggaam oortref die van julle aarde wel met so ’n duisend keer. Hieruit kan al afgelei word dat die oppervlak daarvan aansienlik groot is. Uranus kan dan ook baie goed as planeet van nagenoeg die eerste orde beskou word. Die bewoonbare land daarvan is, net soos op Saturnus, merendeels rondom die ewenaar, want die poolstreke is vanweë die te groot koue wat daar heers, geheel en al onbewoonbaar. Maar die gebiede rondom die ewenaar het voortdurend 'n heel aangename klimaat en is heeltemal bergagtig. 11. Geen enkele van al die planete wat julle tot nou toe leer ken het, het soveel vuurspuwende berge soos hy nie; veral die noordelike en suidelike oewers van die bewoonbare landstreke by die ewenaar word begrens deur 'n feitlik ononderbroke ring van vuurspuwende berge. Die meer na binne geleë landstreke daarenteen het maar selde vulkane en in plaas daarvan taamlik baie vlak en goed bewoonbare grond. 12. Die plantegroei van die landstreke is buitengewoon weelderig. Die vernaamste kleur van die plante is rooierig blou, terwyl die kleur van die bloeisels gewoonlik óf van wit na liggroen, óf van wit na ligblou oorgaan. Heel afwisselend is die plantegroei hier egter nie, en nog minder ryk aan spesies, maar des te weelderiger en reusagtiger groei alles wat maar op die bodem voorkom. 13. Net soos die planteryk, bly ook die diereryk, wat rykdom aan soorte betref, sterk agter die rykdom van ander planete, maar die min diersoorte wat daar beide in die waters sowel as op land en in die lug voorkom, is buitengewoon kragtig en gewoonlik reusagtig groot. Klein diere, soos wat byvoorbeeld in die ryk van die insekte en wurms by julle voorkom, vind mens nêrens daar nie, behalwe die vlieg, wat presies so lyk soos by julle. 14. Die mense is taamlik groot; die man meet ongeveer agt vadem en die vrou byna sewe. Hul karakter is egter heel onstuimig en heftig; daarom beter julle dit nie teen hulle opneem nie. Hulle is buitengewoon stoutmoedig en het 'n baie ondernemende gees. Hulle vermy geen enkele gevaar nie en vrees vir die dood is by hulle heeltemal vreemd. 15. Daarom moet hulle ook steeds met alle moontlike middele stewig in toom gehou word, sodat daar uit hul dikwels oordrewe deug, nie so maklik 'n ernstige ondeug sou kan ontstaan nie. 16. Ook die geeste van die gestorwenes van hierdie planeet moet in streng afsondering gehou word, want in 'n konflik met ander geeste behaal hulle gewoonlik die oorwinning. 17. Wie by iemand niks bereik met die innigste, alles-opofferende liefde nie, moet maar sien om homself te red, want via die weg van die wysheid is hulle heeltemal ontoeganklik. Wanneer iemand hulle egter deur liefde gewen het, kan hy ook in elke opsig van geluk spreek, want hulle trou en volharding is ook net so groot en onversetlik, en kan deur geen enkele beproewing versteur word nie. 18. Daarom is al hul voorskrifte ook uiters eenvoudig en uitsluitlik beperk tot die liefde. Wat die liefde hulle ingee, dit doen hulle ook, en wel met soveel volharding, dat niks hulle van 'n taak waaraan hulle eenmaal begin het, daarvan sal weerhou nie. ’n Mens sou hulle geheel en al moet vernietig, as ’n mens hulle onaktief sou wil maak. 19. Om julle enigsins 'n idee te gee van die volharding van hierdie mense, sal Ek julle 'n klein voorbeeld daarvan gee. 20. Veronderstel dat iemand met 'n bepaalde taak begin het, waarby hy halfpad deur die dood verras word en dan natuurlik as gees en siel sy liggaam moet verlaat. Dink julle dat hy as gees weg te kry is van die plek waar hy halfpad deur die bemoeienis, sy liggaam moes verlaat? Op geen enkele manier nie, want as gees neem hy die werk weer op en gaan nie weg voordat die werk voltooi is nie! 21. Om hierdie rede moet ook aan die geeste van hierdie planeet, na die dood van hul liggaam, 'n natuurlik vermoë om te handel gelaat, totdat 'n werk wat eenmaal begin is, voltooi kan word, anders sou so 'n gees, as gevolg van sy vrye wil, tot in ewigheid nie van hierdie plek weggekry word nie. 22. So is dit dus gestel met die volharding van die lewende mense op hierdie planeet. As daar sou gesê word: Vanaf hierdie hoë bergtop tot by die volgende moet daar 'n brug gebou word, dan sou die inwoners, indien hulle hierdie projek aangeneem het, nie rus alvorens die twee bergpieke deur die beplande brug verbind is nie. 23. Daarom is sulke gedurfde strukture ook op geen enkele ander planeet te vinde as juis op hierdie een nie. Wat stel julle piramides van Egipte en al julle sogenaamde wonders van die wêreld voor, vergeleke met die mees reusagtige argitektuur waarvan die mens hom op hierdie planeet bedien ?! Om 'n nog beter begrip daarvan te kry, sal Ek julle nog 'n paar klein voorbeelde gee. 24. Stel jou net voor dat die inwoners van hierdie planeet hulself op julle aarde, en hulle hulself by name in julle land* sou bevind. ’n Paar van hulle sou egter 'n reis gemaak het na Switserland; daar het hulle 'n gletser gesien wat hulle besonder goed beval het. Die beeld van die gletser het so ’n diep indruk op hulle gemaak, dat hulle dit voortdurend voor hulself sien. Wanneer die twee reisigers nou weer terugkeer, word hulle dadelik baie liefdevol deur die ander gevra wat hulle op hierdie reis as besonder besienswaardig opgemerk het en of hulle van plan is om dit ook te verwesenlik? Dan word die geliefde voorwerp dadelik deur beide die reisigers beskryf en naderhand op panele geteken. As dit dan eenmaal geteken is, dan is dit al as’t ware ’n beëdigde belofte dat so berg ook in 'n ander omgewing opgerig moet word. Vir daardie doel word dan onmiddellik beslag gelê op byvoorbeeld julle Schöckel* met alle newe gebergtes, en nog dieselfde dag sou julle sien dat daar baie duisende hande in beweging gesit word en voordat daar tien jaar, volgens julle tydrekening, verloop het, sou julle 'n ware Jungfrau, 'n Wetterhorn of 'n Schreckhorn op die plek van julle beskeie Schöckel sien staan. *Stiermarke in Oostenryk *'n 1400m hoë berg ten noorde van Graz 25. Kyk, dit is 'n voorbeeld van hoe ver die inwoners van hierdie planeet die boukuns deurdryf! Ons sal nog 'n voorbeeld bekyk. 26. ’n Bewoner van hierdie planeet besit byvoorbeeld 'n stuk grond, wat natuurlik baie uitgestrek is. Dwarsdeur die stuk grond loop daar egter, irriterend genoeg vir hom, 'n taamlik hoë bergrug, ongeveer so groot soos julle Koralpe*. In daardie geval word daar dadelik besluit om die berg met al sy uitlopers óf vir die helfte af te grawe en alle klowe daarmee op te vul, of daar word, deur die berg in twee te deel, 'n deurgang met 'n breedte van 'n uur gemaak, sodat die grondbesitter heeltemal gelykvloers daardeur kan loop. Die materiaal wat by hierdie afgrawe vrykom, word gedeeltelik gebruik om die stuk grond af te grens, gedeeltelik ook om daarmee ander bergklowe af te seël. * 'n 2000m hoë gebergte ten suidweste van Graz 27. As so ’n grondbesitter dit egter aangenaam en doelmatiger vind, dan lê hy oor die hele berg 'n pragtige weg aan en verfraai dit aan weerskante met die skitterendste piramides en ander versierings wat vir hom welgevallig is. Die weg mag egter nie, soos by julle op aarde, kronkelig wees nie, maar moet altyd volkome reguit loop. Probeer maar net om 'n reguit pad oor 'n berg aan te lê; dan sal julle spoedig merk met watter koste en met welke afskuwelike arbeid en moeite vir julle, die aanlê van so `n weg gepaard sou gaan. 28. Slegs vir die inwoners van Uranus is dit eintlik 'n welkome aangeleentheid, want hoe moeiliker 'n spesifieke terrein te bewerk is en hoe groter die krag en die uithouvermoë moet wees om die werk te volbring, des te groter is die begeerte om hierdie werk te doen. 29. So is hul huise ook deurgaans nouliks vir julle te begrepe reusagtige monumente van boukuns. Dink julle dat 'n Uranus-bewoner genoeë sou neem met ’n huis wat van stene gebou is, soos die huise op julle aarde? Dink nie eers daaraan nie, want daar sou julle gesegde "Hy moet weer iets besonders hê!' wel heel goed van toepassing wees. 30. Om sy huis te bou, soek 'n bewoner van hierdie planeet naamlik 'n berg uit, wat uiteraard 'n volkome gesonde gesteente moet hê. Dadelik word die berg rondom tot 'n kegel afgeskuins. Vervolgens word daar deur honderde hande gelyktydig groot beitels en stewige hamers opgetel waarmee so ’n berg dan omvorm word tot 'n woning, en wel op geweldig grasieuse wyse, volgens die smaak van hierdie inwoners. 31. So woonhuis het dan ook verskeie verdiepings, wat deur stewige, breë trappe met mekaar verbind word. En rondom elke verdieping moet daar aan die buitekant sterk galerye rondom loop. ’n Op hierdie manier voltooide huis lyk dan, natuurlik op vergrote skaal, ongeveer soos die toring van Babel, soos wat julle hom sou teken. Julle moet egter nie dink dat elke woonhuis daar so lyk nie, want daar het elkeen werklik 'iets besonders’. 32. Die mees indrukwekkende is egter hul tempels, want daarvoor word op heel verskillende plekke baie besonderse geëiende bergreekse gebruik. In hierdie opsig is die inwoners naamlik van mening dat Ek aan die een of ander gebergte 'n besonder welgevalle sou hê, wat hulle herken aan die feit dat 'n dikwels wel tien myl lange bergreeks baie min gesplete is. 33. So ’n bergreeks, egter altyd net die boonste helfte, word dan sondermeer tot 'n tempel van God omskep, want die tempel ter verheerliking van God moet altyd veel hoër staan as enige huis. Die dakke van sommige tempels is so hoog, dat hulle selfs by die ewenaar, waar dit steeds netso warm is as in die hoogsomer by julle, met ewige sneeu en ys bedek is. 34. Uit hierdie weinige voorbeelde kan julle wel aflei wie se geesteskinders die inwoners van hierdie planeet is. Hoe pragliewend hulle egter ookal in hul strukture is, so eenvoudig is hulle wederom in hul ander sedes en gewoontes. Ook hul klere en kos is hoogs eenvoudig. 35. Hul vernaamste wet hou in dat mense mekaar wedersyds in alles en sonder enige bedenking sal bystaan. 36. Die bewys van die hoogste moontlike eer aan God is die enigste grondslag van hul godsdiens. En hierdie leer is in hierdie opsig so eenvoudig as wat hulleself is. Dit lui as volg: Wat ons ookal doen, dit doen ons ter ere van God! In die gees eer ons God wanneer ons onsself as gering beskou, mekaar almal in liefde omvou en mekaar in alles bystaan. Ons eer God daadwerklik wanneer ons ons kragte gebruik om dit wat Hy ons aangewys het, te veredel en tot Sy eer te voltooi. Dit is dan ook die hele godsdiens van die inwoners van hierdie planeet. 37. In die tempels word nie gebid soos by julle nie, want hierdie tempels is in werklikheid niks anders as, enersyds monumente van goddelike grootheid en verhewenheid, maar andersyds ook pragtige, algemene vergaderplekke, waar beraadslaag word oor die een of ander groot onderneming ter ere van God. 38. Priesters en ander leiers van die volk is hier nie, want hierdie take neem die oudste huisvader van die familie, wat soms uit verskeie duisende persone bestaan, op homself. 39. Aan die huwelike word hier streng die hand gehou. Die voortplanting van die mens gebeur eweneens deur die byslaap. 40. Die lyke van die oorledenes word verbrand en hul as word in sierlike houers gesit en daarna in die tempels geplaas. 41. Die manlike bewoners onderhou voortdurend die kontak met die geeste, egter nooit sigbaar nie, maar hoorbaar. Die vroue het herhaaldelike visioene. 42. Die daaglikse aktiwiteite van die vroue bestaan uit die versorging van die kleding en die daaglikse maaltye. Die manne verrig ander werke en is tewens bekwame metaalbewerkers en boumeesters. 43. Op hierdie planeet word ook geskryf en geteken; vandaar dat die mense ook 'n geskrewe woord het, waardeur die mense My ook ken in menslike gestalte as Skepper en Heer van hemel en aarde, dit wil sê, van hulle aarde. Hulle weet ook dat Ek op 'n soortgelyke aarde liggaamlik as mens geleef het. Omdat hulle daardeur van mening is dat die planeet wel die hoogste hemel moet wees, vermy hulle dit te alle tye om die posisie van hierdie planeet te bepaal, omdat hulle andersins goddelike verering aan die planeet sou betoon. 44. Dit is in die algemeen wel alles wat julle voorlopig oor hierdie planeet moet weet, waarby julle van hierdie kennis kan baat by die oorgaan na die ooreenstemmende songordel. 45. Dat hierdie planeet origens nog vyf mane en rondom die ewenaar ’n digte dampkring het, wat deur julle sogenaamde sterrekundiges as 'n soort Saturnus-ring aangesien word, hoef eintlik nie hier vermeld te word nie, omdat eerstens, die mane van 'n planeet tog nie in die sonnegebied, vir sovêr ons dit volg, opgeneem word nie. Die dampkring behoort egter tot die natuurlike sfeer van 'n planeet en het eintlik ook niks met die son te make in die raamwerk waarin ons die son beskou en ons 'n duidelike beeld van haar gesteldheid wil vorm nie. Derhalwe kan ons onsself dadelik na ons sesde songordel begewe.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205