DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 63

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 61 Die mense van Miron. Hul huise en dorpe 1. Die mense van hierdie planeet is nie so groot soos die inwoners van die planeet Saturnus nie, maar tog weer groter as die van die planeet Uranus, hoewel hulle onderling beduidend in grootte verskil. So is daar dikwels mense wat 'n lengte van veertig vadem, en ook mense wat dikwels skaars 'n lengte van ietwat meer as twintig vadem bereik. In hierdie opsig lyk die planeet 'n bietjie soos julle aarde, waar die liggaamslengte van die mense ook baie verskillend is. Dit is ook die geval by die vroulike geslag op ons planeet Miron. 2. Die liggaamlike vorm van beide geslagte is gewoonlik van groot skoonheid, hoewel daar ook hierin groot afwykings bestaan. Om ons van die gestalte van die mense van hierdie planeet kortliks ’n so volkome as moontlik voorstelling te kan maak, sal ons ons in ieder opsig by die middelklas hou, want vanuit daardie oogpunt sal alle moontlike sylyne dan tog maklik herken kan word. Ons sal dus eers die man met 'n lengte van dertig vadem en die vrou van ongeveer agt-en-twintig vadem in oënskou neem. 3. Hoe lyk die man? Hy het 'n taamlike ernstige, maar absoluut geen afstotende voorkoms nie. Sy ledemate is volkome manlik, soos van 'n volmaakte man by julle. Op sy kop het hy lang, meestal krullerige hare, wat donkergroen van kleur is. Hy het 'n wit velkleur, wat hier en daar ietwat in liggroen oorgaan. Die lippe is weliswaar rooi, maar het ook 'n ietwat groenerige glans. So is die oë ook nooit blou of grys nie, maar varieer in die kleur groen. Die volle baard van die man is ook groen, maar net 'n bietjie ligter as die hoofhare. Ook die naels aan die vingers is groen, en lyk soos heldergroen glas, terwyl die vingers gewoonlik volkome wit is, wanneer hulle ten minste skoongehou word, wat op hierdie planeet origens gewoonlik die geval is. Die tande is blouagtig soos perlemoen by julle en flikker baie sag in verskillende kleure. Die stem van die man is baie welluidend, maar gewoonlik baie laag, sodat die gewone spreektoon hom voortdurend rondom die laagste gebied van julle kontratone beweeg, en wel met so 'n sonore sterkte vir julle ore, dat julle op 'n afstand van twee of drie myl nog baie goed 'n soort donder sou hoor. Hoewel ook die vrou taamlik laag spreek, is haar stem tog aangenamer en in ’n sekere sin gladder as die van die man. Hulle is dus in besonder vir die manlike geslag van hierdie planeet buitengewoon aantreklik, en des te meer omdat hierdie planeet in 'n sekere sin die eintlike vaderland van die toonkuns is. Mense beoefen hierdie kuns nie net met verskillende, soepel menslike stemme, waarby die vroulike haar natuurlik die meeste onderskei nie, maar ook met die mees uiteenlopende musiekinstrumente. 4. So het ons dus gesien hoe die man lyk, en wel in ongeklede staat en ons sal nou ook die vrou ongekleed beskou. Nou sou iemand dalk kan vra: Waarom bekyk ons nie ook die klere saam met die gestalte nie? Die rede is dat die klere hier byna net so verskillend is soos by julle, en daarom kan daar nie hier, soos op 'n ander planeet, 'n vaste vorm bepaal word nie. Ook hier dra die manne (na gelang van die verskeidenheid van land en gebruik) verskillende soorte kledingstukke, mantels, beenbekleding, skoene en hoede, netsoos die vrou. As julle dus 'n geklede man of vrou voor julle wil sien, dan moet julle hom of haar wel self aantrek, wat trouens nie al te moeilik vir julle sou wees nie. Vir daardie doel hoef julle maar net die beter Europese en Asiatiese nasionale kleredrag, natuurlik wel in groter dimensies, op die inwoners van hierdie planeet oor te bring en dan staan hulle ook goed gekleed voor julle! Noudat ons dit weet, kan ons gevolglik en sonder bedenkinge ’n ongeklede vrou van naderby beskou. 5. Die vrou is gewoonlik buitengewoon mooi, ja soms van wonderbaarlike skoonheid. Uit haar verskyning spreek 'n wonderbaarlike soetheid en bevalligheid; ronding, sagtheid en tederheid ontbreek byna nooit nie, wat die in die oog springende kenmerke van die vroulike liggaamsbou is. Die vel is veral teer en oogverblindend wit, ongeveer soos pas gevalle sneeu op 'n heuwel by julle, net die wange gaan gewoonlik oor in ’n sagte, groenerige rooi. Die hare is swartgroen en in die lig skitter dit soos 'n pouveer by julle; ook die donsige hare onder die arms is opvallend en glinster soos diamante, asook die skaamhare. Die naels aan die vingers is ’n uiters aanskoulike groen en skyn soos fyn gepoleerde glas, wat op die buitengewone wit, ronde vingers van die vrou van hierdie planeet buitengewoon goed lyk. 6. Die gesig van hierdie vroue het gewoonlik die vorm wat julle, volgens julle maatstawwe, tot die mooiste reken. 'n Gladde, hoë voorhoof, taamlike swaar wenkbroue, groot, baie lewendige oë, waarby in die pupille 'n vurige groen met soms rooi deurbrekende strale speel. Die neus is reguit en oral sag afgerond. Ook die mond het die korrekte verhouding tot alle oorblywende dele. Die ken is nie te skerp en nie te breed nie, maar het meer 'n volmaakte ovaalvormige vorm met 'n effense inbuiging in die middel. 7. Die nek is middelmatig lank en rond; die nek is volmaak, sodat daar nêrens 'n uitstekende knop te siene is nie. Die boesem is buitengewoon gevul en onder die boesem word die vrou slank tot by die heupe; daarna neem sy weer in omvang toe en is om die heupgewrigte netso breed soos by die skouers, dit wil sê, van die een skouerlyn via die rug na die ander. Dat die voete ook die korrekte verhouding het, hoef nouliks vermeld te word. 8. Nou kan julle die vrou na behore klee, waarna julle 'n beeld van so baie welgevormde vroumens kan maak. Julle moet egter geen Paryse modepop van haar maak nie, maar soos gesê, klee haar volgens die een of ander nasionale kleredrag. 9. Nou het ons die mens voor ons. Hierdie mens het egter nog geen woning nie. Dit sal dus nodig wees om vir hom ook 'n woning te gee, want die mense van hierdie planeet woon netso in huise soos julle. Dit is dus nodig om te weet hoe hierdie huise lyk, of hulle apart staan of gesamentlik soos in die dorpe by julle, digby mekaar; dan het ons al ons mooi en groot mense van hierdie planeet van 'n woning voorsien. 10. Hoe lyk die huise? Hulle lyk baie soos die huise by julle, maar hulle is egter nooit multiverdieping nie, maar is enkelverdieping en die mure is nooit hoër as hoogstens anderhalf keer die lengte van die man nie. Die dakke lyk ook soos die dakke van julle landhuise, hulle is egter net ietwat spitser, ongeveer soos die dakke van Gotiese gebedshuise (kerke). 11. Een huis het nooit meer as drie kamers nie: Een vir die manlike, één vir die vroulike geslag en één, gewoonlik die middelste, vir die algemene omgang met mekaar. Hoe groot is hierdie kamers? In verhouding tot die mense van hierdie planeet nie te groot en nie te klein nie, maar wel so groot dat daar in elkeen 'n geselskap van honderd mense met gemak gehuisves kan word. 12. Van watter materiaal is die huise gebou? Deurgaans van gekapte klippe. Die vensters van die kamers is hoog, maar nie al te breed nie, wat ook voorsien is van 'n elastiese, natuurlike glas, 'n soort materiaal soos julle mica, wat gewoonlik in metaalrame geset is. Die kleur van hierdie glas is verskillend, na gelang die vrye werksplek van die natuur dit lewer. Die inwoners het weliswaar ook kunsmatig vervaardigde glas, maar dit gebruik hulle vir baie ander doeleindes, waaroor later nog gespreek sal word. 13. Behalwe woonhuise is daar ook nog ander geboue opgerig wat bestem is vir beide die onderdak bring van hul huisdiere, asook vir allerlei ander huishoudelike doeleindes. En verder is daar vóór die woonhuise ook nog kinderhuise met nie meer as één kamer gebou. Hierdie huise is net so hoog soos die woonhuis, maar is natuurlik in omvang kleiner. 14. Daar hoef nog net vermeld te word dat die mense hier meestal in dorpe bymekaar woon. Daarmee het ons hulle op gepaste wyse gehuisves en ons sal die volgende keer hul verdere lewensomstandighede beskou

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205