DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 69

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 67 Lewensomstandighede en geestesgesteldheid van die inwoners van die sewende gordelpaar 1. Die maatskaplike verhoudings van die inwoners van hierdie gordel is, soos reeds gesê, feitlik dieselfde as op die ooreen¬stemmende planeet. Hier is net nêrens woonhuise te vinde nie en dus ook geen dorpe soos op die planeet nie. Wel woon die mense in sekere gebiede steeds in groepe bymekaar en maak gebruik van 'n algemene besit van die grondgebied, dit wil sê, dat die hele aansienlike groot gebied die eiendom van niemand in besonder is nie. 2. Van alle gewasse wat daar normaalweg van nature groei, mag almal na behoefte gebruik. Dit wat iemand ten gevolge van sy wil aan die grond kan ontlok, is ook sy persoonlike eiendom. Volgens die vriendskapsreëls wat by hulle geld is dit vir hulle vanself¬sprekend dat hulle van die selfgekweekte kos ten minste ’n derde deel aan die gemeenskap sal gee. Dit is ook die geval met die in besit neem dinge wat, soos julle sê, tot die 'toevaltreffers' behoort of waarvan julle sou sê: Dit lyk wel soos luilekkerland, want daar vlieg die gebraaide duiwe vanself in die mond! 3. Julle sal nog kan onthou dat die lug van die planeet Miron dikwels op wonderbaarlike wyse voedsel voortbring, wat maar net opgevang en daarna genuttig hoef te word. Nog sterker is dit die geval op hierdie gordel van die son, en veral op die noordelike. Omdat die poolstreke van die son juis die plekke is van waar die hele leër van haar planete ryklik voeding kry, kan julle maklik voorstel dat daar by sulke ryk gawes dikwels 'n groot aantal krummels oor die bergreeks wat om die poolstreke lê, in die sewende gordel verdwaal. En so beland daar vir die inwoners van hierdie gordel ook altyd iets om te snoep. 4. Dit is ook die rede dat die klimaat op hierdie gordel beduidend koeler is as die van die ander gordels. Die lug van hierdie gordel is konstant vol van allerlei vrugbare dampe, waaruit uiteindelik allerlei goeie dinge in fisiese manifestasies ontstaan, waarvoor dit vir die inwoners van hierdie gordel nie minder welkom is as die mannareën vir die Israeliete in die woestyn nie. Wat die lug dus maar oplewer, behoort aan diegene wat dit die eerste keer gevind het en dit dan in besit geneem het, maar hy sal altyd die helfte daarvan aan die gemeenskap laat toekom. Daaruit bestaan die maatskaplike reëls van hierdie inwoners dus. 5. Aangesien hierdie grootste mense van die son geen huise het nie, kan mens vra: Onder watter omstandighede woon hulle dan? Hulle soek op die heuwels wat behoorlik groot is, die plat en sagte stukke uit. Hierop laat hulle 'n digte soort gras groei, wat baie elasties is en dikwels 'n hoogte van verskeie vadem bereik. So ’n grasvlakte, wat dikwels één tot drie vierkante myl in beslag neem, beplant hulle rondom met hoog opgroeiende, reuse vrugtebome. So ’n vlakte, omring deur sulke bome, is dus die algemene woonhuis, waarvan 'n gedeelte deur die manne en 'n gedeelte deur die vroue bewoon word. Hierdie soort woonhuise, of beter gesê woonplekke, is nooit heeltemal reëlmatig van vorm nie, maar is aangepas by die gelykte van so 'n heuwel. 6. Die oorblywende land rondom so ’n heuwel, wat dikwels 'n oppervlak van agthonderd tot duisend vierkante myl het, is algemene grond, wat aan die inwoners van die woonvlakte behoort. 7. Wie is die belangrikste persoon in so `n geselskap? Die rangorde is dieselfde as op die planeet. Die ouers is alles vir hul kinders. Een van die oudstes word in belangrike kwessies geraadpleeg en sy raad word dan ook altyd stiptelik opgevolg. 8. Wat se verhoudings het sulke partygenote onderling? Buiten¬gewoon vriendskaplik wanneer hulle mekaar ontmoet. Hulle maak geen onderskeid volgens voorkoms nie en dit is allermins te vergelyk met die manier waarop die inwoners van julle aarde met mekaar omgaan, wat met hul donkerkleurige broeders handel dryf asof hulle diere is*. Inteendeel, op hierdie songordel word 'n mens deur iemand met 'n ander velkleur juis hoër geag as iemand met dieselfde kleur, omdat die inwoners glo dat die groot Skepper daarmee 'n nuwe bewys van Sy ontoeganklike wysheid wou gee. Daarom speur hierdie mense dan ook ywerig na of hulle dalk 'n aanduiding kan vind waaruit hulle te wete kan kom welke baie wyse bedoeling die groot, almagtige Skepper dalk met hierdie kleuring sou gehad het. Dit is die rede waarom hulle ook heel bedagsaam met so ’n anderskleurige praat, om ten slotte deur sy uitlatings op die innerlike wysheid se spoor te kom. Dan is ook elke woord uit die mond van so 'n anderskleurige soos ’n gevonde skat, wat aan alle kante versigtig beskou, ontleed en tot in sy diepste kern geweeg moet word. *Lees die “Die 12 ure” van Jakob Lorber aangaande Amerikaanse slawehandel vanuit Afrika 9. So is ook die verskillende lengtes van die mense op hierdie gordel 'n belangrike rede vir wedersydse agting, want dit word presies so beskou as al die verskillende kleure. 10. Is die inwoners van hierdie gordel ook so bedrywig soos van die planeet? Nie soseer nie. Want baie dinge wat vir die inwoners van die planeet nodig was, het hulle geen behoefte aan nie. Omdat hulle geen huise en selfs geen klere het nie, val die talle materiële nywerhede ook daarmee weg. 11. Maar op die gebied van die dieper, geestelike kennis en wetenskap is hulle weer buitengewoon meer superieur as die inwoners van die planeet. Afgesien van hul sterk wil, het hulle geen ander instrumente as beide hul hande en hul gesonde sintuie nie. 12. Hoe is dit dan met die musiek? In materiële opsig, soos julle sê, baie sleg. Hulle besit naamlik geen musiekinstrumente nie en kan met hul stem, wat veels te laag is, niks voortbring wat ook maar enigsins na musiek klink nie. Des te musikaler is hulle egter in hul gees en het as gevolg daarvan die spesiale, innerlike vermoë om vir mekaar hul geesteskonserte netso hoorbaar en voelbaar mee te deel, as wat julle deur middel van woorde met mekaar gedagtes kan wissel. 13. Maar hoe vind dit plaas? Op nagenoeg dieselfde manier as baie sogenaamde mediums by julle baie duidelik die klanke en harmonieë kan hoor wat hul sogenaamde magnetiseur in homself dink en voel. Nou kan julle wel vra: Hoe is dit nou moontlik? Op hierdie vraag antwoord Ek julle as volg: Die geestelike mens het net sulke ore en alle ander sintuie as die natuurlike mens. Want soos wat die natuurlike mens met sy natuurlike sintuie die gesang van 'n ander mens kan hoor, kan die gees met sy baie verfynde sintuie dit onvergelyklik volmaakter hoor. Daaruit blyk tog duidelik dat mense, sonder instrumente en sonder die materiële vermoë om te sing, ook baie bekwame musici kan wees. As dit nie so sou gewees het nie, sou daar by julle ook nooit musiek kon ontstaan het nie, want waar sou die eerste musikant dit vandaan gekry het, as sy gees nie reeds 'n bekwame musikant was nie? Uit dit wat gesê is, kan julle nou ook baie goed verstaan hoe ons inwoners van die sewende gordel sonder musiekinstrumente en sonder die gebruik van hul stemme, uiters voortreflike musici kan wees en mekaar op so 'n manier, My ten diepste lofend, vreugde kan berei. 14. Die musiek van die gees moet immers altyd ooreenstem met die diepste innerlike lof wat 'n gees My vanuit sy mees innerlike, hemelse diepte kan bring, soos ook die 'man na My hart'* en nog ander sangers wat My eer besing het, gedoen het en soos alle engelgeeste in die hemele altyd doen. As die musiek egter beoefen moet word soos by julle, sou dit vir baie musici beter gewees het as hulle op die openbare dans aande met ratelslange sou musiekmaak, in plaas van met hul mooiklinkende musiek¬instrumente, waarvan die klanke, geestelik gesien, niks anders is nie as 'n magtige basuingeskal van die Satan tot die ewige dood! Maar genoeg daaroor! Tot welke ontaarding die musiek vandag by julle ontaard het, weet julle immers self baie goed. *koning Dawid uit die Bybel 15. Hoe is dit gesteld met die kennis van die astronomie by die inwoners van hierdie gordel? Baie goed en vergelykbaar met dié van die musiek. Met hulle oë sien hulle weliswaar geen enkele ster aan die uitspansel nie, omdat hierdie gordel die enigste is wat voortdurend in damp gehul is, maar des te duideliker sien hulle dit in die gees. Hulle is so vaardig daarin dat hulle byna ewe bekend is met vêrafgeleë wêrelde as met hul eie gordel. 16. Hulle weet selfs, maar ook nie almal nie, maar die wysstes onder hulle baie seker, hoe dit met die totale sonplaneet gesteld is en welke kosgangers sy almal op haar oppervlak, in haar inwendige en ook in die sfere daarbo huisves en dra. Maar hulle weet ook dat hulle met hul liggame solank daar moet bly, totdat hul gees bestem is om daardie liggaam te dra. So het die inwoners van hierdie gordel dus regtig nie op hul agterkoppe geval nie en is nie so onbeholpe as wat hulle op die eerste oogopslag in hul reusagtig groot naaktheid gelyk het nie. 17. As iemand nou sou wil vra: Maar waarom is hierdie mense volgens liggaam so ongelooflik groot, terwyl hulle gees, in al sy volmaaktheid, tog niks groters laat sien nie as 'n ander volmaakte gees van 'n, liggaamlik gesien, onvergelyklik veel kleiner mens? Kyk, dit is weer 'n vraag, waarop in plaas van 'n antwoord, maar net sekere ander vrae gestel kan word. Sou julle nie ewegoed kan vra: Waarom is 'n eikeboom so groot, terwyl hy so ’n onbeduidende vrug dra?, En waarom is die appelboom wat die grootste appels dra, nie net in verhouding tot die eik, maar selfs in verhouding tot sy soortgenote, gewoonlik die kleinste nie? Verder kan julle ook nog vra: Waarom het die groot olifant in verhouding tot ander diere die kleinste oë, en waarom het 'n vlieg en nog ander, soortgelyke vlieënde insekte in verhouding tot hul geringe omvang die grootste oë? 18. So sou daar nog baie van hierdie ietwat pittige teenvrae gestel kon word, maar mag hierdie voldoende wees vir julle en dit ook vir vele ander aanskoulik sal maak dat Ek 'n hele boel eienaardighede het waaroor Ek nie altyd geneë is om rekenskap van af te lê nie. Veral nie teenoor die mense in hul natuurlike toestand, waarin hulle, vanuit My hoogs eie en weloorwoë gronde, nie vir hoër wysheid toeganklik is nie. Wanneer hierdie toestand van beproewing egter heeltemal ten einde sal wees, dan is daar nog genoeg tyd om tot in alle ewigheid die volmaakte geeste in allerlei wysheid te lei. Daarom sal ons ook ons groot mense op hierdie gordel voorlopig maar laat soos wat hulle is. Eendag sal daar wel vir die gees 'n gepaste tyd aanbreek waarop hy dit alles sal leer ken. 19. Aangesien ons nou die maatskaplike omstandighede van die inwoners van ons sewende gordel heeltemal bekyk het, sal ons onsself die volgende keer tot hul godsdiens wend, waarby nog heelwat skynbare teenstrydighede by die beskrywing van die son vereffen sal word. Genoeg dus vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205