DIE MELGISEDEK ORDE
VERSKEIE SKRYWERS

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

INNERLIKE VREDE `N NOODSAAKLIKE VOORVEREISTE VIR `N MELGISÉDEKPRIESTER 22 Die volgende gedeeltes is nou onlangs deur ons Vader gedikteer aan iemand hier op die grond van Dogter van Sion, en moet as `n noodsaaklike voorvereiste beskou word vir enigiemand wat strewe na opneming in hierdie wonderbaarlike orde. Dit help alles niks as ons die Melgisédek-orde in die Skrifte kan herken, ons die profesieë bestudeer, maar ons mis dalk om opgeneem te word in hierdie Liefdes– en Vredesorde van ons dierbare Vader. Daarom is dit allernoodsaaklik dat ons die innerlike Vrede en Liefde nastreef in ons harte, want eers as ons dit goed bemeester het, is ons gereedgemaak om in Sy Melgisédek-orde in te gaan. Soek dus nie hierdie orde buite u nie, maar soek na hierdie orde binne uself. Soos geopenbaar deur ons Vader aan Bertus Hanekom: Voorskrif vir vrede 22/11/2007 om 20h00 Die wêreld is naarstigtelik besig om hom voor te berei vir selfvernietiging – ‘n oorlog om alle oorloë te oortref. Wapenarsenale word steeds gedugter en groter, meer gesofistikeerd om uit te wis en te verwoes. Kyk, julle leef in vyandskap met mekaar; julle loop met blinde woede deur die lewe; julle troetel oogklappe, sodat julle nie miskien sal sien wat tot vrede lei nie. Bure leef in kwaai vriendskap; huise en huwelike en harte word vernietig deur onvrede en ontrou. In jou diepste wese is jy in ‘n stryd met jouself en met My. Hoe gevoeliger julle vir die stem van My word en hoe sensitiewer julle vir die influistering van die gees is, hoe duideliker sal die dinge word wat vir julle vrede nodig is. Julle moet die heerskappy en koningskap van My die Vader erken. Omdat julle My nie wil aanbid nie, neem minderwaardige dinge My plek in. Dan word julle uiteindelik soos die dinge wat julle liefhet en dien. Kyk, Ek het nog altyd in omgang met julle, die sekerheid gegee dat julle vir My saak maak. Om vrede te kan ken, moet julle My ernstig opneem. Julle moet julle ongeordende lewens en gesindhede onder My heerskappy plaas; julle gedagtes, woorde, dade en ideale. Kyk, julle moet met inspanning die dinge najaag wat tot julle vrede dien. Vrede lê binne die bereik van elke mens en is nie net ‘n ydele droom nie. Voorwaar Ek sê vir julle, julle moet My volmaakte wil vir julle lewe soek, My wil aanvaar en gehoorsaam. Julle eie begeertes moet ondergeskik word aan My wil. Staan vir ‘n wyle as`t ware eenkant. As dit enigsins moontlik is, sonder jou af met My. Dit hoef net vir enkele minute te wees; maar doen dit. Bevestig net weer jou afhanklikheid van My en glo dat My vrede ook vir jou beskikbaar is, net vir jou om te neem. Laat hierdie lewensfilosofie stilweg jou lewe beheers. Jy sal sien dat spoedig sal jou moeë, gejaagde gees tot bedaring kom en My vrede sal soos ‘n verkwikkende reën jou lewe verfris. As jy nie liefde het nie, het jy ook nie vrede nie. Vrede is ‘n gawe wat Ek en Ek alleen aan jou gee. Ek verwag dat julle dit aan ‘n vredehonger wêreld moet deurgee. Met die koms van die langverwagte Messias en Meester, is die aarde oordek met die moontlikheid van goeie verhoudings, welsyn en geluk. Daarom die hemelse boodskap: ‘Vrede op aarde vir die mense in wie Ek ‘n welbehae het. ’ Daar lê egter ‘n oseaan van droefheid en teleurstelling in My woorde; ‘As jy maar net vandag wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. ’ Kyk, Ek bring die hemelse vrede op aarde in die harte van mense wat My toelaat om dit te doen. Die woord praat van die evangelie van vrede. Kyk, Ek bevestig dit self: ‘Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. ’ Met hierdie vrede moet julle op elke terrein van die lewe gaan leef en werk. Kyk, toe Ek My dissipels uitgestuur het, was My woorde aan hulle: ‘As julle in ‘n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis. ’ Hierdie Christus-vrede moet in julle harte heers; dit moet julle bewaar van alle magte van onvrede; dit moet julle inspireer om julle vir vrede te beywer; dan sal Ek, wat Die Vrede is, met julle wees. Hierop moet julle Christelike ywer toegespits wees: Om as kinders van die vrede met alle mense in harmonie in goeie orde saam te leef tot My eer. Waar daar geloof is, is daar liefde. Waar daar liefde is, is daar vrede; waar daar vrede is – daar is Ek, julle Vader, en waar Ek is, is daar geen nood nie en daar gebied Ek My seën. Beywer julle vir vrede met alle mense. Vrede op aarde. Amen Sjaloom! Vrede vir julle! 23. 11. 2007 om 00h06 Ek sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! Sjaloom – beskryf die ideale toestand in die lewe. Dit behels volheid, volkomenheid en harmonie. Dit is om te wees, eerder as om te besit. Om te wees wat Ek bedoel het jy sal wees. Wat jy waarlik is, is veel belangriker as wat jy besit. Kyk, jy word in die laaste instansie nie beoordeel aan jou besittings nie, maar aan die grootheid van jou gees. ‘n Sjaloom-mens is ‘n mens wat innerlike vrede, gemoedsrus, harmonie en vervulling ken. Dit is ook die verhouding wat tussen julle behoort te wees. Die sjaloom-vrede is ‘n gawe van My en Ek verwag dat julle dit aan ‘n vredehonger wêreld moet deurgee. Kyk, julle staan ook onder die opdrag van My, julle Vader, wat gesê het: ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. ’ Voorwaar Ek sê vir jou, liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar omhels. Eiréne: - Dit word gesien as ‘orde’. Kyk, Ek is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. ‘Waar eiréne heers, is elke ding op sy plek en funksioneer dit binne die wil van My. So moet alles ordelik en vredevol verloop. Eiréne is die groot gawe van My in die eindtyd. Daarin is vervat ‘Vrede op aarde’, wat gepaard gaan met die koms van die vleesgeworde Woord, Messias en Meester. ‘Soos die môreson sal Ek opgaan en uit die hoogte op julle afstraal, om lig te bring aan die wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om julle voetstappe te rig op die pad van vrede. ’ Voorwaar Ek is julle vrede! Ek het julle vrede bewerkstellig. Ek is die een wat ‘n einde maak aan vyandskap. In die plek van haatdraende mense, skep Ek ‘nuwe’ vredeliewende mense. Kyk, die muur van vyandskap het Ek weggeneem. Hierdie vrede stel julle dan ook in staat om in vrede met julle medemens te lewe. Kyk, julle word gesante van vrede. Hierdie vrede groei in julle as vrug van die Apartgestelde Gees. Julle beywer julle vir die dinge wat julle onderlinge vrede opbou en bevorder. Dit skep ‘n geestelike eenheid en samehorigheid wat noodwendig, onder My begeleidende hand, op vrede uitloop. Eindelik lei dit dan ook tot innerlike sielevrede, omdat ’n mens nou ook van binne ‘in orde’ is. Alles wat verkeerd en buite orde was, is uit die weg geruim en elke ding in julle lewe is in sy regte perspektief rondom My gerangskik. Dan het julle ‘n voorsmaak van die hemelse vrede, wat die eindresultaat is van eiréne – ‘vrede met julle!’ Amen Valse vrede 23/11/2007 om 20h35 In die lande waar aardbewings meer dikwels voorkom, is daar altyd voor ‘n aardbewing ‘n onwerklike stilte; maar dit is sinsbedrog. Dit skyn of die natuur op ‘n mistieke wyse gedemp is en asof die aarde die asem ophou vir die komende ramp. Die lug hang swaar van onheil; geen blaartjie roer nie; die voëlgesang verstom; die stilte van die kerkhof daal oor alles neer. Maar intussen staar huise, dorpe en stede, en duisende mense algehele uitwissing in die gesig. So is dit met die swye van My, julle Vader, oor die valse vrede wat in My Naam verkondig word. Baie interpreteer hierdie stilte van My verkeerdelik as vrede, maar dit sal gevolg word deur die vernietigende aardbewing van My oordele. Kyk, aan die Tessalonisense het die dringende waarskuwing gekom; “Wanneer die mense sê; ‘Alles is rustig en veilig’, sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ‘n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie”. Hoe word hierdie valse vrede dan omskep in My egte vrede, Gehoorsaamheid en ‘n toegewyde lewenswandel bring ware vrede; “vir die wat My wet liefhet, is daar groot sekerheid. ” Soos daar vrede in die natuur is wanneer alles volgens natuurwette verloop. So vind julle vrede wat in My volmaakte wil wandel. Daar is ‘n groot verskil tussen vrede en die dood, soos daar ‘n verskil is tussen ‘n kalm en ‘n dooie see. Die kalmering wat opium of dwelmmiddels bied, is spoedig uitgewerk en dan word die verslaafde weer die prooi van onvrede, die hunkering na die kwaad en die onvrede van ‘n skuldige gewete wat martel. Alleen by My vind julle ware onvervalste vrede, omdat Ek die bron daarvan is. Wanneer My vrede, deur Messias, julle deel word, leer julle die ware betekenis van die woord verstaan. Die Messias se dood en opstanding is die waarborg van julle vrede. Dit word aan julle bevestig deur My woord van vergiffenis, in antwoord op julle berou en belydenis. Dan leef julle van dag tot dag vanuit die egte vrede wat die ryke deel is van My, julle Vader se gelowige kinders. Dan kan julle met eerlikheid verklaar: “Alles is reg!” omdat julle in die regte verhouding tot My staan en daarom deelgenote van My vrede word. Kyk daar is ‘n bevrydende blydskap in die wete dat jy geloof en vertroue in My, die toets deurstaan het. “Vrede vir jou wat naby is. ” Onthou altyd hierdie woorde: Ek, die Vader, sal jou altyd liefhê en aan jou vrede gee. Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205