Laatreens vir die Dogter van Sion
DANIEL GROBBELAAR

Hoofstuk 110

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129.

Openbaring 110 - Woord op 08/10/19; 08H00

“MY kneg, EK het jou gebede tot MY gehoor en EK IS getrou om altyd jou en elkeen van MY kinders se gebede te beantwoord. EK IS WAT EK IS! Ja MY kneg, dit is droewig om te aanskou die liefdeloosheid en die eie-ek alleen gerigte eie-liefde. Meeste van MY kinders gaan om met hulle eie planne en doelwitte wat MY nie behaag en dus ook nie MY goedkeuring dra nie. Hulle fokus net om aardse prestasies te behaal sonder om MY enige dank te bring omdat dit EK is wat altyd sorg en seën. MY kneg, skrywe hierdie Woorde van MY, van ONS! Hoor o Huis van Israel en hoor o Huis van Judah! Hoor o Dogter van Sion! Luister na MY julle SKEPPER en VADER! Hoor na die geroep van MY Wysheid na die hart se geestes ore. Kan julle nie Haar hoor nie? Waarom kan julle nie MY Gees se Stem hoor of aanvaar nie? Dit IS EK, EK IS WAT EK IS! Luister o familiestamme vanuit MY Huis van Israel en MY Huis van Judah! Hoor en slaan ag op die Woorde van EK IS JAH! Aan elke familie rig EK MY Woorde deur hierdie kneg van MY en luister na die Waarheid wat EK vir julle gestuur het. Waarom kan julle, MY familiestamme, waarom kan julle nie in eenheid in MY Liefde vergader en leef nie? Waarom word MY familiestamme so uitmekaar geskeur en gedryf? Laat EK julle sê waarom, want MY Oë sien ALLES! Meeste van julle is net daarop uit om julleself en julle begeertes te bevredig en julle eie lewensdoelwitte te bereik, al kos dit die verloëning van MY Wet van LIEFDE! Ja MY Volk, julle skreeu en spreek en sê: “Ons moet as volk saamstaan!”, maar hoe sal julle as Volk saam kan staan in MY, as julle dit nie eers met ‘n paar mense in jul eie bloedfamilies kan bereik nie? Hoe dink julle moet julle dan as Volk kan saamstaan? Hoor MY vrae gerig aan julle en oordink MY Woorde!

 En wanneer julle skreeu en sê: “Ons moet saamstaan!”, dan word dit sonder MY Leiding gespreek en EK is nie welkom in jul midde nie. Julle, meeste van MY kinders, vaders en moeders in MY familiestamme, stel nie belang in MY Geestelike Waarhede en Verborge Skatte nie. Julle neem MY en MY Woord nie met Erns in ag nie en stel MY aan as ‘n bysaak in julle lewens. Julle is so besig en mors soveel energie met julle gejaag na wêreldse prestasies en rykdomme. Daar word nie tot MY gebid met opregte harte wat MY Skatte begeer nie. Julle presteer wel goed in aardse terme en volgens die wêreld, maar vir MY is julle prestasies in die Geestelike en die Liefde maar armsalig. ‘n Gejaag na eie-eer en rykdom terwyl julle die armes uitbyt en vertrap gaan MY nie aan nie en sulke sondes stink voor MY Aangesig! Hoor wat spreek EK IS van die Leërskare! EK het julle kom leer as JAHSHUA en MY Lering van Liefde en Waarheid vir julle kom gee, maar helaas het MY Lering maar min Skeppings in julle harte voortgebring. Dit is as gevolg van julle besluite om nie gehoor te gee aan MY, dat julle harte woes en leeg lyk, soos aan die begin. EK as die Almagtige kan julle nie forseer of teen julle eie vrye wil, wat EK vir julle gegee het, gaan nie. Die gevolge, hetsy Seëninge of vervloekinge, is die reaksie van MY Wette, Die Wet van Liefde of die Wet van Sonde en Versoening, deur julle eie besluite tot stand gebring. Dit is nie EK wat vervloek nie, dit is EK wat Rig en Lei! Maar julle word gewaarsku en vermaan om julle weë te omvorm tot MY Weg van Liefde en Waarheid, in MY Apartgesteldheid.

MY familiestamme vanuit MY Huis van Israel en MY Huis van Judah, hoor en luister na MY Liefdesgees: Julle word getoets elke dag van julle lewens en beproewinge kom oor julle paaie om te kyk hoe julle daarop reageer. Hoe moet julle as volk saamstaan, as julle eie families dit nie kan doen nie? Daar is soveel haat, afguns, leuentaal, skindery en twis dat MY familiestamme uitmekaar geskeur word. Dit veroorsaak groot wonde en seer aan MY kinders. Dit is waarom EK MY Wet van Liefde gegee het sodat julle binne hierdie Laer kan inkom en tot Liefde kan omvorm. MY familiestamme, voorwaar sê EK: Rig julle harte na MY en MY Gees en rig julle harte opreg na mekaar, julle geliefdes! Julle Oorwinning en Vryheid lê opgesluit in die verandering van jul lewens na ‘n leefwyse van opregtheid, eerlikheid, Liefde, Wysheid en Waarheid. Vergewe mekaar se oortredinge en vergeet mekaar se skade aangerig. Kom en verenig in MY en MY LIEFDE, WAT EK IS, en staan saam in die Vertroosting van jul Moeder, soos ‘n Hen haar kuikens. Aan die opstandiges en hoogmoediges wat nie wil luister nie spreek EK, EK IS WAT EK IS: Julle word vermaan om julle sondes en bedrog te stop en julle wat kwaadsteek sal self deur kwaad gesteek word; dit bring julle oor julleself deur julle eie liefdelose dade. Begin as MY familiestamme, te fokus op MY en MY Woord en leer saam in MY Lering wat EK vir julle gebring het en steeds bring. Groei saam en rig jul harte eendragtig na MY en mekaar. So kan MY Volk begin leer om in MY saam te staan, en nie sonder MY nie! Eendrag in MY maak Mag en eendrag in MY bring Oorwinning! Dit is net EK wat verlos en laat oorwin. Wees lief vir mekaar elke dag en spreek sonder ‘n tong van skinder, leuens en afguns. Geseënd is MY familiestamme wat Liefde verkies!

Weet dit, dat as julle as families nie wil omvorm tot MY Liefdesorde nie, dan sal EK julle self tugtig en op julle foute uitwys deur MY Gees en deur MY knegte, wie hulle ookal mag wees. Begin te leef in opregte Liefde teenoor mekaar en MY bo alles! Die Tyd is min en daar is nie meer tyd vir twis en baklei onder MY kinders nie! Luister na die Woorde van EK IS! EK IS JAHSHUA! Skrywe tot hier MY kneg en wees gefokus op dit wat EK aan jou wys, sien die golwe wat aan kom is en sien hoe die sprinkane die lande leegstroop. MY Volk sal EK losmaak uit die bande en kettings van verslawing aan hoogmoedige eie-liefde en dwaling. Vir julle, MY kinders wat die afgodstempels, kerke en valse leerstellings verlaat en verlaat het, en dit ooweeg om te verlaat, weet en besef dat wanneer julle dit doen moet die valse leerstellings en kerke julle ook verlaat. Julle siele moet gesuiwer word en heeltemal opnuut geskep word sodat MY Waarheid kan neerdaal en die Weg berei vir MY Nuwe Jerusalem in jul harte. Dit is net EK wat julle kan bevry en Vrymaak in Waarheid, vanuit die Oergrondpool van MY Ewige Liefde. Tot hier MY kneg. EK IS LIEF VIR JULLE, spreek jul JAH!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205