Boek 19 – GOLGOTA
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23.

DIE OOPMAAK VAN DIE POORT NA DIE LIGRYK DEUR JESUS CHRISTUS
B.D. 7925 - 23 Junie 1961
Die poort na die ryk van die lig en die saligheid is vir julle opnuut geopen, toe die Mens Jesus Sy lewe op Golgota gegee het vir die delging van die sondeskuld van die hele mensdom.
Die kloof tussen My en julle was deur Sy kruisdood oorbrug, die weg wat terugvoer in julle Vaderhuis in was weer oop vir julle. Die werk van erbarming, wat `n Mens volbring het, Wie My Self volledig in Hom opgeneem het en Wie daarom ook vol krag was, was uniek, en dit sal nooit herhaal hoef word nie, omdat dit vir alle mense in die verlede, van die hede en in die toekoms volbring was.
Die dood van die Mens Jesus was so smartlik, Sy liggaamlike en geestelike lyding was so onmeetlik groot, dat dit aan My voldoen het as versoening vir die groot erfsonde van die eens van My afgevalle geestelikes wesens en wat daarmee ook aan My geregtigheid voldoen het en dat My Liefde julle almal weer daardeur kon aanneem, sonder om die wet te oortree, waaraan ook die mees volmaakte wese homself moet hou, omdat hy anders aan volmaaktheid sou inboet.
Ek het die offer van die Mens Jesus aangeneem, en die weg was geopen vir julle, My skepsele, terug na julle Vaderhuis, na My, Wie julle eens vrywillig verlaat het.
Wanneer julle mense bedink hoe groot julle toenmalige skuld was, wanneer julle die onmeetlike lyding en die kwellinge van die Mens Jesus oordink en wanneer julle vir julleself die heerlikhede in My Ryk probeer voorstel, dan eers sal julle kan begryp welke groot betekenis die verlossingswerk van Jesus vir julle mense gehad het en dat julle jul daarom tot Hom moet bekeer, omdat julle andersins in die duisternis sal bly, omdat vir julle die Ryk van die Lig en die Saligheid andersins geslote is en bly, totdat julle Hom erken en julle bewustelik vir Hom kies.
Eers wanneer dit aan julle verduidelik is, dat julle sondig geword het en waaruit julle groot sonde bestaan, kan die verlossingswerk van Jesus Christus begryplik vir julle gemaak word. Want julle moet dit weet, omdat julle aardse bestaan andersins nutteloos is, wanneer julle in dieselfde duisternis oorgaan na die hiernamaals, terwyl julle julleself nog belas met die erfsonde, wat die groot kloof tussen julle en My laat ontstaan het.
Die brug na My is deur die Mens Jesus vir julle gebou, en julle almal kan dit betree, julle kan weer tot My terugkeer, maar slegs met Hom, met Jesus, die goddelike Verlosser, wanneer julle ook aanspraak maak op die groot werk van erbarming, wanneer julle Hom erken en in Hom My Self, Wie op die aarde neergedaal het om My intrek in die Mens Jesus te neem, om Self die verlossingswerk in Hom te volbring, sodat die poort na die Ligryk weer vir julle geopen word en julle nou kan terugkeer in julle Vaderhuis.
Julle vroeëre sondeskuld is afgelos deur die kruisdood van Jesus. Dog elke mens afsonderlik moet sy houding bepaal ten opsigte van Hom en Sy verlossingswerk. Die brug is geslaan, maar elke mens moet dit afsonderlik betree en die weg na My toe neem, wat aan die ander kant van die kloof op julle wag en julle weer vreugdevol wil opneem in My Ryk. Julle sondeskuld is afgelos, maar julle moet dit self tot onder die kruis dra, julle moet dit self wil, dat julle by hulle behoort, vir wie die bloed van Jesus vergiet is.
Dan eers erken julle Hom en Sy verlossingswerk, en dan eers erken julle bewustelik julle skuld en vra om vergewing. Dan het die goddelike Verlosser ook vir julle die werk van erbarming volbring, dan het Sy bloed ook vir julle gevloei en julle siele gereinig van alle skuld.
En steeds opnuut word julle mense duidelikheid gegee, welke betekenis die kruisdood van Jesus vir die totale mensdom het; steeds opnuut word julle jul groot skuld onder oë gebring, wat onmeetlik was, omdat julle jul destyds bewustelik van My afgeskei het, ondanks die helderste insig en die mees volkome wesensaard.
Julle het `n skuld op julle gelaai, wat julle nie in sy grootte kon meet nie, en daarvoor was waarlik `n soenoffer nodig, wat onmeetlik groot en swaar was.
Die Mens Jesus het dit vir My gebring, en terwille van Sy oorgrote liefde vir Sy medemens, het Ek daardie offer aangeneem en het dit as delging van die skuld laat volstaan. En nou moet julle self ook gebruik maak van Sy groot daad van liefde, sodat julle sondeskuld gedelg kan word, sodat julle nie voor `n geslote deur te staan kom, wanneer julle na die dood die hiernamaals binnegaan nie.
Deur Sy kruisdood is die poorte opnuut geopen, Sy kruisdood het aan julle mense verlossing gebring, met Sy bloed het Hy julle siele vrygekoop van My teenstander. En so het Hy waarlik julle Verlosser uit alle nood geword, want Hy het julle die lewe teruggegee. Hy het julle vrygemaak van sonde en dood. Hy het alle skuld op homself geneem en daarmee die weg na die kruis gegaan. Die liefde, wat Hom vervul, het die werk volbring, en hierdie liefde was Ek Self, Julle Vader van Ewigheid was Self in die Mens Jesus, julle Vader van die Ewigheid het Self aan die kruis gesterf vir julle en julle sonde, Hy Self het die brug gebou, om julle tuis te bring in Sy Ryk. En julle almal moet hierdie brug betree, as julle salig wil word. Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205