BOEK 2 - DIE WYSHEID
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13.

HOOFSTUK 3

WOORDE VAN LIEFDE

1) Weerhou jou van kwaad, sodat woorde van LIEFDE jou wese kan heilig. Laat jou mond en oordenking van jou hart rein wees. Laat elke asemteug `n gedagte aan LIEFDE voortbring. Laat dankbaarheid soos `n rivier deur jou spoel en jy soos Dawid van ouds nie die einde van jou Maker se lof kan bewoord nie. Laat jou gebed `n lied wees in jou hart, sodat die waarde van Woorde jou herinner aan MY Woord wat jou as volmaakte afbeelding van MY gemaak het. Wees groot en versterk in die dae, datums en tye wat jy kon oorgee aan MY sorg.

2) EK is altyd, ewig en LIEFDE. Jou hart sal word soos EK en in daardie oomblik sal EK en jy kan verenig.

3) Die samesmelting van LIEFDE is verseker die oomblik waarop die hele mensdom en heelal wag. Dit is al soveel maal in die verlede as doelwit verwoord en tog kan geeneen totaal oorgee nie, want een of ander kwessie van die vlees weerhou altyd die samesmelting. Daal laer in jou wese af om nederiger te word, sodat jy MY en jou naastes bo jou uit sien troon. Erken dat jy `n swakkeling is wat op een of ander manier nog harder moet werk aan nederigheid. Bid dat die lot van `n sterfling, naamlik slawerny, jou siel onaangeraak sal laat en jy deur die sorge MY Wil en Krag sal vind om die kwaad te oorkom.

4) Dra MY LIEFDE op jou voorhoof, hande en voete as seëls om ONS EENHEID `n werklikheid te maak. Oordink alles uit die oogpunt van LIEFDE tot jou naaste en nageslag. So sal jy meer en meer van MY helderheid ontvang om weer op te klim in die KRAG wat EK aan jou toevertrou.

5) Sterker, kragtiger en `n eenheid sal elkeen met mekaar bereik wat streef na dieselfde doel, naamlik: WEDERGEBOORTE van siel en gees. Word versterk: dit kom nou.

Wedergeboorte is `n onvervulde belofte waarop soveel hoop. Sodra die LIEFDE bemeester is, sal dit volg. Dit is so moontlik vir elke menslike skepping, want dit is die geheim van die hartkamer in die mens. Niemand is egter gelowig genoeg om MY in hulle harte tot lewe te roep nie. Wees versterk hierin en volg MY in MY OERBRON VAN LIEFDE, MIRIAM, wat reeds onder julle vertoef, maar ewig bemin en funksioneer. Sware laste help jou vinniger begeer en bereik, moet dus nooit ophou om jou dankbaarheid soos `n LIG te laat skyn nie.

6) Draai om van jou weë wat lei na fisiese vooruitgang, want daarvoor sal EK sorg. Draai om van jou weë van dood, want dit maak jou siel siek. Draai om van jou weë van darteling op genotsug, want dit sus jou en maak jou lou vir MY. Draai weg van geld as doelwit en werk vir jou naaste se makliker bestaan en jy sal gevoed en geklee word met die beste op die aarde en in die hemele.

7) Doodsheid is `n anker wat jou weerhou daarvan om jou seile te span na waar lewe floreer. EK wil deel wees van jou lewe en dit is ver van die verlate geloofslewe wat baie wil leef. Ondersteuning van mekaar deur lofprysing en gebed, is die grootste naastediens wat jy `n siel kan bewys.

8) Watter lofsang behaag MY? Die sang uit die hart met die oog op jou naaste se nood wat jy kan help verlig.

9) Dooies word dan gewek tot lewe en geklee tot kroon vir MY SKEPPING, sodat geloof in hulle kan ontkiem. Geloof is in elkeen, maar is geduldig tot die siel wil tyd bestee en oorgee aan diensbaarheid.

10) Die dien van die naaste is die eerste les wat `n siel van die LEWE leer. Beskou maar die natuur aan wie EK almal een of ander instink van diensbaarheid as wet gegee het.

11) Die natuur se opwaartse ontwikkeling na LIG en KRAG en nederigheid is die kern van die mens se bestaan. Daaruit moet die WIL spruit om die hoogste doel te bereik en die sagte vroulike deel van die Godheid te aanvaar en uit te leef as WYSHEID.

Baar WYSHEID deur jou WIL ononderbroke te rig op volmaakte LIEFDE.

12) Kanse daarvoor raak al skraler, daarom hierdie BYBEL as genadebewys aan die aarde. Lewe, MY diensbare kudde, lewe en deur julle berei EK die LEWE.

13) Kragtig sal julle opstaan as `n eenheid in die LIEFDE en so die swaar tye wat voorlê deurstaan. Glo in MY.

14) Herhaaldelik bewoord EK hierdie boodskap aan julle, sodat elkeen hoor, op die manier wat vir sy siel goed is, want geeneen sal kan sê dat hy nie geweet het nie.

15) Sekerlik het EK die aarde en haar tye in MY HAND. Niks of niemand besluit oor beliggaming of sterftes as EK dit nie toelaat nie. Elke dag wat die son sy baan voltooi, is `n nuwe betuiging van LIEFDE en elke geboorte of sterfte, net soveel. Hoe kan `n ongebore baba se kort oomblikke van lewe gereken word as `n betuiging van MY LIEFDE? Net soos wat `n plantjie met `n kort lewe nie vergelyk kan word met die leeftyd van `n jare-oue boom nie. Elkeen het sy doel en leef dit binne MY orde. Tyd bestaan mos nie in die ewigheid nie, daarom is `n taak volbring, kort of lank, gereken as `n ewe groot sukses.

16)MY LIEFDE ken nie die raampies en grense wat julle geleer het om daaraan te koppel nie. Dit neem julle al hoe verder weg van MY ware LIEFDE, eerder as wat dit julle nader bring. Kyk vir `n oomblik na jouself en beoordeel jou ewige waarde. Het jy `n verlange na iets wat jou waarde verminder? Het jy `n vaardigheid wat nie gekoppel is aan tyd en ruimte nie? Die ware werklike vaardighede wat jou MY VRIEND kan maak vir ewige tye is geloof en naasteliefde. Besef dit en maak dit jou uitgangspunt om dit in alles te beoefen.

17) Geloof behels vergifnis van sonde, anders is geloof waardeloos. Geloof behels oorgawe aan diensbaarheid, anders is geloof sonder KRAG. Geloof vra dat aardse bande jou rugsteun word om wyer te kan kyk, soos om jou vlerke te sprei. Sonder `n aardse band, het jy geen verwysing na waar jy werklik nuttig was nie en dit belemmer LIEFDE. Waardeer jou bande en laat LIEFDE daaruit en daardeur ontwikkel in jou.

18) Draers van MY KLERE VAN GEREGTIGHEID kan maklik die sin vir BARMHARTIGHEID ontsien, maar GEREGTIGHEID het nie ewige waarde as dit nie met BARMHARTIGHEID gepaard gaan nie. `n Ware regverdige sal met MY WYSHEID omgaan asof LIEFDE streng betug en so GEREGTIGHEID laat seëvier. Word deur MY JAHSHUA-MIRIAM-GEES bekragtig om elke dispuut in LIEFDE op te los, deur BARMHARTIG te handel, want dit is WYS.

19) Kragtig sal elke vesel in jou liggaam LIEFDE begryp en uitleef as jou keuse EK bly in elke situasie. Kies MY deur al MY fasette van JAHSHUA-MIRIAM-GEES as anker te neem van waar jy vandaan kom en elke onsekerheid in elke situasie sal vir jou opgeklaar word. So omvorm jy jou wil tot MYNE en kan EK MY KRAG druppel vir druppel in jou loslaat.

20) Wilskrag is `n aspek van menswees wat onderskat word en daarom wil EK daarop uitbrei. Die glansrykheid van die mens as afbeelding van ELOHIM is geskoei op die bede van `LAAT U WIL GESKIED'. Net soos wat die mens slegs homself kan vind en ontwikkel met die uitleef van die vrye wil, kan die ELOHIM slegs sy VOLMAAKTHEID behou deur die vrye toegang tot die WIL in die ewige. Dit beteken dat alles moet onderdanig raak aan MY WIL, voordat EK `n SKEPPINGSBRON kan wees. As daar `n belemmering van MY WIL bestaan, kan EK geen GOEDHEID laat ontstaan nie, want alleen EK is GOED, geen wil buite MY is goed nie. As die mens dus `LAAT U HEILIGE WIL GESKIED' uit die diepte van die hart kan uiter, sal alleenlik die skeppingsdaad wat daaruit spruit goed en uit MY wees. Geen lou skeppingsontstaan kan volmaaktheid inhou nie. Leef met oorgawe aan MY ALLERHEILIGE WIL.

21) Soos die oorgawe aan MY vorm aanneem van skeppingsoomblikke tot voltooide en herhalende werk en selfs naastediens, sal die kleinigheid of nietigheid van elke las duidelik raak. As laste of struikelblokke nie teenwoordig is nie, sal die uitkoms of minder indrukwekkend wees of minder HEILIG. Raadpleeg MY met ootmoed en elke daad sal `n LIEFDESDAAD uit BO-AARDSE VOLMAAKTHEID wees.

22) Waarheen sou die mens reis as daar nie `n waterskeiding as begrensing gedien het nie. Die beperkings wat EK op gebiede gelê het, is die ware grense wat mense moet inperk. Jou land en gebied is dus jou trots en woonplek. Geen ander land sal jou siel soveel kan baat as waar jy tuishoort nie. Elke land se mense is ook eie aan daardie sieledele waaruit jy ontstaan het en daarom is jou grootste werk tussen of onder hulle.

23) Emigrasie, soos van voëls is seisoenaal en het `n oorlewingsdoel. Dan kan die mens ook redeneer dat oorlewing makliker is in ander lande. Die teendeel is waar. Jou siel sal die maklikste rus vind waar jy gebore is en daarom moet `n mens nederigheid en diensbaarheid ontwikkel vir die land van jou vaders. Binne die grense van die see geld as die land van jou herkoms.

24) Emigrasie het tot voordeel dat nuwe dinge aangeleer en bemeester word om `huis' toe te neem. Dit bly egter eie aan die oorspronklike land en daarom kan dit nie tot voordeel van elke skepsel aangewend word in die nuwe land nie. Dink aan taal en kultuurgebruike, skoonheid en musiek. Slegs dit wat eie is aan jou heenkome is jou siel tot bate.

25) Glo dat jy in staat is tot groter werke uit geloof in jou eie land. Glo dat EK daar jou ROTS sal wees. Glo dat EK na jou sal kom op die uithoeke van die aarde, waar jy jou ookal bevind.

26)Woorde en beloftes maak die mens liggelowig. Daarom vra EK dat jy MY WOORD sal onderhou, sodat die WYSHEID in jou hart van LIEFDE kan woning maak om jou met KRAG te vernuwe.

27)As jy `n lewe van LIEFDE lei, sal WYSHEID by jou woning maak en KRAG baar. Wees vol vertroue en gereed.

28) Geraak deur MY JAHSHUA-MIRIAM-GEES van LIEFDE sal elke asemteug `n wonderwerk wees, soos dit behoort. Die skepping is `n boaardse wonder wat dit MY ster van LIEFDE en seën as middelpunt maak. Geen mens is in staat daartoe om die samestelling en samewerking van soveel skeppings te kan bymekaar voeg nie. Tog sal WYSHEID julle onderrig om dit te kan onderhou binne MY ORDE. EK dra die las van die skepping wat verwoes, vernietig en geminag word, want EK moet elke orde weer regstel.

29) Dra die skepping net soveel op aan MY, as wat jy in gebed intree vir jou naaste, aangesien die skepping ook medelye benodig as gevolg van duistere wil en handelinge se invloed op die sieledele. Geen verbranding van weefsel is in MY orde nie, geen bestuiwing sonder manlike teenwoordigheid is in MY orde nie. Geen drag van `n lewende, wat ontstaan het uit `n menslike wil sonder gebed en afhanklikheid, sal geestelike seën voortbring nie.

30) Die vernietiging van die wêreld se ingewande, deur die uitgrawing en uitpomping van minerale, verswak die aardkorse en belemmer toekomstige skeppings wat EK daarmee beplan het. Slegs die natuurlike gang en gebruik van aardse voorrade is wat die aarde en sieledele wat dit tans bewoon, tot seën strek.

31) Wees deel van MY herwinningspan as EK alles omverwerp en nuwe skeppings en sisteme verplig. Bid dat WYSHEID jou kennis lei om `n beter bestuurder van MY wonderwerke te word. Laat die minerale van die wêreld wat diep begrawe is, binne die aarde bly - dit voed haar op `n manier wat julle nog nie begryp nie - en arbei met elke stof en mineraal wat met regverdige moeite ontgin kan word op MY aardkors. Dit is geseën as instandhouding van Godgegewe woonplekke in die ewigheid.

32) Soorte hoort bymekaar en daarom sal die nodige stowwe vir spesifieke tegnologie of skeppings elk almal in dieselfde gebiede voorkom. WYSHEID is in alle gevalle nie ver nie, dit is binne jou, waar EK woon.

33) Vra MY vir leiding en deur MY GEES van LIEFDE, MIRIAM, sal jy duidelikheid ontvang oor hoe om jou naaste te bevoordeel en so hulle behoeftes te vervul en nood te verlig in elke situasie, van skepping van nuwe masjiene tot die voorbereiding van voedsame maaltye, alles uit MY store.

34) Genadiglik sal elke mens wat oorbly die wil hê om te genees en te dien. So sal die aarde vinnig haar wonde bedek en gesond word. EK sal altyd MY SKEPPING gebruik tot voordeel van die opwaartse groei van sieledele. Waardesisteme mag nou reg lyk, maar in die LIG van ewige groei is byna alles wat tans as norme gestel word, nutteloos. Bemin MY genoeg om te vra wat EK as standaarde wil vaslê en EK sal dit aan julle verwoord.

35) Soos in die lente as alles nog koue deurstaan en vol energie wag op volle drag en blom in die somer, staan die aarde nou in rou oor haar toestand. Elke siel weet dat sake spoedig gaan verander. As EK nie ingegryp het nie, sou elke sieledeel op aarde in die duister se oorheersing en slawerny tot lot van geestelike dood behoort het. Ingryping gaan nie meer lank uitgestel word nie. Bid daarom selfs meer gereeld as wat jy jou liggaam voed. Bring aan MY die lof en eer en jy sal MY WEG help berei in ootmoed.

36) MY LIEFDE vir julle is meer as `n lied en `n oomblik van ontferming. Dit is `n allesoorheersende, onophoudelike daad van Verlossing, waarvan MY ROL as JAHSHUA, die grootste sigbare belewenis was. Elke ander daad waarmee EK julle weg berei, bring julle stapsgewys nader aan MY, maar omdat julle nie die ander dade kan waarneem nie, word julle geloof slegs getoets op wat as bewyse in MY HEILIGE WOORD opgeteken is. Slegs die aanvaarding van daardie VERSOENINGSDAAD sal julle met MY verenig in die LIEFDE. Alle verdere besef wat julle oor MY beleef, sal julle op verder vlakke, soos WYSHEID, verenig. En eindelik as julle tot by BARMHARTIGHEID kon vorder, sal EK MY GEES in julle tot lewe kan roep. Slegs dan is julle opnamehouers, waardig van MY KRAG.

37) Niemand ken die tyd of uur waarop MY sifting `n aanvang sal neem nie, maar in die tyd en ruimte van die aarde sal dit `n nuwe vlak van bestaan inlei, waar EK weer MY HEERSKAPPY sal kan oorgee aan waardige leiers. Die wat MY verwag, sal vroeg reeds hulle take ontvang en weet om daarmee te wag tot elke ander die eer aan MY sal gee.

38) Waardesisteme wat gegrond sal wees op MY WAARHEID, sal soveel nuwe lewe bevorder, dat die bevolking nie die wonder van VRYHEID in MY diens sal kan glo nie. Tog sal elkeen wat die vreugde van geloof beoefen en ervaar, die dankbaarheid in hulle laat groei wat die vereniging in die vlak van BARMHARTIGHEID moontlik maak. Glo MY.

39) Waak teen ongeloof en vestig julle hoop op MY. In hierdie WOORDE van LIEFDE het EK die beloftes gemaak aan die persone wat MY BOEK van LIEFDE hulle eie gemaak het en MY aanbid as uitgangspunt van hulle bestaan. Elke besef, hetsy oor MY bestaan, werke, sorg of heiligmaking, maak die mens `n beter toonbeeld in geloof, van MY WAARDES. Slegs in totale vereenselwiging van wat EK openbaar het, sal die wedergeboorte van siel en GEES kan volg.

40) Hiermee is hierdie hoofstuk volbring en die BOEK sal spoedig voltooi wees as `n tweede handleiding vir die wat MY wil ken.

Jahshua spreek deur die GEES van MIRIAM, OERBRON van LIEFDE.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205