BOEK 2 - DIE WYSHEID
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13.

HOOFSTUK 5

WAARHEID VAN MENSWEES

1) Die mens weet nie wat op hom wag nie. EK, deur MY JAHSHUA-MIRIAM-GEES van LIEFDE, maak in hierdie hoofstuk die Waarhede bekend wat WYSHEID lewend maak in die hart. Elke een wat verder lees moet bereid wees om sy ou weë neer te lê en MY voluit te volg in wat EK as eise stel vir die wedergeboorte, anders sal dit hoegenaamd nie moontlik wees nie.

2) Net die wat in alle ywer hulle weg na hierdie waarhede rig, sal gered word.

3) Eerstens moet jy MY, die SKEPPER, erken as jou RIGTINGGEWER. Tweedens moet jy MY eer as die Volheid van die WET. Dit behels dat alles wat met jou gebeur, spruit uit die Wet van Sonde en Versoening, die Wet van Ewige Lewe, die Wet van Kennis van Goed en Kwaad, die Wet van Liefde en die Wet van Krag uit die Hoogte. Geeneen sal sonder kennis van hierdie wette kan ingaan in die poorte van die Stad as `n Bruid nie.

4) Die Wet van Sonde en Versoening is breedvoerig behandel in Volume 1 van die NUWE BYBEL en EK sal weer sê: Elke sonde vra verootmoediging en vergifnis, alvorens `n mens weer met vrymoedigheid kan lewe, daarom moet jy waak met al jou krag teen oortreding van die LIEFDE, sodat jy nie op die pad van hierdie wet bly nie. Word vry daarvan deur te besluit om net in LIEFDE te handel.

5) Die Wet van EWIGE LEWE, is ook reeds behandel, naamlik dat geen siel ooit tot niet gaan nie, want MY ewige, volmaakte Wil het dit tot stand gebring en daarom sal dit vir altyd lewe saam met MY, hoewel in verskillende vorms.

6) Die Wet van Kennis van GOED en Kwaad sal elkeen herken in die feit dat die mens `n verpligting beleef, sodra hy van enige saak ingelig word, hetsy die verpligting `n verantwoordelikheid, `n emosie of `n begeerte is. Hierdie wet maak dat as jy besef wat `n situasie behels, jy `n keuse MOET maak. Jy MOET altyd MY WIL vra en daardie keuse aanneem om in die Goeie te bly. Die wet het tot stand gekom, toe MY teenpool begin duister handel het, want op daardie oomblik het ‘kwaad’ ontstaan. Die geskapenes het tot op daardie oomblik net skeppend gehandel as werk, geen keuses was nodig nie, maar nou word die lewe gevul met keuses wat soms voel asof dit mekaar onophoudelik opvolg. Jy kan egter `n einde maak daaraan deur aan die LIEFDE haar regmatige plek in jou hart te gee en alles uit die oortuiging van LIEFDE te bestudeer en te oorweeg.

7) Die Wet van LIEFDE is daarom die volgende belangrike wet. Elke wese is geskape uit en deur die LIEFDE. Dit beteken soveel as in die ewige oomblik van LIEFDE. Daarom is die tuiste en herkoms van elke lewende, LIEFDE. Ook is die ware aard van alles LIEFDE. Die enigste oomblik van VREDE is dus as die wese in LIEFDE leef. LIEFDE is daarom die OERBRON en OERGRONDBEGINSEL van alles en aangesien alles uit MY Godheid wat bestaan uit MANLIKE en VROULIKE KRAG, ontstaan het, is EK, JAHSHUA-MIRIAM-GEES die OERBRON van LIEFDE. LIEFDE is ONS punt van vereniging, omdat dit die beginpunt van ONS en jou bestaan was. Dit was waar jy uit ONS uitgegaan het en dus sal dit ook wees waar jy kan terugkeer. Net in volle aanvaarding van jou OERBRON van bestaan, kan jy weer daarmee verenig. Geloof hierin, maak jou lewend met `n Wil en `n Krag om dit te ontvang. EK beloof dit aan elke gees wat verlang om weer EEN met MY of ONS te wees. Neem LIEFDE as jou alles en die ewigheid van VREDE spruit vir jou daaruit.

8) Laastens is die Wet van KRAG UIT DIE HOOGTE jou heenkome. Die HOOGTE is EK, waar EK ookal vir jou geleë is. Die HOOGTE is in die reinste deel van jou hart, maar ook in die hoogste hemele van bestaan. Dit is een en dieselfde as jy in die GEES ontwaak. Die ontwaking is die oomblik waarin jy KRAG ontvang om te weet waar jy jou bevind.

Met jou vereniging met MY in die LIEFDE, versmelt alle dele van jou WESE met MY en jy neem die besluit om alles aan MY terug te gee, wat EK aan jou toevertrou het, sodat ONS as `n EENHEID weer kan handel en skep. Daar is soveel lewe wat nog kans gegun moet word om by daardie punt uit te kom. Slegs as die eerstes oorgee en die weg baan, sal die aarde kan volg.

Besef dat alles wat lewe moet terugkeer tot die LIEFDE om weer hulle waarlike geestelike status of toestand te kan ontvang. In daardie toestand is name, net soos tyd in `n ander orde of nie so doelmatig soos op aarde. `n Gees se Naam is nie werklik sy alles nie. Die wese van die gees maak dit herkenbaar. Met die opneem van die LIEFDE en die KRAG, tree jy ook weer in die orde waar jou uitstraling belangriker is of jou ewige, ware identiteit is. Daarom sal almal mekaar herken in die LIEFDE, sonder gesprekvoering of bekendstelling, want EK is almal se OERBRON en die ooreenkomste maak die een herkenbaar vir die ander, hoewel die verskille ook eienskappe van MY is. Kyk daarom na jou naaste met oë van LIEFDE en herken MY KRAG wat EK in daardie MENS geplaas het en besef daardeur dat jy ewe veel `n gedeelte van MY en herkenbaar is as jy in die LIEFDE bly. EK, JAHSHUA-MIRIAM-GEES, jou OERBRON van LIEFDE, beloof aan jou, omdat dit `n wet is, dat jy aan MY gelyk sal wees as jy maar net jou WIL en WESE rig tot die LIEFDE. Alle dinge is vir jou moontlik in MY. KRAG in die ewigheid is nog vir jou onverstaanbaar of onduidelik, maar eers as jy dit ontvang, sal jy die Grootsheid en LEWE daarin besef.

9) Volg hierdie wette getrou na en dit sal vir jou die Weg van bestaan word, sonder `n wil om daarbuite te lewe. Dit is die LEWE en daarom die WAARHEID van menswees.

10) EK het hierdie hoofstuk nou maar slegs begin en daarom gaan EK nou meer geheimenisse openbaar oor Manlikheid en Vroulikheid, sodat elkeen met hierdie en die voorafgaande kennis sy wedergeboorte kan verstaan en bereik.

11) Lewe is net moontlik met die samesmelting van `Manlikheid' en `Vroulikheid' se Krag. Ander lewensvorme blyk sonder dit te bestaan, maar in werklikheid laat EK nooit hierdie twee partye afwesig. Slegs dan is dit binne die ewige orde. Kyk na die blom met die inwendige vrugbeginsel en die manlike kroon. So vind bestuiwing plaas vir die vrug om saad voort te bring. Net so werk dit by soogdiere. Die Manlike is die Kroon van die onderskeidelike Skepping, maar sonder die vroulike vrugbeginsel is Lewe nie ewig nie en baat die krag niks nie. Waarom is hierdie geskape? Eerstens as `n afbeelding van MY, JAHSHUA / JAHWEH / SKEPPER en MY KRAGBRON / OERBRON van LIEFDE / LEWENSMOEDER. Die rolle dra dieselfde waarde in die kleine, maar kan nie bestaan of hulle funksie vervul sonder die oorspronklike Kraggewers nie. Tweedens is die voorkoms geskoei op samewerking van LIEFDE as Wet tot Kraggewing. Alles wat lewe moet daardie Wet gehoorsaam. Derdens is die LEWE wat geskep word afhanklik van `n herkoms en net as dit `n eie spesie of voorbeeld het, sal die geestelike krag daarvan soortgelykes voortbring. Daar kan nie geestelike krag gevind word in enige gemanipuleerde of kruisbestuifde variëteite nie. Alles wat nie deur MY skeppende vermoëns ontstaan het deur die mens nie, sal nie kan voortplant met deurlopende, standhoudende krag nie. Moet daarom nie peuter met MY WIL vir voortbestaan nie, hou net in stand wat EK in julle sorg plaas.

12) Manlike Krag bring stabiliteit en genesende vermoëns vir onsekerheid, wanorde en wispelturigheid. As die Krag geëer word, sal dit vrede in stand hou. Vroulike Krag bring egter `n sekerheid vir ontferming, geloof en vryheid, dit wil sê vryheid van oortreding en negatiewe emosies deur die GOEIE aan te neem en uit te leef. Saam bind hierdie kragte enige wese tot volmaaktheid. As een van die twee kragte egter uit die volmaakte toestand na die negatiewe beweeg, kan die hele volmaakte vrug in die negatiewe in groei. Bid daarom om aan die anker van geloof, MIRIAM, vasgekleef te bly, sodat die groei na volmaaktheid sal geskied. EK as MIRIAM, is jou dryfveer en versorger, EK as JAHSHUA is jou Maker en Weg. Saam is jou wese vervul om die LIEFDE uit te leef. Die Wysheid is die LIG en so verkry jy KRAG. Elke wese is bestem om by die KRAG uit te kom, wat hulle na hoër vlakke lig. Bly daarom op die Weg as jy na die hemele wil vorder.

13) Hiermee is hierdie hoofstuk voltooi. Elkeen wat die manlike en vroulike kragte herken en uitleef in hulle lewe, sal by eenwording met ONS of MY uitkom. EK is altyd en oral en daarom sal elke WIL erken en beloon word. Wees die werker van geloof wat jou weë in LIEFDE heilig. Jou loon sal na liggaam en siel wees en jy sal nooit `n tekort beleef nie.

Dankbaarheid vir hierdie kennis lei tot meer insig en EK sal elke druppel voed.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205