BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 29

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 16

Armoede

Die grootste vorm van armoede is die armoede wat in die harte van My Geliefde Kinders heers, waarvan hulle meestal nie eers bewus is nie. Daardie behoeftes is uiteenlopend en tog onvervuld, daarom soek die siel na die vervulling op alle weë en plekke, behalwe by My. Ek wil die armoede wegvee en welige sorg tot julle beskikking stel, maar helaas is dit gegrond op die toe deur van die hart wat die Lig nie wil ontvang nie. Indien die deur wel oopgemaak word, is My Lig daar en kan dit voedend vir die siel dien. Amein.

Ek wil dat julle aan My Kindertjies die verskeie gevolge van armoede voorhou as uitvloeisels van geestelike tekortkominge in mense. In die geval van heerssug, sal daar armoede heers, omdat hoogmoed van hart oorspoel van die heerssugtige heerser na elke onderdaan onder hom. Elkeen sal dan neem wat hy begeer en so die heerssug lewend maak soos ‘n verdrukkende organisme wat alles wil verslind. Die enigste manier om hierdie soort armoede te breek, is diepe gebedsondersteuning van die nederigste af, tot dit My Wil is om die heerssug te breek. Amein.

Die volgende vorm van armoede is as gevolg van nalatigheid van die kant van die heerser af. Indien die heerser nie die insig toepas wat nodig is om die onderdane te versorg en vooruit te beplan nie, sal die heerser die enigste wees wat nie onder die lot van die armoede benadeel word nie. Hierdie lot kan slegs gebreek word deur vir ander om te gee en hulle by te staan in hulle behoeftes, al is dit ten koste van die self. Ek sal op wonderbare maniere so aan versorgers voorsien om ander te help. Amein.

Die volgende rede vir armoede is die soeke na die verkeerde plesier. Hierdie armoede sal die hele volk, insluitend die heerser oorspoel, aangesien dit spruit uit ‘n skaamtelose armoede van liefde. Indien die liefde vir al die verkeerde dinge die oorhand oor ‘n volk geneem het, is die lot van die volk so erg soos dié van Sodom en Gomorra en kan Ek dit net wegvee om plek te maak vir ‘n nuwe volk wat My sal liefhê. Wat anders behels My Liefde as eerbare waardes en naasteliefde. Alle liefdes wat daarteen is, is tot nadeel van die gemeenskap en die eie siel. Amein.

Armoede is ook te vinde in siele wat seergekry het. Hierdie armoede is deur gebedsgenesing en baie liefde oorkombaar. Indien ‘n heerser aan hierdie tipe armoede lei, moet daar baie vir die heerser gebid word, want die kruispaaie van goeie en verkeerde weë lê dan gereeld voor die heerser. Gebed van andere kan die heerser help rig om weer te herstel van die seer en salwing kan die heerser weer ontvanklik maak vir My Liefde. Amein.

Al hierdie tipes oorsake vir armoede is ‘n bewys van wat die siel benodig om ‘n goeie diens te verrig. Elke siel kan haarself hiermee ondersoek om te sien in watter groef sy verval het, want slegs die siel wat heel is en My waarlik lief het, sal tot seën van ander siele kan handel. Ek wil dat elke siel die plek van seën vind, voordat haar aardse lewe verbygegaan het, daarom het Ek die aardse lewe toegelaat. Daardie plek is die eenwording met My Gees van Liefde. Dit omvat al die volmaakte vorme van Liefde vir My, die self en die naaste. In daardie vorm is die siel herstel in haar eersgeskape orde om te dien en kan Ek enige taak aan die siel oplê. Amein.

Leer My kleintjies dat daar herstel en bekering bestaan vir alle armoede, omdat dit spruit uit die toestand van harte. Ek moet egter vir alle armoede van Liefde, vleeslike armoede inspan om die harte weer te veredel, voordat daar enige seën in die vlees reg gebruik sal word. Amein.

Die grootste les wat My kindertjies sal baat in hierdie verband is om hulle te leer bid om My aan te roep as Hulp en Versorger. Geen mens kan sy lot vir goed verander deur self sy sorg te probeer bewerk nie. Indien dit nie gepaard gaan met intense gebed en afhanklikheid dat My Wil sal geskied en Ek so die siel sal vorm na My Wil nie, sal die sorg kort voor lank agterweë bly en die siel van vooraf dwing tot hierdie gebed. Leer daarom My kindertjies van kleins af om so tot My te bid. Sê die ootmoedige gebed van die Onse Vader saam met hulle op as basis en volg daarna, soos dae verloop met ander gebede uit die hart om hulle te leer om afhanklik te wees van My sorg, leiding en Liefde. Gee aan hulle die geleentheid om self sulke gebede voor ander te bid en help hulle sagkens reg as daar verkeerde bewoording in die gebede is, na afloop van die gebed. Amein.

Hierdie voorbeeld van gebed is een van die grootste werke wat opvoeders as seën van ‘n gemeenskap kan aanwend en My Krag en Liefde sal julle hierin bystaan as die wil daar is om die kindersiele op die Weg na My te lei. Amein.

Ek wil die armoede wegneem, maar solank dit in die harte heers, is die resultaat in die vlees onveranderlik. Bring die nood en afhanklikheid na My en Ek sal eers die harte en dan die toestand van die vlees daarmee aanraak. Amein.

Hierdie les is ‘n deurlopende les in die opvoeding van ‘n kind en moet altyd as verwysing dien om te sorg dat die kind die belangrikheid daarvan sal besef. Ek wil dat elkeen die armoede van siel teenwerk wat met onkruidsade begin. Rig daarom jou oë op na My Liefde en vra My om die onkruid uit te wys soos wat dit in die lewe kom op jou hart se grond, dat dit nie die goeie grond inneem en alle oeste verdring nie. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205