BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 17

Vuilheid

Die vuilheid van die vlees belemmer die suiwerheid van die Gees om met krag te kan werk. Hoe kan die vuilheid van die vlees uitgeken word vir heiliges, aangesien dit die wedergeboorte weerhou? Ek sal aan elkeen sy eie vuilheid uitwys as die siel My daarom vra, tog is daar stappe wat die siel kan volg om seker te maak dat die algemene vuilheid mee weggedoen is. Amein.

Die eerste stap wat Ek vra van alle siele wat hulleself uit die materie wil lig nader aan My is om met Barmhartige oë na hulle naaste te kyk. In die lig van die barmhartigheid is begrip opgesluit vir ‘n siel se harde wilshandelinge en kan die Lig wat Ek dan in die toeskouer plaas, die harde handelinge openbaar aan die siel wat so handel. In die Lig van My Barmhartige Liefde sal die ander een sy foute raaksien. Beskou so die Lig wat julle uitstraal na My klein kindertjies. Indien jou sagtheid in strengheid aan die kind toon dat hy of sy nou ‘n groot fout begaan het, hoef slegs die mate van Barmhartigheid genoeg tugtiging te wees in sommige misdade of oortredings. Indien die siel van die kind sag genoeg is om die hardheid van sy oortreding in die Lig wat van jou uitstraal, waar te neem, sal dit intense berou by die kind meebring en is harde tugtiging onnodig. Die kind sou egter nie gelei gewees het om berou te beleef indien die Lig van volmaakte Liefde hom of haar nie gewys het op sy foute nie. Beskou daarom die situasie van oortreding en versoening met baie deernis en bid om insig om die mate van teregwysing te gebruik wat by die siel pas. Amein.

Hierdie Lig van Barmhartigheid is in elkeen se eie siel ook beskikbaar om Lig te werp op die eie vuilheid, want in My Lig kan daar geen ander vuilheid standhou in ‘n siel nie. Solank die siel in ‘n ootmoedige toestand van Liefde teenoor My staan, is daar nie grond vir enige ander duistere gedagte of handeling nie. Ondersoek dus die eie siel om die Liefde vir My daarin te beoordeel en daarmee ook die Lig wat voortvloei vanuit die siel na andere. Indien die Lig genoeg is om aan ander ‘n son te wees, is die Liefde in die siel in die korrekte orde en moet daarop voortgebou word. Indien die siel egter ander ontstuimig maak terwyl hulle in toestande van Liefde verkeer het, moet noukeurig gevra word of dit as gevolg van Lig of Duister uitstralings ontstuimig geraak het in ander. Die antwoord is gewoonlik maklik te vind. Amein.

Nou moet die siel in hierdie uitstraling van Lig absolute nederigheid toepas om nie woorde saam met die Lig te laat vloei buiten waar kinders onderrig word nie. Slegs kindersiele in jou sorg mag gelei word om hulle eie foute reg te stel. In die volwasse siele rondom jou, moet die Liefde die aandrywing wees tot bekering en daarom moet die leidende Lig onder die groep baie gebed toepas om Liefde die oorheersende krag te hou. Amein.

Ek kan nie die groep nader as daar geen Liefde vir My bestaan nie, maar Ek kan die Liefde wat bestaan seën deur My Lig en so almal uit die kluistering van hulle eieliefde verlos wanneer daar selfs ‘n sweempie van Liefde vir My onder ‘n groep mense bestaan. Moet dus nie jouself ophou met ‘n groep waar daar nie Liefde vir My te vinde is nie, maar beweeg aan na ‘n volgende, tot die Lig wat daar uitgestraal word, jou siel aanspoor tot meer en groter Liefde. Die doel op hierdie aarde is nie om ‘n hoeksteen in ‘n groep te wees waar Ek die minste tyd en prioriteit inneem nie, maar om My die eerste prioriteit te maak en so My Lig neer te laat op hierdie aarde. Indien Ek dan ‘n groep op jou pad stuur waar meer Lig deurlopend ontvang word, moet die siel My ewige eenheid daarin ondersoek om te sien of dit wel ‘n neerlating van die volmaakte suiwerheid is. Indien dit so is, kan die siel vir die res van haar dae daar diens doen, maar altyd met die skaal van Lig en Liefde in die een hand, want sodra die Liefde vir My uit die groep wyk, sal die Lig ook wyk en sal die siel weer moet aanbeweeg om ‘n eenheid in My te vorm in ‘n ander groep. Amein.

Vuilheid is dus alles wat teen die Lig van My Liefde staan en dus duister. Vuilheid is maklik ten toon te stel aan die kindertjies van My Liefde. Laat een kindjie in vuil grond, gras en blare rol en laat die ander dit vir hom afskud. Verduidelik dan dat die siel onaangeraak is deur die vuil, maar nie diensbaar is in die vuil toestand nie. Solank die siel dan ongemaklik is met sy eie vuilheid van blare, stof, grond en sand, voel dit beswaard daarmee en kan geen diensbaarheid van die siel verwag word nie. Die siel sal dan eers gehelp wil word om skoon te kom deur sagte afborseling en skoonskud en selfs soms die was van kledingstukke voordat dit weer vrymoedig sal help om enige werk te verrig. Net so is die siel in die mens gepla met die vuil wat aan hom vasklou van waarmee hy homself ookal besig gehou het. Vuilheid is dus nie iets wat die siel op haarself vergader, sonder om iets te doen wat dit meebring nie. Indien ‘n siel haar weerhou van verkeerde handelinge en selfs gedagtes, sal ‘n suiwer toestand gehandhaaf kan word, maar indien ‘n siel haar soos ‘n vark in die vuil gaan baai, wat selfs soms stinkende vuil kan wees, sal die vuil aan die siel kleef, tot hulp gevra is om die siel te help reinig. Ek self kan ook die hulpgewer wees, maar omdat die siel nie die hulp kan sien en beleef soos met die fisiese hulp van ‘n geliefde nie, is dit ‘n langsamer en moeiliker weg – slegs tot die siel ontwaak genoeg is in die gees om meer waarde te heg aan My hulp as aan die van ‘n ander persoon. Amein.

Vuil op hierdie aarde kan in vlakke gemeet word vir die skade wat dit aan gesondheid kan aanrig. Die ‘bietjie’ vuil wat hierbo bespreek is, kan so smetterig en giftig raak, dat ‘n mens se hulp te min raak om die siel weer daarvan te suiwer. Dit is daarom so belangrik om die situasie waarin jy jouself inlaat te ondersoek om te bepaal hoeveel van My Lig daar wel te vind is. Indien My Lig nie gevind kan word nie, sal die vlak van vuilheid dalk te diep wees om weer in hierdie aardse lewe suiwering te vind. Bly daarom daar weg. Leer My kindertjies om My so lief te hê dat hulle geestesoë geopend kan kyk na omstandighede en mense om hulle en so te weet dat My Liefde daar is of nie. Ek wil die beste vordering en groei vir hulle bewerk tydens hierdie aardse bestaan en dit kan net gebeur indien My kleintjies verbeter uit hulle toestand en nie vuiler word nie. Amein.

Suiwere lewenswandel is gekoppel aan Liefde vir My, nie aan My Liefde vir julle nie. Die verantwoordelikheid om suiwer te lewe is daarom ‘n opdrag en wilsbesluit. Suiwer lewenswandel kan aan My klein kindertjies voorgehou word as water se helderheid wat deursigtig, teenwoordig, weerkaatsend, suiwerend en sag is. Enige vertroebeling is onsuiwer voor My en voortspruitend uit liefde vir die vleeslike behagings en besit. Amein.

Gloei as ‘n hemelse lig vir almal om jou deur jou hart elke dag te verseël in My Liefde. Bid dit voor enige werk begin en sluit die dag daarmee af as maatstaf tot heiligheid. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205