BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 32

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 19

Sorg

In die bestudering van alles om die mens, kan daar duidelik gemerk word dat Ek die Sorg voorsien, sodat lewe aanhou vloei en voortbestaan. Sonder My Hand en Wil in alles, sou alles binne ‘n baie kort tyd tot niet kon gaan. Net so sorg Ek vir die mensekinders op hierdie aarde, al beur hulle vooruit in die denke dat hulle hulle eie sorg kan bewerk. Dit is nie die waarheid nie. Om ‘n kind te leer van geldsisteme en hoe geld vermeerder is nie in My wil nie, want dan koppel die kind waarde aan sorg, wat na ydelheid oorleun. Om ‘n bord kos voor jou te hê, om geklee te wees in praktiese, diensbare kledingstukke, om ‘n vesting te hê om in tuis te gaan en om die krag te hê om dit diensbaar in te rig en tyd oor te hê om ander te dien, is sorg wat ‘n mens nie met waarde moet vergelyk met die van ‘n ander nie. ‘n Paleis se sorg is dieselfde sorg voor My as sorg in ‘n wildernis. Indien aan alle behoeftes voldoen is, sodat die mens krag in homself ontvang om te arbei, is daar voldoende aan die siel verleen. Amein.

Hierdie sorg wat die wêreld so graag voorhou as beter as vir ‘n ander, is die kern van My teenpool se bestaan, want daarmee word alle negatiewe eienskappe gevoed, wat teen My Liefde en Krag is. Ek wil dat daar in die leer wat julle aan My kinders voorhou geen melding gemaak word van betaling en verdienste nie, want My Lewe in die ewige is gebaseer op ‘n hemelsbreë teenoorgestelde waardesisteem as wat tans op julle aarde in gebruik is. Ek gee aan almal genoeg om mee voort te bestaan, maar seën dit met ‘n ewige waarde indien hulle afhanklikheid van My erken en die krag so eer deur Liefde en diensbaarheid. Amein.

In die mate waarin die afhanklike op My vertrou vir sorg, sal Ek voorsien en dit met ewigheidswaarde vermeerder. Beskou daarom julle lewens as ‘n skatkis wat gevul moet word met ewige gawes en dat julle die waarde daarin toevoeg deur My toestroming van Krag in julle krag te vra en te eer. Indien Ek nie geken word in die bestaan en arbeid van ‘n lewende nie, is daar nie ‘n ewige bekleding, woning en Liefde in die siel te vind nie. Amein.

Al hierdie bied Ek julle aan as ewige sorg indien julle die beginsels van die lewe onderhou soos in hierdie Nuwe Bybel vir julle aangebied, want dit is julle ANKER VAN VERLOSSING in die teenpool se storm en oorweldigende mag. Amein.

My klein Kindertjies moet bewus wees van Krag om hulle, wat eksponensieel vermeerder kan word in arbeid, indien hulle My afhanklik en in Liefde daarvoor vra. Hulle moet My bestaan kan vind in alles om hulle en verstaan dat indien Ek erken word en daar met My saam ‘n lewe geleef word, alle aardse waardes nietig is, omdat dit vergaan, maar dat Ek in My volheid die siel kan vul om aan haar ewige positiewe waardes toe te voeg. Amein. 

Hoe moet hierdie aan ‘n klein kindjie uitgebeeld word? Gebruik weer die voorbeeld van lig wat ‘n ruimte vul. Indien die ruimte donker gelaat word, is dit vir niks diensbaar nie. Die lug verouder, groei en daarom kwyn krag weg, die spasie is beperk tot wat binne die grense lê, want alles buite is duister en onbekend en positiewe waardes raak moeilik te vind en uit te leef in die beperkte, donker ruimte. Indien daar lug binnestroom, is die grense verbreek en hernu dit die krag deurlopend binne die ruimte. Positiewe waardes is maklik te bou en ‘n oorvloed van Krag is binne die ruimte se bereik. Hou dit aan die kind voor deur die voorbeeld van die hartsruimte. Indien die hartsdeur vir My geopen word, is die waarde van die hart verhoog deur die toelating van My wat die ruimte rondom die hart beslaan. Ek is oneindig en bied daarom nie net oneindige horisonne om te verken nie, maar ‘n oneindige toevloei van krag na die hart. Hierdie hart word dan ‘n lewegewende ruimte om skeppings in te skep en te versorg en positiewe waardes te vergroot in die self. Koppel alle verwysings van sorg vir die kind aan hierdie hartsruimte, sodat die nuwe ‘oorvloed’ wat die kind ken, nie ‘n dooie, groot getal is en alles wat daaraan vergelyk kan word nie, maar ‘n bron van Lig, Lewe en Liefde. Amein.

Indien ‘n kind My reeds op so ‘n vroeë ouderdom as hierdie leer verstaan, sal die ewige omvang van My Wese te begryp word en binne My Kindertjies se bereik gestel wees. Maak dit ‘n Liefde vir hulle deur hulle met opgewondenheid Lig en natuurklanke te laat ondersoek en waardeer. Maak van elke dag ‘n nuwe geleentheid om iets mooi en nuut van die natuur aan hulle as ewige skat uit te wys en na te laat. Amein.

Ek sorg vir al My Kinders, maar Ek oorweldig die wat My waarlik liefhet met ‘n vloed van Lewende Water, so sterk soos wat die siel dit kan hanteer. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205