Boek 27 - Die Onse Vader
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15.

U RYK KOM.
B D 5336 - 4 Maart 1952
My Ryk is nie van hierdie wêreld nie
My Ryk is nie van hierdie wêreld nie. Ag daarom die aardse wêreld baie gering, word slegs in sover daarmee gekonfronteer soos u aardse lewenstaak dit verg, maar streef onophoudelik na My Ryk, wat buite die aardse wêreld te vinde is.
My Ryk is die Ryk wat ewig voortduur, terwyl die aardse wêreld vergaan met die dood van u liggaam; maar u sal My Ryk al op aarde kan besit, as u uself afwend van die vreugde en goedere van die wêreld en u gedagtes verhef na My, wanneer u dit stuur in die oneindigheid, om My te vra en u oop te stel vir My antwoord. Dan betree u al die geestelike Ryk, wat eens u blyplek sal wees, dan is die geestelike Ryk vir u meer werd as die aardse wêreld en dan ontvang u ook goedere wat deel uitmaak van die ryk, maar wat u aards nie sal kan ontvang nie.
My Ryk is nie van hierdie wêreld nie. Begryp dat Ek u deur hierdie woorde wil roep na die ander wêreld, wat u ware Vaderland is en wat u ook weer wil opneem na die dood van u liggaam. My Ryk is die ligryk waarin u maar net kan binnegaan, as u ontvanklik vir lig geword het, as u op aarde na My Ryk gestreef het en dus kandidaat geword het, vir die ryk wat aan My behoort en waarin u My eens sal mag aanskou.
Hierdie woorde van My laat u duidelik verstaan, dat u hierdie wêreld, die aardse ryk, nie baie vurig moet begeer nie, veeleer dat u dit sal moet oorwin, as u in My Ryk opgeneem wil word. Ek wil u die verskil duidelik maak, Ek wil u sê dat hierdie wêreld nie aan My behoort nie, maar waarvan My teenstander Heer is en stel dus My Ryk teenoor die aardse wêreld. Ek wil u hierheen, na My Ryk lok, omdat Ek u wil gee wat die aardse wêreld nie besit nie: `n Ewige Lewe in geluksaligheid.
Die aarde is die tranedal van lyding en beproewinge, dit is die plek van onvolmaakte mense, wat volmaak moet word. Die aarde is ewenwel geen duursame blyplek nie, dit is slegs `n stadium van ontwikkeling, wat vir die mense uitermatig kort is, vergeleke met die Ewigheid. En die mens self se aards materiële omhulsel, is verganklik, dit dien die geestelike wat homself opwaarts moet ontwikkel, en is slegs verbygaande tot woning. Dan eers betree die siel die geestelike Ryk, wat onverganklik is, maar kan dan ook nog die ryk van My teenstander wees, wanneer die siel op aarde geen geestelike vooruitgang bekom het nie en dus binnegaan in die ryk van die duisternis.
Maar u sal moet strewe na My Ryk, die geestelike Ryk waarin Ek die Koning en Heerser is, waar maar net lig en geluksaligheid bestaan, waar Ek Self uitdeel om almal gelukkig te maak wat My Ryk binnegegaan het. Ag daarom die aardse wêreld gering, streef na die ryk wat vir u heerlikhede ontsluit, waarvan u mense nooit sal kan droom nie, die ryk waarvan Ek u die heerlikhede beloof het met die woorde: "Wat geen menslike oog ooit gesien het en geen menslike oor ooit gehoor het nie. Ek berei dit vir hulle wat My liefhet".
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205