Boek 30 - Liggaam – Siel – Gees
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29.

DIE PROSES VAN DIE TERUGBRING
B.D. 8564 - 20 Julie 1963
Niks kan vir ewig verlore gaan, wat eens deur My en My krag ontstaan het nie. Dit bly bestaan omdat dit onverganklik is en keer ook onherroeplik na My toe terug, as die Kragbron van die Ewigheid, omdat dit in die wet van My ewige ordening gegrondves is. Tog kan die wesenlike, wat uit My voortgekom het, as volmaakte, goddelike skepsel, uit vrye wil omslaan in die teendeel. Hy kan sy volmaaktheid prysgee en homself vorm tot `n wese wat homself verset teen God.
En dit het hulle gedoen en was nie deur My gehinder nie, omdat Ek `n plan nagestreef het. Want Ek het vir al My geskape wesens `n doel gestel: Dat hulle tot My "kinders" sou word, wat Ekself nie kon skep nie, maar wat hulle in vrye wil self daartoe moet vorm. En dus het Ek nie verhinder dat hulle van My verval nie, maar het vir al hierdie wesens `n proses voorberei om hulle terug te bring. Ek het die eens van My as wesens uitgestraalde krag omvorm tot skeppingswerke van allerlei soort. Ek laat die wesens uiteenval in ontelbare partikeltjies waardeur ook skeppingswerke tot lewe gebring was. En sodoende het die krag nou werksaam geword volgens My Wil, dit wil sê, gehoorsaam aan die natuurwet het elke skeppingswerk die toegewysde opdrag verrig, want niks het Ek laat ontstaan sonder sin of doel nie.
Elke skeppingswerk het sy bestemming en My Liefde, Wysheid en Mag het dus `n aardse wêreld laat ontstaan wat al die gevalle sielspartikeltjies omsluit, wat hulleself nou langsaam positief ontwikkel, omdat hulle hulleself eens weer as `n afsonderlike individu sou aaneensluit. Omdat hulle weer hulleself as die eens gevalle oergees in `n mens sou beliggaam, om dan die laaste wilsproef te deurstaan, naamlik om homself vrywillig na My te keer soos wat hy homself eertyds vrywillig van My afgekeer het.
Hierdie eindelose lang ontwikkelingsgang beteken nou vir dié oerwese wat in partikeltjies opgelos is, `n weg van dien in teenstelling tot die val, wat veroorsaak was deur die arrogansie en die heerssug van die wese. Die terugkeer kan slegs plaasvind deur onafgebroke diensbaar te wees, wat nou weliswaar in die "jy moet toestand" geskied, en dat die wese tydens sy menswees, vrywillig moet dien - aangespoor deur die liefde, wat dan ook 'n sekere voltooiing op hierdie aarde waarborg.
Dit is `n eindelose lang weg wat die eens gevalle wese moet aflê, totdat hy in die toestand van wilsvryheid as mens, sy laaste beslissing kan neem. En hierdie weg is so ontsettend smartlik, dat die mens die herinnering daarvan ontneem word - want hy moet vry beslis. Om te weet van die lyding en die ellende in die gekluisterde toestand, sou hom onvry maak in sy denke en wil as mens. Want die angs sou hom dryf tot die korrekte beslissing, wat egter vir die siel en haar voltooiing heeltemal waardeloos sou wees. Die mens moet vry en uit liefde dien en homself daardeur tot voltooiing bring en daarom gaan hy sy weg oor die aarde.
Want die mens is die eens gevalle oergees, vir wie deur My eindelose liefde alle moontlikhede ontsluit is om weer te word wat hy eertyds was: `n Hoogs volmaakte wese, wat nou egter in vrye wil die volmaaktheid kan bereik wat Ek hom nie kon gee nie en nou is "die werk van My Hande" voltooi tot My ewebeeld – en het hy My kind geword.
Dit is die doel wat Ek My gestel het vanaf die allereerste begin, waar `n eindelose lang weg van ontwikkeling egter voor nodig was en as My heilsplan van die ewigheid opgeneem moet word. En so weet u mense, dat u die gevalle geestelike is wat uself vlak voor die einddoel bevind, wat daarin bestaan dat u uself uit vrye wil met My moet verbind, wat weer beteken dat u uself moet omvorm tot liefde om u met My as die Ewige Liefde te kan verenig.
U weet nou dat u bestaan nie nou eers as mens begin het nie, maar dat u al ewige tye bestaan. U moet nie glo dat u uit My voortgekom het in `n toestand wat nie volmaak genoem kan word nie, want u het swakhede en gebreke. U is geen volmaakte skepsel nie en kan dus ook nooit as te nimmer in hierdie toestand uit My voortgekom het nie, wat slegs die volmaakte kan skep.
En hierdie kennis moes u al laat dink het en u tot die insig gebring het dat u aardse lewe ook `n doel moet hê, naamlik om weer die volmaaktheid te bereik waarin u uself eertyds bevind het en wat u self vrywillig prysgegee het. Dus ken u dan ook u opdrag wat daarin bestaan om uself tot liefde te verander, wat u oerelement is, te begin uitvoer. Want u is in u diepste wese dieselfde as Ek. U is nou as mens weliswaar nog ver van u volmaaktheid verwyder. U is en bly egter goddelike skepsele, wat nooit meer kan vergaan en vir wie se voltooiing Ek altyd weer sorg sal dra, wat Ek nooit sal loslaat en wat eenmaal vas en verseker die laaste doel sal bereik: Om met My op die innigste wyse verenig te wees en te bly tot in alle ewigheid.
Dat u as mens weinig daarvan af weet, lê slegs aan u swak graad van liefde, anders sou u die volste insig besit het, maar dan sou u voltooiing ook al naby gewees het. Hierdie kennis daaroor word aan u deur My gegee, sodra u bereid is om dit aan te neem. As u maar verlang om iets te wete te kom oor die samehang wat uself, u God en Skepper van die Ewigheid en die gehele skepping betref, dan sal u waarlik in alle waarheid daaroor onderrig word. U sal dan u weg bewustelik oor die aarde gaan, met as doel die uiteindelike vereniging met My. U sal die volmaaktheid bereik en `n lewe in saligheid wat ewig voortduur.
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205