Boek 43 - God en die Kerke – Deel 2
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25.

DIE OPSTANDING VAN DIE VLEES
B.D. 6000 - 13 Julie 1954
Die leer van die “opstanding van die vlees” soos u, mense, haar graag sou wil verstaan, word ongegrond wanneer u al ietwat met die geestelike kennis bekend geraak het; wanneer u nader aan die waarheid gekom het en probeer om die betekenis van al My woorde geestelik te verklaar. Want wat Ek vertel het is waarheid, wat ewig onveranderlik sal bly bestaan. Maar die betekenis wat u meen om daarin te lees, het Ek waarlik nie in My woord gelê nie. Vir elke mens wat ernstig na die waarheid soek, moet dit egter moontlik wees om die geestelike betekenis van My woorde te begryp. Wie My self om duidelikheid vra, wie dus probeer om na die waarheid deur te dring, sal ook spoedig helder en duidelik die geestelike betekenis van die woord insien en hy sal nie meer in letters bly vassteek nie.
Die “opstanding van die vlees”. Hierdie woorde beteken vir u mense dieselfde as die lewe na die dood. En vir u mense beteken “lewe” dieselfde as liggaamlik rondloop. So lê u hierdie woorde uit, solank as wat u gees nog nie ontwaak het nie, en solank dit nog vir u onbekend is wat eintlik onder “lewe” te verstaan is. Mense wat nie aan `n voortlewing na die dood glo nie, dink dat hulle bestaan eindig met hulle liggaamlike dood. Vir hulle beteken die verblyf in hulle liggaamlike omhulsel “lewe”. Hulle weet weliswaar dat hulle die omhulsel deur die dood verloor, maar hulle glo nie aan `n driedelige, liggaam, siel en gees nie. Vir hulle bestaan alleen net die liggaam - die vlees - en met die dood daarvan hou vir hulle die begrip “lewe”, op om te bestaan.
Die “opstanding van die vlees” beteken vir hulle die opstanding van die liggaam. Hulle verstaan daaronder alleen hulle liggaamlike omhulsel. En vir hulle is die leer van die “opstanding van die vlees” moeilik om te verteer, terwyl van kerklike kant geëis word dat hulle dit moet glo. En tog kan hierdie leer ook nog tot `n seën wees, as die mens daardeur aan `n “opstanding” - aan `n lewe na die dood glo. Want deur dit te glo, verander hy miskien ook sy wese en hierdie verandering kan tot sy ontwaking lei, tot `n deurstraling met My Gees. Dan sal hy ook die woorde “opstanding van die vlees” snap en dan snap hy ook die geestelike betekenis daarvan.
Opstanding beteken: Vanuit die dood tot die lewe ontwaak, opstaan uit `n toestand van slaap - om uit die donker in die lig te tree. En so sal ook alles aan die daglig kom, wat voorheen in die donker van die geestelike nag verborge gelê het. Dit verrys en openbaar homself, dit word lewend om te getuig. In `n toestand van dood geskied niks waarvan getuienis afgelê kan word nie. Maar wat in die lewe geskied - in die toestand waarin u op aarde in die vlees leef, dit openbaar hom dan en staan op om vir of teen u te getuig. Egter nie dat die materiële vleeslike liggaam weer uit die stof opstaan om u opnuut te beklee tot `n nuwe lewe nie.
Want die vleeslike liggaam is slegs `n verganklike omhulsel vir die siel, wat egter onverganklik is en nie kan sterwe nie. Wat wel “geestelik dood” kan wees by die afskeiding van hierdie aarde, maar ook in die hiernamaals nog tot lewe kan ontwaak, wat dus ook nog kan “opstaan” as sy die weg tot My in Jesus Christus vind en Ek haar so weer lewe kan gee.
In Jesus Christus het ook Ek, “vlees” aangeneem toe Ek op die aarde aangekom het - en ook dié “vlees” moes die aardse dood deurstaan. Maar Ek het uit die dood opgestaan om aan u mense te toon dat ook u lewe nie met die dood van die liggaam beëindig is nie, dat u siel ook kan opstaan en vir ewig lewe.
Ek laat egter as teken van die waarheid van My woorde, ook My liggaam opstaan. Nogtans was dit geen opstanding van die vlees nie - want My liggaam was vergeestelik. Die siel het `n geestelike kleed aangetrek, sy het alle geestelike substansies van die aardse liggaam onttrek, omdat dit deur My lewe en sterwe reeds volkome vergeestelik was.
Die stoflike substansies van die liggaam, wat eintlik net so `n geestelike substansie is, het hulle eindbestemming reeds op aarde bereik en kon hulle so by die siel aansluit. En omdat Ek dit so gewil het, kon dit sigbaar geskied, tot versterking van die geloof van My dissipels.
En omdat wat geestelik volmaak is, nie aan die aarde gebonde is nie, kon Ek My tot geestelike sfere verhef toe Ek ten Hemel gevaar het. En so sal ook u mense, na u opstanding `n liggaam hê, `n geestelike kleed, maar dit sal lyk soos wat u vlees was, want wat u gesaai het, sal u maai. As u gesondig het in die vlees, dan sal u sielekleed dit verraai. Het u goeie dade en werke verrig, dan sal u “straal” en so vir iedereen kenbaar wees. Maar nooit sal u siel weer die swaar aardse kleed optel, wat slegs vir hierdie kort aardse tydperk u verblyfplek was, om haar opdrag in die materiële wêreld te vervul nie.
Wie die betekenis en die doel van die materiële skepping ken, die ontwikkelingsgang van die gevalle geestelike deur die skepping met die doel om op die weg omhoog te gaan na My, het hierdie duidelikheid nie meer nodig nie. Maar hy moet die leer van die “opstanding van die vlees” - wat onsinnig is deur verkeerde uitleg, ook kan weerlê. As u egter beslis van die opstanding van die “vlees” wil spreek, neem dan met hierdie uitleg genoeë: Dat My woord sal opstaan om te getuig, vír of teen u.
Want Ek is die vleesgeworde woord en Ek benader elke mens in die woord. En wanneer die laaste dag gekom het en u almal voor die Regter moet verskyn, dan sal My woord vir u tot `n oordeel word, ook u wat My woord aangeneem het, maar dit, na gelang van u eie wil, gebruik het. Die vlees sal opstaan, want dit was aan u as voedsel aangebied. U moet “My vlees eet en My bloed drink” - dit wil sê, u moet dus My woord hongerig aanneem en u daardeur laat versterk. Want u sal verantwoording teenoor My moet doen van hoe u My liefdegawe benut het.
Hierdie uitleg is heeltemal volgens die waarheid. Dit moet u aanspoor om u lewe in die vlees op hierdie aarde goed te gebruik, deurdat Ek Myself vir u te ete en te drinke laat gee; Ek, wat die woord van die ewigheid is, wat vir u ontwil “vlees” geword het. Uit beide uitlegte sal ware wysheid u tegemoet straal, selfs as u nog nie met die geestelike kennis deurtrek is nie. En elke uitleg van My sal u bereidwillig aanneem as u `n ontwaakte gees het. Want elke een sal u bevredig, terwyl die verkeerde uitleg van My woord `n afkeer in u sal opwek of opgewek het, omdat die verkeerde uitleg afkomstig is van My teenstander, wie se doel dit is om die gedagtes van die mense te verwar, hulle van die waarheid af te wend en om alle geloof in `n lewe na die dood van hulle te ontneem.
So `n verkeerde uitleg getuig ook van die geestelik lae vlak van die mense, in die besonder egter van hulle wat My woord aan die mense bring, maar self nog nie in die geestelike betekenis van My woord deurgedring het nie. Die letterlike maak dood - maar die gees maak lewend. En vir hierdie Gees moet u almal vra. U moet bid dat u denke verlig word en u moet strewe na die suiwer waarheid, en u gebed sal dan waarlik weerklank by My vind.
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205