Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 114

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

`n Les vir Judas

114 Na hierdie uitleg kom Jaïrus nogmaals na My toe en sê: “Liewe Heer! U het my nou, deur aan my my dogter terug te gee, meer gegee as wanneer ekself van u `n honderdvoudige lewe sou gekry het! Hoe kan ek U daarvoor dank, hoe kan ek u daarvoor beloon? Wat kan ek nou vir u doen?”

[2] Ek sê: “Niks nie, behalwe dat jy jou voortaan nie meer vir My moet vererg wanneer jy die een of ander storie oor My hoor nie. Tot nou toe was jy téén My; wees dan van nou af aan vìr My! Want die hele wêreld kan jou nie gee, en dit vir jou doen, wat Ek vir jou gegee en vir jou gedoen het nie. Eendag sal jy egter wel insien hoe en waarom Ek dit vir jou kon gedoen het. Dink aan My in jou hart!”

[3] Jaïrus huil van vreugde en sy vrou en dogter snik toe Ek weer met My leerlinge terug na Násaret gaan. Hulle begelei My tot aan die plek waar die ander leerlinge en `n groot mensemassa op My wag.

[4] Toe ons daar aankom, was daar baie nuuskierige vraers wat baie opgewonde is om te wete te kom hoe dit met die gestorwe dogter van die owerste van die skool afgeloop het.

[5] Maar Petrus neem die woord en sê: “Julle blindes! Kyk hier, hierdie meisie is die een wat dood was en nou leef! Is dit vir julle nog nie voldoende nie?” Toe rig baie hulle tot die owerste en vra hom of dit waar was.

[6] En die owerste sê met `n flinke, luide stem: “Ja, julle blinde en ongelowige dwase! `n Uur gelede huil ek oor die verlies van my liefste, enigste dogter en nou sien julle my ongelooflik bly, omdat ek my dogter terug het! Is hierdie duidelike sigbare bewys nog nie genoeg vir julle nie?”

[7] Na hierdie woorde lyk almal uitermate verbaas. En toe Ek weer verder gaan met die leerlinge, kom die hele volksmenigte, so `n drieduisend mense, saam met My en begelei My na Násaret.

[8] Hoewel dit al taamlik laat in die nag was toe ons tuiskom, was Maria en die broers en susters nog op. Daar wag vir ons `n goed voorbereide aandete, wat enkeles van ons goed te pas kom. Omdat ons sedert die oggend niks geëet het nie, was dit wel begryplik dat mens `n behoorlike honger had.

[9] Judas was ook in die huis en slaap al op die strooibed. Toe hy egter deur ons gepraat, ons vrae en antwoorde gewek word, staan hy dadelik op en vra slegs maar hoe die visvangs afgeloop het.

[10] Petrus sê toe aan hom: “Gaan na buite en kyk!” En Judas gaan na buite en sien slegs die groot aantal mense wat rondom My huis uitkamp. Gou-gou kom hy weer na binne en vra weer aan Petrus waar die visse dan is, want hy het om die hele huis geloop en het geen vis gesien nie.

[11] Nou sê Petrus: “Het jy dan nooit gehoor dat die blindes niks kan sien nie, die dowes niks hoor nie en die dommes niks verstaan nie behalwe dit wat hulle maag nodig het? Kyk, blinde woekeraar, al die duisende mense om die huis, hulle is die heerlike, goeie visse wat ek bedoel!”

[12] Judas sê: “Ja, as jy dit bedoel! In `n bepaalde opsig is dit sekerlik ook geen slegte vangs nie, maar in ons gewone lewe het ek liewer `n honderd pond sware meevallertjie as al die mense daar buite! Want vir so `n vis kry ek oral baie geld, maar vir die daar buite gee niemand my `n stater nie.”

[13] Petrus sê: “Jy sal dit met jou geldsug nog wel eendag so ver bring dat jy heeltemal in die hande van die satan val! Is jy soms méér as `n gewone mens, soos ons? Ons lewe almal sonder om wins te wil maak en jy leef saam met ons en eet uit ons borde, en dit kos jou niks nie, behalwe die moeite van die eet self. As die lewe jou hier geen sent kos nie, waarvoor het jy dan die geld nodig?

[14] Judas sê: “En my vrou en kinders dan? Wie onderhou hulle vir my as ek niks sou verdien nie? Dink jy dat hulle van die lug kan lewe?”

[15] Petrus sê: “Kyk, ek kan baie verdra; maar `n brutale leuen kan ek nie verdra nie. In Jerusalem, waar mense jou nie beter ken nie, behalwe dat jy `n Galileër is, kan jy jou wel voordoen as `n besorgde huisvader; maar dit kan jy beslis nie by my nie! Want ek en almal wat jou bure was en nog is, ken jou en jou huislike omstandighede maar al te goed, sodat ons geen woord van jou glo nie. Jou vrou en jou kinders ly nog steeds gebrek en moet met swaar werk nog steeds hul karige daaglikse brood verdien. Van die visse wat jy gevang het, het hulle nog maar weinig van geëet; hulle kleding kry hulle van my af, en hoe lank is dit gelede dat ons by die markte langs gegaan en ons uit medelye die totaal vervalle huis van jou familie byna algeheel laat hernu het? Hoeveel het jy daarvoor bygedra? En dit noem jy - sorg vir jou vrou en kinders?! Maak dat jy wegkom en skaam jou tien jaar lank, omdat jy dit waag om so skaamteloos aan ons te lieg, terwyl ons jou maar al te goed ken!”

[16] Daarvan is Judas heeltemal verbouereerd en hy het geen antwoord nie; want Petrus het hom nou te pynlik geraak. Hy gaan na buite, dink daaroor na, kom na `n tydjie weer terug en vra ons almal om vergewing! Ook belowe hy dat hy homself van nou af aan heeltemal sou verander en hy wil nou heel ernstig `n leerling van My wees; slegs hoop hy dat ons hom nie so ru sou afwys nie. Daarop sê Nathaniël, wat persoonlik weinig en ook selde iets sê: “In jou woon die gees van Kain, verstaan jy dit goed? En hierdie gees verbeter homself nie op hierdie aarde nie; want die gees van Kain ís die wêreld en daarvan kan jy geen verbetering verwag nie!”

[17] Judas sê: “Ja, ja, ja, waaroor het jy dit tog altyd met jou ou gees van Kain! Waar is Kain, en waar is ons? Die geslag van Kain het ten gronde gegaan; slegs Noag bly toe oor, en in sy nakomelinge sit geen druppel meer van Kain se bloed nie, maar die suiwere bloed van die kinders van God vloei in ons are. En as die bloed suiwer is, dan is ook die gees suiwer; want die gees van die mens kom altyd uit sy bloed voort en daarom is die gees ook altyd net so suiwer soos die bloed!”

[18] Nathaniël sê: “Dit is die ou onsin van jou wat ons al so dikwels gehoor het, daar gee ek niks voor om nie! Gaan na die Sadduseërs; hulle sal wel belangstel in daardie onsin! By ons is die bloed egter trae materie en die gees is en bly vir ewig gees! Wat maak jy van die bloed van `n kind van God as daarin, soos by jou, `n onsuiwere gees woon?! Verstaan jy my?”

[19] Judas sê: “Ja, ja, jy kan miskien ook wel gelyk hê en ek sal alles doen om tot die kern van julle leer deur te dring; maar as julle leer op menslikheid gebaseer is en julle elkeen sagmoedig en met geduld tegemoet kom, dan meen ek dat julle my nie altyd met allerlei stekelige opmerkings hoef af te wys nie! Want wat is `n leer sonder leerlinge? `n Geluid sonder betekenis, waar niemand op let nie! Elke leer het daarom net sulke goeie leerlinge nodig as wat die leerlinge `n goeie leer nodig het; en daarom dink ek dan ook dat elke leerling vir `n leer net so belangrik is as die suiwerste en beste leer op sigself. En daarom is ek van mening dat dit vir julle geen kwaad sou doen as julle met my as julle medeleerling `n bietjie meer geduld sou hê nie!

[20] Ek hoop dat julle, omdat julle tog so wys is, sal insien dat ek nou nog aan my ou beginsels vashou; juis daarom wil ek julle leering leer ken, om daardeur van my ou leer, waarin ek nie bepaald meer veel glo nie, los te raak. As ek nou as oningewyde soms iets sê wat nie heeltemal strook met hierdie nuwe leer van julle nie, dan sal julle dit tog sekerlik heel natuurlik vind?

[21] Sodra ek net soos julle in die nuwe leer van julle Heer ingewy is en net soos julle die beginsels daarvan ook onweerlegbaar goed en waar vind, dan sal ek hierdie nuwe leer van julle ook sekerlik tienmaal harder verdedig as julle almal bymekaar; want ek is moedig en trotseer elkeen, omdat ek vir niemand bang is nie. Gestel dat ek vir iets bang was, dan het ek tog al lankal van julle af weggebly, aangesien julle en julle Heer my al meermale so duidelik te kenne gegee het dat ek nie by julle welkom is nie. Maar angs ken ek nie en dus kom ek terug. Dit is weliswaar duidelik te sien dat julle julle daaraan vererg; maar dit maak aan my niks nie en ek bly net soos julle tog `n leerling van hierdie nuwe leer. Wat het julle daarop te sê?”

[22] Nathaniël sê: “Veel en niks; doen maar wat jy ookal wil! Dat jy geen angs ken nie, is nou bepaald nie `n groot deug nie. Want ook die satan moet sonder angs wees, anders sou hy JaHWeH God nie die een ewigheid na die ander ongehoorsaam gebly het nie! Dit kan jy trouens hier op aarde ook al by die diere sien, waarvan daar sommige duidelik meer moed het as andere. Kyk maar na `n leeu, `n tier, `n luiperd, `n wolf, `n hiëna of `n beer en vergelyk dit met `n lam, `n bok, `n hert, `n haas en nog baie van die vreesagtige diere. Sê eers, tot watter van hierdie twee groepe diere sou jy jouself reken?”

[23] Judas sê: “Die spreek tog vanself dat ek my net soos al die ander tot die saggeaarde diere sou reken en nie tot die verskeurende wilde diere gereken wil word nie, want die moed van die leeu is die ander se dood.”

[24] Nathaniël sê: “En jy prys tog die moed en jy meen om juis daardeur `n bekwame leerling te word? Maar ek sê vir jou dat moed in die eintlike sin van die woord `n groot sonde is; want dit is die vrug van die hoogmoed, wat alles verag wat in die mens nie die eie ek is nie. Daarom sal in ons leer die niks-vresende moed van `n mens nooit as `n deug aangeprys word nie, want dit is nou presies die teendeel van wat ons leer van die mens verwag.

[25] Wie voer oorlog? Dit is slegs sogenaamde helde wat die dood nie vrees nie! Gestel dat die aarde vol helde was, dan sou daar altyd `n ewige oorlog oor die velde van die aarde getrek het; want elke held wil nie slegs maar `n medeheld wees nie, maar self `n held wees en sal daarom nie rus totdat hy al die ander helde oorwin het of uit die wêreld gehelp het.

[26] Maar stel jou daarenteen voor dat die aarde vol is van sagmoedige mense wat so vroom soos lammetjies is, dan was dit hier `n paradys!

[27] `n Vreesagtige mens sal deur `n held nie agtervolg word nie, want iemand wat bang is, is geen bedreiging vir sy roem nie. Maar het `n held `n ander held teenoor hom, dan sal hulle mekaar direk uitdaag en nie rus voordat een van die twee die onderspit delf nie. En daaraan sien jy nou helder en duidelik wat die seën van die moedige is!

[28] As jy dus ons medeleerling wil wees, plaas dan jou oorbodige moed eenkant en wees in die plek daarvan liewer vol liefde, geduld en sagmoedigheid, dan is jy soos wat dit `n egte leerling van die Heer betaam!”

[29] Judas sê: “Nou ja, jy het bepaald nie ongelyk nie; ek moet daar nog eers oor nadink en dan sal ek julle almal môre sê wat ek sal doen, of ek by julle bly en of ek weggaan!”

[30] Met hierdie woorde gaan Judas na buite, soek `n paar bekendes in die groot volksmenigte en praat met hulle byna die hele nag oor dit wat hy van Nathaniël gehoor het; maar almal gee Nathaniël gelyk en sê: “Nathaniël is `n egte wyse”, en jy weet goed dat daar in sy siel niks verkeerds is nie! - Ons moet egter huis toe gaan en gaan slaap.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205