Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 125

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Jesus praat verder met die leerlinge van Johannes die Doper. Die vertroue van Matthéüs die tollenaar

125 Die leerlinge van Johannes sê: “Doen ons dan verkeerd as ons lewe volgens die leer van Johannes? Johannes was beslis `n streng prediker, maar so `n leer het hy ons nie gegee nie.

[2] Kyk, die orde van die Esseners wat aan ons bekend is, is ook streng en hulle eerste gebod is waaragtigheid; maar wat het hulle aan al hulle waaragtigheid en al hulle andere streng reëls? Wie respekteer hulle? Nòg die Grieke, nòg die Judeërs waardeer hulle, slegs by die Romeine skyn hulle `n paar aanhangers te hê. Al is die leer waarvolgens hulle lewe op sigself nòg so goed en suiwer, dan is dit tog slegs maar vir `n paar mense wat hulleself daarvoor van die wêreld teruggetrek het, sekerlik heel goed, maar vir die totale mensdom algeheel onbruikbaar.

[3] Watter nut het al die mooi en kragtige woorde vir die saak van die algemene broedergees?

[4] Kyk, hierdie huis is `n groot en gasvrye huis en dit is, in die lig van die goeie saak van die broedergees bekyk, sonder weerga; maar kan U nou van die gasheer redelikerwys verwag dat hy altyd gereed moet staan om al die mense, wat tog sonder meer ons broers is, op te neem en te versorg? Ook al sou hy dit graag wil doen, en homself dit voorneem, dan sal die middele wat daarvoor nodig is, soos ruimte, eetware en ander dergelike dinge hom tog daartoe ontbreek.

[5] Gestel dat `n paar arm mense niks meer besit nie as `n selfgeboude hutjie en vir die winter `n baie karige voedselvoorraad, waarmee hulle slegs ter nouernood aan die lewe sal kan bly totdat die aarde weer vrug sal begin dra. En daar kom nou tien mense na hulle toe, dus benewens die twee wat self kwalik ruimte genoeg het in hulle hut, en hierdie tien vra om binne gelaat te word en om onderdak en voedsel. Sê dan eers, watter leer kan dan hierdie twee gebied, of selfs maar aanraai of sê dat dit goed en seënryk sal wees om die wens van die tien tegemoet te kom wat in die deur staan en hulleself daardeur geheel en al ten gronde te rig?!”

[6] Ek sê: “Elke voël sing en tjirp soos wat hy gebek is en so praat julle met julle wêreldse verstand en julle kan nie anders praat nie, omdat julle dit nie anders sien nie! En dit is dan ook al wat Ek julle daarop gaan antwoord. Want al sou Ek ook iets hoërs en waaragtigs uit die hemele aan julle meedeel, dan sou julle My tog nie begryp nie; want julle harde harte het daar geen begrip voor nie!

[7] Julle dwase! Wie laat dan die vrugte groei en ryp word op die aarde? Wie onderhou dit en gee dit steeds hulle krag? Glo julle dan dat God diegene wat wegkwyn en hulleself opoffer vir hul behoeftige broers, niks kan of wil vergeld nie? Of dink julle dat God onregverdig is en die onmoontlike van die mense verlang?

[8] Ek is van mening dat dit vir elkeen heel moontlik is om `n waaragtige, eerlike, goeie wil te hê en die vurige wens om aan `n arme broer, waar dit maar moontlik is, goed te doen.

[9] As elkeen hier volledig daarvan deurdronge was, dan sou daar op aarde ook geen enkele armsalige ou hutjie meer wees waarin maar twee mense kon woon nie.

[10] Dit huis van My vriend Matthéüs het vandag baie mense gevoed en hy gee sy hele voorraad weg vanuit `n ware, goeie hart en as jy dit nie wil glo nie, gaan kyk dan in die voorraadkamer en op die koringsolder en julle sal daar geen voorraad daar vind nie! Hier staan die Heer van die huis; vra hom of Ek onwaarhede vertel!”

[11] Matthéüs bevestig my uitspraak geheel en al en sê: “Heer, dit is vandag helaas so en ek weet nie hoe ek môre die gaste gaan versorg nie. Maar so was dit al dikwels en ek vertrou op God - en kyk, daar kom altyd weer voldoende, sodat ek die gaste kan gee wat hulle nodig het!”

[12] “Kyk”, sê Ek daarop, “so dink en handel `n goeie mens in hierdie wêreld en hy bekla hom nie dat God hom ooit in die steek gelaat het nie. En so is dit ook altyd gewees en sal dit vir ewig wees!

[13] Wie op God vertrou, word ook deur God vertrou en Hy verlaat hom nie en stel hom nie teleur nie. Maar diegene wat, net soos julle, wel glo dat JaHWeH God is, maar Hom nie volledig vertrou nie, omdat hulle eie harte hulle vertel dat hulle nie werd is om deur God gehelp te word nie, dié help God ook nie; want hulle het geen vertroue in God nie, maar slegs in hulle eie krag en middele, wat hulle bepaald heilig en onkwetsbaar vir hulleself hou, en hulle sê: “Mens, as jy wil hê dat jy gehelp moet word, help dan jouself; want elke mens is sy eie naaste en sorg eerste vir homself.” En voordat hy klaar is met die sorg vir homself, gaan die hulpbehoewende ten gronde!

[14] Maar Ek sê: as jy eerste vir jouself sorg, is jy deur God verlate en sonder Sy seën en sonder Sy hulp, wat jy anders ongetwyfeld sou gekry het! Want God het die mens nie uit selfsug nie, maar uit suiwere liefde geskape en daarom moet die mens met hierdie liefde wat hulle hul bestaan gee, volledig in alles ooreenstem.

[15] As jy egter sonder liefde en vertroue tot God leef en handel, dan verander jy die hemelse in jou vrywillig in die helse, jy wend jou van God af en word `n dienaar van die hel, wat jou dan ten slotte ook die verdiende loon nie sal onthou nie, naamlik die dood in God se toorn!

[16] Julle sê ook dat die Esseners wat volgens die skool van Pythagoras lewe, vanweë hulle suiwere filantropie by niemand baie geliefd is nie, behalwe by `n klein aantal Romeine.

[17] Ook Ek ag hulle nie, omdat hulle die onsterflikheid van die siel nie erken nie; maar tog is die slegste onder hulle beter as die beste van julle!

[18] Ek sê nou onomwonde vir julle: onder almal wat vanaf die begin van die wêreld uit vroue gebore is, was daar niemand groter as Johannes nie; maar wie van nou af aan die kleinste sal wees van My leerlinge in die ware Ryk van God, dié sal baie kere groter wees as Johannes, wat julle jul meester noem, maar wat julle nog nooit verstaan het nie! Want hy wys julle die weg na My toe, en hy maak die pad gelyk vir en tot My, maar die wêreld in julle het julle harte verblind; daarom kan julle My ook nie herken nie, hoewel julle hier by My staan!

[19] Gaan dan en sorg vir julle wêreld, vir julle vrouens en kinders, sodat hulle nie naak hoef te wees nie en geen honger en dors ooit hulle buike pla nie; maar dit sal binnekort sigbaar word hoeveel goed julle hulle daarmee gegee het! Ek sê vir julle dit: God sal nie vir hulle sorg nie! En dit kan Ek julle met die volste reg en met die volle waarheid sê:

[20] Wie ooit vermoëns en eiendom gehad het en werk waarmee hy veel wins kon maak, maar wat die wins vir homself en sy kinders hou en afwerend neerkyk op die arme broers, en die arme kinders vermy wat deur gebrek aan al die aardse besittings, honger, dors en koue ly en hulle wegjaag as hulle na hom toe kom en hom om `n aalmoes vra, hy is `n vyand van God! En wie aan `n broer sê: “Kom oor `n paar dae of weke maar terug, dan sal ek die een en ander vir jou doen!”, maar wat, as dan die hoopvolle en broer wat op hom reken kom en hom vra om sy belofte gestand te doen, homself verontskuldig deur te sê dat hy ook nou niks kan doen nie, hoewel hy heimlik wel daartoe in staat is; waarlik, waarlik Ek sê vir julle: Hy is `n vyand van God! Want hoe wil hy God liefhê wat vir hom onsigbaar is, terwyl hy tog sy broer wat hy kan sien nie liefhet nie en wie se nood hy nie wil ken nie!?

[21] Waarlik, waarlik, Ek sê vir julle: wie sy broer in die nood verlaat, verlaat ook tegelyk God en die hemele. En God sal hom verlaat, voordat hy daarop bedag is!

[22] Wie sy arme broers egter nie verlaat nie, ook nie as God hom daarmee beproef nie, hy sal dan egter ook, voordat hy daarop bedag is, geseën word en dit rykliker tydelik en ewig, as wat die voorraadkamer en die koringsolder van ons gasheer nou geseën is!”

[23] “Dit glo ons graag”, sê die leerlinge van Johannes, “want dit is heeltemal leeg!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205