Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 138

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die vraag van Simon van Kana oor die ontstaan van tweedrag deur die nuwe leer

138 Simon van Kana sê: “Heer, ek het nog één vraag, wat vir my uiters belangrik voorkom. Miskien wil U dit ter lering en vir ons gemoedsrus nog beantwoord voor ons vertrek. Ek vra U om na my te luister.

[2] Ek sê: “Ek lees jou vraag in jou hart noukeuriger as wat jy dit sal kan formuleer; maar laat dit jou nie daarvan weerhou om jou vraag ter wille van jou broers hardop uit te spreek nie. Want die vraag is werklik besonder belangrik en `n egte onbedorwe Judeër waardig. Sê dus maar sonder omhaal wat jy op jou hart het!”

[3] Simon van Kana sê: “Nou dan, as dit ook U wil is dat ek praat, luister dan almal goed na my! Dit is die vraag:

[4] Ons sal nou gaan na wie ons nodig het. Ons sal predik wat U ons op die berg geleer het. U bergrede is suiwer goddelik en dus buitengewoon waar en hemels goed. Maar hierdie leer gaan grootliks lynreg in teen die ou Mosaïese wette.

[5] Ek ken byna al die plekkies langs die uitgestrekte Meer van Galilea en haar inwoners ken ek meestal ewegoed. Daar is baie onder hulle wat Moses en al die profete al lankal oorboord gegooi het vir Pythagoras; dié is nou juis net so gevaarlik vir U nuwe leer. Maar daar is ook families wat so te sê vir Moses, en eintlik meer nog, vir die tempel lewe en sterwe - en meestal geld dit meer vir die ouers as vir die kinders, hoewel die omgekeerde ook dikwels voorkom. As kinders van sulke aartsjode U, op sovele punte anti-tempelse, leer aanneem terwyl hulle ouers dit hoogs waarskynlik nie doen nie - wat sal dan daaruit voortkom?

[6] Die ouers sal die kinders volgens Moses betig oor ongehoorsaamheid en sal hulle vervloek - iets wat by sulke fanatieke aartsjode beslis nie seldsaam is nie!

[7] Dit sal ongetwyfeld voor ons oë afspeel, en wat moet ons dan doen? Want ons kan daar sekerlik van uitgaan dat sulke ouers ons sal vervolg en eindeloos sal vervloek.

[8] In die omgekeerde geval sal dit natuurlik eenvoudiger wees, omdat die kinders net deur staatkundige wette nooit baas oor hulle ouers kan wees nie. So sal ons nou dus behalwe die seën ook dikwels tweedrag, twis, toorn, haat en wraaksug versprei en deur duisende gehaat, vervolg en totaal vervloek word. Wie sal hierdie skade weer herstel en wie sal die duisendvoudige vloek van ons wegneem?”

[9] Ek sê: “Bekommer jou nie daaroor nie! Kyk, uit die hemele kom nie net die milde voorjaarson, wat die hele natuur opnuut tot lewe wek met haar strale nie, maar ook storm, hael, bliksem en donder.

[10] Elkeen prys wel die sonstrale; maar die hael, die storm, die bliksem en die donder wil niemand loof nie en die winter kom vir almal altyd te vroeg - en tog is die winter vir almal heilsamer as die voorjaar, en storm, hael, bliksem en donder is net so nodig as die milde strale van die awendrooi son.

[11] Ek sê vir julle: dit sal so gebeur, en dit moet so gebeur dat ter wille van My Naam die een broer die ander sal oorlewer aan die dood, en só sal ook die vader met sy seun doen en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle die dood indrywe! (Matthéüs. 10:21) Maar - julle moet deur elkeen van die eintlike wêreld, soos wat dit tans is, gehaat word ter wille van My Naam!

[12] Wie van julle daaraan egter nie aanstoot neem nie, maar volhard tot die einde toe, hy sal salig word (Matthéüs. 10:22); want die satan trek sy kloue nie sommer van sy buit af nie! Het julle My verstaan?”

[13] Judas sê: “Dit word steeds mooier! As ons onsself die haat van almal op die hals haal vanweë hierdie opdrag, dan beveel ek so `n onderneming wel in God se hande aan! Baie geluk in `n krygshaftige klimaat! Hulle wat ons haat, sal hulle sekerlik net so oor ons ontferm en ons bewaar soos die hete somer hom oor die sneeu ontferm en dit bewaar! Heer, as dit U volle erns is, dan sê ek vir U as heel eenvoudige, maar enigsins ervare mens: bly saam met ons maar liewer mooi tuis; want daardie saad sal nie opkom nie en sal geen vrug dra nie! - Luister! As ons dit in `n stad met ons prediking en ons dade sover gebring het dat ons daar deur almal gehaat word soos die dood, wat staan ons dan te doen? Moet ons onsself dan ook nog heel rustig laat doodmaak? En as dit so gebeur - wie sal U leer dan verder versprei? - Ha, bedink eers wat U vra! Om hemelswil, sien U dan nie in dat U Uself daardeur heeltemal onmoontlik maak en U eie grootste vyand en vervolger is nie? Waar, waar in die hele wêreld vind jy iemand wat my meer as die dood haat en tog luister na my prediking, wat sy huis vervul met al die moontlike tweedrag, haat, toorn en dodelike wraak? Sê my, wat moet daar in so `n geval, wat onvermydelik is, gedoen word?”

[14] Ek sê: “Jy praat altyd soos wat jy dit verstaan; ons praat egter soos wat ons dit verstaan. Jy begryp dit alles op `n growwe, wêreldse manier, terwyl hier vanuit die hemele geestelik gespreek word.

[15] As jy en iemand anders saam egter al so `n groot angs vir die mense het, vlug dan uit die stad waar mense julle vervolg en gaan na `n ander! Want voorwaar Ek sê vir julle: julle sal nog lank nie in al die stede van Israel gepreek het, voordat Ek as die Seun van die Adam weer na julle toe sal kom nie (Matthéüs. 10:23) as Die EEN wat vir elkeen die gerig, `n verwoestende vuur in sy hart, sal ontsteek en die kwade wurm in die bors van die boosdoener sal wek; en die vuur wat nooit blus en die wurm wat nie sterf nie; daarin sal julle egter geregverdig word. Want wee diegene wat julle vervolg en die hand aan julle geslaan het!”

[16] Judas sê weer: “Ja, as ons al doodgeslaan is, dan sal U wel kom! As U ons nou tog al die mag oor die bose geeste gegee het en die krag om al die siektes te genees, waarom gee U ons dan ook nie dadelik die mag oor die slegte mense nie, waarvan daar dikwels nie één slegter is as al die bose geeste wat hulle ooit as parasiete in die liggame van mense genestel het? Gee ons die mag om vuur uit die aarde op te roep onder die voete van hulle wat ons vervolg, en ons bekeer in `n kort tydjie die hele wêreld vir U!”

[17] Ek sê: “Wil jy dan meer wees as jou Majesteit en Heer? Ek sê vir julle almal: die leerling staan nie bo sy meester en die kneg nie bo sy Heer nie. (Matthéüs. 10:24) Dit is vir die leerling genoeg as hy is soos sy meester, en ook vir die kneg as hy is soos sy Heer.

[18] As julle Majesteit en Heer Homself egter nie bedien van buitengewone magsmiddele om die mense Sy leer op te lê nie, waarom sal Sy leerlinge en knegte dit dan wil? Maar as die wêreldse mense My, die Heer en Huisvader van ewigheid, al “Beëlsebub” genoem het, hoeveel te meer sal hulle julle, My huisgenote, so noem! (Matthéüs. 10:25)

[19] Daarom moet julle ook nie bang wees vir hulle nie, want julle ken hulle. Dink julle dan dat Ek nie weet wat mense julle gaan aandoen nie? Ek sê vir julle: daar is niks so verborge dat dit nie vir My sigbaar is nie en daar is ook niks so geheim dat Ek dit nie sou weet nie. (Matthéüs. 10:26)

[20] Omdat dit My dus nie verborge kan bly wat mense van julle eis of wat mense julle sal aandoen nie, kan julle ook altyd My hulp verwag! Die leeuin verlaat immers nie haar welpies nie, en in tye van gevaar plaas sy haar lewe op die spel vir elke welpie wat mense van haar wil wegneem. Dan sal tog ook Ek julle in tye van gevaar met My lewe beskerm.

[21] Moet dus nie beangs wees vir wêreldse mense nie! Wat Ek julle in die nag leer, sê dit vir hulle oordag; en wat Ek die een of die ander van julle heimlik in die oor van sy hart sê, verkondig dit nou van die dakke af (Matthéüs. 10:27) en vrees diegene dus nie wat soos `n verskeurende dier die liggaam van `n mens wel kan dood, maar wat die siel, wat die enigste is wat leef en lewe het, nie kan doodmaak nie en wat nie in staat is om die siel watter skade dan ookal te berokken nie.

[22] Maar as jy dan vir iets bang is, vrees dan eerder Hom wat ook Heer oor julle siele is en wat haar kan veroordeel tot die hel wanneer Hy wil! (Matthéüs. 10:28) En julle ken Hom al, want dit is Hy wat dit nou aan julle sê!

[23] Kyk eers na daardie skuurtjie waarvan die dak nog op is. Kyk nou watter plesierigheid die mossies daarop het; nou vlieg hulle daar op, en dan weer lyk dit asof hulle gewoon van die dak afval! Op die mark koop jy twee vir `n penning; hoe weinig is hulle werd! En tog val daar ook nie één van die dak af sonder dat die Vader in die hemele dit wil nie! (Matthéüs. 10:29)

[24] Maar Ek sê vir julle: julle hare is getel (Matthéüs. 10:30) en julle verloor daarvan nie één nie sonder dat die Vader dit weet en dit wil nie! As die Vader nou só sorg vir dinge wat julle totaal onbelangrik vind, sal Hy dan nie vir julle sorg wat Sy Woord en Sy Barmhartigheid verkondig nie?

[25] Julle vrees is daarom ongegrond en julle moet nooit bang wees nie; want julle is tog beter as baie mossies. (Matthéüs. 10:31)

[26] Gaan daarom sonder verdere vrees op pad en bely My voor die mense! Waarlik, wie My bely voor die mense, vir hom sal ook Ek bely voor die Vader in die hemele! (Matthéüs. 10:32) Maar diegene onder julle wat My uit onnodige angs sal verloën voor die mense, hulle sal Ek ook eendag voor die Vader in die hemele verloën.” (Matthéüs. 10:33)

[27] Judas neem weer die woord en sê: “Dit is alles heel wys en mooi gesê, en dit is in daardie vorm ook beslis waar; maar wat help dit almal? Die leer is buitengewoon edel, suiwer en waar - dit staan soos `n paal bo water - en ook U dade toon ten minste aan ons terwyl ons hier saam is meer as genoegsaam wie in die grond van die saak die Een is wat dit uitvoer. Maar by die gegewe gedragsreëls sal die leer en haar uitvoering beswaarlik ooit algemeen op- en aangeneem word. Omdat dit eintlik onvrede veroorsaak in elke huis wat haar aanneem, sal dit óf baie streng deur die staat vervolg, óf algeheel verbied word, en dan het ons nêrens gekom nie. Wat dan? As ons dan as aardse verkondigers van U leer en dade sekerlik maar al te gou onder klippe, of onder die swaard, in die vuur, of miskien aan die folterpaal of in die leeukuil opgehou het om te bestaan, wie sal dan ons plekke inneem en ons werk doen?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205