Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 185

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die Heer nooi die fariseërs uit om in die huis in te kom

185 Toe die fariseërs merk dat die volk deur hulle gesien het en dat hulle nou bespot word, begin daar hewige wraakgedagtes in hulle hart opborrel. Toe sê Ek aan die volk: “Laat hulle met rus; want hulle is self blinde leiers van blindes. As hulle met diegene wat hulle lei, by `n kuil kom, val hulle saam daarin. Hulle kan julle in `n land waar hulle die mag in hulle hande het altyd meer kwaad doen as julle vir hulle; maar nou het hulle met julle tog so ver in die val geloop dat ook nie hulle meer in die kuil kan val nie, maar eerder julle! Want hulle sê dat hulle aan die Romeine en Grieke, tot hulle verderf, vervloekte graan verkoop het. As julle dit by die Romeinse owerste aangee, jaag hy hulle almal oor die vaatjie (lyfstraf)! Maar so iets mag nooit gebeur nie! Ons sal ons nou in die huis terugtrek en Ek sal daarbinne sien of Ek die algehele geestelike blindes siende kan maak.”

[2] Vervolgens gaan Ek die huis binne en die fariseërs loop dadelik agter My aan en word binne deur My leerlinge begroet. Maar daar loop ook baie van die volk saam, sodat daar in die kamer `n groot gedrang was. Maar dit was niks, want Ek en My leerlinge het tog genoeg plek gehad.

[3] Toe alles nou rustig in die huis was, open Ek My mond en spreek hoofsaaklik teen die fariseërs, omdat Ek hulle slegte gedagtes maar al te goed en duidelik gesien het: “Dat die saak sover gekom het, lê by niemand behalwe julleself nie. Julle is hier in Jesaïra by die volk vir meer as dertig jaar en julle kon nie ontdek watter gees daar in hulle leef nie! Dit is nou op die oomblik te laat om die eenmaal gewekte gees van die volk weer aan die slaap te dwing! Julle ergernis is daarom totaal onvanpas; want julle is self daaraan skuldig en verder niemand nie.

[4] Ek kom hierheen as `n egte Judeër en as Waaragtige en in die volle besit van die gees van God en in al Sy krag!

[5] Toe Ek by die oewer kom en julle, deur die vuur na die skip gelok, gou met die volk na die oewer toe gekom het, genees Ek voor julle oë die blinde, stomme en tewens besete man. Die volk herken oombliklik die goddelike krag in My en begroet My as die Seun van Dawid. Self herken julle dit ook in julle harte. Maar omdat julle meen dat so `n erkenning julle in alles sou beperk, sê julle teen julle innerlike oortuiging in dat Ek sulke dade doen met behulp van die owerste van die duiwels! Wie het julle egter daarmee kwaad gemaak? Kyk, niemand, behalwe julleself nie!

[6] As julle maar net `n bietjie eerliker oor die saak nagedink het en dit van naderby sou ondersoek, dan sou julle die domme onsin van julle bewering oombliklik ingesien het en daarnaas moes erken dat julle deur die hoogs voorbarige en onverstandige bewering by die intelligente volk nog die laaste vonk van aansien en geloof wel sou verloor!”

[7] Die fariseërs vra dan: “Wat moet ons dan doen? As u tog so wys is, vertel ons dan!”

[8] Meer ernstig sê Ek: ”So moes julle gedink, geoordeel en gepraat het: Elke ryk wat in homself verdeeld raak, kan nie bestaan nie! (Matthéüs. 12:25) As die een satan die ander een verdryf, dan is die tog duidelik dat die een van tevore met homself in stryd moet wees! En dan vra Ek: Hoe kan so `n slegte ryk dan standhou? (Matthéüs. 12:26) Na My mening is dit tog wel voor die handliggend!

[9] Maar as Ek, `n egte Judeër, volgens julle domme bewering die duiwel uitdryf met behulp van Beëlsebul, vertel julle My dan eers met wie se hulp doen julle kinders dit, wat nou tog ook in al die lande as genesers rondtrek, siekes genees en duiwels uitdryf?! Ek sê julle egter: Nie net hierdie volk nie, maar ook julle kinders sal julle regters wees! (Matthéüs. 12:27)

[10] As Ek egter deur die gees van God die duiwels uitdryf, en daarvan is die hele volk oortuig, dan het die Ryk van God tog tot by julle gekom (Matthéüs. 12:28), waaroor julle as Judeërs julleself nog meer sou moes verheug as die Grieke wat heidene is, omdat die teken deur `n Judeër bewerk is en die aansien van die Judeërs, wat lank reeds verlore geraak het, weer herstel is! Want slegs so kan die egte Judeër aan die hele wêreld toon dat hy die enigste mens op die uitgestrekte aarde is wat `n sigbare Verbond met God het en deur die almagtige Krag van die gees van God dade kan verrig op die manier wat vir geen ander mens moontlik sou wees nie.

[11] As die nie-Judeërs dit by die Judeër opmerk, sal hulle hulleself weldra met baie duisendmaal duisende om die magtige Judeër versamel en sê: “Slegs die Judeër is van God, deur hom toon God se Almag Homself op wonderbaarlike wyse, Hy is sterk en wys en moet in ewigheid ons Heer wees!”

[12] As die ware Judeër homself egter deur die Gees van God al so sterk gemanifesteer het, dan moet sy hele huis en land ook so sterk wees! En hoe is dit dan moontlik dat iemand die huis van so `n magtige en sterke kon binnekom om sy boedel te besteel? Dit kon egter enigeen gewees het, maar dit is onmoontlik alvorens hy nie die magtige eers vasgebind het en sy huisraad gesteel het nie (Matthéüs. 12:29), soos die Romeine dit ook werklik met ons gedoen het, omdat hulle ons dronk en slapend in ons huis aangetref het en ons vasgebind het, beroof en tot hulle slawe gemaak het, wat die Judeërs volkome tereg oorgekom het omdat hulle geheel en al afvallig geword het van God.

[13] Maar God het medelye met Sy volk en wil hulle nou weer help, daarom het God My dan ook na julle toe gestuur. As dit nou dus klaarblyklik die geval is soos wat julle dit self sien, waarom verstrooi julle dan weer alles wat Ek versamel?

[14] Want wie nie vir My is nie, is teen My en wie nie met My versamel nie, verstrooi (Matthéüs. 12:30) en is blykbaar teen die Gees van God wat julle wil vrymaak!

[15] Daarom voeg Ek by alles wat julle oorgekom het dit nog toe: Alle sonde en lastering word die mens vergewe, maar die lastering van die Heilige Gees nooit! (Matthéüs. 12:31) Want julle het baie goed geweet dat Ek die besetene genees het deur die Krag van God, maar julle het vanweë skandelike aardse voordele en vanweë julle aansien nogtans die Gees van God in My gelaster wat julle wou red en so het julle dan ook van die heidene julle verdiende loon gekry!”

[16] Die fariseërs sê: ”Ons het nie die Gees van God, maar slegs vir U gelaster, en U, wat vlees en bloed is, is tog sekerlik nie die Gees van God nie? Want U is net soos ons slegs maar die seun van `n mens!”

[17] Ek antwoord hulle: ”Ja wel, skynbaar is Ek dit ook, maar in werklikheid is Ek moontlik heelwat meer. Maar as Ek net soos julle `n seun van `n mens is, dan is dit nie in die minste `n verontskuldiging vir julle lastering nie! Want Ek as Seun van die Adam verrig beslis nie die dade nie, - net so min as julle! Maar in die Seun van die Adam wat nou voor u staan is slegs die Gees van God werksaam, en dit is Sy wat julle belaster het; want nie Ek, maar God se Gees het hier ten aanskoue van julle dit alles gedoen, en julle het Hom gelaster.

[18] Ja, wie homself teen My, as suiwer mens, uitlaat, dit word vergewe; maar wie homself teen die Heilige Gees uitlaat, dit word hom nie vergewe nie, nòg hier, nòg in die hiernamaals! (Matthéüs. 12:32)

[19] Want as `n boom eenmaal volledig sleg is, gee hy slegte vrugte, maar van `n goeie boom sal ook die vrugte goed wees. Dus - aan die vrug herken `n mens `n boom! Julle is die boom en die Judeërs wat deur julle verheidens het, is julle vrug! Oordeel self of dit goed of sleg is!” (Matthéüs. 12:33)


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205