Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 212

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die stoïis* Philopold

*[Stoïsis´me1. Leer v. d. Griekse wysgeer Zeno en die Stoïsyne, wat leer om slegs die rede te volg, die hartstogte te beteuel, die leed te verontagsaam en deur selfbeheersing kalmte van gees te verkry en so die hoogste geluk te bereik. HAT]

212 Die toespraak maak die Grieke huiwerig, en sommiges sê: “Dit het die andersins onnosele Judeërs tog nou baie mooi uitgedink; hulle het die wonderdoende Jesus hierheen gestuur om ons vrees aan te jaag! Maar ons het grond onder ons voete en staan stewig.”

[2] Maar dié keer word Ek self kwaad oor die hardheid van die Grieke en sê aan die hardvogtige spreker wat die ander, oor die algemeen tog ietwat beter Grieke van `n goeie daad af wil wegkeer: “Luister, jou hardvogtige mens! Let op of die grond nie gaan wankel nie en hoe vas jy miskien staan! Daar was al baie gewees wat ook met die stem van `n held teen hulle omstanders heen uitgeroep het: “Laat die aarde maar in puin verval en ek sal my sonder enige vrees op die uiteengespatte reste in die eindelose ruimte laat voortdra; maar toe die aarde daarna maar net effens tril, was die grootpraterige held die eerste een wat homself verbluffend gou uit die voete gemaak het! Maar miskien doen hy dit tog nie soseer uit vrees om in sy huis onder die puin begrawe te word nie, maar slegs maar om, as die aarde regtig in puin sou val, buite `n stuk op te pik en daarop dan `n onverskrokke rit deur die oneindigheid te begin!

[3] Ek sê vir jou, jou snuiwende Griek genaamd Philopold, die vlieg wat homself nie selde nie brutaal veroorloof om oor jou neus rond te loop, hy staan daar op die punt van jou neus stewiger as wat jy op jou aardbodem staan! Want as jou neus skipbreuk sou ly, dan het die vlieg darem tog nog `n tweede toevlug en dit is die lug; maar waar is jou tweede anker as die grond onder jou voete jou sou begewe?”

[4] Die Griek Philopold, wat van huis-uit ook `n grapmaker is, word ietwat nydig oor My, met opset `n bietjie grappig gekose woorde en sê: “Kyk nou net hier, `n seldsame verskynsel! `n Judeër wat ook geestig is? Waarskynlik die eerste en miskien ook die laaste in die hele Israel! Vriend! As `n Griek dit oor moed het, dan weet hy waarvan hy praat! Want `n Griek weet hoe om van die lewe afstand te doen en die dood tegemoet te gaan; die geskiedenis ken slegs die heldemoed van die Grieke, en die onbegryplike lafhartigheid van die Judeërs is aan hulle nie onbekend nie! Laat die aarde maar bewe of laat al die drake in die aarde maar vry, en jy sal sien of `n Philopold daardeur ook maar `n spier van sy gesig vertrek!”

[5] Ek sê: “Hou op met jou ydele grootpratery en doen wat Ek julle almal gesê het, want anders dwing jy My regtig om jou moed flink op die proef te stel. Want `n God van `n Judeër laat oor sulke ernstige dinge nie die spot met homself dryf nie; want ook die groot geduld van God het in bepaalde omstandighede sy vaste grense!

[6] As jy met jou aanhangers nou wil hê dat dit daarop moet aankom, dan moet jy goed besef dat `n God wat kwaad is, nie meer so maklik te sus is nie en nie sommerso `n verdiende straf by `n erge sondaar deur die vingers sal sien nie!”

[7] Philopold sê: “Dit sal wel weer suiwer Judees wees? Die Judeërs het sekere profete gehad wat hulle monde nie oopgemaak het nie, behalwe vir die uiter van pure dreigemente, waarvan net sommige na `n meestal onbepaalde tyd uitgekom het, maar die meeste was praatjies in die wind; want die aardse natuur is hopelik tog nog altyd sterker gewees as die mond van `n Judese profeet! Die Grieke is merendeels stoïiste en `n egte stoïis is vir niks bang nie - en ek dus ook nie. Want ook ek is `n deurwinterde stoïis!”

[8] Dan sê die jong Matthéüs, die leerling wat voorheen tollenaar in Sibarah was, saggies aan My: “Heer, ek ken hom, hy is `n buitengewoon onaangename en aanstootlike mens! Hy het by my tolkantoor altyd onuitstaanbare moeilikhede veroorsaak, elke keer dat hy met allerlei koopware na Kapernaum of na Násaret trek. Ek vererg my nog steeds vir hom en ek sou baie daarvan hou om hom ietwat onder hande te neem.”

[9] Ek sê: “Laat staan maar! Ek het al iets vir hom bedink wat weldra werklikheid vir hom sal word.”

[10] Matthéüs tree dadelik terug; maar Philopold herken die tollenaar uit Sibarah en sê aan hom: “Nou toe nou, gierige tolbaas, hoe kom dit dat jy ook hier is? Hoe sal dit nou met jou tolhek gaan nou dat jy dit nie met jou katoë na al die windstreke kan bewaak nie? Jy hoef die wonderdokter nie teen my aan te hits nie; hy sal self wel weet wat hy moet doen as ek te onbuigsaam vir hom is, maar julle beide het op `n baie natuurlike manier `n harde neut aan my te krake gekry; want `n stoïis is geen tou of draad wat jy maar na willekeur kan buig nie!

[11] Kyk, die wonderbaarlike genesing van die tweehonderd siekes het byna al die inwoners van Kana oortuig; hoekom dan nie vir my nie? Omdat ek `n egte stoïis is, vir wie die hele skepping skaars `n knip vir die neus werd is, en my eie persoon en hierdie ellendige lewe nog minder! Waarmee wil julle my dan straf? Miskien met die dood? Ek sê vir julle: ek verlang daarna tesame met die ewige vernietiging; want vir hierdie smadelike lewe is ek aan geen enkele god dank verskuldig nie! Of is mens iemand vir die mees gehate gawe dank verskuldig? Ek is van mening dat dit vir `n almagtige god bepaald nie so moeilik sal wees om `n mens op die wêreld te plaas nie! Wie sal hom daarvan kan weerhou? Die te geskape mens word beslis nie gevra of hy geskape wil word nie, sodat hy as enigste reghebbende sy ja of nee daaroor kan uitspreek nie; en `n reeds geskape mens het net so weinig seggenskap oor die skepping van `n mens wat na hom moet kom - as iemand wat nog nie geskape is nie. Skepping is dus vir `n god niks besonders nie; maar vir die geskape mens wel omdat hy iets moet wees waarvan aan hom nooit gevra is of hy dit verlang nie. Wat kan daar nou ellendiger wees dan te moet bestaan, sonder dat so iets ooit begeer is?!

[12] Gee my maar om sonder arbeid en inspanning te eet en te drink, dan sal ek daar tenminste gedurende my aardse lewensduur enigsins vrede mee hê, maar om vir die instandhouding van hierdie bestaan ook nog onsinnig swaar te moet werk, dus lyding soos `n gejagte wolf, en daarby ook nog `n god te moet bedank en bepaalde, net vir die skepper van belang synde gebooie, in ag te neem, daarvoor bedank ek al die Judese en Griekse gode en half-gode!”

[13] Matthéüs sê: “Nog meer van sulke mense op aarde en satan het `n skool waarin hy self nog honderd jaar les kan gaan neem! Heer, wat is daar met hom aan te vang? As hy regtig so is as wat hy praat, dan kan al die engele natuurlikerwys niks met hom regkry nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205