Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 63

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die uitwerking van hemelse en van aardse wyn

63 Almal eet en drink nou. Terwyl Jaïrus diep in gedagtes versonke is, begin selfs hy te eet, en aan die wyn drink hy gaandeweg al meer geesdriftig. Wanneer hy deur die glinsterende hemelse Liefdeswyn bedwelm raak van Liefde, sê hy aan my: “Heer, ek het `n blink idee. Ek sou graag, as dit moontlik is, van hierdie tipe wynstokke in die hande wou kry, sodat ek daaruit Wyn soos hierdie kon maak. Want, as ek sulke Wyn in my kelders kon hê, dan vul ek die hele wêreld met niks anders as Liefde nie en nogmaals Liefde. Ek het dit nou aan my eie lyf ervaar. Ek is weliswaar nog altyd iemand met `n voorliefde vir alles wat goed, waar en mooi is, maar ek kan nie sê dat ek al ooit `n spesiale naasteliefde in my ervaar het nie.

[2] Tot dusver doen ek alles wat ek doen volgens `n spesifieke norm, watter norm ek aan die hand van my wetskennis vir myself neergelê het. Dit kon my nie skeel of `n wet goed of sleg is nie - daaroor het ek myself nooit gekwel nie. My leuse was: Die wet is die wet, hetsy van God of van Caesar. As nie-nakoming van die wet straf tot gevolg het, dan behoort mens dit uit eie belang te hou om sodoende aan die kwade gevolge van die straf te ontkom. Gaan `n “wet” nie gepaard met straf nie, is dit gewoon nie `n wet nie, maar bloot goeie raad. Die raad mag mens willekeurig volg, ofskoon daar geen verpligting daartoe is nie.

[3] As mens goeie raad nie volg nie, kan dit jou weliswaar ook skade berokken. Sulke skade kan byna net so erg as geregtelike straf wees. Maar dit is nie `n sonde (oortreding) in die sin dat onskuldiges daardeur nadelig getref word nie, behalwe die individu wat die raad nie gevolg het nie. Dit is egter duidelik dat dit `n groot sonde(oortreding) is om slegte raad te volg.

[4] Die Reg is `n ander saak. Of `n wet nou goed of sleg is - ek moet dit gehoorsaam. Weier ek om `n wet te gehoorsaam omdat ek dit “sleg” ag, oortree ek teenoor of die Staat of teenoor God en gaan ek gestraf word deur albei. Daaruit blyk oorvloediglik dat ek nie uit Liefde wetsgehoorsaam is nie, selfs al mag dit `n “goeie” wet wees. Ek ervaar `n diepe weersin jeens hierdie gedwonge gehoorsaamheid. Maar noudat ek hierdie heerlike hemelse Wyn gedrink het, ervaar ek niks anders nie as Liefde, en nogeens Liefde. Ek het die behoefte om die hele aarde te omhels en te kus.

[5] Bowendien merk ek dieselfde uitwerking by almal wat die hemelse Wyn gedrink het. Daarom sou ek `n groot wingerd van hierdie wynstokke wou aanlê en dan aan alle mense van hierdie Wyn te drinke aanbied. Hulle sal dan, nes ek, binne oomblikke met Liefde vervul wees. As ek sulke wynstokke in die hande kon kry, sou ek die gelukkigste man op God se liewe en goeie aarde wees.”

[6] Ek sê: “Druiwe vir sulke Wyn kan ek jou wel besorg, maar jy gaan daarmee nie die gewenste uitwerking op die mensdom verkry nie. Hierdie Wyn laat die Liefde in die mens te voorskyn kom op voorwaarde dat die Liefde alreeds in die mens teenwoordig was. Was daar egter boosheid in daardie mens teenwoordig, sal daardie boosheid net so kragtig in hom te voorskyn kom as wat die Liefde in jou gedoen het. Hy sal dan in `n volslae duiwel verander en met net soveel entoesiasme die kwaad bevorder as wat jy die goeie wou bevorder.

[7] Mens moet dus goed oplet wie jy toelaat om van hierdie Wyn te geniet. Nogtans wil Ek tog aan jou `n wingerd met sulke wynstokke skenk, as jy tog maar net goed oplet aan wie jy van die Wyn gee om te drink. So `n opgewekte Liefde kan wel baie goed verrig, maar dit is tog beter as die Liefde deur die Woord van God opgewek word, want in daardie geval is dit blywend. Die uitwerking van die Wyn is vlietend en verbygaande, net soos wat die sap self vlugtig is en vergaan. Let dus goed op wat jy daarmee doen, anders veroorsaak jy dalk meer kwaad as goed.

[8] Daarop sê die handelaar Jaïrus. “Heer, as dit is hoe die saak staan, dan sal dit nie `n goeie ding wees om so `n Wyn te verbou nie. Mens kan tog nie weet of die een aan wie jy van die sap te drinke aanbied, boosheid of Liefde in sy hart het nie. Al sou jy `n goeie bedoeling mag hê om die Liefde in sy hart op te wek, maar instede daarvan die boosheid dan sterk na vore kom, sal dit jou wel deeglik in die verleentheid bring. Dit kan bowendien gevaarlik wees. Nee wat, dan laat ek die verbouing van sulke wyn liewer daar.”

[9] Ek sê: “Dit kan my nie skeel nie; jy kan kry wat jy ookal wil hê. Nietemin, voorwaar, Ek sê vir jou: In `n mindere of meerdere mate het elke wynsoort wat op aarde verbou word, hierdie selfde eienskap. As jy verskillende mense netsoveel van die wyn wat jy self verbou laat drink as wat jy nou net van die suiwer hemelse Wyn gedrink het, dan sal jy sien dat sommige geheel-en-al met Liefde vervul raak, terwyl andere daarenteen so aggressief raak dat jy hulle met toue moet vasbind. As aardse wyn so `n uitwerking het, hoeveel te meer dan die hemelse!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205