Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 71

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die Heer getuig van die Vader

71 Na hierdie antwoord vra Ek die owerste of daar nie siekes in hierdie dorpie is nie. En die owerste sê: “Vriend, as U iets van geneeskunde af weet, genees dan asseblief my vrou! Sy ly nou al `n hele jaar lank aan `n onbekende siekte wat geen dokter raad mee het nie. Miskien stel U groot Wysheid U in staat om die kwaal te diagnoseer en my vrou te genees.”

[2] Ek sê: ” Ek sê vir jou - jou vrou is gesond! Laat haar haal!”

[3] Die owerste stuur dadelik `n dienaar soontoe. Sy vrou kom hom op die drumpel verheug en gesond tegemoet, en gaan onmiddellik met hom saam na die owerste. Hy verwonder hom uitermate daaroor en sê aan My: ” Vriend, jy is `n god!”

[4] Ek sê: “Julle mense is ook almal dieselfde! As julle nie `n teken sien nie, dan glo julle nie. Maar julle is en bly geseënd al glo julle op grond van die teken. Daarteenoor, as iemand ondanks die tekens wat Ek doen, steeds nie wil glo nie, dan het hy in die dood verval.

[5] In die vervolg sal slegs die mense wat, in die afwesigheid van tekens en wat slegs in die Waarheid van My Woord glo en daarvolgens leef, verlos word. Hierdie mense sal daardeur die ware lewende teken binne-in hulleself vind, naamlik die Ewige Lewe, en dit sal niemand hulle ooit weer kan ontneem nie!

[6] U is nou nog bly dat Ek u vrou slegs deur die wil van My hart genees het, en u staan uself nog steeds en afvra: Hoe is dit moontlik? Maar Ek sê vir u: As `n mens sou lewe volgens die innerlike suiwer waarheid, en daardeur self tot die Waarheid sou kom, en nie meer twyfel in hierdie Waarheid nie, dan sou hy aan een van die omringende berge kon sê: Hef jou op en val in die see! - en die berg sal homself ophef en in die see val.

[7] Maar omdat die Waarheid nie in u, soos ook nie in sovele andere woon nie, kan julle nie sulke dade verrig nie. Nie net kan julle dit nie doen nie, maar verwonder julle julleself bowendien nog uitermate wanneer Ek, wat die Waarheid in haar volheid in My het, voor julle oë hierdie dade verrig, wat slegs deur die mag van die innerlike lewende Waarheid verrig kan word.

[8] Slegs deur die Waarheid word die geloof lewend en daadkragtig en vir die mens is die Geloof die regterhand van die Gees - en die Arm van die Gees reik ver en doen groot dinge!

[9] As julle deur die innerlike waarheid jul geestelike arm sterk genoeg maak, dan sal julle self doen wat Ek nou hier voor julle gedoen het. En julle sal tewens tot die heldere besef kom dat dit baie makliker is as om met jou liggaamlike arm `n klip op te tel en `n paar tree voor jou uit te gooi.

[10] Leef daarom volgens My leer! Wees uitvoerders, en nie net ydele hoorders en bewonderaars van My woorde, leer en dade nie, en dan sal dit wat julle so baie in My bewonder, ook vir julle ten dele val.

[11] Alles wat ek u hier laat sien, doen Ek egter nie uit My eie krag nie, maar deur die Krag van Hom wat, voordat die wêreld was, My al hierdie dinge geleer het. Hy is die Een wat julle die VADER noem, - alhoewel julle Hom nie ken nie en nog nooit geken het nie! Van Hom af, van wie julle sê dat Hy julle Vader is, is alle dinge, soos engele, son, maan en sterre en hierdie aarde met alles wat daarin en daarop is.

[12] Net soos hierdie Vader, nog voor die grondlegging van die aarde al, My onderrig het, net so leer Ek julle ook nou, sodat die Vader wat nou in My leef, ook in julle sal gaan woon en in julle, net soos in My, die oerewige suiwer Waarheid tot die lewe sal bring uit die ewige oerfondament, naamlik die Liefde in God, wat die eintlike Wese van God self is.

[13] Laat julle daarom nie te veel beïnvloed deur die tekens wat Ek ten aanskoue van julle almal doen nie, sodat julle nie tot `n dooie, nuttelose, gedwonge geloof kom nie. Maar leef en doen wat Ek julle ookal leer, dan sal julle in julleself dit sien gebeur wat julle nou so uitermate in My bewonder. Want julle is almal geroepe om net so volmaak te wees soos wat julle Vader in die hemele volmaak is. Nou weet julle alles; leef daarvolgens, dan sal julle in julleself gewaarword of dit wat Ek julle vertel het, die waarheid is al dan nie! Beproef My leer deur dit te doen, maar doen dit met vurige ywer en vermy enige vorm van louheid. Dit is die manier waarop julle sal ervaar of hierdie leer vanuit `n mens of vanuit God is!”

[14] Na afloop van hierdie belangrike les sê die owerste: ” Nou begin daar `n liggie vir my opgaan. Daar is in dit alles `n onbeskryflike diepe Wysheid verborge wat vir ons gewone mense nie dadelik en maklik te begrype is nie, maar dit is op hierdie oomblik nie die belangrikste nie. Want as `n mens deur net daarvolgens op te tree tot die regte insig kan kom, dan staak ek nou dadelik alle beuselagtighede en begin onmiddellik om met die grootste erns daarvolgens op te tree, totdat ek deur JonaEl in die hele leer ingewy is. En by daardie voorneme bly ek!”

[15] Ek sê: “Goed so, My vriend! - As u dan nou op hierdie manier tot die lig gekom het, laat u lig dan net so vir u broers skyn; die hemele sal u daarvoor beloon! Nou gaan ons egter na Sigar, want Ek het daar ook nog iets te doene. Laat ons dus verder gaan!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205