Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 87

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die Judeërs verlang terug na hulle suurdeeg

87 Toe al die ander hulleself verwyder het, kom die jong huisheer, by wie se bruilof Ek die water in wyn verander het, na My toe en sê: “Heer, diegene wat ons uit Judea en Jerusalem gevolg het, en hulleself nou buite in die groot gastekamer met spys en drank versterk het, sou nog graag met U wil praat. Want ek glo dat enkeles die plan het om na hulle woonplek terug te gaan om daar op hulle lande te werk. As U dit toestaan, dan kan ek dit vir hulle gaan sê!”

[2] Ek sê: ”Ek glo dat dit onnodig is! Wie by My is en bly, is werklik in sy ware tuisland, en wie vir homself nie hierdie ware en ewigdurende tuisland verwerf nie, is steeds in die woestyn `n vreemdeling wat ronddwaal soos verskrikte wild, wat in die woestyn voedsel en `n woonplek soek, maar nóg die een, nóg die ander vind en uiteindelik van honger, dors en koue versmag en uiteindelik `n prooi word van die verskeurende diere, wie se woonplek die leë woestyn is!

[3] Wie het by My iets kortgekom? Is elkeen nie elke dag deur die hemele versadig nie, sowel liggaamlik as geestelik? Het iemand honger en dors gely, of het iemand soms andersins daaronder gely? Is iemand deur `n wêreldse gereg vervolg omdat hy met My saamgegaan het? Ek sê jou: wie wil gaan, die gaan; wie egter wil bly, die bly! Want Ek het nie die mense nodig nie, maar die mense het My nodig! Wie My verlaat, sal ook deur My verlaat word, en wie My nie soek nie, sal Ek ook nie ywerig soek nie - gaan nou na buite en vertel dit vir hulle!”

[4] Die gasheer sê: “Heer, ek het daarmee `n probleem; is U dan ook kwaad vir die inwoners van Kana wat huistoe gegaan het om te gaan slaap!?”

[5] Ek sê: ”Jy het My nie verstaan nie! Kyk, hierdie inwoners het My al heeltemal in hulle harte opgeneem, en My leer het vir hulle gewyd geword. Hierdie Judeërs is egter nie geheel en al eens met My leer wat Ek hulle in Sigar gegee het nie, en hulle verlang weer na hulle suurdeeg, en nie soseer na hulle werk tuis nie, en daarom wil hulle nou huistoe gaan! Beleefdheidshalwe wil hulle My eers nog bedank, sodat julle vir hulle nie aansien as ruwe, onbeskofte lummels nie. Gaan daarom maar gerus na buite en vertel hulle alles onomwonde wat Ek nou aan jou gesê het!”

[6] Met hierdie antwoord gaan die gasheer uit na die Judeërs, en bring dit woordeliks oor wat Ek aan hom gesê het. Daar kyk hulle almal verbaas op, omdat hulle hulleself een vir een aangespreek gevoel het. `n Paar word kwaad daaroor; ander trek dit hulleself baie aan en dink in hulle harte daaroor na en sê: “Hy het ons geraak en jammer genoeg het Hy gelyk; hopelik vergewe Hy ons hiervoor en ons sal bly!”

[7] Diegene wat hulleself daardeur beledig voel, sê egter: “Maar ons gaan! Ons het weliswaar niks by Hom tekort gekom nie, maar ons het nou genoeg gehad van die Skitelewe sonder egte werk; en daarby moet jy by Hom altyd op jou hoede wees om nie met die een of ander woordjie aanstoot te gee nie! Want dan kry jy die oordeel direk en moet jy maar sien hoe om weer heelhuids op goeie voet te kom, want van enige toegeeflikheid is daar by Hom geen sprake nie! Wat Hy eenkeer gesê het, trek Hy niks van terug nie! Daarom wil ons ook nie langer by Hom bly nie!”

[8] Die berouvolles sê: ”Dit is wel waar. Die priesters in Jerusalem kan jou wél goed ompraat, veral as daar dan voldoende na hulle wens geoffer word! Maar Hy laat Homself nie ompraat nie, al het jy Hom die hele aarde as offer gegee! Daardeur is dit wel effens hard en moeilik om met Hom saam te leef; maar Hy is nou verseker ten minste `n groot Profeet en Sy woorde is vol Waarheid, vol Krag en Lewe en die stomme natuur gehoorsaam Sy wenke! Wat kan ons dan anders doen as bly, so lank Hy ons Self nie wegstuur nie? Want die dade wat Hy voor ons oë verrig het, het geen mens nog ooit verrig nie, en ons bly daarom teen elke prys by Hom!”

[9] Die beledigdes sê egter: ”Doen wat julle wil; ons gaan! Sou ons die vors van die huis nog iets skuldig wees, laat hy dan die rekening vir ons opmaak.”

[10] Maar die gasheer sê: ”Ek gee geen onderdak aan vreemdelinge nie, maar slegs aan die kinders van Jakob wat hier tuishoort en die behoeftiges by my, net soos orals in Kanaän, die land wat oorloop van melk en heuning; geen kos en inwoning is te betaal nie.”

[11] Na die antwoord staan hulle op en gaan haastig weg. Toe hulle egter enkele ure van Kana verwyder was, en van moegheid hulle voete nie meer kon optel nie, val hulle langs die pad neer en slaap daar met `n paar honderd man gedurende die nag.

[12] Van Jerusalem af kom daar egter langs dieselfde pad `n sterk Romeinse legioen soldate af op hierdie karavaan. Omdat hulle die vermoeides nie wakker kon kry nie, bewaak hulle hulle tot die oggend van die nuwe dag. Toe hulle dan in die oggend ontwaak, word hulle hande geboei en omdat hulle geen geldige reisdokumente by hulleself gehad het nie, word hulle almal as gevangenes van die gereg na Jerusalem gebring en daar `n week lank verhoor, tot hulle hulleself as Judeërs bewys het, en na betaling van `n boete vrygelaat word.

[13] Een deel van die Romeinse soldate kom egter dieselfde oggend ook na Kana. Toe hulle ons huis ondersoek en ons onsself bewys met die reispas uit Jerusalem, maak hulle verder geen moeilikheid nie en trek verder na Kapernaum. Eers bespreek die owerste van die legioen, wat My herken het, nog baie sake met My en vertel My dat hy nou vir `n lang tyd in Kapernaum sou woon, waarheen sy familie al `n paar dae vroeër gegaan het en waar hy hulle weer sou ontmoet. Hiermee nooi hy My ook uit om na Kapernaum te kom en om hom daar te besoek, wat Ek ook beloof het om na `n paar dae te doen.

[14] Hy vra My ook of Ek weet watter groot karavaan dit kon wees wat hy die nag teëgekom het, of beter gestel, wat hy vas aan die slaap langs die pad na Jerusalem gevind het.

[15] Ek vertel hom watter karavaan dit was en hy antwoord My vriendelik, glimlaggend: “Ek het dadelik gedink dat ek daar in `n klompie farisese spioene vasgeloop het en ek sou my baie verbaas het as U hulle nie met die eerste oogopslag as sodanig sou herken nie!”

[16] Daarop antwoord Ek hom: ”U is nie heeltemal verkeerd as u dit van hulle dink nie. Maar toe hulle My uit Jerusalem en Judea gevolg het, was hulle dit nog nie; maar nou kan en sal enigeen van hulle dit tot hulle eie groot nadeel word. Want die tempelgebroedsel hou wel van verraad, maar is banger vir die verraaier as vir die verraaide vyand, en laat daarom geen verraaier sommer gaan nie. Byna elkeen moet die vervloekte water drink en uit elke tien kom daar kwalik één met sy lewe daarvan af; diegene wat daar nie lewend van afkom nie, word dan gewoonlik van valse verraad beskuldig en word in Josafat, waar daar `n vervloekte plek is, in vervloekte aarde begrawe. En so sal dit ook die lot van sommiges wees, wat My as verraaier by die tempelgebroedsel sal aangee! Want dit is nog nie My tyd nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205