Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 107

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die hoofman kry`n uitleg

107 Ek sê: "Ek vind jou `n egte brawe man en vriend, en wat jy gesê het is, jammer genoeg, maar al te waar. As Ek `n mens sou wees van die soort soos wat die aardse mense is, dan sou Ek jou raad ook sonder meer opvolg, want in jou bors klop `n regskape mannehart, maar Ek is `n heel ander Mens en `n heel ander Wese as waarvoor jy My beskou! Kyk, alle magte van hemele en van hierdie aarde moet My gehoorsaam, en daarom het Ek niks te vrese nie. Die Skrif sal wel bitter en smartlik deur My vervul word, maar nie volgens die wil van hierdie wêreld nie, maar volgens die Wil van die Vader in die hemele, wat nou egter in My is, soos wat Ek ewiglik in Hom is! Maar ter wille daarvan sal Ek My Mag oor hemel en aarde nie die geringste inboet nie. Want as Ek dit sou wou, dan sou hierdie aarde in `n oogwink verander in `n nietige stoffie, saam met alles wat in en op haar is, asemhaal, leef en beweeg, maar omdat My fondament 'behoud' heet, gebeur dit nie!

[2] Dit kan gebeur dat Ek, uit ergernis en jaloerse afguns van die tempel, as opruier van die volk en as godslasteraar aangekla word, en vervolgens aan die dwarshout vasgenael word; maar dit alles sal My mag nie breek nie, en tot aan die einde van hierdie wêreld nie die minste afbreuk doen aan My leer nie.

[3] Met die verloop van die tyd sal die eintlike wêreldmense weliswaar van My leer grotendeels dieselfde maak wat die Egiptenare, Grieke en Romeine van die oerleer gemaak het wat Adam en sy eerste nakomelinge gekry het. Maar naas die afgodery sal daar tog baie wees wat My leer en My mag net so rein sal bewaar en besit, net soos wat dit nou uit My mond kom, en daardeur sal hulle ook steeds die mag hê en besit wat hulle deur die lewende geloof in My Woord tydelik en in die hiernamaals vir ewig verleen word! So is Ek dus Heer en vrees daarom geen ander meester en sy wette nie!"

[4] Die hoofman sê: "Vriend, dit is kort maar kragtig! In aanmerking geneem wat U hier gedoen het, sou ek byna glo dat U so iets sou kon, hoewel soortgelyke genesings – maar net nie so ontsettend op grootskaal nie – aan my nie heeltemal vreemd is nie. Dit is algemeen bekend dat buitengewone verskynsels op die liggaamlike en ook op die geestelike gesondheid van `n mens, na gelang van sy temperament, dikwels `n bepaalde wonderbaarlike invloed het. So het byvoorbeeld `n groot skrik al eens aan `n doofstomme die gehoor en die spraak teruggegee! Ek sou vir U oor `n aantal van sulke gevalle kan vertel - maar die tyd is te kort.

[5] Baie kortliks wil ek U daarmee slegs sê dat U geneeskunde, hoe buitengewoon dit ookal is en tot hoeveel dank dit ons ook verplig, my tog nie ten volle kan oortuig dat daarom elke ander mag van hemel en aarde U niks sou kon aandoen nie! Ek wil oor die moontlikheid nie met U twis nie - by God moet alle dinge moontlik wees; maar vriend, daar is `n groot kloof tussen die moontlikheid en die werklikheid! As ek U beter sal leer ken, sal ek miskien ook vaster glo.

[6] Maar nou, goeie, beste vriend, vra ek U om my, miskien `n bietjie te aanmatigende taal, nie kwalik te neem nie, want ek het slegs gepraat soos wat ek dit verstaan, en nie uit `n kwade hart nie, maar beslis uit `n goeie hart! My ampsbesigheid roep my nou egter, en daaraan moet ek gehoor gee. Maar môre is ek die hele dag tot U diens!

[7] Ek sê: "As jy wil bly, kan jy ook bly, want jou werk is al in jou naam uitgevoer!"

[8] Die hoofman sê: "Dit het weliswaar al taamlik skemer geword, sonder die maan sou dit al nag wees; maar ek sal dadelik weer terug wees - ek moet eerstens nog self in die kamp wees om te sien of die nagwagte wel goed verdeel en opgestel is."

[9] Met hierdie woorde verlaat die hoofman gou die kamer en Ebahl prys hom as `n kommandant soos wat daar nie baie te vinde is nie, en dat die mense van Genésaret hulle baie geseënd mag prys om so `n goeie, ervare en in sy kring uiters verstandige leërowerste te hê!

[10] Ek sê: "Dit is hy verseker, tot groot skaamte van talle Judeërs wat God se Woord en God se gebooie het en waarvan die hele hart tog vol leuens en vol bedrog, vol twis, toorn, egbreuk en allerlei hoerery is. Daarom sal dit ook gebeur dat, soos wat Daniël getuig, die beloofde ryk van Dawid van die Judeërs afgeneem sal word en aan die heidene gegee sal word, en dat die nakomelinge van die seun van Hagar sal heers oor die nakomelinge van Isak, hoewel in hierdie tyd al die heil vir die hele wêreld afkomstig is van die stam van Juda."

[11] Ebahl sê: "Heer, U is as Verlosser beter as `n profeet! Ek kan nog steeds nie verstaan waarom die profete sonder uitsondering steeds maar iets slegs, en nooit wat goed is nie, voorspel het! Is dit nou nodig, of glo die profete slegs maar om op hierdie manier hul misterieuse aansien in stand te hou, deur die mense steeds maar straf van God te voorspel?

[12] Goeie, geweldige Heer, uit wat U sê het dit vir my duidelik geword dat U, behalwe Wonderheiland, nog iets anders is, naamlik net so `n Profeet soos een van die vier groot profete, en dus sou U my gou iets kan uitlê oor die vreemde aard van die profete! Soos wat ek reeds gesê het, vir my was die profete altyd `n raaisel gewees, en daarom sou ek graag van U iets meer oor hulle wou hoor!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205