Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 118

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die Romeinse hoofman en die tempeldienaars

118 Toe kom die hoofman na vore en sê: "Die man waarna u vra, ken ek baie goed en ek ken al Sy werke, ook dat Hy nouliks `n paar weke gelede in die plek Kis aangedoen het. Daar stel Hy deur Sy goddelike profetiese gees die hoof van die regbank, Festus, daarvan in kennis dat die keiserlike belastinggeld en verdere skatte wat kom uit die Pontus en uit Klein-Asië deur u soortgenote op `n skandelike, sluwe manier van die Romeinse vervoerkaravaan afgeneem is, wat die opperstadhouer Cyrenius in groot verleentheid en die hele Galiléa, ja selfs die hele Judese ryk, in groot gevaar gebring het.

[2] Juis aan hierdie Jesus het die opperstadhouer, die hele Judese ryk en uself dit te danke, dat u nou nog leef! Want as hierdie geroofde keiserlike geld nie deur Jesus bo water gebring was nie, dan sou die hele land gebrandskat wees, en alle skatte van heel Judéa sou nie voldoende gewees het om die gepleegde misdaad te vereffen nie! Dat dit egter so goed en sonder ophef vir u en u soortgenote te Jerusalem, en vir die gehele Judese ryk, afgeloop het, het u slegs aan Jesus, die grootste en wysste en magtigste profeet, te danke. Daarom is dit uitermate sleg en onredelik van u as u daarop aandring om `n man te vervolg aan wie u nou alles, u lewe en bestaan, te danke het!

[3] Maar dit wat u so ewe gesê het, naamlik dat u na Násaret wil gaan om Jesus, as erge misdadiger, te vang en te ondersoek, dit is Hy allermins! Hy stook geen mens teen u en nog minder teen die keiser op, anders sou, soos wat elkeen weet, Cyrenius nie Sy vriend gewees het nie! –

[4] Maar nou oor iets anders, menere van die tempel! U sal tog wel weet dat daar hier in Genésaret, sedert etlike jare al `n vaste Romeinse militêre kamp hom hier bevind. In verband daarmee moet elke mens, sonder uitsondering, van watter stand hy is of uit watter land hy ookal kom, `n betroubare, deur die Romeinse owerheid geldig ondertekende reispas by hom hê, as hy die laer heelhuids en ongehinderd wil deurgaan. Toon my daarom die dokument, te meer omdat u in die nag hierheen gekom het. Anders moet ek, as hoof en bevelhebber van hierdie plek, en ook van hierdie streek, u gevange neem en môre in die openbaar laat gésel, en u vervolgens geboeid na Jerusalem terugstuur! Wees dus so vriendelik en laat my u vereiste reisdokumente sien!"

[5] Die owerste van die fariseërs sê: "Heer, ekself as owerste uit Jerusalem is die lewende reispas vir almal, en `n ander een het ons nie nodig nie! Want ek is óók `n maghebber en ek besit `n keiserlike voorreg in die dag en in die nag deur die hele Israel te reis! Ons is deur God gesalf - en wee diegene wat ‘n hand na ons toe sou uitsteek!"

[6] Die hoofman sê: "Die keiserlike voorreg geld slegs vir plekke sonder kamplaer, maar vir plekke waar daar `n openbare kamplaer bestaan, geld die keiserlike voorreg nie!"

[7] Die owerste sê: "Van so `n voorskrif het die mense ons nog nooit iets van vertel nie, dus kon ons onsself ook nie daaraan hou nie, want ons is nie so dom om, as ons op reis gaan, nie vir alle sake te sorg wat vir ons veiligheid nodig is nie. Maar as so iets hier nodig is, dan stuur ons dadelik `n bode na Jerusalem en dan kan u môre om hierdie tyd die nodige reisdokumente in u hande hê."

[8] Die hoofman sê: "Dit is nie nodig nie, want ek bepaal self of ek u verklaring glo of nie. Maar ek sal u streng in die oog hou. As ek ook maar iets merk wat vir my verdag sou lyk, is u oombliklik my gevangene! Vir nou en vir solank u hier sal bly, kry u `n sterk bewakingskommando, wat u ook teen betaling van honderd silwer geldstukke tot op die grens van die gebied sal begelei; as u egter die noodsaaklike reisdokument by u gehad het, dan sou dit u niks gekos het nie!"

[9] Die owerste sê: "Dit sal die herbergier vir ons betaal omdat ons op reis nooit geld mag saamneem nie. Want die aarde is van God, en ons is Sy knegte, en het van God die reg gekry om die hele aarde ons besit te noem en orals te oes, ook al het ons nie gesaai nie! Want elke Judeër weet dat alles wat hy het, slegs deur ons aan hom geleen is, wat ons altyd van hom terug kan vorder. Dit is die heel simpele rede waarom ons in die hele Israel nêrens as vreemdelinge kom nie, maar slegs as gebieders en soos deur God beregtigde eienaars van elke huis, elke stukkie grond, en bodem en al die geld en orige skatte. Daarom kan ons Ebahl sonder meer opdra om vir ons die honderd geldstukke te betaal, want hy verkry dit op ons grond en bodem! En as hy dit nie wil doen nie, gee ons al hierdie besittings van hom aan `n ander, wat hom nie bedruk sal maak oor honderd geldstukke nie!"

[10] Omdat Ebahl baie nou hiermee te make het, maak hy nou ook sy mond oop en sê: "My menere, nou vergis u uself tog `n bietjie! Want ten eerste is hierdie plek van ouds af `n vrye plek, waar behalwe God en die keiser geen mens iets kan invorder nie, en ten tweede het ek hier ingetrou by my tweede vrou, wat die enigste kind was van `n gebore Griek, wat pas deur my `n Judeër geword het. Al hierdie besittinge is dus nie myne nie, maar van my tweede vrou en na haar, van haar dogters. Ek besit sodoende niks, en daarom kan daar van my ook niks afgeneem word nie, en die honderd geldstukke sal u dus self moet betaal! As u my nie wil glo nie, vra dan maar die hoofman hier; hy is my enigste gesag en sal dit vir u vertel!"

[11] Dadelik sê die hoofman: "Ja, ja, dit is so! U moet self die honderd silwer geldstukke betaal! Smeek en protesteer sal nie help nie, want ek is slegs hier om dit aan julle te beveel en om dit te eis! "

[12] Die owerste sê: "Maar as ons nou dadelik `n vinnige ryer as bode na Jerusalem stuur, dan is hy môre teen die middag met die nodige dokumente hier!"

[13] Die hoofman sê: "Dit beteken niks! Want die honderd geldstukke moet u net betaal omdat u sonder so `n vereiste dokument hierheen gekom het; dus geen verdere gepraat hieroor nie!"

[14] Die owerste sê: "Maar ons het geen geld by ons nie, want as ons reis neem ons nooit geld saam nie, dit is by ons wetlik voorgeskryf! Waar moet ons dan geld vandaan kry?"

[15] Die hoofman sê: "Daarvoor sal ek wel sorg! As daar geen geld is nie, maak ons gebruik van die pandreg. U effekte, wat u soos wat ek gehoor het, massaal saam met u neem, sal wel honderd geldstukke werd wees!"

[16] Die owerste sê: "Dit is wel duisendmaal soveel werd, maar dit is alles God se heilige dinge, en God sou diegene wat hom daaraan sou vergryp, baie gou doodmaak! Daarom sal u verseker nie daaraan mag kom nie en dit nog minder mag saamneem!"

[17] Die hoofman sê: "So baie sal dit nie wees nie! Ons sal eers kyk of u dinge wat aan God gewy is, werklik so gevaarlik is!"

[18] Al die fariseërs skreeu: "Nee, nee, nee! Die honderd geldstukke sal ons tog wel byeen kan bring, want ons mense het wel geld by hulle!"

[19] Dan gaan `n fariseër na buite en bring `n beurs met die honderd geldstukke en gee dit aan die hoofman, en die hoofman gee die beurs aan die onderaanvoerder, wat die geld moet tel. Omdat die hoeveelheid klop, beveel die hoofman die onderaanvoerder om die geld in die kas van die arme sondaars te lê, wat die onderaanvoerder ook dadelik doen.

[20] Maar die owerste sê: "Dit is hier `n vreemde gebruik om die heilige geld in die kas van die arme sondaars te lê, want ons is tog dienaars van God! Weet u dan nie dat diegene wat `n dienaar van God beledig, ook God beledig nie?"

[21] Die hoofman sê: "Wat gaan u god my aan!? Ek is `n Romein en weet wat ek weet en wat ek glo! Maar u god, wat u nou dien, is en sal nooit my God wees nie! Vir my is u dus die allergrootste sondaars, en u god se heilige geld hoort daarom in die kas van die arme sondaars! - Verstaan u dit?"

[22] Die owerste sê: "Ja, meneer, ons verstaan dit en ons verstaan ook dat ons met `n deurwinterde heiden te make het wat netsoos alle Romeine ons saam met ons godsdiens so diep as moontlik verag!"

[23] Die hoofman sê: "Nie so diep as wat u dink nie, want ons erken ook die ware, oorspronklike Judese geloof. Slegs u nuwe voorskrifte, u eie ongeloof en u velerlei ten hemel skreiende bedrieëry verag ons driemaal so baie as die dood self. Want by u is daar geen teken meer te vinde van die ou Judese geloof nie, u het slegs nog maar die naam daarvan. Maar waar is die uitgelese werke van hulle van wie u afstam, wat aan u die leer en die wyse wette gegee het? Ek weet nog presies hoe u Ark van die Verbond daar uitsien. Hoe staan dit nou daarmee? Waar is die Gees van God, wat daar bo-op sweef?"

[24] Die owerste sê: "Dit is nog alles net soos wat dit ten tye van Aäron was!"

[25] Die hoofman sê: "Of heel anders! Luister! Nouliks drie jaar gelede was ek self in julle sogenaamde Allerheiligste, en wel vir `n bedrag van sewehonderd silwer geldstukke. Maar wat het ek daar gesien en geruik? `n Metaal kis op `n onderstel, uit die middel waarvan `n heel behoorlike naftaleen vlam opvlam, wat met haar ietwat onwelriekende lug my neus nou nie so aangenaam geprikkel het nie! Die bewuste bestanddele in die sogenaamde ark van die verbond was seker baie jonger as Moses en Aäron, en my beurs word het baie bedroef geword, omdat ek haar vir u dwaasheid en bedrog so gevoelig aangespreek het! Praat met my geen woord meer daaroor nie, want ek is iemand wat u bedrog myle ver deurkyk! Glo my, as ek met my huidige kennis keiser sou wees, dan jaag ek môre die hele tempel oor die kling (swaard)! U is gelukkig dat ek geen keiser is nie, maar wat die keiser nie doen nie, dit sal sy volgende opvolger doen!"

[26] Die owerste sê: "Heer, as u dit weet, dan versoek ek u ter wille van die volk om te swyg, want as so iets onder die volk bekend sou word, dan sal ons `n waansinnige opstand moet vrees!"

[27] Die owerste sê: "Daarvoor hoef u gladnie te vrees nie! Want dit weet ek nou al so goed soos elke Galileër, en daar is tog in die verste verte geen sprake van `n volksopstand nie! Want ons Romeine is ook nog daar, en ons is magtig genoeg om elke opstand in die kiem te smoor!"

[28] Die owerste sê: "Nou, meester, ons het betaal en is dus niks meer verskuldig nie; laat ons dus maar ophou daaroor! As u egter iets meer weet oor die berugte towenaar Jesus, wees dan so vriendelik om ons mee te deel hoe dit met Hom en Sy omstrede leer en Sy dade staan, sodat ons die tempel daaroor iets kan meedeel!"

[29] Die hoofman sê: "Ek het u al gesê dat ek Hom baie goed ken, en ek Hom ook lankal sou laat oppak het as daar ook maar iets gebeur wat op muitery sou lyk. Ek is egter heeltemal oortuig van die lynregte teendeel en ek kan Hom slegs maar die beste verwysings gee. As u so sou wees soos Hy, dan sou Jerusalem deur alle tye van die tye die ewige en eerste stad van God gewees het, en die Gees van God sou nog soos in die tyd van Aäron bo die ark gesweef het! Maar u is presies die teendeel van Hom, en daarom sal u stad en u tempel nie meer lank bestaan nie! Sê dit maar aan u kollegas, sodat hulle dit in die koppe kan kry op watter sandbodem hul stad en hul tempel gebou is! - Maar môre sal u met u oë en ore meer te wete kom, daarom beter u nou gaan slaap!"

[30] Die owerste sê: "Ons bly hier aan tafel sit, want u veelseggende woorde het ons vir dae lank die slaap ontneem! Wie wil slaap kan slaap, maar ek sal sekerlik helder wakker bly! - Maar daar by die hoek van die tafel sit nog `n Gas met `n meisie!? Wie is dit dan? Kan Hy gerespekteer word, of is Hy en die meisie `n gevangene van u? Het Hy dalk ook geen reisdokumente by hom nie?"

[31] Die hoofman sê: "Dit gaan u niks aan nie, Hy staan onder my beskerming! Maar ek hoop dat u Hom môre beter sal leer ken."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205