Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 157

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Aalmoese en herdenkingsfeeste

157 Terwyl die hoofman dit nog sê, kom die goedhartige Jarah hom tegemoet en sê: "Wat bly julle tog so lank weg! Beste Rafael, jy skyn jou ook al aan te wil aanpas met die langsame wêreldtyd! Regtig, dit gaan nie so vinnig soos ons reis na die verre son nie! Kom nou maar vinnig na binne, want die voedsel staan al op die tafel!" - Beide gaan nou vinnig na binne en groet My vriendelik.

[2] Die hoofman wou My bedank vir My voorsorg, maar Ek sê aan hom: "Vriend, jou hart is vir My voldoende! Die voedsel het al op julle gewag, versterk daarom vóór alles nou eers die liggaam en rig jou vervolgens weer op die geestelike."

[3] Almal dank dan en begin flink te eet en te drink, en die hoofman kyk steeds na die engel terwyl dié hom goed van die skottels bedien en sy wynbeker ook behoorlik aanspreek.

[4] Ten slotte kan die hoofman hom nie meer inhou nie en sê half skertsend: "Nou toe nou, die suiwer geeste het regtig `n gesonde eetlus! Die beste Rafael eet hier vir drie; nee, so iets het die aarde nog nooit beleef nie!"

[5] Ebahl sê: " Dit verbaas My ook in besonder, maar ek sien iets wat my nog meer verbaas as die hoeveelheid wat hy eet. Kyk, selfs sy bord bly vol! Hier geld egter die wyse spreuk: 'Wat die hemel neem, dit gee hy die volgende oomblik weer terug!' Hierdie tafel sal deur my en my nakomelinge as `n blywende heilige voorwerp vir alle tye bewaar word, en elke jaar sal daar `n fees gehou word waarby aan hierdie tafel alle armes van die stad gespysig en gelaaf sal word!"

[6] Ek sê: "Laat die tafel die tafel wees en bly jy jouself! En as daar `n arme na jou toe kom en jy het iets, ondersteun hom dan elke dag. `n Jaarlikse feestelike etetjie baat nóg die arme, nóg vir jou iets, en vir My verskaf dit geen vreugde nie. Wie My gedenk, moet dit alle ure van die dag doen, maar `n jaarlikse gedenk kan Ek nie gebruik nie!

[7] As jy so `n fees instel, sal jy soos die tempelpriesters te Jerusalem lyk, wat ook driemaal per jaar gedenkfeeste vier en daarby, vanweë die gebruik, aan die armes brood laat uitdeel. Asof hulle dan van so `n stukkie brood van die een fees tot die ander sonder verdere voedsel sou kon lewe! O, die onsinnigheid van sulke belaglike feeste! Wél ontvang die fariseërs op sulke feesdae soveel groot offers dat hulle van die opbrengs van één fees honderd jaar rojaal sou kon lewe, maar die arme moet genoeë daarmee neem om in `n jaar driemaal `n stuk brood van nie eers `n agste pond te kry. O wat `n groot sotheid, domheid, blindheid en selfsugtige boosheid! - Laat jou tafel daarom wees wat hy is, dan sal jy daaraan vir My die beste fees vier as jy daagliks, volgens jou vermoë, die een of die ander arme aan hierdie of ook aan `n ander tafel versadig!

[8] En as die een en dieselfde arme elke dag kom, vra hom dan nie of hy êrens anders niks kry nie, want daar sou die arme bang word, sodat hy dan nie meer na jou toe sou durf kom nie, en daardeur sal jou goeie werk alle waarde vir My verloor!

[9] Maar Ek wil ook nie dat jy nog liggaamlik sterke leeglopers, wat in staat is om te werk, die armebrood gee nie; as hulle kom, gee hulle dan werk dat hulle kan aangaan! As hulle die een of ander werk vir jou gedoen het, gee hulle dan ook te ete en te drinke; maar as hulle die werk nie aanneem nie, gee hulle dan ook niks te ete nie! Want wie tot werke in staat is, maar nie wil nie, mag ook nie eet nie!

[10] Kyk, as jy só optree, sal jy My altyd die aangenaamste herdenkingsfees berei. Maar met jou voorgenome jaarfees moet jy maar altyd uit My pad uit bly! Want so `n jaarfees is die grootste onsin wat `n mens in sy hoof kan bedink, omdat niemand daarmee gediend is nie - behalwe die organiseerder van die fees wat tydens so `n jaarfees ten bate van homself deur offers voordeel kan behaal!

[11] Waarom sou `n periode van `n jaar dan beter wees as dié van `n dag? Wie byvoorbeeld eenmaal per jaar die geboortedag van sy vader vier, moes eintlik ook elke dag die geboorte-uur vier, wat beslis beter sou wees as die jaarlikse geboortedag!

[12] Ek sê vir jou, al hierdie soort herdenkingsfeeste van die mense het vir My geen waarde nie, tensy hulle daagliks, of liewer elke uur in die hart deurleef word. Nuwemaan, jubeljaar, fees van die bevryding van Jerusalem uit die onderdrukking van Babel, fees van die wederopbou van die stad en die tempel, die fees van Moses, Aäron, Samuel, Dawid en Salomo is almal niksseggende sake, waar nouliks soveel waarheid in sit as in die reën wat duisend jaar gelede in die see geval het.

[13] Mens begin wel in `n soort religieuse oplewing met hierdie feeste, en die feesgangers herinner hulle daarby nog baie lewendig die persoon of die een of ander belangrike gebeurtenis wat hyself beleef het, maar in die tweede, derde, vierde of selfs tiende generasie word dit `n niksseggende seremonie, waarvan duisende nouliks nog weet waarom dit gehou word - en later word dit heeltemal heidens.

[14] Origens wil Ek hiermee die egte herdenkingsfeeste nie opgehef hê nie, maar hulle moet naas die jaarlikse ook die daaglikse in die hart meebring, omdat hulle anders as dood en dus sonder uitwerking beskou moet word. Maar hier met die tafel bly dit soos wat Ek dit aan jou gesê en aangetoon het!"

[15] Ebahl sê: "Alles sal baie presies so gedoen word soos U, o Heer, nou so vriendelik en waar aangetoon het. Daarby sal ons aan die daaglikse feeste in ons harte baie meer aandag gee, en ons sal ons tewens met al ons kragte oefen in die naasteliefde, en op daardie manier die heerlikste gedenkfeeste hou!"

[16] Ek sê: "As julle dit bly doen, dan sal Ek ook in julle bly, en daaraan sal mens sien dat julle werklik My leerlinge is!

[17] Maar nou het ons voldoende geëet en gedrink, laat ons daarom van die tafel af opstaan en na buite na ons skippers gaan. Hulle sal julle heelwat te vertelle hê! Hier sal ons min rus hê, want binne `n uur kom hier weer `n karavaan uit Bethlehem aan, met daarby etlike jong aartsfariseërs, wat ek beslis nie wil sien nie; maak dat hulle vandag nog na Sibara gestuur word!"

[18] Die hoofman sê: "Daarvoor sal gesorg word! Want geen mens op aarde staan my nou so teë as `n aartsfariseër nie!" - Na hierdie woorde staan ons almal op en haas ons na ons skippers by die see.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205