Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 159

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die hemelryk moet bevogtig word

159 Die leier van die skeepsknegte sê: "Pragtige meisie! Wie gee jou die wysheid? Waarlik, jy is wyser as Abraham, Isak en Jakob!"

[2] Jarah sê: "Ek het julle tog so goed verklaar wie die Een is wat nou in ons midde is. Hoe kan jy dan, met onsekerheid, nog vra waar ek hierdie wysheid vandaan ontvang, of wie dit vir my gegee het? Daar vóór ons staan die groot, heilige Gewer van alle goeie gawes! Hy alleen is wys, en Hy alleen is volkome suiwer! Wie Hóm liefhet en in sy hart glo dat Hy Sélf die ewige Heer JaHWeH Van die Skeppingsleërmag is, in dié se hart sal Hy Sy ongeskape, ewige Lig gee, en in die hele mens word dit dan lig, en so `n mens sal dan geheel en al vervul wees met die ware goddelike Wysheid. - As julle `n klein bietjie begrip het, moet dit vir julle duidelik wees hoe ons almal nou daarvolgens staan!"

[3] Die leier van die skeepsknegte sê: "Ja, ja, lieflike engeltjie! Nou verstaan ons dit wel, en soos wat jy dit nou aan ons uitgelê het sal dit wees; maar hulle wat gisteraand van ons geëis het om na Sébulon en Gérasim gebring te word, sal dit nie glo nie en nog minder verstaan. Ons is baie eenvoudige mense en het nouliks `n wonder nodig om te glo, maar by hulle sal `n wonder nog slegter resultate oplewer as geen wonder nie."

[4] Jarah sê: "Daarom sal Hy vir hulle verskriklik word, want die winde sal Sy Woord oor die hele aarde uitdra! Wee hom wat dit hoor, verstaan en uiteindelik tog sal verwerp!"

[5] Ek sê aan die knegte: "Wel, hoe vind julle dan die verstand van hierdie dogter van My?"

[6] Die knegte sê: "Majesteit en Heer! As U werklik die Een is wat U volgens die wyse toespraak van hierdie liewe engel van `n meisie moet wees, dan is dit ook geen wonder meer dat die meisie so wys is nie, want Hy wat in Bileam se tyd die esel laat praat het sodat hy vir Bileam kon profeteer, vir Hom moet dit nog makliker wees om die tong van `n veertienjarige meisie vir profeteer geskik te maak!

[7] Ons glo nou almal dat U die Een is wat die meisie duidelik voor ons oë en ore beskryf het, en daar is verder geen wonder daarvoor nodig nie! Maar omdat U, o Heer, HY IS, sien dan ons groot swakheid aan en verander dit in `n geskikte krag, sodat ons onsself daarmee kan beskerm teen die altyd aanwesige vyande van die Lig en die Waarheid! Want dit is werklik treurig dat ons Judeërs nou by die heidene Lig en Waarheid moet soek. Jerusalem het, in plaas van vir alle mense die grootste lig te wees, `n poel van die ergste nag en duisternis, en `n moordkuil vir die ou, suiwere gees van die Judeërs geword. As ons nou Lig en Waarheid wil hê, moet ons dit in Sidon en Tirus gaan soek by die Grieke en die Romeine! Daarom, Majesteit en Heer, omdat vir U alle dinge moontlik is, gee vir ons Lig en Krag sodat ons die Waarheid kan sien, en Haar dan kan beskerm teen die vyande!"

[8] Ek sê: "Vrede sy met, en te midde van julle! Niemand moet hom meer ag as die ander nie! Julle is almal broers, maar hy wat hom die geringste ag en die kneg en dienaar van die ander wil wees, dié is tog die meeste en die hoogste! As Ek julle egter as knegte wil hê, dan is julle in werklikheid ook My Mag. En op die manier is elke kneg die krag van sy meester - maar die meester is dan weer die voorspraak van die kneg! Het mekaar lief, doen goed aan jou vyande, seën hulle wat jou vervloek, en bid vir hulle wat jou verwens! Vergeld kwaad met goed en leen jou geld nie uit aan hulle wat baie rente kan betaal nie, dan sal julle die seën en die barmhartigheid van God in oorvloed in julle hê! Binne `n kort tyd sal daaruit dan die Lig, die Waarheid en alle Mag en Krag julle deel word; want die maat waarmee jy gee, sal ook die maat wees waarmee jy terugontvang!"

[9] `n Gewone kneg sê: "Heer, ons sien en voel dat U leer waar en eg is, maar ons voel ook dat dit moeilik te volg sal wees! Dit is egter baie lofwaardig en hemels mooi om aan hulle goed te doen wat steeds besig is om ons skade te berokken, maar wie kan die dikwels maar al te erge kwaadaardigheid van die mense steeds met dieselfde geduld tegemoet kom? En dit is baiekeer die vraag of `n mens daardeur die kwade wil van die mense nie nog meer aanwakker nie, as wanneer `n mens hulle vir hulle slegte dade tugtig. As `n mens diewe en moordenaars vir hul misdade ook nog sou beloon, dan sou daar weldra maar weinig mense op die aardbodem rondloop! Daarom moet `n mens die vyand altyd vasberade die hoof bied en om die huis `n bolwerk van dorings aanlê, sodat die vyand vir altyd die begeerte vergeet om iemand kwaad aan te doen. Die voorneme van die vyand sal so eerder vriendelik word, as wanneer `n mens hom vir die kwaad wat aan iemand gedoen is `n weldaad sou bewys!"

[10] Ek sê: "Ja, ja, dit is wel egter menslik bedink, maar daar sit geen spoortjie goddelikheid in nie. Met die straf sal jy die mens wat jou kwaad gedoen het, wel afskrik, sodat hy dit nie so maklik weer sal probeer om jou kwaad aan te doen nie - maar hy sal daardeur tog nooit jou vriend word nie! Het jy hom egter vir iets slegs wat hy teen jou begaan het, op die regte tyd, toe hy in nood was, `n weldaad bewys, dan sal hy die sonde wat hy teen jou begaan het, insien, daaroor diep berou hê, en vanaf daardie uur jou beste vriend word!

[11] En so sal hy, deurdat jy vir hom vir sy slegte daad `n weldaad bewys het, vir altyd verbeter, maar `n straf wat hy ondergaan sal hom tot jou sestigvoudiger erger vyand maak!

[12] As die eerste aan jou begane sonde miskien slegs uit `n soort moedswilligheid en leedvermaak voortgekom het, dan sal die tweede sonde uit toorn en wraak ontstaan, daarom sê Ek dit vir julle nog `n keer: Doen dit wat Ek julle eerste gesê het, dan sal julle God se barmhartigheid en Sy seën volkome deelagtig word!

[13] Want wie regtig deur My geseënd wil wees, moet My Woord, waarin alle Barmhartigheid, al die Lig, alle Waarheid en alle Mag lê, egter ook aanneem, omdat dit anders onmoontlik sal wees om dan vir hom ook barmhartigheid te skenk.

[14] Neem egter almal `n voorbeeld van My, want Ek is met My hele hart sagmoedig en het met elkeen al die geduld! Skyn die son nie ook oor die goeie en die kwade, oor regverdiges en onregverdiges, en val die vrugbare reën nie net so goed op die veld van die sondaar as op die veld van die regverdige nie? Wees daarom in alles volmaak, soos wat die Vader in die hemel volmaak is, en jy sal in oorvloed barmhartigheid en seën uit die hemel ontvang! - Verstaan julle dit goed?"

[15] Almal sê nou: "Ja Heer, ons verstaan dit nou almal baie goed! Alles is dus heeltemal in orde, en ons sal ons ook alle moontlike moeite gee om alles woordeliks na te volg, maar dit sal ons seker in die begin baie moeite kos!"

[16] Ek sê: "Ja, liewe vriende, in hierdie tyd kos die hemelryk geweld! Wie dit nie met geweld na hom toe trek nie, sal dit nie verower nie! Maar elkeen wat ter wille van die hemelryk met homself veg, is `n wyse en verstandige bouheer. `n Wyse en verstandige bouer bou sy huis egter nie op los sand nie, maar op vaste rotsgrond, en as storms en watervloede dan kom, kan hulle die huis nie skade aandoen nie, want dit staan op `n rots.

[17] So is dit ook met die innerlike stryd om die hemelryk. Wie dit eenmaal deur stryd in hom verkry het, het dit vir ewig onverwoesbaar na hom toe getrek. Dan mag daar nog sulke wêreldse storms oor hom losbars, maar dit sal nie in staat wees om hom te skaad nie. Maar wie dit nie met alle insette van sy krag en moed deur stryd verkry het nie, die sal deur die storms van die wêreld meegesleur word, en ook nog alles verloor wat hy het! - Dink goed hieraan, want daar sal tye kom waarin julle dit alles helaas baie nodig sal hê!"

[18] Toe sê die skeepsknegte: "Ons kan U, o Heer, vir dit alles slegs maar eenvoudig dankie sê en ons sien nou oorduidelik dat die mens aan God die Heer niks kan gee nie, wat hy nie vroeër van Hom ontvang het nie. Maar neem U, o Heer, hierdie dank van ons tog so aan, as sou dit vir U iets wees, en sê ons wat ons vir U eer en liefde moet doen!"

[19] Ek sê: "Ek het dit al vir julle gesê; doen dit - meer is nie nodig nie! - Vertel ons egter nou eers wat julle almal vannag gesien en in elke geval ook gehoor het; want skeepslui sien snags dikwels baie merkwaardige dinge. Maar hou die verhaal kort en voeg niks daaraan toe, of laat niks bewustelik weg van wat julle weet nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205