Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 174

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Jesus in die omgewing van Césarea Philippi.

Die suurdeeg van die Sadduseërs

174 Aan die grens lê `n groot herberg, waar daar deurlopend mense van allerlei nasies opdaag - Judeërs, Grieke, Romeine, Egiptenare, Samaritane, Sadduseërs, Esseners, en ook `n aantal fariseërs en skrifgeleerdes. Toe Ek met My leerlinge daar aankom, win natuurlik veral die fariseërs en skrifgeleerdes inligting in oor My en My leerlinge. Maar hierdie aand het niemand geweet wie ons was nie.

[2] In die herberg is daar egter `n vrou, wat ook op die berg met die baie wat uit hierdie streek aanwesig was, gesuiwer was van haar erge melaatsheid. Hierdie vrou herken My, val voor My op haar knieë neer en dank My nogmaals vir haar verkreë genesing. Enkele fariseërs sien dit en kry die vermoede dat Ek die berugte Jesus uit Násaret is.

[3] Op die aand van My aankoms laat hulle My en My leerlinge met egter rus, maar onder mekaar pleeg hulle oorleg met die Sadduseërs gedurende die hele nag hoe hulle My die volgende dag, wat juis `n na-sabbatdag was, met woorde en dade sou kon vang.

[4] Toe Ek in die oggend buitekant met My leerlinge die môrebrood eet, en hulle tewens vertel dat daar op hierdie plek nie baie gedoen sou kon word nie, kom die fariseërs en Sadduseërs uit die huis, stap dadelik baie brutaal op My af, en begin My uiterlik baie vriendelik met allerlei vrae in versoeking te bring. Daarby vertel hulle selfs baie van My roemryke dade om My goed uit My tent te lok - maar daarin vergis hulle hulleself lelik. `n Sadduseër sê selfs: "Heer, weet u, ons sou geneig wees om U te volg en U leerlinge te word, as U as kind van God, en God se Seun, soos wat baie mense U nou al noem, ons daarvoor `n teken uit die hemele sou gee! (Matthéüs. 16:1) Doen `n sigbare wonder vir ons en dan kan ons U die uwe noem!"

[5] Toe Ek egter in hul harte kyk, vind Ek slegs boosheid. Elke woord dat hulle sê, is `n deurtrapte leuen, en Ek sê daarom aan die sluwe vraers en uitdagers: " In die aand sê julle: 'O, dit sal môre mooi weer wees, want die hemel is rooi!' (Matthéüs.16:2) En in die oggend sê julle: 'O, dit sal vandag slegte weer wees, want die lug is rooi en betrokke!' O, groot huigelaars! As julle die tekens aan die hemel kan beoordeel, waarom dan ook nie die groot tekens van hierdie tyd binne die sfeer van die geestelike lewe van die mense nie? (Matthéüs. 16:3) As julle nou van ander, soos wat julle toegee, sulke buitengewone dinge gehoor het, en sê dat julle die skrifte verstaan, moet dit julle dan nie opval dat alles deur My gedoen word waaroor die profete geprofeteer het nie?! Julle trek wel `n gesig so soet soos melk en heuningwas, maar julle hart is vol gal, vol haat, vol hoerery en vol owerspel!"

[6] Hierdie kommentaar tref die versoekers besonder raak en hulle verdwyn sonder dat hulle durf om weer `n woord tot My te rig, want die hele volk wat hulle om My heen versamel het, werp vraende blikke na hulle toe, en hulle vind dit dus gerade om geen verdere gesprek meer met My aan te gaan nie.

[7] Nadat hierdie versoekers hulle haastig uit die voete gemaak het, loof die volk My omdat Ek hierdie Selote so duidelik die waarheid onder hul neus gevryf het.

[8] Ek rig My egter nie tot die volk nie, wat eintlik ook nie tot die beste behoort nie, maar sê so langs My neus weg aan die leerlinge: "Hierdie slegte en owerspelige soort wil `n teken van My hê, maar hulle sal geen ander teken kry as dié van die profeet Jona nie!" (Matthéüs. 16:4) Daarna laat Ek die volk en meer nog die versoekers aan hul lot oor, en gaan met My leerlinge vinnig weg, skeep My in in die nog wagtende skip, en gee opdrag om dit weer daarheen te stuur waar dit die aand vandaan gekom het.

[9] Terwyl ons met sonnige weer oorgevaar het, en alles bespreek oor die plek en die mense waar ons goed ontvang was, en ons onsself weer aan die voet van die berg bevind het waar daar die vorige dag op die kruin so talle duisende mense met sewe brode en `n paar visse gevoed was, herinner die leerlinge hulle daaraan dat hulle op die grens van Magdala vergeet het om brood te koop en saam te neem. (Matthéüs. 16:5) Dit was naamlik al taamlik laat in die middag en vernaamlik die honger het hulle daarop attent gemaak. Daarom besluit enkeles van hulle om êrens in die omgewing brood te gaan haal of om uiteindelik na Magdala terug te vaar, omdat mens van hier af met `n goeie wind maklik in `n uur by die plekkie Magdala kon uitkom.

[10] Toe die leerlinge My daaroor om raad vra, sê Ek aan hulle: "Doen wat julle wil! Let egter goed op en pas op vir die suurdeeg van die fariseërs en die Sadduseërs!" (Matthéüs. 16:6) - By hierdie mededeling dag die leerlinge toe by hulleself: "Aha, nou sal ons dit hê! Dit is `n teregwysing omdat ons geen brood saamgeneem het nie!" (Matthéüs. 16:7)

[11] Ek merk hul angstige gedagtes maar al te gou en sê aan hulle: "O, vir wat is julle nog steeds so kleingelowig! Wat maak julle julle daaroor tog bedruk omdat julle geen brood saamgeneem het nie?! (Matthéüs. 16:8) Dring dit dan nog nie tot julle deur nie? Dink julle nie meer aan die vyf brode vir die vyfduisend vóór die oortog na Genésaret nie, en hoeveel mandjies daarvan oorgebly het nie?! (Matthéüs. 16:9) En miskien ook nie meer aan die sewe brode van gister vir die vierduisend, die vroue en kinders nie ingereken nie, en hoeveel mandjies julle daar oorgehou het nie?! (Matthéüs. 16:10) Waarom verstaan julle tog nie dat Ek nie die brood wat julle nie saamgeneem het bedoel het nie, as Ek aan julle sê: 'Pas op vir die suurdeeg van die fariseërs en Sadduseërs!' (Matthéüs. 16:11), maar dat Ek die valse leer bedoel wat hierdie mense met allerlei soetsappige, vroom lykende, en vriendelike gebare, trouhartige verklarings, en beloftes tussen die volk strooi, waarby hulle heimlik in hul vuiste lag as hulle `n behoorlike net vol arme dom sielletjies gevang het.

[12] Wie predik dan nog feller oor die onsterflikheid van die menslike siel as juis die Sadduseërs, en wie predik soos hulle, oor `n ewige Eden en `n ewige vuurkwelling in die hel - en persoonlik glo hulle geen jota daarvan nie, en hulle is tewens die grootste godloënaars! Verstaan julle nou wat Ek met 'suurdeeg' bedoel het?" - Toe verstaan die leerlinge dat Ek nie gesê het dat hulle moes oppas vir die broodsuurdeeg nie, maar vir die kwade leer van die fariseërs en Sadduseërs. (Matthéüs. 16:12) - Die nag bly ons in die skip, wat ons vir die ergste honger voorsien het van brood en visse.

[13] Die volgende dag stuur Ek enkele leerlinge vooruit na Césarea Philippi, wat ook `n klein versterkte stad in die Grieks-Galilese gebiedsdeel was en wat land-in vanaf die Galilese see gelê het. Hulle moes in opdrag van My vooraf in hierdie omgewing navraag doen na wat die mense daar van My dink, en of hulle eintlik al iets oor My gehoor het.

[14] En verskeie leerlinge wat in hierdie streek goed bekend was, haas hulle, na die eet van die môrebrood, dadelik na die bogenoemde omgewing en vra ywerig orals wat die mense daar van My dink, en of en hoeveel hulle miskien al van My gehoor het. Die vooruitgestuurde leerlinge was egter nie bietjie verbaas toe hulle opmerk dat in die hele omgewing, wat nog nooit voorheen deur My besoek was nie, My Naam oorbekend was, en dat elkeen baie oor My weet te vertel het. Die leerlinge maak naamlik asof hulle slegs deur hoorsê iets van My geweet het, en daardeur kry die gevraagdes meer speelruimte om allerlei dinge te vertel.

[15] Dit spreek vanself dat daar dikwels reusagtig oordryf is. Daar was byvoorbeeld `n verhaal wat die leerlinge die verteller met groot erns verbied het om nog verder te vertel. Die verhaal bestaan uit niks minder nie as dat Ek My gou tot `n reusagtige grootte kon laat groei, en daarna dadelik weer tot `n nouliks vingergrote dwerg kon laat ineenkrimp; ook sou Ek in `n oogwenk baie oud en ook weer baie jonk kon wees. Ook sou die mense My heeltemal as vrou gesien het. Ja dan was daar die wat nog meer geweet het, want hulle het gehoor dat Ek ook na willekeur die vorm van die een of ander dier kon aanneem.

[16] Elke mens sal self goed kan verstaan waarom die leerlinge hierdie vertellers verbied het om sulke stories rond te vertel, maar hoe dit moontlik was dat sulke dwaashede, en ander van dieselfde gehalte selfs in plekke waar Ek geleer en genees het, kop kon uitsteek, is iets wat vir menige hemelse engel tot op hede gewoonweg nog `n raaisel is. Daar is egter ook `n stapel van ruim vyftig evangelies wat bestaan het, wat baie korrek was, wat tydens die eerste groot kerkbyeenkoms van die môreland as apokrief verbrand is. Dit is so dat in oorsprong slegs die twee evangelies van Johannes en Matthéüs algeheel outentiek was, en ook die geskiedenis van die apostels, die briewe, en die openbaring van Johannes. Beide evangelies van Markus en Lukas het ook hul duidelike en heilige waarde, hoewel hulle in menige detail van die een van Matthéüs afwyk. - Noudat ons dit ook weet, gaan ons weer verder met die evangeliese tog.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205