Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 207

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Josoë se mening oor slawerny

207 Josoë sê: "In U Naam sal ek dit baie kortliks probeer, maar dit is nou maar heeltemal ‘n vraag of my mening betroubaar is.

[2] Die voete van ‘n mens staan sigbaar op `n laer lewensvlak as sy hande, maar as die voete die mens nie na die water sou dra nie, dan sou hy sy hande nie van stof en vuilheid kon reinig nie. Derhalwe dink ek is slawediens in die algemeen net so noodsaaklik as herediens. As die voete uitgly, val die hele mens, en dit is dus sekerlik goed en nuttig om meer te let op die voete, wat met alle reg die slawe van die liggaam genoem kan word, as op alle ander liggaamsdele. Afgestomp en willoos moet die voete die swaar en tewens niksdoenende liggaam dagreise ver dra, en hulle kry daarvoor as loon niks anders as hoogstens `n reinigende verfrissing by `n bron nie, terwyl na `n gedane reis die hele liggaam, wat tydens die hele reis niks gedoen het nie, haar versterk met spys en drank. Maar wat kan, wat sal die voete daarvan sê? - Niks - want hulle is daarvoor geskape!

[3] Daarom dink ek dat slawerny `n noodsaaklike iets is wat nooit afgeskaf kan word as die mensdom in haar gegewe orde wil bly nie, tensy die mensdom mettertyd `n ander vervoermiddel sou uitdink - dan sou die slawediens van die voete natuurlik oorbodig gemaak kon word. - En so, dink ek, sou dit in die toekoms met slawerny kon gaan!

[4] Dit sou natuurlik beter gewees het as `n mens die slawerny wat vir die mensdom onwaardig is, algeheel `n mis kon gee, maar dit sou nog stellig lank kan duur voordat so `n geseënde tyd op aarde sy intrede sal maak.

[5] ‘n Slaaf word deur die vrye mensdom werklik as onkruid onder die mense aangemerk. Maar deur hierdie seldsame onkruid word die mensdom baie goed gemes en tewens traag en volledig passief - en dit vind ek baie sleg. In hierdie opsig sou dit weer beter gewees het as daar geen slawerny was nie. Maar as andersyds slawerny `n skool van die nederigheid is, dan is dit natuurlik ook `n onmisbare noodsaak vir die te hoog stygende mensdom; want na die Babiloniese gevangenskap het die Israeliete weer `n baie goeie volk geword - dit is maar net jammer dat die gevangenskap nie minstens `n volle eeu geduur het nie! Want na die bevryding was daar na my mening nog te veel vir wie die vroeëre glans van die Judese ryk nog te nadruklik voor oë gesweef het. Daarom wou hulle ook die ou glans weer so gou moontlik tot lewe bring. En toe die mure en die tempel weer opgebou was, was die ou hoogmoed ook weer aanwesig, en weldra het dit daar in Jerusalem eintlik nog slegter daaraan toe gegaan as vroeër vóór die Babiloniese gevangenskap. Veertig jaar was dus kennelik te min, maar na ‘n honderd jaar sou by al ons vadere die hunkering na glans, prag en hoogmoed sekerlik vir honderde jare totaal vergaan het!

[6] Dit is natuurlik slegs nog maar net `n onryp vermoede van my en daar sal sonder twyfel behoorlike en goed gefundeerde teenargumente bestaan, maar ek praat slegs maar soos wat ek dit aanvoel. Want iemand wat vir `n slegte daad `n oorveeg kry, sal hy die kwaaddoen nie baie langer nalaat as wat die pyn geduur het nie. As hy egter deur God vir `n slegte daad met `n lang aanhoudende en baie pynlike lyding besoek word, sal hy die sonde seker bykans nooit weer begaan nie!

[7] Daarom kan ek `n regtig lang aanhoudende slawerny maar net sien as iets wat `n bepaalde doel moet dien, en ek sien nou ook die onwrikbare noodsaak van hierdie toestand in en ek dink: So `n goeie en gewillige slaaf is uit die aard van die saak baie volmaakter as `n vry mens; want die vrye mens is geestelik `n slaaf van sy sinne, terwyl die liggaamlike slaaf geestelik `n vry mens kan wees.

[8] Want daar is `n groot verskil tussen `n mens wat baas van sy wil is - wat by `n goeie slaaf heeltemal die geval moet wees - en `n mens wie se wil geen gehoorsaamheid ken nie, en by wie alles moet gebeur wat hy wil.

[9] En daarom is ek dit nou tog heeltemal met slawerny eens en wens dat dit nooit sal eindig nie! Want ek vind: Sodra hierdie hoofskool vir die ware nederigheid sal eindig, sal die mense van die aarde deur `n groot ellende besoek word!

[10] Natuurlik is dit wel te verlang dat mense almal volgens U leer sou lewe, want dan was slawerny `n vreemde onding, en `n misdaad teen die regte van die mensdom. Maar solank dit nêrens nog nie die geval is nie en miskien nog lank nie sal wees nie, is en bly slawerny vir die hoogmoedige mensdom `n evangelie uit die hemele, wat ter verbetering van die mensdom op die aarde ingestel is. –

[11] Dit is dan my swakke beskouing van U verklaring oor slawerny. Nou vra ek U, o Heer, egter tewens of U geneig sou wil wees om die foute daarin, wat ek sekerlik gemaak het, uit te wys, sodat ek ook in hierdie sfeer tot die volle waarheid kan deurdring!"

[12] Ek sê: "Beste Josoë, jy het in alles heeltemal gelyk, en weinig of niks kan met reg daarteen ingebring word nie; net wat betref die duur van die Babiloniese gevangenskap het jy in jou ywer ietwat te ver gegaan. Want elke gevangenskap en ook elke slawerny is uit die aard van die saak niks anders as `n strafgerig wat deur God toegelaat word nie! `n Oordeel is en bly egter jammer genoeg altyd maar net `n uiterste dwangmiddel tot verbetering en het daarom gewoonlik meer `n slegte as `n goeie uitwerking op die siele van die mense. Want iemand wat die slegte maar net vermy vanweë die kwade gevolge, en die goeie doen vanweë die goeie gevolge, is nog ver verwyder van die Ryk van God. Slegs diegene wat die goeie doen omdat dit goed is, en die kwade vermy omdat dit sleg is, is `n volmaakte mens. Want solank die mens nie self na die Ware Lig wil gaan nie, bly hy geestelik `n slaaf en as sodanig dood vir die Ryk van God. Die dwang van buiteaf bring die mense op nog ander dwaalweë van die sedelike liefdeslewe, waarvan ons dadelik `n paar daarvan sal ontdek."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205