Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 230

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

God se lesse

230 Cyrenius sê: "Ek het nou ‘n idee daarvan gekry, en dit lyk my darem of ek iets daarvan sal verstaan, maar van `n helder duidelikheid is daar nog lank nie sprake nie. Die geheel lyk of dit in `n geestelike verfyndheid wil oorgaan, wat `n heel ander realiteit oproep as dié waarby `n mens naastenby kan bepaal dat twee pere plus twee pere saam vier pere is. In hierdie opsig bestaan daar by my nog lank geen helder insig nie; want die afweeg van die kragte ten opsigte van mekaar is so subtiel dat hulle in `n wese soos ek moeilik `n geordende verhouding sal kan bereik, en in één en dieselfde wese nog so `n verhouding kan hê dat uit alle doen en late `n volmaakte, op God gelykende wese kan ontstaan.

[2] Ek is van mening dat `n nuutgeskape wese, soos wat elkeen van ons een is, so iets in en uit homself onmoontlik ooit heeltemal tot stand sal kan bring. En hy kan dus ook nie in ‘n sekere sin alléén die skuld dra van die feit dat hy hom algeheel volgens die regte orde, of gedeeltelik, of dan miskien wel heeltemal téén die regte orde ontwikkel het nie. Want wie sou `n mens die volle skuld kan gee van sy wanopvoeding as hy vanaf sy geboorte nooit voluit die geleentheid gehad het om hom te ontwikkel in die verfynde vorme van omgang soos wat dit onder welopgevoede mense gebruiklik is nie?

[3] Hoe moet ons dit dan vir onsself voorstel dat die primitiewe geestelike wesens, dadelik nadat hulle as oergedagtes en oeridees van God hulleself tot `n bestaan saamgevoeg het, ook al daardie insig sou kon hê waarmee hulle hulleself volgens die orde van die Skepper daarna sou kon ontwikkel het? Die in ‘n sekere sin persoonlike oerwese van satan kon onmoontlik so `n insig gehad het as byvoorbeeld Migael, anders sou hy hom net soos Migael ontwikkel het. Kortom, Heer, daar slinger ek nog baie tussen lig en donker heen en weer en ek weet nie hoe ek die lig nou so presies moet gryp nie! As ek te naby kom, dink ek dat dit my soos `n vlam sal brand, en verwyder ek my daarvan, dan is ek weer op die plek waar ek begin het.

[4] Daarom sal dit in elk geval vir my nog nodig wees om oor die behandelde onderwerp nog bietjie meer olie in die lamp van my verstand te gooi, sodat die geheel vir my, al is dit ook net ‘n bietjie, duideliker word. Want nou kom ek vir myself voor as iemand wat nog half aan die slaap is in die môre. Aan die een kant druk die liglose slaap nog op die oë, aan die ander kant werk die daglig in op die nog slaperige oë sodat hulle hulle nie meer heeltemal kan oorgee aan die slaap nie. Wek U daarom nou my oë maar liewer heeltemal, o Heer, anders kan dit my nog maklik oorkom dat ek in al die môrelig, in die volle besef van die goddelike orde in alle wysheid en liefde, tog nog verslaap!"

[5] Ek sê: "Ja, liewe vriend, Ek het jou vooruit gesê dat hierdie sake moeilik is om heeltemal te verstaan! Maar omdat dit juis jou doel is om in hierdie saak dieper insig te verkry, sal Ek wel probeer om deur beelde en gelykenisse vir jou `n bietjie beter insig te verskaf.

[6] Jy het dit egter totaal mis as jy meen dat God die geskape wesens vir hul ontwikkeling aan hulleself oorgelaat het voordat hulle in staat was om die goddelike orde heeltemal in hulleself te herken en in al sy diepte te verstaan. Dit het baie onderrig voorafgegaan, en daar het baie lang tydruimtes verstryk tussen die eerste ontstaan van die eersgeskape orde in die eerste wesens en die periode waarin hierdie geeste hulleself moes gaan ontwikkel.

[7] Dink nou maar aan die tydruimte tussen Adam en jouself, en weet dat hierdie hele, al taamlik langdurige tydperk, tot op hierdie uur nog steeds maar net in beslag geneem is deur onderrig!

[8] En nou, na hierdie lang voorbereiding, het Ek Self uiteindelik gekom en toon nou die mense duidelik die paaie waarop hulle moet gaan deur hul eie innerlike krag, wat tot op hede al die tyd vir die beste moontlike vorming vir die pro en contra gehad het. Met My aanwesigheid word die mens nou die grootste vryheid van handeling gegee om sy lewe te voltooi en daarby kry hy `n nuwe wet van die Liefde, waarin met goddelike volkomenheid alle ander wette en alle wysheid uit God inbegrepe is.

[9] As `n mens van nou af aan volgens hierdie nuwe wet sal lewe, sal hy sy lewe ook vas en verseker volkome volgens die goddelike orde vorm, en daarna ook in die volheid van die ware en vrye ewige lewe kan ingaan. As hy hierdie nuwe lewenswet egter nie wil aanneem nie en sy handelinge nie asof uit homself daarvolgens sal inrig nie, sal hy ook sekerlik nie die doel van die ware lewensvervulling bereik nie.

[10] Maar niemand sal dan kan sê: 'Ek het nie geweet wat ek moes doen nie!' En sou `n mens hier nog so ver vandaan sal sê: 'Die roep van God het nie deurgedring tot my ore nie!', dan sal aan hom gesê word: 'Vanaf hierdie uur af is daar geen mens op die hele aarde wat nie in sy hart waargeneem het waarby hy hom moet hou nie.'

[11] Elkeen sal `n waarskuwende stem in sy hart kry wat vir hom sal aangee wat goed en alleen reg is. Wie hierdie stem sal hoor en daarvolgens sal handel, sal die Groot Lig bereik en Hy sal alle weë van die goddelike orde vir hom verlig."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205