Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Roban se wyse raad

35 Tuis gekom, gryp hulle dadelik na die Psalms van Dawid, en die eerste die beste Psalm is die 37ste Psalm, en die oudste fariseër begin hierdie vir hulle te lees en sê:

[2] "Maak u nie kwaad oor die bose, wees nie jaloers op die boosdoeners nie; want hulle word weldra soos die gras afgemaai en hulle sal soos die groen onkruid verwelk. Hoop op JaHWeH en doen die goeie; bly in die land en leef eerlik! Verheug u in JaHWeH; Hy sal u gee wat u hart begeer: Laat u weg in JaHWeH se ontferming, en hoop op Hom! Hy sal alles goedmaak, en sal u geregtigheid aan die dag bring soos `n lig, en u reg soos die middagson.

[3] Wees stil voor JaHWeH en wag op Hom; maak u nie boos oor hom wat sy baldadigheid ongestoord uitleef nie! Laat die toorn en die woede vaar; word nie so boos dat u dan ook kwaad gaan doen nie! Want die bose word uitgeroei; maar die wat op JaHWeH wag, sal die land besit.

[4] Nog `n kort tydjie, dan bestaan die goddelose nie meer nie; en as u sy plek sal opsoek, sal dit nie meer daar wees nie. Maar die ootmoediges sal die land besit en hulle verlustig in groot vrede. Die goddelose bedreig die regverdige, en kners op sy tande oor hom. Maar die Heer lag oor die goddelose, want Hy sien dat sy dag kom. Die goddelose trek die swaard, en span hulle boog om die ootmoediges en armes neer te slaan, en die vromes te dood; maar hul swaard sal in hul eie hart dring en hul boog sal verbreek word.

[5] Die geringe bietjie wat `n regverdige het, is beter as die groot rykdom van baie goddeloses. Want die arm van die goddelose sal breek, maar JaHWeH sal die regverdiges behou. JaHWeH ken die dae van die regverdiges en vromes, en hulle besit sal ewig bly; in kwaai tye gaan hulle nie verlore nie, en in swaar tye sal hulle voldoende hê. Want die goddelose sal omkom, en die vyande van JaHWeH sal ook soos `n pragtige groen weide, tog soos rook vergaan. Die goddelose leen en betaal dit nie terug nie; die regverdige is egter barmhartig en vrygewig.”

[6] Na dié vers gaan `n fariseër staan en sê aan die oudste wat lees: "Wat se onsin lees jy daar?! Merk jy nie dat al die slegte dinge wat hier genoem word, na ons toe wys en al die goeie op niemand anders as die seun van die timmerman nie? Dit is `n verwensde getuienis teen ons en jy lees dit net so maklik en opgewek voor asof dit `n lofprysende brief van die hoëpriester uit Jerusalem is wat aan ons gerig is!"

[7] Die oudste sê: "Vriend, dit kan heeltemal geen kwaad doen as ons daardeur, ten behoewe van onsself, beter belig word as wat ons nou is nie! Dit is beter dat ons onsself vooraf beter leer ken, as dat ons binnekort voor die hele wêreld as volksbedrieërs ontmasker word, verag en deur elkeen verlaat en naak gelaat sal word! Want uiteindelik hang dit tog slegs van God af hoe lank ons nog deur kan gaan met ons huidige handelswyse, en daarom lees ek hierdie baie merkwaardige Psalm verder!"

[8] Verskeie sê: "Jy het gelyk, doen dit!"

[9] En dus lees die oudste fariseër verder:

[10] "Want Sy geseëndes be-erwe die land; maar Sy vervloektes sal uitgeroei word!"

[11] Hier vra die fariseër gou: "Wie is die geseëndes en wie die vervloektes?"

[12] Die oudste fariseër sê: "Dat ons nie die geseëndes is nie, is nou voor die hand liggend deur die steeds toenemende vervolging wat ons van die Romeine ondervind! Want as ons die geseëndes was, dan sou God nie so `n ongekende plaag in ons geseënde land ingebring het nie! Alles anders kan jy maklik vir jouself ontrafel. - Maar ek lees nou verder:

[13] ‘JaHWeH bevorder die weg van so `n man, en Hy het plesier in sy weg. Val hy, dan word hy nie weggewerp nie; want JaHWeH hou hom aan die hand. Ek was jonk gewees en het oud geword, maar ek het nog nooit gesien dat `n regverdige eensaam was, of dat sy kroos om brood moes vra nie. Want die regverdige is altyd barmhartig en leen graag aan die armes; daarom sal sy kroos geseënd wees.

[14] Gee die kwade op en doen die goeie! Bly altyd regverdig, want JaHWeH het die geregtigheid lief, en verlaat nooit die wat aan Hom gewy is nie. Hy word ewig behoed, maar die saad van die goddelose sal verdelg word. Slegs die regverdiges erf die land en bly daar vir ewig.

[15] Die mond van die regverdige spreek wysheid, en sy tong leer die reg; die wet van sy God is in sy hart, en sy voete gly nie uit nie. Maar die goddelose loer steeds op die regverdige en soek om hom te dood. Maar JaHWeH staan nie toe dat hy in die hande val van die goddelose nie, en verdoem hom nie as hy deur die goddelose veroordeel word nie.

[16] Wag op JaHWeH en bly op Sy weg, dan sal Hy u verhef om die land te erf, en u sal dan sien dat die goddelose verdelg word!

[17] Ek het `n goddelose gesien wat baie trots was en uitbrei en groei soos `n lourierboom. Maar toe ‘n mens daarlangs loop, was hy al weg; en toe ek na hom vra, was hy nêrens te vinde nie!

[18] Bly daarom vroom en regverdig, want aan die einde sal dit goed gaan met diesulkes! Maar die oortreders van God se wette sal gesamentlik verdelg word, en die goddelose sal uiteindelik uitgeroei word! JaHWeH help die regverdiges in elke nood en is hul enigste krag en sterkte. JaHWeH sal hulle bystaan en sal hulle red. Hy sal hulle Self van die goddelose red en hulle help, want hulle vertrou op Hom.’”

[19] Toe die oudste met die Psalm klaar is, val die ander fariseër hom woedend aan en skreeu: "Ou esel, merk jy dan nie dat ons deur hierdie Psalm uitgewys word as die goddeloses nie en diegene wat aan Jesus se kant staan, as die regverdiges nie? Sien jy nie dat ons uitgeroei word en hulle in die land bly nie? Is ons nie diegene wat trag om hulle as regverdiges te dood, terwyl God hulle bewaar nie? Dit is `n mooi Psalm vir ons!"

[20] Die oudste fariseër sê: "Ek het hom nie geskryf nie! Hy staan in die boek; en as ons bly soos wat ons is, dan sal ons ons inderdaad aan hom moet laat welgeval! Verstaan jy dit en die mag van God?!"

[21] `n Ander sê: "Ek verstaan hierdie saak beter as julle almal! Vriend Roban is gedwing om hierdie Psalm te lees want dit het die timmerman se Seun met Sy onbegryplike towermag gedoen! Want as Hy in staat was om die hele familie, waar ons vroeër tevergeefs ons goue en silwer verlossing gesoek het, met één woord te genees, dan is Hy net so goed in staat om ons te dwing om slegs die Psalms te lees wat heel duidelik net so teen ons gerig is, as wat dit eenmaal teen die vyande van Dawid gerig was.

[22] Bowendien moet die ou Josef werklik in die regte saadlyn `n afstammeling van Dawid wees, en nou noem die mense Jesus, omdat ook Josef se tweede vrou Maria, van dieselfde stam is, `n 'Seun van Dawid'. Daarom kan dit bes moontlik wees dat die ou Josef, wat altyd `n sluwe jakkals was, hoogs waarskynlik heel in die geheim sy Seun alle moontlike kunste laat leer het, sodat Hy met sy toordery die bygelowige Romeine en Grieke sou kon beetkry en Hom as `n seun van Jupiter of Apollo voor te stel, waarop die Romeine hom verseker as hul keiser sou uitroep! En as die menere wat in Rome woon, net so blind is soos hierdie wat oor Asië bevel voer, wat Jesus so te sê al in sy sak het, dan sal dit hom ook seker geluk om binnekort die Romeine die wet voor te skryf - en dan help die hemel ons!"

[23] `n Ander sê: "Vir so `n onderneming sal `n geheime brief aan die keiser miskien wel `n stokkie daarvoor kan steek."

[24] Die eerste sê: "Jy sal Hom moeilik kan dwarsboom. Met Sy towenaarsblik sien Hy alles, hoe verborge jy dit ookal dink! Wie anders as Hy het ons op die terugweg met die donderende knal laat skrik, omdat Hy vas en seker gehoor het wat ons elkeen van Hom sê?! En wie anders as Hy het ons die Psalm wat teen ons gerig is, laat lees? En waarom? Omdat Hy sekerlik geweet het wat ons teen hom wil afspreek! Vooruit, gaan jy maar aan die skryftafel sit en probeer maar eers om `n geheime brief aan die keiser te skryf - en ek staan daarvoor in dat jy nie in staat sal wees om ook maar één woord te skryf nie, of jy sal deur Sy onbegryplike verborge towermag gedwing word om `n verskriklike getuienis teen jouself te onderteken!

[25] Bowendien is selfs ons owerste Jaïrus nou met liggaam en siel aan Hom verknog, omdat Hy sy dogter twee maal vir hom uit die dood opgewek het, en hy ondersteun Hom met alles wat Hy maar wil - en daarom sal ons ook nie in staat wees om in Jerusalem ook maar iets teen Hom uit te rig nie. Kort en saaklik, ons sit nou aan alle kante vas en kan niks teen Hom uitrig nie. Dit lyk my nog die beste om niks te laat blyk van ons probleem of ons volledig by Hom as leerlinge sal aansluit nie – dit sou meer nuttig vir ons wees om niks teen Hom te doen nie, omdat ons niks kan bedink wat Hy nie dadelik tot in die fynste besonderhede sou weet nie."

[26] Die ou Roban sê: "Dit dink ek ook! Daar bly vir ons werklik niks anders oor nie as om ons heeltemal afsydig te hou, of om by Sy leer aan te sluit, en te doen wat Hy ons aanraai of beveel; want voorlopig sou ons hier slegs maar teen die prikkels skop!"

[27] Almal sê: "Ons sal ons die hele tyd afsydig hou want dit sal die beste wees; want dan maak ons beide in Rome en in Jerusalem geen vyande nie, en dit is die beleid waarna ons ons lewens moet rig."

[28] Toe gaan hulle almal slaap, en elkeen bedink vir homself wat hy gaan doen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205