Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 44

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Borus en Sarah

44 Toe ons na die visvangs om ongeveer éénuur in die middag by die huis aankom, wag daar weer `n goeie middagete op ons, wat Borus hierdie keer voorberei het. Daarom het hy nie met ons saamgegaan om vis te vang nie. Hy het daar besonder baie plesier uit geput om vir `n groot geselskap `n gastemaaltyd te voorsien, en hy kook baie graag met sy kokke in die opelug. Daarby was hy ook, net soos Kisjonah, ryk genoeg om daagliks op die minste ses- tot sewe duisend mense te voed en die beste wyn te laat drink. Want ten eerste was hy die seun van `n buitengewone ryk Griek uit Athene, wat ook in Asië groot eiendomme en `n aantal klein eilande besit het, in die tweede plek was hy die enigste erfgenaam van die groot en uitgestrekte besittings, en in die derde plek was hy veral die bekwaamste arts in die hele Judea, en verdien met sy kennis, veral by die gesienes en die rykes, groot somme goud en silwer. Daarenteen gee hy vir die arm siekes alle moontlike versorging verniet, en daarom word hy deur hulle as die grootste weldoener van die land geprys.

[2] By dit alles was hy ongetroud, met geen vrou of kinders nie, maar het tog baie plesier daaruit geput om arme jong manne aan jong en gesonde meisies te koppel en om hulle met woorde en `n voldoende bruidskat te seën. En so was hy ook nou in sy beste luim omdat hy in die geheim gedink het dat Ek werklik met die beeldskone en tere Sarah wou trou.

[3] Toe ons almal gemoedelik aan tafel sit, en eet en drink, kom hy by My en vra saggies of daar tog iets van sou kom?

[4] Ek antwoord hom: "Liewe vriend en broer! Ek ken jou goeie en edele hart deur en deur. Ek weet maar al te goed dat jou siel maar altyd uit haar voeë bars van vreugde as jy ander geseënd gemaak het. Aan jouself het jy bykans nooit gedink nie, en omdat jy tussen My en die mooie Sarah `n werklike groot liefde ontdek het, en ook gehoor het hoe ons vanmôre oor bruid en vrou gepraat het, het jy self heimlik tot die verheugde oortuiging gekom dat daar tussen My en die baie aantreklike Sarah baie binnekort `n egtelike verbinding sal plaasvind. Maar Ek sê vir jou; daarmee vergis jy jou `n bietjie! Want weet jy, alle vroue wat op die aarde lewe, geleef het, en nog sal lewe, is, as hulle `n rein lewe lei, min of meer My bruid en ook net so goed My vrou. Maar so `n verbinding kan nooit so innig wees dat dit hulle ooit sal verhinder om die vrou van `n goeie man te word nie - en noodsaaklikerwys ontstaan die hele ooreenkomstige verhouding juis nou tussen My en die allerliefste Sarah. Maar sy kan daarby net so goed jou vrou word en tog geestelik, sowel nou as ewig, waarlik ook My vrou wees!

[5] Daarom is dit nou My mening: Omdat jy al so baie regskape manne, ook al was hulle hoe arm, aan liewe en brawe vroue gehelp het wat, ofskoon die jonges, soos altyd by die jeug, nog vurige manne was, hulle aansien as bron van die hoogste blydskap, daarom wil Ek jou óók die blydskap skenk! Kyk, juis hierdie werklike hemelse mooi Sarah sal jou vrou word! Jy het My verdedig na haar eerste opwekking, toe sy vir die tweede maal op die sterfbed lê, en Ek het haar die tweede maal vir jou opgewek, en het haar toe al bestem as jou verdiende loon. Haar uiterlike van nou sal sy in haar sewentigste lewensjaar nog hê; die kind sal op hierdie aarde nie ouer word nie! Kyk eers of beide engele waarmee Cyrenius nou praat, so mooi is soos hierdie meisie! Sê My eerlik of jy hierdie allerliefste Sarah al nie `n paar keer heel betekenisvol aangekyk het nie en of jou hart heeltemal niks daarby gemerk het nie!"

[6] Borus sê `n bietjie verleë: "Heer, om dit vir U te verberg sou heeltemal onmoontlik wees! Daarom sê ek dit liewer padlangs: Sarah is die enigste wese op aarde wat ek eerder self sou besit, as dat ek haar vir iemand anders sou gun! Ek is weliswaar al ietwat oor die dertig, en sy sal pas sestien lentes tel, maar my hart is in daardie opsig nouliks so oud soos sy. As sy moontlikerwys tog my vrou kan word, dan sou ek haar oneindig meer as my eie lewe liefhê!"

[7] Sarah het heimlik heel opmerksaam saamgeluister, en toe Ek haar aanspreek en vra hoe die gesprek tussen My en die fors geboude Borus haar geval het, slaan sy `n bietjie blosend die oë neer en sê na `n oomblik: "U sien tog ook alles! Ek het die vriendelike Borus net één enkele keer heel vlugtig aangekyk omdat hy so `n aardige en behulpsame man is!"

[8] Ek sê `n bietjie skertsend: "Maar in jou hart het jy hom, as Ek My nie vergis nie, al meerdere male aangekyk!?"

[9] Sarah sê, terwyl sy haar gesig nog meer verberg: "Maar Heer, U begin dit vir my nou tog te lastig maak! Dat U nou tog ook alles moet weet!?"

[10] Ek sê: "Sarah, as dit dus werklik daarby sou kom, en hy jou heel welmenend om jou mooie hand sou vra, sou jy dit dan vir hom weier?"

[11] Sarah sê, aangenaam verras deur die vraag: "As ek dit nie sou doen nie, hoe sou ek dan U vrou kon word? Ek kan tog maar net vir U liefhê, hoewel ek ook openlik aan U moet beken dat ek die liewe Borus baie hoog ag en waardeer; want na U, skyn hy vir my wel die beste mens te wees in die hele Judea, hoewel hy `n gebore Griek is, en pas kort gelede slegs deur sy opleiding, maar nie deur die besnydenis nie, `n Judeër geword het."

[12] Ek sê: "Nou ja, dit sal wel regkom! Dink maar self daaroor na en kyk eers na Lydia wat teenoor ons sit, wat ook nog steeds geestelik My vrou is, maar liggaamlik tog die vrou is van die regskape Festus! Maar dit versteur ons verhouding nie in die minste nie, want jy bly altyd My bruid en My hemelse vrou."

[13] Na `n oomblik sê Sarah: "Ook al sou ek my hand aan Borus wil gee, dan weet ek tog nie wat my aardse ouers daarvan sal sê nie! Hulle sal ek dan ook om toestemming moet vra! Ek sou Borus weliswaar net daaroor al aanvaarbaar gevind het, omdat U dit graag sou wou hê, maar aan vader en moeder moet dit tog ook gevra word!"

[14] Ek sê: "Nou ja, kyk, daar is dit al aangevra, en Ek is heel eens daarmee; maar natuurlik dwing Ek jou nie. Jy gaan heeltemal vry daarin!"

[15] Sarah sê, terwyl sy steeds meer verleë word: "Heer, - ja, dit weet ek wel, - maar - ek, - ja, ja, ek - wil egter - egter - tog nie!"

[16] Ek sê: "Wat wil jy nie?"

[17] Sarah sê: "Haai, U bring my nou tog wel in `n groot verleentheid! Ag, het ek Borus, wat tog baie lieftallig is, maar nie aangekyk nie!"

[18] Ek vra: "Ja, maar nou het jy My nog nie gesê wat jy eintlik wou nie! Dus, uit daarmee, liefste Sarah, sê ronduit wat jy nou nie so heeltemal nie sou wil nie!"

[19] Sarah sê: "Maar Heer, waarom vra U my dit nog!? U weet tog sonder meer wat ek nie sou wil nie! Vra U maar, dan sal ek deur met my hoof te knik wel aangee wat ek nie sou wil nie!"

[20] Ek sê: "Nou dan, omdat jy dit wil, daarom sal Ek jou laat raai wat Ek dink dat jy nie sou wil hê nie. Luister dan: Jy sou beslis nie wil hê dat die goeie Borus miskien van verdriet siek sou word as jy hom nie jou mooie hand sou gee nie!?"

[21] Sarah staan op en klop met haar hand op My skouer en sê vir die skyn, liggies vererg: "Ehhh – laat hom maar raai, as mens dadelik met ....- daar het ek my nou byna verspreek!"

[22] Ek sê: "Nou, - laat ons die waarheid nou maar hoor!"

[23] Sarah sê: "Nou ja, U sê nou self al 'die waarheid'; maar dit is ook waar dat dit geen 'raai' kan heet as mens dadelik met die waarheid vorendag kom nie!”

[24] Ek sê: "Sien jy, Ek weet wel dat jy vir My liewe vriend Borus meer voel as wat jy ons wou laat sien! Maar dit is goed so! Die meisie moet tot op die laaste oomblik maar baie min laat merk dat sy in haar hart tot `n man op `n spesiale manier toegeneë is; veral as dit ernstig word, moet sy die man wat haar tot vrou wil neem, `n kykie in haar hart gee - anders verlei sy hom op `n ongeleë oomblik, en as daar dan moontlik hindernisse opduik, maak sy sy hart treurig en sy gemoed onrustig! En dit sal haar baie kwalik geneem word."

[25] Sarah sê: "Maar Heer, dit het ek helaas tog nie gedoen nie!?"

[26] Ek sê: "Nee, nee, liefste Sarah; daarom het Ek jou tog as voorbeeld aangeprys! - Maar nou kan jy Borus wel bietjie vir bietjie vertel wat jy alles in jou hart beleef!"

[27] Sarah sê: "Ag - nou sê ek hom dit nog nie; maar as hy my man word, dan is daar nog tyd genoeg daarvoor!"

[28] Ek sê: "As hy nou byvoorbeeld, wat My betref, alreeds jou man sou wees, wat dan?"

[29] Sarah sê, heimlik bly-verras: "Nou ja, wat dan? - Nou ja, dan — dan — nou ja, - dan - sou ek my hart natuurlik heeltemal aan hom openbaar!"

[30] Ek sê aan Borus: "Kyk nou hoe onbeskryflik lieflik sy is! Neem haar, hou opreg van haar, en sorg vir haar soos vir `n heel tere blom; want Ek gee haar aan jou uit die hemele as welverdiende loon. Gaan na haar ouers toe om jou te laat seën, en kom dan na My sodat ook Ek julle nogmaals kan seën!"

[31] Borus bedank My, terwyl hy van pure vreugde nouliks iets kan sê, en Sarah lig haar heel sedig van haar sitplek af op en sê met `n vrolike, opgewonde stem: "Heer, slegs omdat U dit so wil hê, doen ek dit graag; tog sou ek, as dit U wil sou wees, my hart bestry het - maar nou dank ook ek U vir die beste man in die hele Judea!"

[32] Na hierdie woorde gaan beide na die ouerpaar en vra hulle om die seën, en toe hulle dit met alle vreugde kry, kom hulle weer na My terug, en Ek seën ook dadelik hul huwelik in as `n egte, ook vir die hemel geldige huwelik, waarvoor beide My hartlik met ontroerde harte bedank.

[33] So is hier `n heel onverwagse huwelik gesluit, wat wel een van die gelukkigste op die hele aarde genoem kan word. En daaruit blyk dit dat iemand van hulle wat My die hele aanbieding bring, nooit sal verloor nie, maar dit gevul met die grootste seën terugkry op `n oomblik waarop hulle dit wel die minste sal verwag. Borus was baie verlief op Sarah en sou, as mens dit van hom geëis het, alle skatte van die wêreld vir haar gegee het; want haar wonderbaarlike skoonheid, veral na die tweede opwekking, was vir Borus iets wat hy nie kon beskryf nie - en tog het hy haar volkome vir My aangebied, en wou hy met alles wat hom ten dienste staan, My vermeende bruilofsdag vier. So het Sarah ook baie vir Borus gevoel, maar dra hom ook geheel en al aan My op, en wou beslis net aan My behoort. Maar toe draai Ek die blaadjie opeens om en gee aan beide dit wat hulle egter van ganser harte vir My gegee het. - Wie so doen soos hierdie twee, aan hulle doen Ek ook dit wat Ek aan hierdie twee gedoen het!

[34] Dit is `n lering vir elkeen wat dit hoor of self sal lees, want op hierdie wyse kan mens alles van My verlang. Wie alles vir My aanbied, vir hom bied Ek ook alles; wie egter ruim aanbied, maar daarby tog nog baie vir homself hou, hy ontvang slegs dit terug wat hy gebied het. - En nou weer verder!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205