Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 52

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die verdwene vuursuil bokant die Ark van die Verbond

52 Die Oudstes sê: "Ons sien nou wel in dat jy in `n bepaalde opsig gelyk het, maar oor die algemeen tog nie, daarvoor het jy minstens twintig jaar te min ervaring. Dit sien daar in die tempel nou wel so uit soos wat jy gesê het, maar dit was nie altyd so nie. Want weet jy, as jy in staat was om grondig en logies te dink, dan moet jy onherroeplik die volgende stelling as waar aanvaar: 'As daar nooit iets eg en realisties was nie, dan sou geen mens ook daaraan kon dink om so iets oneg en bedrieglik na te maak nie.' Waarom kry mens maar al te dikwels in ons kundige, ooraktiewe tye allerhande vals diamante, vals pêrels, asook vals goud en silwer?

[2] Ons weet dat die Perse die beste en fynste sjaals en ander kledingstowwe maak en ook volgens hul geheime kuns die houbaarste kleur daaraan gee, waardeur hul produkte ook baie waarde het. As jy egter hede ten dage na die mark van Jerusalem, Sigar of selfs Damaskus toe gaan, moet jy baie vakkennis hê om nie vir `n groot bedrag geld, waarvoor mens gewoonlik Persiese stowwe opkoop, pure namaaksels uit ons land, en dus valse en slegte stowwe op te koop nie! - Maar wat blyk hieruit?

[3] As daar nooit `n egte diamant, nooit `n egte pêrel, nooit egte goud en silwer en nooit egte kunstige, Persiese stowwe was nie, dan sou `n mens ook nooit daaraan gedink het om so iets te vervals nie! En as die egte nie soveel waarde sou hê nie, dan sou daar ook sekerlik geen namaaksels van gekom het nie, want geen mens sal dit in sy kop hê om nagemaakte kalksteen te maak nie, want daar is `n ontsaglike hoeveelheid voorhande. Nou kan jy jou wel voorstel dat `n mens om dieselfde rede nooit `n vals Ark met `n vuursuil sou nagemaak het as daar nie vroeër werklik `n egte en ware een bestaan het nie."

[4] Die spreker, wat Giwar heet, antwoord: "Heeltemal goed so! Dit is duidelik, maar die vraag is, wat is die rede vir die - in `n sekere sin, afsterwe van die Ark van die Verbond! Bestaan sy nog en staan sy so nou en dan nog op die plek van die valse in die Allerheiligste? - wat egter in hierdie tyd haas nie meer gebeur vanweë die gedurige besoek wat die allerheiligste ruimte tans ten deel val nie. `n Mens weet tog maar al te goed dat vir nouliks dertig jaar, behalwe die hoëpriester wat die reg het om op die stoel van Aäron te sit, geen mens in die allerheiligste mag kom nie, en die hoëpriester self maar tweemaal per jaar, volgens die gebruiklike voorskrifte; slegs in buitengewone omstandighede mag hy ook wel drie- of viermaal in die allerheiligste kom.

[5] Hoe het dit dan gekom dat die allerheiligste slegs in naam allerheiligste gebly het, maar eintlik net so weinig `n allerheiligste is as hierdie sinagoge hier?"

[6] `n Ervare oudste sê: "Wat die aanleiding en die oorsaak ookal daarvan was, weet ek ook nog van `n ander ingewyde in Israel wat hiervan weet; dit is egter `n bewese feit dat die vuursuil ná die gruwelike moord op priester Sagaria tussen die offeraltaar en die allerheiligste, plotseling verdwyn het, en sedertdien ondanks alle gebede en smekinge nie weer te voorskyn gekom het nie.

[7] Dat `n mens egter hierdie gebeurtenis nie aan die volk kon vertel nie, sal jy hopelik kan verstaan! Want dit sou sekerlik te veel opwinding by die volk veroorsaak het, en dan ook met die Romeine in die land! Wat `n bloedbad en wat `n puinhoop sou dit meegebring het!

[8] Buiten ons ingewydes, weet geen mens in die hele Israel dus iets daarvan nie, en hierdie Galileërs, wat hier slaap en ons sagte gefluister moeilik sou kon verstaan, selfs al het hulle nie geslaap nie, sou ook niks gedoen het as hulle dit wél sou geweet het nie, omdat hulle almal weinig glo en merendeels Grieke as Judeërs is. Vir die praktiese lewe gaan hulle lankal van die grondslag uit dat `n godsdiens nodig is om die gewone volk daar onder te hou. Die klein ontwikkelde bolaag kan hulle dan makliker uitbuit, en dit is volkome onbelangrik watter geheim `n godsdiens ten grondslag lê.

[9] Wat sal dit vir die beter geleë Galileër saak maak of die Ark eg of nagemaak is, as dit maar net die gewenste indruk sal maak op die gewone volk wat bygelowig is en hulle baie maklik sand in die oë kan laat strooi?! Daaroor kan mens hier in Násaret, in Kapernaum en Gerasim onder goeie bekendes en vriende taamlik openhartig wees, sonder om daardeur skade aan te rig; en wat betref die Grieke en die Romeine weet ons wel met wie ons te doen het!

[10] Veral daarom het die mense die prediker Johannes, wat al `n aantal jare by Betabara gewerk het, in die gevangenis geplaas. Want hulle was bang dat hy as seun van Sagaria, beslis geen goeie getuienis oor die priesters in Jerusalem sou gee nie, maklik iets oor die nagemaakte Ark sou kon weet en dit aan die volk vertel!

[11] Daarom word die Timmerman ook so vervolg, omdat die mense Hom ook vrees vanweë Sy duidelike profetiese gawe, waarmee Hy die volk sou kon inlig! Daarom moet ons dit nog as `n geheim bewaar, en mag ons nie ons naam so rondgooi nie!"

[12] Giwar sê: "Dit is wel `n wanhopige geskiedenis. As hulle daar onder by die hoofingang maar net nie iets van ons bespreking gehoor het nie!"

[13] Die oudste sê: "Wel, ons het eintlik meer gemompel as gepraat en hulle daar onder sou weinig of niks daarvan gehoor het nie! Ook al sou hulle dit gehoor het, is hulle tog merendeels Grieke en Romeine en verstaan hulle nie waaroor ons onder mekaar gepraat het nie."

[14] Giwar sê: "Maar ek het die timmermanseun Jesus, en die opperstadhouder Cyrenius, die owerste Jaïrus, die owerste Cornelius, Festus en ander bekende mense by Hom gesien!"

[15] Die oudste sê: "Dit is mense waarteen ons ons tog nie kan beskerm nie. Of hulle dit gehoor het of nie, maak nie saak nie! As Hy dit aan die volk wil bekendmaak, dan het hulle ons bespreking nie daarvoor nodig nie, omdat Hy seker ook sonder ons lankal maar al te goed weet wat daar met die Ark in die tempel aan die gang is. Wil Hy dit nie, dan sal hierdie bespreking van ons seker geen aanleiding daarvoor gee nie - en sodoende hoef ons onsself in hierdie hele saak glad nie te bekommer nie! Ons moet nou egter daarop bedag wees dat ons, as ingewydes, die tersaaklike saak nêrens laat uitlek nie, en as dit eendag sal gebeur, dan sal dit met baie versigtigheid gepaard moet gaan!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205