Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 53

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die oudstes kan geen besluit neem nie

53 Giwar sê: "Waarlik, ek moet julle wysheid prys! Ons lewe en werk nou al so lank saam en tog het daar nog nooit `n geleentheid hom voorgedoen om julle, my metgeselle, op `n wyse soos wat hom nou hier voorgedoen het, te leer ken nie. Dit verheug my dan ook in die besonder dat ek julle as mense in plaas van dom tempelknegte in my geselskap het. Nietemin bly die verskyning van die timmerman as die mees buitengewone wat ooit, solank die aarde deur mense bewoon was, deur menslike sintuie waargeneem is. Daarby versink `n mens met al sy duisendjarige belewenisse en gesigte in die niet! `n Henog kan by die geestelike bedelvolk gerangskik word; Abraham, Isak en Jakob, Moses, Aäron en EliJaH was arme swoegers teen ons vergeleke! Eén dag skenk ons nou meer wonderbaarliks en ongehoords as wat alle oer- en aartsvaders ooit beleef het!

[2] Ek het gister self en ook al vandag op `n afstand in die geheim waargeneem wat daar alles in en buite die huis van die ou Josef gebeur het. Ek sê julle: slegs wonders en nogmaals wonders! Twee sigbare, volmaakte lewende engele dien hom! Die vrou van Festus was in Kapernaum en die timmerman wou haar by die oggendete hê, maar dit sou byna vier uur geneem het om haar van Kapernaum na Násaret te bring. Maar wat gebeur daar? Die timmerman wink die twee engele nader. Hulle verdwyn enige oomblikke later en verplaas die heel blymoedige en mooie Lydia, die vrou van Festus, na Násaret! - Wat sê julle daarvan? Dit is tog duidelik bo ons verstand?!"

[3] Die oudstes vra: "Wat het jy nog verder gesien?"

[4] Giwar sê: "Julle ken die dogter van Jaïrus tog goed en julle weet ook dat sy tweemaal gesterf het, en dat sy die tweede maal al `n paar dae in die graf gelê het. Maar wat julle nie weet nie, is dat hierdie Sarah, die hemels mooie dogter van Jaïrus, die vrou geword het van Borus! Is dit nie ongelooflik dat `n tweemaal totaal gestorwe vrouelyk, die vrou van `n man kan word, en dan nog op `n manier waarop die aarde nog nooit `n huwelik meegemaak het nie?! Toe die Seun van die timmerman haar seën, sê Hy dat die hemele moet open en `n tallose skare vul die lug en loof God omdat Hy die mense die eer en barmhartigheid toegestaan het. Toe die paartjie deur Jesus geseën was, sluit die hemele haar weer op `n sigbare teken van die Timmerman en slegs die twee engele bly soos wat hulle voorheen was, en soos wat julle hulle hier in die sinagoge kan sien, dat hulle daar vlakby die deur staan as twee hemels mooie jongmanne. Kyk na hulle en sê of hulle êrens anders vandaan kan kom as maar slegs uit die hemele!

[5] As dit vir almal nou so wonderbaarlik is, wat niemand van ons kan ontken nie, waarom sal ons die Seun van die timmerman dan nie vir iets hoër hou as `n leerling van die Esseners nie? Na my wete kon Hy hulle trouens nooit gesien het nie, omdat Hy nog nooit uit hierdie omgewing weggegaan het nie, behalwe `n paar keer met Sy vader en Sy broers na Jerusalem en, glo ek, één keer na Sidon om daar `n huis te bou; maar verder was Hy altyd tuis.

[6] Hoewel dit bekend is dit Hy altyd `n stil, teruggetrokke werker was en dat mense Hom selfs ietwat onnosel gevind het, weet `n mens tog ook dat daar vanaf sy geboorte tot ongeveer Sy twaalfde jaar heel vreemde dinge by Hom voorgekom het. Selfs Sy geboorte moes heel wonderbaarlik gewees het - volgens die verhaal van die Romeinse owerste Cornelius, wat dit kort gelede by `n feestelike geleentheid in Kapernaum aan my vertel het!

[7] As die sake dan nou só daar uitsien, dan vra ek tog heel ernstig of `n mens nog moet aarsel om hierdie Jesus nie ten minste as `n Seun van God aan te neem nie. Wat Hy doen en soos wat Hy die engele beveel en soos wat hulle Hom op Sy wenke dien, dit alles gee tog alle grond vir die gevolgtrekking dat die volheid van die OerGees van God regtig in hierdie Jesus moet wees!

[8] Maar as dit so is - wat Sy dade en leringe aantoon - dan weet ek werklik nie waarom ons nog voortgaan om die dooie Ark aan te hang nie, terwyl die Lewende hier handel en wandel! Vir die skyn kan ons voor die volk bly soos wat ons nou is, sodat dit nie te opvallend sal wees nie, maar in ons harte sal ons almal definitief Sy kant moet kies!"

[9] Die wyse oudste sê: "Alles of niks! Want as die goddelike in Hom is, dan sal Hy elke halfgebaktheid verafsku; as dit egter nie in Hom is nie, dan is dit tog beter om by die Ark te bly met `n lewendige herinnering aan haar vroeëre toestand as om iets aan te neem waarvan mens die oorsaak nie ken nie!"

[10] Giwar sê: "Daarom sal ons vir julle die saak ondersoek, want vir my is dit egter nie nodig nie. Ek is op hoogte en weet presies wat ek doen as ek Hom volg."

[11] Die oudste sê: "Dink jy dan dat die tempel geen stappe sal neem as die gemeente en plekke die een na die ander soos ryp vrugte van `n boom van haar afval nie? Ek glo dat die tempel beslis nie lank op haar sal laat wag om haar strafpriesters na alle plekke uit te stuur nie! En wee dan die afgevalle mense, hulle sal bitterlik met allerhande dinge geplaag word! Met hulle wat die leer van die wyse Grieke aangeneem het, sal dit nog beter gaan as met die leerlinge van Jesus. Veral as hy nie heeltemal `n Judeër en nog minder Griek is nie, en as hulle wel bewus word dat hy, of minstens enigeen van hulle, die slegte en nou algeheel niksseggende tempelinstituut en haar heilige misterie heel goed leer ken het!

[12] Ek sê vir julle: niks sal die tempeldienaars nou in `n groter, natuurlik geheel en al in die geheim gehoude, maar vir ons des te gevaarliker, onrus bring nie - as die duidelik profetiese gedrag van Jesus en sy leerlinge nie! En so `n onrus sal alle satanstreke oproep om die leer te vernietig wat die ondergang van die tempel voorspel het.

[13] Of het julle nie die vorige jaar gesien wat die tempeldienaars met `n Griek gedoen het wat die mense vertel het dat die manne in die tempel nou ook Romeinse silwer- en goudgeld as offergeld aanneem nie, terwyl daar behalwe die munte van Aäron nooit ander geld aangeneem mag word nie? Wel, die manne het hom met beloftes van winste in die tempel ingelok en toe die manne hom op hierdie slinkse manier in die tempel vasgetrek het, is hy dadelik op `n manier om die lewe gebring wat nie eers in die kronieke voorkom nie! - Daarom moet groot versigtigheid aan die dag gelê word! Ons het die keuse tussen om heeltemal Grieks te word en ons dan met liggaam en siel aan te pas en om by die leerlinge van Jesus aan te sluit, of om te bly soos wat ons is, want aan halfgebaktheid het ons niks nie!"

[14] Giwar sê: "Jy het gelyk in soverre dit die wêreldse versigtigheid vereis. Maar onder ons van man tot man gesê: As hierdie skynbare timmerman regtig die beloofde Messias en dus - soos wat Dawid Hom in diepste eerbied noem - JaHWeH Self is, moet ons dan nog langs `n slinkse weg Sy leerlinge word? Is dit dan nie beter om onsself dadelik onder Sy hemelse vaandel te skaar nie en om ons nie deur die streke van satan te laat afskrik nie? Ons kan deur Hom tog heeltemal verseker wees van die ewige lewe, gestel dat ons die kort, armsalige aardse lewe, wat maar baie kort duur, in die wind slaan?!"

[15] By hierdie voorstel van Giwar hou almal hul asem op en weet nie meer wat hulle nou moet doen nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205