Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 65

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Oor towenaars en waarsêers

65 Kisjonah sê: "Ja, Heer, ek het U heeltemal verstaan, en dit merendeels omdat my mynwerkers, wat in my bergskagte allerlei erts uitgrawe, dikwels sulke dinge vir my vertel het. Dikwels verdwyn hul brood en wyn, terwyl hulle nie weet wie uit hul midde so `n grap gemaak het nie! As die hongerige mynwerkers dan behoorlik kwaad word, hoor hulle dikwels `n skaterende gelag, en `n paar van hulle meen dat hulle ook mensegestaltes so klein soos kinders voor hulle gesien huppel het in die kleure blou, rooi, groen, geel en heeltemal swart.

[2] So vertel my oudste mynwerker my nog kort gelede dat `n blou mannetjie hom aangeraai het om voortaan sy brood en wyn in `n leertas om die nek te dra, dan sou die hongerige berggeselle nie daaraan kon raak nie. En ook dat niemand in die bergskagte te hard moet praat nie, veral nie fluit of selfs vloek nie, want die berggeselle kan dit alles nie verdra nie en doen daarom almal wat hierdie gebod nie wil hou nie, kwaad aan! Ook mag niemand diep in die berg lag nie, want `n gelag kan die berggeeste ook nie verdra nie. As my mynwerkers gereeld brood en wyn vir die berggeselle sou agterlaat, sal die berggeselle hulle behulpsaam wees met die ryke vonds van edelmetale.

[3] Ek het sulke oorlewerings meestal as fabels beskou, omdat ekself nooit iets dergliks kon vasstel nie, hoewel ek heel dikwels die skagte van my berge betree het, maar nou na hierdie welwillende verklaring van U, is dit vir my alles glashelder! Slegs hierdie een ding kan ek, ten minste op die oomblik, nog nie verstaan nie: hoe kan die berggeselle, wat tog eintlik geeste is, natuurlike voedsel eet! Hoe eet en drink hierdie ietwat grieselige wesens dan?"

[4] Ek sê: "Ongeveer op die manier waarop die vuur die dinge verteer wat dit beetkry! Laat daar maar net `n druppel wyn of `n stukkie brood daarin val en jy sal beide gou sien verdwyn! Wel, op ongeveer dieselfde manier eet die geeste of berggeselle die natuurlike kos. Hulle los die materiële vinnig op en verander dit in geestelik-substansiële wat in die materie in hul sielewese aanwesig is, deur dit in hulleself op te neem - en dit gebeur in `n oogwink! - Nou weet jy dit ook en hoef jy jou nie verder daaroor te bekommer nie."

[5] Kisjonah sê: "Heer, ek dank U vir hierdie uitleg, want dit verlig my hele gemoed en ek sien nou nog duideliker dat alles wat my van alle kante omgewe, slegs suiwer lewe is."

[6] Ek sê: "Baie goed, My liewe vriend! Maar Ek vra jou net dit: dat sowel jy as elkeen wat nou hiervan weet, dit vir hulleself sal hou. Want so iets is nie vir elkeen heilsaam as hy dit sou weet nie, aangesien daar baie Egiptiese en Persiese towenaars is wat dikwels in verbinding staan met die geeste en kabouters en met hulle hulp allerlei toorkunste doen. Al hierdie soorte toordery is `n gruwel vir God, en wie dit beoefen, voorwaar, hy sal nie maklik in die Ryk van God kom nie! Sulke towenaars verhoed die bogenoemde geeste hul ingang tot die vlees, en as die towenaar sterwe, word hy die gevangene van sulke onryp siele en kan baie moeilik bevry word, omdat hy voortdurend iets van die geaardheid van die onrype, naakte natuursiele in hom opneem. Ek sê vir julle: `n Towenaar is vervloek! Want die mensdom het dit nog nooit ervaar dat `n egte towenaar met sy toordery, ook maar net halfpad, `n goeie doel gedien het nie! Orals drup daar duimedik die grofste heb- winssug daaruit, en ook die brutaalste heerssug, en sulke geeste moet in die diepste hel hul vernederende loon kry!"

[7] Festus merk op: "Heer, Heer, dan sal dit daar vir die talle towenaars en waarsêers in die groot Romeinse ryk maar sleg uitsien! Want dié soort mense het juis in Rome `n soort goddelike aansien en kan met één woord sowel die wil van die keiser, sowel as die van elke nog so groot en dappere held, verlam - daarenteen ook so stimuleer dat die berge moet bewe vir hul moed!"

[8] Ek sê: "Ja, vriend, met hierdie mense wat hulle soos halwe gode gedra, sal dit eendag nie so goed mee gaan nie, want hulle weet dat hulle die wat nie in hul kuns ingewy is nie, skandelik bedrieg en dat hulle deur sulke bedrieëry dikwels tot allerlei gruwelikhede verlei word. Daarom kan dit met sulke booswigte ook nooit goed gaan nie, want hulle verkoop niks vir baie geld en is die ergste verwekkers van tallose gruwels en sondes, tot verderf van die mense!"

[9] Verskeie van hulle sê: "Maar as hy hom sou verbeter, kan hy dan ook nie salig word nie?"

[10] Ek sê: "Ja, ja, as hulle hulleself sou verbeter dan kon hulle ook salig word, maar dit is nou juis so droewig dat sulke mense hulle nie in die minste wil verbeter nie! Moordenaars, rowers, diewe, hoere en egbrekers kan jy bekeer, en `n keiser, `n koning kan maklik sy kroon afstaan, maar `n towenaar laat sy towerstaf nooit los nie! Want sy onsigbare geselle laat hom dit nie toe nie, en hulle is altyd die baas as hy hom van hulle sou wil losmaak.

[11] Daarom sê Ek weereens: Die bose towery is vervloek, want deur haar kom alle sonde in die slegte wêreld in!

[12] Wie wonders wil doen, moet die innerlike krag uit God daarvoor hê, en dan moet hy slegs één wonder doen daar waar dit noodsaaklik is!

[13] Wie egter nagemaakte wonders doen en deur allerlei spreuke en tekens as waarsêer optree, hulle hoef nie meer verdoem te word nie, want hulle is deur hulle eie wil al geheel en al verdoem. Waak julle daarom altyd, sowel vir die skadelike toordery as vir die waarsêery, want dit alles is baie skadelik vir die menslike gees!"

[14] Na hierdie woorde was almal wat dit gehoor het, byna versteen van skrik en vra of die mens ook geen waarde meer mag heg aan weervoorspellings wat uit oeroue betroubare ervaringe ontstaan het nie.

[15] Ek sê: "O ja, maar slegs as dit op `n suiwer wetenskaplik berekende basis berus; as dit egter nie die geval is nie, dan is dít ook `n sonde, omdat die mens dan `n tweede geloof aanneem, sodat die suiwer geloof aan `n goddelike voorsienigheid verswak, en daar ten slotte meer aan die tekens as aan slegs die een ware, Almagtige God geglo word.

[16] Wie hom by die suiwer geloof hou, hy mag vra. En wat hy gevra het sal hom gegee word ook al sou die slegte voortekens van die aarde en lug wat deur ervaring bevestig is, `n skrille teenstelling daarmee vorm; maar wie hom op tekens verlaat, hy sal ook saam met die tekens vergaan. Die fariseërs glo in tekens en laat hulle deur die mense met baie geld betaal vir hul advies; hulle sal egter ook eendag des te meer verdoem word!

[17] Het God dan nie alles geskape wat die mens tot teken dien nie? Maar as God alles geskape het, dan sal Hy tog wel blywend Heer wees daaroor en alles lei en bestuur! En as God alleen die Heer en Bestuurder van alle geskape dinge en verskynsels is, hoe kan hulle dan sonder Hom iets aangee? As hulle egter nie daartoe in staat is nie, dan moet die mens tog aan God, wat alleen alles kan doen, vra wat die tekens aandui! Is dit nie troosvoller as duisend van die betroubaarste wiggelarye nie?"

[18] Alle aanwesiges aan My tafel sê: "Heer, dit is verseker en waar! As U kon maak dat die hele wêreld ook so daaroor kon dink en doen, dan sou dit in die wêreld anders uitgesien het as nou! Ons, wat hier om U heen versamel is, het dit nou natuurlik maklik, omdat ons U as die grondslag van alles en van alle verskynsels by die hand geneem het. Maar met talle honderdduisend maal duisende, wat nie die onskatbare groot voordeel het om in U aller heilige geselskap te wees en uit U mond die woorde van die lewe te hoor nie, gaan dit nie soos met ons nie! Hulle verlang sekerlik ook na Hom, waarvan die hele skepping maar al te dikwels getuig, maar hulle verlangende blikke na die sterre ontdek U nooit, en hulle groot verlange word nooit bevredig nie. Dit is dan geen wonder dat die wonderbaarlike towenaars en die tekens en hul uitlêers maar al te maklik by sulke mense `n gehoor vind, omdat hulle die mense wat na goddelike dinge verlang iets aanbied, wat, ook al is dit nie eg nie, tog in elke geval `n God-gelykende titseltjie het!?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205