Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 83

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die nuwe owerste van Násaret

83 Na hierdie woorde gaan Roban vinnig huistoe, en nouliks was hy tuis of daar kom `n bode aan wat hom vra om na die sinagoge te kom, waar die nuwe owerste met hom oor My wil praat, want hy het gehoor dat Roban by My in Sigar was. Roban gaan vinnig daarheen en die owerste trek dadelik fel teen hom te velde oor die leer.

[2] Maar Roban sê: "Ek is `n oudste van Násaret, ek is tussen sewentig en tagtig jaar oud en jy het nog nie eers dertig jaar lank geleef nie! Omdat jy jou met behulp van jou geld tot owerste oor ons gemaak het, is jy nog lank geen Moses en geen Aäron nie en jy sal my niks leer wat ek nie al geweet het lank vóórdat jy nog verwek was nie! Ons het ons amp altyd tot tevredenheid van jou waardige voorganger en die hele tempel beklee, alle verskynsels met die regte oë van nederige Judeërs aanskou en het daar damme gebou waar dit nodig was. Maar as jy dit beter kan doen en nou met één slag alle Grieke en Romeine in Judeërs wil verander, gaan dan maar so aan, dan staan ek daarvoor in dat jy, ons uitgereken, as enigste Judeër in die hele Galiléa gaan oorbly!

[3] Kyk, die belangrike gehug, Jesaïra, het om dieselfde redes heeltemal Grieks geword, en alle fariseërs, skrifgeleerdes en priesters het die plek moes verlaat! Gaan heen en begin dáár met so `n streng ondersoek, en die Jesaïrese sal jou iets daarop begin te vertel, wat sal maak dat jy beslis nie genoeg voete sal hê om so vinnig as moontlik daarvandaan weg te vlug nie! Maar waarom sou die Jesaïrese afvallig geraak het? Vanweë die oormatige hebsugtige strengheid van die priesterstand aldaar, en nou volg hulle Pythagoras in plaas van Moses!

[4] En binnekort sal dit hier presies dieselfde gaan, en jy en ons almal sal dan op loop moet gaan! Wees daarom nie blind nie en sien die waarheid in!

[5] Die Romeine en die Grieke is die hoogste gesagsdraers van die staat, en hulle wil graag sien dat die Judeërs tot hulle leer oorgaan. Hoe sal jy so `n oorgang verhinder, veral noudat dit in die hele Galiléa oorbekend is dat alles wat met die tempel te make het, maar al te veel na `n leë dop lyk? En wie anders as die hebsugtige tempeldienaars self is daaraan skuldig, hulle wat vir geld ryk edelliede toelaat in die Allerheiligste, waarop diesulkes, ondanks alle ede, vervolgens laggend en onder baie spottery alles openbaar maak aan die volk?! Gaan en vra die inwoners van hierdie stad en dan sal hulle jou vertel wat ek jou vertel het!"

[6] Die owerste sê: "Wat vertel jy my nou? Weet die volk dit?"

[7] Roban sê: "Ja, die volk weet dit! Maar gaan self en laat hulle jou dit vertel!"

[8] Die owerste loop baie ernstig heen en weer in die sinagoge en sê na `n oomblik: "Daarin sal hierdie Nasareense profeet wel `n groot aandeel hê! Daarom moet met hom dieselfde gebeur wat koning Herodes met Johannes gedoen het!"

[9] Roban sê: "Ja, ja, probeer maar om jou aan die wonderdokter te vergryp, en die volk, Romeine, Grieke en Judeërs, wat hom as God vereer, sal jou dan ook wat weet te vertel! Ek as oudste van Násaret sê vir jou en gee vertroulik vir jou belangrike raad: Stap in die beskeie voetspore van jou waardige voorganger Jaïrus, dan sal dit nog `n geruime tyd goed gaan met jou. As jy egter, soos nou, al die boonstes onder en die onderstes bo wil bring, dan moet jy gou na `n geleentheid soek om na Jerusalem terug te keer! Jaïrus is self in Griekse hande. Borus is sy skoonseun, hy is die tweede wonderdokter en besit alle soorte skatte, hy sal jou maar al te gou vertel waarop dit neerkom! Kortom, probeer dit en sê my later maar eers of ek jou slegte raad gegee het!"

[10] Die owerste stamp van woede op die grond en sê: "Julle is almal nes duiwels en skyn meer van ons vyande te hou as van ons. Julle is aanhangers van die leer van die volksmisleier! Hiervoor sal ek julle almal uit die sinagoge verdryf, nuwe mense uit Jerusalem in julle plek aanstel en julle aan die gereg oorlewer! Daarom vra ek jou nog `n keer: Wat moes jy so dringend in Sigar by die Samaritane gaan doen?"

[11] Roban sê: "Ek is nege-en-sewentig en weet wat ek doen en moet doen! Jou dreigemente maak nie vir my, nóg iemand anders skrik nie; as jy ons egter aan die gereg wil oorlewer, dan kan jy dit probeer en dan sal ons wel sien wie daar ten slotte eerder deur die gereg gepak sal word - ons of jy!

[12] Gelukkig staan ons baie hoog aangeskrewe by die opperstad­houer, wat `n broer van keiser Augustus is en baie invloed in Rome het, en daarom sal hy ons helaas nie, soos wat jy dink, so maklik gevange neem nie! Die tempel het dit juis aan Jesus, vir Wie hulle uit pure self- en heerssug haat, te danke, dat hulle nog nie deur die Romeine met die grond gelyk gemaak is nie!

[13] Jy sou beslis al iets gehoor het van die berugte belasting­diefstal, wat deur die agente van die tempel onder die vermomming van opperstadhouer nouliks vyf weke gelede gepleeg is, en hoe die skelm transport daarvan - saam met baie ander gesteelde goedere wat met skandelike geweld afgepers is - in Kis deur die knegte van die baie ryk Kisjonah gevang is! Wel, toe was dit juis dié Jesus, wat deur die tempel sonder enige rede gehaat word en wat selfs deur die hoogste Romeine meer vereer word as hul Jupiter, wat deur sy woord en sy ongehoorde wonderdade die verwoestende storm vir Jerusalem afgewend het! Dit is egter nog lank nie van die baan nie; maar net nog een of ander hals­starrigheid van julle kant - en die storm breek los!

[14] Ook net één enkele klag van Borus, Jaïrus of van my is voldoende, en dan mag jy jou Jerusalem en jou tempel maar oor drie weke gaan bekyk, en dan sal jy moeite hê om die plek te vind waar die tempel eers gestaan het! - Het jy my mooi gehoor?"

[15] Van toorn en ergernis stamp die nuwe owerste weer sy voete en sê: "Wie kan dit met `n eed bekragtig? Want die skynbare daders sit in die tempel!"

[16] Roban sê: "Volgens die Romeinse wette mag die daders ook nooit `n eed aflê nie, maar slegs die getuies van elders, en daarvan het hulle daar as dit nodig is tienduisend, en ek dink dat dit wel voldoende sal wees teenoor die tientalle misdadigers!"

[17] Die heeltemal neergeslane owerste sê: "Dus moet ons JaHWeH, Moses en die profete maar vergeet en geen mens mag meer - vanweë die Romeine - hulle gebooie navolg nie?!"

[18] Roban sê: "Hou jy nou maar jou mond oor Moses en JaHWeH en al die profete! Daarvan is by jou en nog minder by die owerstes en hoogstes van die tempel ook maar iets te vind nie. Die tempel is al dertig jaar lank niks anders as `n wissel- en handelsmark nie en van die egte JaHWeH en Moses is al lankal geen spoor meer te vind nie! Dit wat nog daar is, is pure skyn en bedrog, en die verskeurende wolwe loop in skaapvelle rond om die arme skape makliker te kan gryp. As jy volgens die wette van Moses sou gelewe het, sou jy nooit hierdie posisie vir soveel goud en silwer gekoop het nie! Ek verwed my lewe daarop dat Moses dit nooit êrens beveel het om die amp van opperpriester vir goud en silwer te verkoop nie!"

[19] Na hierdie antwoord van Roban spring die nuwe owerste byna uit sy vel van woede en sê: "Dit maak heeltemal niks aan my nie! Ek sal tog wel iemand vind wat julle kan aanvat, sodat julle julleself nog baie sal verbaas, want ek weet ook nog baie dinge wat julle nie weet nie, en ek ken baie weë wat julle nie ken nie!"

[20] Roban sê: "Beslis moontlik, maar dit is ook beslis moontlik dit ons al jou weë en paadjies nog beter ken as jy, en dit is maar `n vraag of ons al jou weë, waaraan jy heimlik dink om ons in die rug te kom steek, nie al versper het nie! Soos wat gesê is, probeer maar eers, dan sal jy direk ervaar wat ons jou almal vertel het!"

[21] Die ander sê vir Roban: "Maar broer, waarom beskerm jy hierdie onmens teen sy sekerlike ondergang? Hy is immers in ons hande en moet die hemel maar om hulp vra as ons vir onsself die buitengewone vryheid veroorloof om hom die klippe van Násaret te laat smaak!" - Toe aan die owerste: "Ons is fariseërs en skrifgeleerdes net soos jy, en eintlik nog meer, want ons stam van Levi af, terwyl ons weet dat jy jou in die stamregister ingekoop het, soos wat daar nou teenswoordig alles insluitend die hemel te koop is! Daarom is jy `n indringer in die allerheiligste en `n bedrieër van God, en vir so `n misdryf moet jy met reg gestenig word; veel kan jy jou dus nie meer veroorloof nie of ons gryp na die klippe!"

[22] Hierdie kragtig uitgesproke dreigement maak die owerste in elk geval uiterlik meer verdraagsaam, maar innerlik meer verbitter, en hy sê na `n oomblik: "Julle moet my egter ook nie verkeerd beoordeel nie, want ek ken die groot tekortkominge van die tempel net so goed soos julle, en dit gaan maar slegs daaroor hoe om dit te verberg en hoedat die tempel weer haar vroeëre invloed kan terugwin."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205