Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 86

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Korah, die nuwe owerste, laat hom raad gee

86 Na hierdie woorde gaan die brawe Giwar terug en kom weldra in die sinagoge aan en sien dadelik dat die owerste hom al baie gemis het. Die owerste vra hom ook dadelik, waar en waarmee hy nou so lank besig was.

[2] En Giwar sê: "Heer, daar was `n persoon met `n gevaarlike siekte en ek moes hom help. En kyk, hy is genees en kan nou, omdat hy `n reisiger is, getroos sy weg voortsit!"

[3] Die owerste vra: "Waarheen reis hy, wanneer vertrek hy en waar het hy vandaan gekom? Kan ek hom nog sien en met hom praat?"

[4] Giwar sê: "Hy is `n Judeër wat uit die berge gekom het en het nou al na die dal gereis, jy kan hom nie meer sien of praat nie – tensy hy weer terugkom! Maar wanneer is dit? Dit kan nog baie lank duur!"

[5] Die owerste sê: "Met so `n ontwykende antwoord is ek nie tevrede nie! Waar is hy onderdak, dan gaan ek self daarheen om eers goed navraag te doen na die reisiger wat deur jou genees is en wat na die dal vertrek het. Want so `n wonderbare genesing deur `n fariseër is `n belangrike saak en moet deur so veel as moontlik getuienisse bevestig word, omdat `n mens die ander nie kan glo nie en dus geen waarde daaraan kan heg nie!"

[6] Giwar sê: "As jy meer wil weet as wat ek weet, wend jou dan tot hulle wat meer weet as ek. Want ek weet dat ek jou baie nougeset vertel het. Hoe kan ek jou meer vertel as wat ek self weet? Die onderdak was buite die stad in die huis van Josef die timmerman. As jy regtig meer daarvan wil weet, gaan dan daarheen! Vergeet egter nie om jou rug met iets te beskerm nie, want aan klappe sal daar sekerlik geen gebrek wees nie! Glo jy dalk dat die mense `n besondere respek het vir mense soos wat ons is? Ek sê vir jou: Nie in die minste nie! By die geringste onbesonnenheid kan mens sy klappe uitgemeet kry, en geen God weer dit dan nog vir jou af nie! Soos wat gesê is, jy hoef dit maar net één keer te probeer en dan sal jy al uit ervaring kan praat!"

[7] Die owerste sê: "Uit so `n selfversekerde verhaal kan ek maar al te goed uitmaak dat julle met alle inwoners van Násaret teen my saamgesweer het. Maar dit sê niks nie, want vir hierdie byl sal ons wel `n steel vind! Nou weet ek wel so min of meer waaraan ek hier blootgestel is! Ek hoop egter dat dit my in `n kort tydjie sal geluk om die komplot heeltemal te ontmasker; maar dan sal dit vir julle en die hele stad sleg daar uit sien! - Hoe kom ek by die huis van die timmerman?"

[8] Giwar sê: "Kyk maar by die venster uit! Daar, ongeveer tweeduisend treë hiervandaan kan jy duidelik die woning van die timmerman sien met die pad daarheen. Gaan maar en oortuig jou van alles – moenie die slae vergeet nie!"

[9] Die owerste sê: "Maar julle sal my begelei en vir my optree as lyfwag!"

[10] Almal sê: "Sal ons so gek wees! Dit sal ons nie doen nie! Wie `n pak slae wil hê, hy moet maar self gaan!"

[11] Die owerste sê: "Nou dan gaan ek maar self in JaHWeH se Naam, en dan sal ons wel sien of iemand vir my, `n gesalfde van God, sal aanraak, want daar staan geskryf: 'Maar aan `n gesalfde mag niemand hom vergryp nie; wee diegene, wat met sy hand aan die hoof van `n gesalfde raak!"

[12] Giwar sê: "Ja, ja, wat jy weet, weet ons al lankal! Maar gesalfdes soos ons, waarvan die salwing slegs maar ellendige begogeling was, is niks meer werd vir God nie, en Hy sal ons pseudo-gesalfde hoofde nie beskerm as hulle heel regverdiglik aan die vuiste van ons vyande blootgestel word nie! Want soos wat ek al `n tyd gelede gesê het, weet die volk maar al te goed wat daar agter ons en agter die tempel versteek is."

[13] Die owerste sê: "Dis om’t ewe, ek gaan daarheen! Maar wee julle almal as die saak anders is as wat jy, Giwar, vir my gesê het toe ek jou gevra het waar jy was!"

[14] Giwar sê: "Dit wat jy wil weet, sal jy beswaarlik te wete kom, maar wel iets anders - en dit sal jou behoorlik pyn besorg, terwyl ons heeltemal geen pyn sal voel nie!"

[15] Na hierdie woorde gaan die owerste vinnig na buite.

[16] Maar soos wat hy op straat loop, roep die jong seuns en meisies: "Dit is die nuwe slegte owerste wat ons almal in die verderf wil stort! Weg met hom!" - Van alle kante loop jonk en oud met knuppels en klippe na hom toe, en `n paar klippe raak hom ook al op sy liggaam en besorg hom blou kolle.

[17] Die owerste, wat maar al te gou merk dat die Násareners nie met hulle laat spot nie, keer ylings na die sinagoge terug en sluit haastig die deur agter hom toe, waarop `n hele lading klippe wat na hom toe gegooi word, ernstige indrukke agterlaat wat maar al te duidelik aantoon wat die Násareners van die nuwe owerste dink.

[18] Toe die owerste weer by die fariseërs kom, sê hy woedend: "Dit is julle werk, en ek sal weet om my op julle te wreek daarvoor!"

[19] Giwar sê toe baie geïrriteerd: "Wat sê jy nou, ellendige dwaas! Hoe kan dit ons werk wees as ons jou almal gewaarsku het om nie na buite te gaan nie? Slegs as ons jou by die volk sal aanbeveel, kan jy met die volk praat en onderhandel; solank as wat ons jou egter nie aanbeveel nie, sal jy steeds mishandel word so dikwels as wat jy dit sal waag om alleen in die stad op straat te loop! Want die volk vind jou al sleg net omdat jy jou amp gekoop het! Maar omdat jy regtig vir ons en ook die hele volk al dadelik begin tiranniseer het om orde deur `n skrikbewind te skep, haat almal jou soos die hel, en ek sê vir jou dat dit nou die beste sal wees jy hierdie loopbaan aan `n waardiger persoon kan verkoop, want vir jou toekoms gee ek geen stater (penning) om nie!

[20] Jy sal heel grondig moet verander, as jy by ons `n goeie verstandhouding wil opbou! Maar dit blyk volstrek onmoontlik vir jou te wees. Hy wat uiterlik `n vriendelike gesig voorsit, maar wat innerlik in sy hart `n verskeurende wolf is, gaan beslis nie by ons werk nie, omdat ons almal merkwaardig genoeg soveel profetiese gees besit dat ons jou presies kan sê wat jy in jou deur en deur bose hart bedink!

[21] Ja, as jy jou hart geheel en al sou omvorm en jou deur die suiwer Wysheid en Waarheid van God heeltemal sou laat deurgloei, sal ons jou by die volk aanbeveel, en dan sal jy hier `n goeie bestaan kan maak. Maar jou hoëpriester, jou Pilatus en selfs jou Herodes sal jou hier van geen enkele nut wees nie!"

[22] Die owerste sê: "Hoe weet jy dat ek nou net aan hierdie drie helpers gedink het?"

[23] Giwar sê: “Omdat ek ook een is wat `n profetiese gees het, waarmee ek jou baie duidelik kan deursien, en waarvan jy jou onmoontlik voor ons kan verberg - net so min in Kapernaum as hier, en sou jy duisend dagreise hiervandaan wees, dan sal ons jou ook al op daardie afstand kan deursien! Daarom sal jy moeilik iets teen ons kan onderneem sonder dat ons vooraf al die geskikte en doeltreffende teenmaatreëls geneem het! Is jy so tevrede met ons?

[24] Weet jy, ons is nog priesters van die ou, ware stempel! Die Gees van JaHWeH is nog in ons, ook al het Hy lankal die tempel in Jerusalem geheel en al verlaat. As jy dus met ons wil saamlewe, dan moet jy ook `n ware priester wees, want as skynpriester sal jy dit nooit by ons uithou nie en sal jy beter daaraan toe wees as jy jou plek aan `n waardiger persoon kan verkoop, soos wat ek al vroeër vir jou gesê het!"

[25] Die owerste sê: "O julle vervloekte hoerknegte in die tempel van Jerusalem! My mooi goud en silwer was vir julle baie goed gewees - maar julle was daarop bedag dat ek `n ware bynes in plaas van `n belangrike en winsgewende plek daarvoor gekry het! Wag maar, spoedig sal dit duidelik word dat Korah nie verniet sy goud en silwer in julle monde gestort het nie!" - Na `n oomblik wend hy hom weer tot Giwar en vra vir hom: "Wat moet ek dan doen om julle vriendskap en die vriendskap van die volk te kry?"

[26] Giwar sê: "Sowel ek as Roban het dit al vir jou gesê, en hier op die tafel lê die Skrif wat aantoon dat jy presies die wil van JaHWeH moet doen. Handel daarvolgens en nie na die verdoemende mensereëls van die tempel nie, dan sal jy dit by ons baie aangenaam vind! Jy moet die welgevalle van God nastreef, dan sal jy ook al die ander dinge vanself kry!"

[27] Korah sê: "Ja, dit sal ek van nou af aan doen soveel as wat dit maar moontlik is. Maar sal julle dit tog nie vervelend vind as ek op die minste vir `n jaar my staanplek hierheen na Násaret verplaas nie? Want hier by julle kan ek regtig iets leer, terwyl daar in Kapernaum - en seker ook in Gerasim, net soos in die ander kleiner stede aan die Galilese see - slegs maar ellendige hakskeenlekkers te vinde is!"

[28] Almal sê: "Daarmee sal jy baie goed doen, en dit sal ons almal baie genoeë verskaf om jou as ons owerste te kan dien! Want hier word geen bedrog meer gepleeg nie, geen tempelmis meer verkoop en nie meer osse, koeie, kalwers en skape in die gebedshuis afgedwing nie, maar ons klein gebedshuis is nog dit wat dit moet wees, en in die sinagoge is geen geldwisselaars meer nie!

[29] In ons klein gebedshuis brand weliswaar geen vlam bo die een of ander ark nie, maar dit brand eerder meer waaragtig en lewend in ons harte, en dit is God meer welgevallig as alle ander tempeldienste in Jerusalem, waaragter geen glimmer van waarheid meer gloei nie. Aan die tempel word vervul wat God deur die mond van die profeet JeshaJaH gespreek het, toe hy sê: 'Kyk, hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af!' Die bedrog van Jerusalem is tog duidelik sigbaar! Versier die priesters nie elke jaar die dikwels onegte grafte van die profete nie, terwyl hulle deur hul vaders gestenig was? En behandel hulle nou die lewendes dalk anders? O nee, hulle trap presies in die voetspore van hul voorvaders! Hulle het Sagaria tussen die offeraltaar en die allerheiligste gedood, en Herodes het Johannes se kop van sy liggaam laat afkap! Sê eers watse soort ‘dienaars van God’ is hulle dan? Ons sê dit vir jou op die man af: Hulle is dienaars van die satan, maar in der ewigheid geen dienaars van God nie! Gelukkig het ons hulle in ons mag, en dit weet hulle goed, daarom laat hulle ons mooi met rus!

[30] Wanneer hulle egter een van ons heel vriendelik uitnooi vir `n fees in Jerusalem, dan het ons hulle altyd so brutaal moontlik laat weet dat ons die uitnodiging vir geen geld ter wêreld sal aanneem nie, en liewer hier op die natuurlike dood sal wag, as om miskien eervol `n onnatuurlike dood in die tempel se geheime geleë kamers te sterf! Glo ons, so verstandig as wat die menere in die tempel is, so is ons ook, en ons voel al die vuur brand voordat hulle dit aansteek! Hou jy daarom maar aan ons vas, dan sal dit jou sekerlik aan niks ontbreek nie!"

[31] Korah sê: "Nou weet ek presies waar ek met julle staan, en daaroor is ek baie bly, maar die tempel sal nog bly wees oor die baie vriendelikhede wat ons haar op die regte oomblik sal bewys!"

[32] Giwar sê: "Weet jy, opsetlike kwaad sal ons haar ook nie aandoen nie, maar as hulle ons sou aanval, dan is dit uit! Want daarvoor skiet ons regtig nie te kort aan materiaal nie!”

[33] Na hierdie woorde van Giwar kom die kok en nooi almal uit vir die middagete.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205