Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Waarskuwing

Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van die God: elke gees wat bely dat Jesus die Gesalfde in die Vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus die Gesalfde in die Vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en sy is die gees van die vals gesalfde waarvan julle gehoor dat sy sou kom, en sy is nou al in die wêreld. (1. Johannes. 4: 1-3)

Jesus in die omgewing van Césarea Philippi

(vervolg)

Die orakel van Delphi

1 (Julius:) "By die Grieke en die Romeine was daar nog altyd manne gewees wat, hoewel hulle geen Judeërs is nie en ook nie in hul profeteskole (sinagoges) opgelei is nie, tóg goddelike inspirasie ontvang het, en dit ook as sodanig erken het.

[2] Destyds toe Croesus, die koning van die Lidiërs, oorlog teen die Perse wou gaan voer, was dit vir hom baie belangrik om vooraf te weet of die oorlog vir hom gunstig of ongunstig sou verloop. Wie moes hom egter daaroor uitsluitsel gee? In sy gedagtes sê hy vir homself: 'Orakels* is daar genoeg; één hiervan vertel miskien wel die waarheid! Maar wie sal my na alles kan vertel watter orakel aan my die waarheid sal sê? Ha!’ dink hy verder by homself en hy sê: 'Ek sal die orakels toets - dan sal dit wel blyk watter orakel bruikbaar is!'

[*ora´kel 1. Godspraak, raaiselagtige antwoord deur priesters namens gode gegee. H A T]

[3] Toe neem hy `n lam en `n skilpad, sny beide in klein stukkies, gooi dit by mekaar in `n ysterpot, plaas daar `n ysterdeksel op en laat die mengsel op die vuur kook. Maar vroeër het hy ondersoekers na Delphi gestuur, na Abae in die land van Phokos, na die oue Dodone en ook na Amphiaraos en Trophonios, om op die honderdste dag na hul vertrek uit Sardis aan die orakels te vra waarmee hy op daardie oomblik besig was; want dan sou hy besig wees om op die voorgenoemde wyse die lam en die skilpad te kook.

[4] Die meeste orakels het sulke deurmekaar antwoorde gegee, dat niemand verseker iets daaruit kon wys word nie; maar die orakel van Delphi sê soos gewoonlik in sesvoetige verse:

[5] 'Kyk, ek tel die sand en ken die uitgestrektheid van die see, hoor selfs die stomme spreek en die swygende verstaan ek! Nou prikkel `n geur my sinne, asof lamsvleis gemeng met skilpad in yster gekook word; yster bevind hom daaronder, yster lê daar bo-op.'

[6] Ná hierdie proef vra hy die orakel van Delphi of hy teen die Perse moes optrek, maar kry die bekende antwoord dat, as hy oor die Halys sou gaan, `n groot ryk vernietig sou word! Toe vra hy die orakel of sy heerskappy lank sou bly bestaan. En die Pythia antwoord:

[7] 'As `n muildier eendag die Meders as koning sal gebied, dan, ligvoetige Lidiërs, vlug na die klipperige Hermos! Moenie uitstel nie, vrees ook nie vir die smaad van die lafhartige haas nie!'

[8] Volgens eie uitleg van die orakel, wat dit na die gevangeneming van Croesus gegee het, moes mens Cyrus(Kores), die oorwinnaar, sien as die muildier, omdat hy `n kind was van `n vername vrou van die Meders, `n dogter van Astyages, en `n Persiese vader, een van haar bediendes.

[9] Dit was ook hierdie Croesus, wat eenkeer aan die orakel gevra het of sy seun, wat stom was, genees sou word en hy kry die antwoord:

[10] Lidiër, hoewel `n magtige vors, tog dwaas van hart, verlang nie daarna om die afgesmeekte stem van die pratende seun in jou paleis te hoor nie! Daar sal jy verseker meer baat by vind! Weet wel dat hy op die mees ongeluksalige dag sal praat!'

[11] En kyk! Op die dag toe Sardis verower is, storm `n woedende Pers op Croesus af om hom neer te vel. Toe maak vrees en angs die tong van die seun los en die seun sê: 'Mens, moenie vir Croesus doodmaak nie!' Dit was die eerste woorde wat die stomme seun gesê het, en daarna kon hy sy lewe lank verder praat.

[12] Kyk, die orakel was, soos reeds vroeër gesê, geen wysheidstempel uit die Judese profeteskool nie! Maar wie sou na die aanhoor van hierdie opgetekende, ware voorbeelde wou beweer dat daar van g’n bepaalde, goddelike inspirasie sprake is nie?!"


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205