Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 100

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die wat in My glo, sal die dood nie smaak nie

100 Nadat ons die aandete geniet het, kom Ouran, wat ook bo geëet het, na My toe en sê: "Heer, vir wie se grootheid en verhewenheid die sterflike tong geen naam ken wat U waardig sou wees nie, hoe kan ek, ellendige stofwurm, U dank vir die nooit genoeg te waardeerde gawe wat U goddelike barmhartigheid my hier geskenk het, en hoe moet ek U, Ewig Verhewene, loof, prys en eer!?

[2] O Heer, waarom skenk U ons, sterflikes, soveel aandag?! Wat kan ons nou doen om U welgevalle op te wek?"

[3] Ek sê: "Kom nou, vriend, moenie soveel ophef maak nie! Bedink dat jy is wat jy is, `n mens, wel met `n sterflike liggaam, maar met daarin tog `n onsterflike siel met `n nog onsterfliker gees uit God. En Ek is ook `n mens, eweneens met `n goddelik onsterflike siel waarin die Gees van God in al Sy volheid woon vir sover dit vir hierdie aarde nodig is, en dit is die Vader in die hemel, wie se Seun Ek is en wie se kinders ook julle is.

[4] Maar julle was almal blind en is dit in baie opsigte nou nog. Ek kom egter siende in die wêreld om julle almal die Vader te toon en julle, net soos Ek, siende te maak.

[5] Ek het die volheid van die lewe van die Vader en Ek kan elkeen, wat die lewe wil hê, ook die lewe gee. Want die Vader het reeds vóór die skepping My voorbestem as die Een waarin die volheid van die lewe sal woon en dat alle mense deur My sal lewe. En hierdie Voorbestemde is Ek na siel, maar na gees is Ek één met die Een wat My voorbestem het.

[6] Kyk, daarom is Ek die weg, die waarheid en die lewe! Die wat in My glo, sal die dood nie sien, nog voel of smaak nie, ook al sou hulle meer as één keer liggaamlik kon sterwe. Die wat My egter nie sal glo nie, sal sterwe, ook al sou hulle duisend lewens hê!

[7] Want elke mens het `n liggaam wat eers moet sterwe - dit sal ook vir My liggaam nie uitbly nie. Die siel word egter deur die aflegging van die liggaam maar net vryer, ligter en lewenskragtiger, en volledig één met Hom wat haar vóór die hele skepping voorbestem het tot heil van almal wat in die Seun van die mense sal glo en Sy gebooie sal hou.

[8] Dink dus goed na, en volg die eenvoudige gebooie na wat jou meegedeel sal word. Meer het jy nie nodig nie, want Ek het nie gekom om roem en eer van die mense te verlang nie! Dit is voldoende as die Een My prys, wat bo almal is in die hemel en op aarde. As iemand My tog wil eer, loof en prys, laat hy dan deur sy dade laat blyk dat hy My liefhet en laat hy My gebooie onderhou, dan sal sy loon eendag in die hemel groot wees.

[9] Wees dus maar bly van sin, oorskat My nie en onderskat jouself nie teveel nie, dan sal jy op die goeie weg wees en jouself en My stadig maar seker beter leer ken.

[10] Maar rig jou voorlopig vernaamlik op Mathael. Hy sal jou tesame met jou dogter die vinnigste `n goeie stuk op die regte pad vooruit help! As jy of Helena egter `n spesiale versoek het, kom dan gerus na My toe, dan sal Ek altyd na julle luister. Maar daardie oordrewe eerbetoon moet julle weglaat.

[11] Ons moet hier naamlik slegs soos mense, vriende en broers met mekaar praat en met mekaar omgaan, want élke mens het `n goddelike gees in hom, anders sou hy nie lewe nie, en die gees is nie minder goddelik as die Oergoddelike self nie.

[12] Wees jy dus `n goeie leerling van Mathael, dan sal jy vir My in jou land `n heel bekwame apostel kan wees! - Verstaan jy My?"

[13] Ouran sê: "Ja, Heer, ek verstaan U. Eers nóú word dit vir my duidelik wat mense vir my en my dogter oor die ware God vertel het. Voorheen het ek nooit daaraan durf dink nie!" Toe swyg die Griek, want sy gevoelens oormeester hom en hy ween uit liefde vir My.

[14] Maar Ek vat saggies sy hand en vra hom: "Wat het Mathael dan presies oor God gesê?"

[15] Ouran snik nog, maar sê tog, terwyl hy My vol liefde en eerbied in die oë kyk: "O, dat God bestaan uit suiwer liefde! O, mees heilige, laat my in hierdie liefde vir U sterwe!"

[16] "Nee" sê Ek, "dit gaan jy nog lank nie, want jy moet nog `n bekwame werktuig vir My word op hierdie aarde! En as die einde ook eendag vir jou liggaam sal kom, sal jy nie sterwe nie, maar nog in jou liggaam deur My opgewek word. Troos jou dus maar, want jy het die goeie weg al gevind!

[17] Wie soek, soos jy al lankal gesoek het, hy vind. Wie vra, soos jy, vir hom sal gegee word, en wie aan die regte deur klop, soos jy nou aangeklop het, vir hom sal oopgemaak word. Maar gaan nou na Mathael en vertel hom alles wat Ek jou nou gesê het!"

[18] Van pure liefde en óórgrote dankbaarheid tot My huil Ouran nou nog meer. Hy haas hom terug na Mathael en vertel hom, terwyl hy nog lank snik, hoe Ek hom opgeneem het, hoe vriendelik Ek teenoor hom was, en wat Ek alles aan hom gesê het.

[19] Mathael en Helena word deur die plegtige vertelling van die ou Ouran so ontroer, dat hulle hul trane nie kan bedwing nie, en Mathael sê aan die einde van Ouran se verhaal: "Dit is tog wel die mees onbegryplike van die onbegryplike, dat Hy, wat geestelik die hoogste goddelike wese is, met ons mense praat en omgaan asof Hy nie die Heer van die oneindigheid is nie, maar `n mens soos ons, as `n beste vriend met sy beste, getrouste vriend, ja, soos `n egte broer met sy broer. Kortom, Hy laat letterlik met Hom speel, en tog is elke beweging van Sy hande, elke stap van Sy voete en elke heel onbelangrik klinkende woord uit Sy mond `n oorgrote les in wysheid. Sy dade getuig van Sy onbetwisbare goddelikheid, en alles wat Hy doen, lyk al eeue van te vore bepaal te wees om die beste resultaat te bereik. O, julle sal binnekort nog baie sien, hoor en belewe!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205