Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 117

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Berisping van die leedvermaak

117 Na hierdie en nog ander byvalsbetuigings van Markus en van enkele ander, wat na die ou Markus geluister het, ontdek Helena `n buitengewoon witligte vlam, wat hoog opvlam sodat die hele omgewing helder verlig word. Ook Cyrenius sien hierdie vlam uit die stadsentrum opvlam en steeds feller en hoër word.

[2] Snags bedrieg elke lig die gesigsvermoë van mense wat geen ervaring het om in die nag te kyk nie. Hoe sterker, groter en helderder die ligbron word, des te meer skyn dit die toeskouer te nader, terwyl dit tog op dieselfde afstand bly. Die bewys hiervoor lewer die klein, onmondige kinders, wat heel dikwels hul hande uitstrek na die volmaan omdat dit vir hulle as gevolg van sy helderheid vlakby lyk en dit is dikwels vir honde dieselfde rede om daarvoor te blaf.

[3] Ook Helena kry die indruk dat die steeds groter en helderder wordende vlam ons nader, en sy vra My daarom om die kwaai vlam te gebied om nie naderby te kom nie, omdat ons anders gevaar sou loop.

[4] Toe sê Ek: "Wees tog nie so kinderagtig nie! Die nadering van die vlam is `n heel gewone gesigsbedrog. Die vlam het so helder geword omdat die vuur die ruim voorraadkamer van die groot woonpaleis van die Judese owerste van die fariseërs binnegedring het. Daar lê ongeveer 10,000 liter suiwer, beste olie in houtvate opgeberg en ook `n aantal vate met suiwer nafta vir die verligting van sy paleis, en daar vlakby lê ook nog `n groot voorraad botter, melk en heuning. Dié dinge het vlam gevat en brand nou so pragtig en helder. Ou Markus, by hierdie geleentheid word, soos jy nou-net heimlik gewens het, ook jou tiende-visse voortreflik gebraai, want in die groot voorraadkamer lê daar al `n hele boel voorberei om vir more te wag. - Wat sê jy nou daarvan, Markus?"

[5] Markus sê: "Heer, U wat net so suiwer en goed in my hart kan kyk as in die groot voorraadkamer van die owerste van die fariseërs, U weet dat ek nou en nooit behae skep in die leed van ander nie. As soldaat was ek in diens wel baie streng, maar ek het nooit gewil dat iemand skade berokken word nie, behalwe diegene wat deur die wet eers veroordeel is - en daar kon ek niks aan verander nie. Tog het dit my nooit enige plesier gegee as die strengheid van die wet iemand  vernietig het nie. Daarom het ek ook hier nie soseer plesier oor die ongeluk self, en dat my mooi, lekker visse daar nou slegs vir die luggeeste gebraai word nie, maar omdat hierdie ou mensekwellers nou eindelik weereens `n baie rojale, veelsydige les kry!

[6] Want die vernietiging van die skatte deur die vuur is die minste. Die daardeur algeheel mee-vernietigde geloof in hul leer is die eintlike, onvervangbare skade wat hulle daardeur ly, wat tewens besonder nuttig is vir die bedroë volk. Want hulle sal nou vir die opneem van die suiwer, goddelike waarheid seker `n baie gewillige oor en hart hê, en dít is dit waaroor ek my nou eintlik verheug. Dit kan miskien selfs moontlik wees dat die deur die ongeluk getroffe priesters, as hulle in hoof en hart nie te bekrompe is nie, nou méér oop sal staan vir die waarheid as toe hulle ryk was. Ek glo dat die dag van môre vir ons nog menige gedenkwaardige gebeurtenis sal oplewer! - Heer, sê my of ek gelyk het, of dat hierdie vreugde van my miskien ook in U oë verwerplik is!"

[7] Ek sê: "O, gladnie. Want as vir My nie dieselfde rede gegeld het om dit waaroor jy jou in wese verheug, te laat gebeur nie, dan sou jy die skynson nie gesien het nie, en hierdie vuurtoneel sou agterweë gebly het. Maar eers had jy in jou hart tog wel `n sekere leedvermaak, omdat jy jou kwaad maak oor die fariseërs vanweë hul gevoel- en gewetenlose tiende. En kyk, dáár het Ek eers iets op aan te merk, en daarom moet jy more `n aantal deur die brand verjaagde priesters kosgee, maar ook dít sal jou geen nadeel berokken nie!

[8] Weet jy, `n goeie en volmaakte mens moet in al sy voel, denke en handelinge volmaak wees, anders is hy nog lank nie geskik vir die hemelryk van God nie!

[9] Kyk byvoorbeeld eers na `n hardnekkige, moedswillige oortreder van die goeie menslike regsorde, `n egte uitgeworpene van elke hoëre beskawing, kortom, `n kêrel wat liewer `n broer van die satan sou kon wees. `n Lang tyd voer dié mens ongestraf sy growwe kwade streke uit. Niemand kan hom vasgevat kry nie omdat sy duiwelse sluheid hom daarvoor bewaar. Hoeveel mense wens dan nie hartstogtelik dat die booswig so gou moontlik deur die straffende arm van die gereg gegryp sal word nie!

[10] Eindelik sien die reg kans om die brutale misdadiger met vaste hand te gryp en hom te veroordeel tot die lank verdiende strenge, en pynlike straf en verantwoording! Groot en klein het nou leedvermaak omdat die booswig eindelik tog die lank verdiende straf kry, ja, daar sal selfs heel regskape mense wees wat dit jammer vind dat hulle by die strafproses nie die wetlike bevoegdheid het om by hierdie algemeen gehate misdadiger self skerpregter te kon wees nie, om hierdie misdadige uitskot self met alle moontlike plesier te kon pynig!

[11] Vra jou nou eers met `n suiwer hart, en `n net so suiwer verstand af of daardie plesier gepas is vir `n volmaakte mens! `n Suiwer hart en `n suiwer verstand sal dan sekerlik antwoord: ‘Ek kan my wel verheug oor die feit dat die mensdom, wat deur hierdie booswig jare agtereenvolgens gepla is, eindelik van hierdie skurk verlos is en nou weer rustig kan lewe. Maar dit sou my nog meer plesier verskaf as die skurk sy slegtheid sou insien, daar berou oor het, hom so verbeter, en in `n nuttige mens verander en soveel moontlik getrag het om die uiteindelik aangerigte skade weer goed te maak!’

[12] Sê My eers, watter instelling geval jou nou beter: Die eerste, waarby jy daar plesier in skep om te straf, of die tweede, wat vergesel gaan van `n suiwer en werklik mensliewende wens?"

[13] Markus antwoord: "Daar bly glad geen keuse oor nie, want die tweede pas die mens, en die eerste is volgens my nog baie onbeskaafd, selfsugtig en dierlik!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205