Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 123

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Jarah se wysheid

123 Mathael sê: "O, jy klein Jarah! Kyk tog eers aan, die wysheid het ek werklik nie agter jou persoontjie gesoek nie! Dit is al goed, my liefste van Genesáret, maar nou sou ek wel eers van jou wou weet hoe jy eintlik bid!"

[2] Jarah sê: "Ek verplaas my met al my gedagtes en gevoelens in die diepste van my hart, waar God se liefde woon. Daardeur word hierdie heilige liefde net so gevoed as wanneer `n mens op `n swakke vuurgloed wat nie meer vlam nie, goed, dor en baie ligte brandbare hout lê.

[3] Die hout sal die swakke gloed baie vinnig sover bring dat daar klein vlammetjies sal ontstaan. Hierdie vlammetjies sal dan weldra op die hout oorspring en dan ontvlam dit heeltemal tot `n helder vuur en die hart word helder verlig en heeltemal warm van lewe. Dan eers praat die daardeur gewekte, op God gelyke gees in die hart:

[4] 'O heilige Vader in die hemele! U Naam word geheilig! Laat U Vaderliefde kom na ons arme sondaars, wat vol dood en nag is! U enig heilige wil geskied hier op hierdie aarde soos in al U hemele! As ons teen U ewige, orde van heiligheid oortree het, vergeef ons dan die dwaasheid en wees geduldig en begrypend met ons, soos ook ons met diegene geduld en begrip toon wat ons op die een of ander wyse onreg aangedoen het! Laat nie toe dat ons liggaamlike swakheid dan ook bo ons vermoë deur die wêreld en deur die duiwel versoek word nie, maar verlos ons deur U groot barmhartigheid, liefde en medelye van die duisendvoudige soorte kwaad waardeur ons liefde tot U, o heilige, groot, goeie Vader, vertroebel en verswak sou kan word! Maar as ons honger is en dorstig, sowel geestelik as liggaamlik, gee ons dan, goeie, liewe Vader, dit wat U vind wat ons daagliks nodig het! Aan U al my liefde, alle eer en alle lof van ewigheid tot ewigheid!'-

[5] Kyk, dit noem ek bid. Maar die bid wat sekerlik slegs dan waarde vir God sal hê, is as daar eerstens in die diepste van die hart op die hiervoor beskrewe wyse, die liefde tot God helder en vurig gaan brand deur die eenwording van alle gedagtes en gevoelens in die goddelike sentrum van die hart. As dit nie vooraf gebeur nie, is elke gebed van nog sulke mooi woorde vir God `n gruwel en dit word nie aangesien en nie aangehoor nie.

[6] Want God Self is `n gees en moet daarom in die gees van die liefde en in die helderste vlammelig van die waarheid aanbid word. - Verstaan jy nou wat waaragtig bid is volgens my gevoel en my begrip?"

[7] Mathael sê: "O lieftallige meisie! Wie sou daar nou ooit by jou so `n diepe wysheid gesoek het!? Werklikwaar, ek sou eerder jou leerling kan wees, en ek skaam my nie in die minste om dit hier voor elkeen hardop en openlik te beken nie! Ja, nou verstaan ek eers jou onweerstaanbare aanhanklikheid van die Heer en vice versa (omgekeerd), soos wat die Romeine sê! Jy skyn netsoos ek ook baie vinnig deur die Heer gewek te wees?!"

[8] Jarah sê: "Wie JaHWeH God bo alles liefhet, word weldra en gemaklik gewek, wie Hom egter met die verstand soek, om Hom te gaan liefhê soos wat hy Hom met die verstand bewysbaar gevind het, het `n groot en vergeefse werk op hom geneem, waarmee hy nooit op hierdie wêreld by die gewenste doel sal kom nie. Daarom dat u ook so vinnig God se kragtigste barmhartigheidslig bereik het, want in die hart van u siel moet die vlamme tog altyd hoog opgelaai wees, ofskoon u liggaamlik `n hele tyd beleër was deur die bose, helse geeste!"

[9] Mathael sê: "Ja, goddelike kind, daarin kan jy wel groot gelyk hê! Ek het God reeds vanaf my kinderjare bo alles liefgehad en daarom het my ouers my ook laat inwy vir die diens in die tempel, waar my liggaam eerste omgevorm word tot `n ware helse masjien, maar waar my siel ondanks dit tog gebly het wat sy vanaf die oerbegin van haar bestaan was. Maar daaroor wil ek verder geen woord meer spreek nie, want dit roep ek nie graag in my gedagtes terug nie. - En sê jy nou eers, liefste Helena, hoe die wyse meisie jou geval! Is dit nie verbasingwekkend dat die kind so wys is nie?"

[10] Helena sê: "Waar en wie is tog haar ouers?"

[11] Mathael antwoord: "Wel, wel, daarvan weet ons alles en jy het haar vader Ebahl, wat ook hier aanwesig is, `n herbergier uit Genesareth, al gisteraand benede by julle drie tente gesien en mee gepraat! Het jy dit dan al vergeet? Sê my liewer hoe jy die buitengewoon kernagtige wysheid van die meisie vind, en of jy nie ook soos ek `n lewendige verlange voel om net so wys te wees as sy, hierdie allerliefste, bevallige kleintjie nie! Helaas, ek weet baie, - maar die kind weet meer! In my hart sien ek dat haar reine bors dinge bewaar waaroor ons nog geen floue idee van het nie. Maar Rafael skyn deur haar nie so hoog aangeslaan te word nie! Wat dink jy nou daarvan, liefste eggenote Helena?"

[12] Helena sê, in plaas van opgewek en vrolik, heel weemoedig: "O liewe Mathael, sover sal die arme Helena dit nooit bring nie! Dit lyk wel of die hart van die Almagtige sonder meer in die hart van die meisie sit, want so `n ervaring in die sfeer van die mees innerlike lewe met God kan `n mens maar net uit die mond van die Skepper Self verneem! En dan is dit heel verstaanbaar dat sy die engel nie so hoog aanslaan nie, want wat egte wysheid betref is hulle aan mekaar gelyk. Dat die engel daarby deur die Heer `n oneindige mag en krag ontvang het, daaraan ly geen twyfel nie, maar of hy uit liefde tot die Heer meer wysheid het as die meisie, sou ek byna in twyfel wou trek.

[13] Ek sou wel met haar wou praat as ek nie so `n besonder groot ontsag vir haar wysheid gehad het nie! Want ons sou met `n enkele onnosele woord gemaklik so `n teregwysing van haar kan ontlok, dat ons ons lewe lank geen woord meer sou durf uiter nie.

[14] As die meisie arm sou wees, sou ek alle skatte wou gee wat ek by my het. Maar gesien die taamlik kosbare kleding skyn die `n kind van welvarende ouers te wees, en `n geskenk van my sou by haar sekerlik nie in goeie aarde val nie. Haar ongelooflike wysheid verag elke wêreldse prag nog baie meer as ons, terwyl ek dit al so verag, hoewel ek teenoor haar selfs nog nie eers `n wysheid die grootte van die kleinste waterdruppeltjie het nie!

[15] Ek het die meisie onbeskryflik lief, maar haar nabyheid besorg my tog behoorlik angs en vrees.

[16] Maar vir die antwoord, hoe `n mens op die regte manier tot God moet bid, is ek haar tog groot dank verskuldig, hoe sal ek die kind nou egter passend daarvoor kan bedank?"

[17] Jarah, wat intussen met Rafael in gesprek was, sê: "Liewe, geëerde koningin, hou van my soos ek van u hou, - meer is nie nodig nie! En hoe ek oor alle wêreldse skatte dink, weet u wel en dit het u ook al heel wyslik aangegee. As dit werklik nodig was dat ons mekaar deur middel van growwe, stoflike, skatte tegemoet moes kom, dan sou ek u beslis baie groter kan gee as u vir my. Maar wat is al hierdie wêreldse prag vergeleke met die kleinste vonkie van die ware, lewende liefde tot God in ons hart!? Vriendin, die juweel moet ons suinig in ons hart bewaar, behoed en versorg, om dit nie van ons te vervreem nie! As die prag, die reinheid en die lewensintensiwiteit daarvan altyd in ons toeneem, besit ons meer as wat alle hemele kan bevat! - Verstaan u dit?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205