Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 141

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Hermes, die boodskapper

141 Toe Julius die opdrag van Cyrenius uitgevoer het, en beide die soldate vertrek het, kom die twee vroeër uitgestuurde ruiters ook terug en vertel dieselfde wat die boodskapper nou net meegedeel het. Tewens bring hulle `n berig van die stadsbestuurder met die baie eerbiedige versekering dat hy, sodra die storm ietwat bedaar het, hierheen sal kom en die hoog geëerde gebieder oor alles so noukeurig en gewetensvol moontlik sal inlig. Cyrenius beloon beide ruiters en gee hulle opdrag om uit te rus, en hulle salueer vir Cyrenius en gaan na hul kamerade. Cyrenius rig hom toe weer na die boodskapper en vra hom wie hom nou eintlik as boodskapper gestuur het.

[2] Die boodskapper sê, nou ietwat moediger as voorheen: "Vors van die vorste, die nood het my hiernatoe gebring! Ekself, `n burger van die stad, het tydens hierdie geleentheid, omdat die vuur uiteindelik geen verskil meer gemaak het tussen ons huise en die Judese huise nie, alles wat ek gehad het kwytgeraak, en ek is nou `n bedelaar. Hierdie mantel, wat my liggaam nou uit nood bedek, het ek van die lyf van `n dooie Judeër afgetrek en het hom oor my skouers gegooi, anders sou ek naak gewees het, netsoos my vrou en my drie al taamlik volwasse dogters, wat hulle nou al vier onder `n groot linnedoek agter die huis van hierdie ou Markus bevind.

[3] Ek het egter uiteindelik hier aanwesige Judeërs uit die stad opgeroep om te vlug, sodat hulle op loop kon sit en ek hulle daardeur makliker sou kan herken. Dan kon ek my na hartelus met hierdie skerp spies op hierdie eersteklas spitsboewe gewreek het. As hulle sou vlug, kon hulle slegs oor see verder kom, want vir die oorblywendes is daar al oral wagte uitgesit deur die bestuurder van die stad wat die spitsboewe sou vang en dan sou dit gladnie so goed met hulle gegaan het nie!

[4] Vors van die vorste! Ek is `n Griek en weet nog wel iets van krygstaktiek. Hulle is nou egter al in orde, daarvandaan ontsnap die spitsboewe ons nooit! Dit sou trouens ook glad geen kwaad gedoen het om `n paar wagte aan die oewer van die see te plaas nie, anders sou die kêrels miskien tog vinnig `n skip in besit kan neem en daarmee wegvaar."

[5] Cyrenius sê: "Laat dit maar, daarvoor is intussen al uitstekend voor gesorg!"

[6] Toe wend Cyrenius hom tot Mathael en sê: "Wel, wat maak jy van die berig van hierdie boodskapper?! Tog sal ek eerstens die stadsbestuurder afwag en dan sal ek baie nuuskierig wees om te hoor wat hierdie ortodokse daarteen in te bring het."

[7] Mathael sê: "Veel sal u nie daarmee wen nie, want u is nog te weinig op die hoogte met die ontelbare gate waardeur hulle so mooitjies vry kan kom. Maar u is nou ietwat beter af as voorheen!

[8] Maar nou moet eers gesorg word dat die vrou en die kinders van die boodskapper versorg word! Helena, jy het nog wel `n paar dae se klere by jou, ook al is dit net hemde, om voorlopig hul naaktheid te bedek!"

[9] Helena roep dadelik een van haar dienaresse en beveel haar om iets paslik te gaan haal. Die dienares gaan dadelik na `n tent van Ouran toe en bring vier mooi hemde en vier kosbare, Griekse rokke. Toe sy daarmee by Helena kom, sê sy: "Laat die boodskapper jou na sy vrou en dogters bring, klee hulle en bring hulle hier aan hierdie tafel!"

[10] Helena se goedheid maak dat die boodskapper trane van dankbaarheid in sy oë kry en hy bring met `n vrolike hart die dienares daar waar sy huilende vrou en sy drie bedroefde dogters op hom wag. Toe hy egter aan die nog in die linne gewikkelde wenendes sê: "Huil nie meer nie, dierbares, want sien, ons het al `n baie magtige redder gevind! Opperstadhouer Cyrenius is hier en hierdie is waarskynlik sy dogter, wat vir julle vername en kosbare klere gee soos wat julle nog nooit gesien het nie!" spring vrou en dogters van vreugde te voorskyn en trek hulle vinnig aan. Die boodskapper vou die linne op en steek dit onder sy Judese mantel in. Toe bring hy hulle almal na Helena en hul klere word nat van hul trane van dankbaarheid.

[11] Helena laat die vier vroutjies langs haar plek neem en onthaal hulle dadelik op brood en wyn, want ook hulle was baie honger en dors. Helena en Ouran praat met die vier en die vertel hulle baie oor die verdrukking van die gelowiges deur die fariseërs. Toe sê Cyrenius aan die boodskapper: "Vriend, ek het jou in die begin met die ietwat minagtende naam 'kêrel' betitel, maar omdat ek jou nou beter leer ken het, is ek spyt dat ek jou voorheen op die wyse geminag het. Daarom kry jy nou van my dadelik `n erekleed!"

[12] Daarop beveel Cyrenius sy dienaars dadelik om `n pragtige Romeinse erekleed te voorskyn te bring, wat bestaan het uit `n skitterend geplooide hemp van byssus*, wat tot aan die knieë gereik het, toe `n toga, wat met goud afgewerk was, en gemaak van `n weefsel van pragtige blou gekleurde, Indiese sy, vervolgens `n kosbare, Romeinse voetbekleding, en uiteindelik `n vername, Egiptiese tulband, versier met vere en `n waardevolle smarag. Bowendien laat Cyrenius aan die boodskapper nog ses kostelike onderhemde en honderd pond silwer gee. Natuurlik was die man daardeur buite homself van vreugde en hy het kwalik geweet hoe hy moes begin om Cyrenius vir al hierdie weldade te bedank. * (Byssus was in die oudheid `n fyn weefsel. Dit word in die tyd van die Farao’s ook gebruik vir die toewikkel van die Egiptiese mummies.)

[13] Maar Cyrenius glimlag self van plesier en sê aan die boodskapper, wat Herme heet: "Gaan na die huis van my Markus, was jou, klee jou en kom as `n edel Romein terug. Dan sal dit juis tyd wees om die fariseërs hierheen te bring vir `n openbare verhoor! Want hierdie keer ontsnap hulle my nie meer nie, daarvoor staan ek in! En jy, my edele vriend Herme, sal my goeie dienste bewys!"

[14] Herme sê: "Ek wil dit hê, en aan `n krygslis het dit my nooit ontbreek nie! Maar hierdie mense is nog te slinks vir die roofdiere, laat staan vir ons tydens `n wettige regsaak! Om hierdie mense te kan vang, moet net hulle gebruik word wat betroubare getuienis oor hulle gee, want as `n mens hulle ook aan die woord stel, word `n mens in die war gebring, bevind hulle uiteindelik nog onskuldig en gee hul waarom hulle vra. Daarom stel ek voor dat hierdie vername spitsboewe gesamentlik gepak word en as voer vir die visse in die see gewerp word, sodat geen haan meer daarna kan kraai nie! As regter het `n mens dan elke reg voldoende sy gang laat gaan! As hulle hul egter as tiers, hiënas en wolwe wil voordoen, waardeur die mensdom baie angs en verliese ly, moet `n mens dan hierdie beeste vooraf nog netjies `n verhoor gee?! Nee, sê ek! Hul skadelikheid is te duidelik, daarom weg met hulle as hulle te gevaarlik vir die menslike maatskappy geword het! Vors van die vorste! Hierdie mense is Proteusse, wat onmoontlik te vang is! Hoe meer ons onsself inspan om hulle langs `n politieke weg te vang, te meer sal ons self deur hulle gevang word! Ek ken hulle, al is ek ook `n Griek! - Maar, barmhartige vors van die vorste, staan my nou nog één vraag toe!"

[15] Cyrenius sê: "Wat is dit dan? Praat!"

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205