Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 144

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Nog meer menings oor die Heer

144 Alle ortodokse fariseërs se oë rek nou en een sê baie saggies: "Nou het dit ons skerpsinnige owerste weer eens geluk! Hy is dan `n eersteklas kameel! Nou moet ons maar weer sien, hoe ons onsself uit dié lastige moeilikheid gaan red! Kon die kameel van `n owerste die Násarener nie in die teenwoordigheid van die magtige gebieder hemelhoog geprys het nie, dan sou alles tog baie anders daar uitgesien het?! Die kameel moet tog netsoos ons duidelik aan Cyrenius gesien het dat hy baie ingenome is met die wonderdoenende Násarener, en tog trek hy te velde teen die Liefling van die opperstadhouer se leer, asof hy werklik by God vas oortuig hy is van sy moontlike skanddade, terwyl hy Hom nog nooit gesien, gespreek of ondersoek het nie! Ag, hierdie stomme owerste kan ons beslis nie meer gebruik nie! Hy moet afgesit word! As hy nog langer aan die woord bly, hang ons nog almal vandag aan die kruis! Met die opperstadhouer spot jy nie!"

[2] Na hierdie opmerking sê die ander in die geheim aan hom: "Gaan jy nou en vra die opperstadhouer om iets te mag sê, maar laat die esel van `n owerste geen woord meer sê nie! Miskien red ons dit nog! En jy word ons owerste as jy ons hier uit hierdie val kan red!"

[3] Die kritikus sê: "Goed, ek sal dit probeer, - ook sonder om daarvoor owerste te wil word!"

[4] Toe stap hy uit die groep na Cyrenius toe en vra of hy ook iets mag sê.

[5] Cyrenius sê: "Ek verwag van die owerste nog `n tweede mening oor die Násarener!"

[6] Die kritikus, ook `n fariseër soos jy daar geen tweede sou vind nie, sê: "Geëerde gebieder, hy staan al met sy mond vol tande. Sy verstand het skipbreuk gely, en daarom swyg hy soos `n kameel in die woestyn! Hy het hom lelik vergis, en hom verstrik, en weet nou nie meer hoe hy hom moet bevry nie. Die goeie Násarener het hom waarskynlik onsigbaar `n muilpeer verkoop, waarop hy kaakklem gekry het en nou doen hy, soos hy altyd nog gedoen het!

[7] Geëerde gebieder, met u skerp verstand moet u uself tog lankal daarvan oortuig het dat hierdie owerste van ons `n groot bees is! As ek of `n ander van ons die inleiding gedoen het, sou die proses lankal beëindig gewees het. Geëerde gebieder, luister daarom nie meer na hom nie, maar gee my die woord!"

[8] Cyrenius sê: "Goed, praat! Laat ons maar eers hoor wat u na vore wil bring!"

[9] Die kritikus vervolg: "Geëerde gebieder! Wat betref die beskuldiging dat ons die eintlike oorsaak van die brand sou wees, kan wat die owerste gesê het, desnoods wel geld. Hoewel ek u tog openlik moet beken dat ons ondanks die baie haglike omstandighede nie heeltemal so sneeuwit en onskuldig is nie, soos ons owerste getrag het om hom wit te was, want die eise van die uiterste offers was sy opdrag. Maar of dit vir die tot stand bring van orde en rus nou juis nodig was om die arme geloofsgenote alles tot op die hemp van hul lyf te ruk, as hulle dit nie vrywillig wou gee nie, is `n ander vraag! En so is ook die teruggegee van die offers van die volk `n baie moeilike vraag om te beantwoord! Miskien sou `n mens hulle teen hoë rente, geld en dinge geleen het, maar die teruggegee, wat die owerste as vanselfsprekend aanvaar, sou maar nog `n groot vraag gewees het! En hoewel ons almal diep verontwaardig geword het by die aanhoor van ons kameel van `n owerste, toe hy so herderloos los rondtas, kon ons tog niks daarteen inbring nie, omdat slegs die owerste op `n feessabbat kan en mag praat. Maar vir so `n oerdomme voorspraak, waardeur ons almal baie maklik aan die kruis sou kon kom, moet die satan ons owerste ook maar op `n sabbat kom haal!

[10] Ek sê nou baie openlik wat my en alle ander op die hart lê. As ons owerste wat met die wysheid van `n kameel begaaf is, dalk `n spesiale voorliefde het vir so `n verhoging, dan moet hy dit maar aan sy eie persoon laat volbring, hy is sleg genoeg vir die kruis! Ons sal geen seë van trane oor hom stort nie. Maar self wil ons voorlopig met so `n spesiale Romeinse onderskeiding niks te doene hê nie!

[11] Wel, oor die Násarener, waaroor ons deur u, geëerde gebieder,  heelwat meer ingelig is, kan ons om JaHWeH se wil om baie natuurlike redes onmoontlik iets pro of kontra sê. Ons het maar net uit die verte `n paar dinge oor Hom gehoor fluister. Die een klink baie lofwaardig, ander dinge weer, omdat dit waarskynlik van Sy vyande afkomstig was, baie avontuurlik, hoewel nie regstreeks sleg nie. Hy sou byvoorbeeld dooies weer heeltemal tot die lewe teruggeroep het! Nou, ons het dit nie gesien nie, en het maar net gehoor hoe daaroor gepraat word. As `n mens egter bedink wat dit is om `n egte dooie weer tot die lewe terug te roep, is dit, dink ek, tog wel te vergewe as `n mens om baie voor die hand liggende, natuurlike redes daaraan twyfel! Daarmee wil ek egter nie die moontlikheid in twyfel trek nie, maar slegs die groot probleem aantoon, en aandui dat meer nodig is daarvoor as net die ontwikkelde en volmaakte, fisieke en geestelike lewenskragte van `n mens.

[12] Van die profeet EliJaH word wel vertel dat hy eenmaal `n aantal doodsbeendere `n liggaam en lewe sou gegee het, maar ons was nie daarby nie. Ook is dit slegs `n oorgelewerde sage en dit staan in geen enkele boek opgeteken nie, selfs nie in die apokriewe dele van die Skrif nie! Hoe moeilik kan `n denkende mens dan so iets glo!

[13] Die Essene wek ook dooies op vir geld, en meestal vir baie geld. Maar die geheim het die mense dit intussen al ontrafel en die mense weet wat dit behels.

[14] Maar noudat u self so `n gunstige getuienis oor die Násarener gegee het, terwyl u tog `n baie ontwikkelde man is en baie ervaring het, en wat meer as baie ander wyses verdien om geglo te word, kan ek en kan ook al hierdie geëerde kollegas van my nie verby die Násarener se regte dade verbyvaar nie.

[15] Dit is my antwoord op u vraag, geëerde gebieder. Ek skink helder wyn, en alles is soos ek dit nou vertroulik aan u meegedeel het. Almal hier, behalwe ons owerste, is my getuie en u, geëerde gebieder, moet ons barmhartigheid voor die reg laat ervaar!"

[16] Cyrenius sê: "Ek is met u verklaring duidelik meer tevrede gestel as met die van die owerste, wat `n baie slimme jakkals wou wees, en wat my vangnet so lank as moontlik wou ontwyk. Maar omdat ek meer nette uitgesit het, het hy tog daarin verstrik geraak en nou staan hy daar soos `n deurtrapte, groot leuenaar. Maar werklike berou en `n totale, opregte bekentenis kan alles weer in orde bring, want hy behoort by die mense wat heimlik van leuens en bedrog hou, maar wat tog deur die mense vanweë hulle amp `n hoë en baie eervolle aansien geniet. Hy wou soos `n profeet in aansien staan, maar daarby handel soos `n roofsugtige, rondtrekkende Skit!

[17] Daarom kan egte berou, algehele verandering van lewe, verbetering en openlike toegeeflikheid aan die ware gang van sake alles nog goed maak. Want ek het nie hierheen getrek om die reg wat binne my mag lê, onverbiddelik en streng toe te pas op watter sondaars ookal nie, maar slegs om hulle op die regte lewensweg te help. Hulle moet my egter nie hinder by my baie mensliewende bemoeiinge nie! Maar hoe kan nou iemand wat wys wil wees, en daarby nog owerste van die priesters is, so deurtrap lieg?!

[18] Beste owerste, praat en vertel nou eers die volle waarheid, want u metgeselle het nog nie alles volgens die hele volle waarheid vertel nie! Hulle wil eintlik ten koste van u hul eie haglikheid verseker en dit vind ek gladnie prysenswaardig nie! Wat ek weet, weet ek vanuit die oorsprong van alles, en dan kan u maar lieg soveel u wil, dit gaan u tog niks help nie, want vir my kan u onmoontlik om die bos lei. - Praat dus nou die waarheid!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205