Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 155

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die owerste en Hebram

155 Die aanwesige dertig jong fariseërs, met Hebram en Risa daarby, sien dit ook en verheug hulle in besonder daaroor, omdat dit Cyrenius geluk het om die vyftig hardnekkiges ook om te vorm vir die goeie saak.

[2] Hebram gaan daarop na owerste Stahar en sê: "Kyk, ons is hier met dertig man, net soos u, deur die tempel die land ingestuur om heidene vir die tempel te werf; `n moeilike saak! In ontwikkeling is die heidene die huidige tempeljudeërs egter oral tweehonderd jaar vóór. Moet ons dan die siendes blind maak, en hulle in die mag bring van die vervloekte water van die tempel!? Dit kan nie gebeur nie, en iets anders kan ook nie gebeur nie! Dit sê ons verstandige harte vir ons,daarom het ons almal Romeine geword, en ons getuienis téen die tempel sal vir baie mense baie verhelderend inwerk. Maar hier het ons nog `n groot, heilige getuienis gekry, wat `n stralender lig gee as duisend sonne tegelyk. Dit is `n ewige Lig, wat reeds vóór die skepping van alle wêrelde geskyn het vir alle engele, wat die lewende vlamme was uit die ewige vlam in God wat die Liefde heet.

[3] Die Oerlig van alle lig, hierdie Ewige Liefde, het ons hier gevind, en julle het dit vir `n groot deel ook gevind, en sal dit nog baie meer vind.

[4] Dit skenk ons egter baie vreugde dat julle hier ook dit gevind het wat ons gevind het. Vir julle het dit weliswaar julle uiterlike, aangename bestaan gekos. Die vuur het al julle besittings verteer, en lek nog daaraan. Net soos ons besit julle nou niks meer nie! Maar die wil van God kom eerste en voor al hierdie dinge: As ons mense God werklik wou nader, en die opregte wens en wil in ons hart koester om in alles heeltemal deur God versorg te word, moet ons eers uit groot liefde tot - en in die sterkste vertroue op - die almagtige Vader, die hele wêreld die rug toekeer, en alles wat vir ons op die wêreld as deel van die wêreld lief en dierbaar was, tot op die laaste atoom verloor. Dan eers is JaHWeH God en Vader bereid om ons - wat deur die wêreld verlaat en uitgestoot was - as Sy kinders aan te neem, en heeltemal vir ons te sorg, sodat ons dan eers werklik vir ewig versorg sal wees.

[5] As God eenmaal vir ons gesorg het, sal ons dan goed insien hoe ontsettend sleg ons deur die wêreld versorg was!

[6] Wat baat alle skatte van die aarde die mens, wat hy nie kan saamneem wanneer hy vir ewig van hierdie aarde moet skei nie?! Sal hy dit kan saamneem? Maar God se skatte, wat Hy geestelik vir die siel en gees geskape het, neem ons ook met ons saam in die groot hiernamaals in, en vir ons sal dit alles in alles wees: spys, drank, woning en kleding, en die volkome ewige lewe vol klaarheid, vol lig, en vol van die hoogste voorregte!

[7] Treur daarom nie oor alles wat julle sedert gister tot op hierdie uur verloor het nie, want die Heer het al vir julle gesorg nog voor julle Hom, soos nou, as sodanig herken het. Laat julle liefde hierdie offer met graagte vir Hom bring, want Hy sal julle geestelik duisendvoudig vergoed vir dit wat julle in die stoflike verloor het!"

[8] Stahar sê: "Ek dank jou namens al my troue kollegas en broeders vir hierdie voortreflike troos, en ek sien daar op die tafel die groot en waardevolle klomp silwer lê, wat die engel vir ons uit die lug getoor het! Dit sou al `n klein vergoeding vir ons skade gewees het, maar ek, en ons almal, heg nou al baie min waarde aan hierdie skadevergoeding. Want dit wat ons was, sal ons nooit weer word nie, want ek het so by myself gedink dat die wyse opperstadhouer met ons almal `n goeie ander reëling sal tref. Maar daar sal seker in soverre vir ons gesorg word dat ons nie sal verhonger nie, en die liggaam desnoods kan klee, want al die ander vind ons nou nie meer belangrik nie! Ook hierdie tweehonderd pond sware silwer sal ons hier vir gasheer Markus agterlaat, ten dele as verskuldigde betaling vir die spys en die drank wat hy ons gegee het, en verder nog sal gee.

[9] Slegs één ding sou ons hier te wete wou kom, en dit is: As Hy reeds in die wêreld is, of as hierdie lang beloofde Messias Hom dalk hier êrens in die omgewing van hierdie plek ophou, sal ons Hom graag te siene wou kry en miskien selfs `n woord van Hom wou hoor. Dit sal nou vir ons `n groot stap vooruit beteken!

[10] Onder ons gesê: Ons het nou `n vermoede in die rigting van iemand van wie ons al baie ongelooflike dinge gehoor het, dat ons nou egter nie meer so ongelowig voorkom nadat ons die dade van die engel gesien het nie!

[11] Wel, hierdie Mens, eintlik God Self in menslike gewaad, blyk vir ons die Nasarener, genaamd Jesus, te wees, waaroor daar opeens sulke wonderbaarlike gerugte van plek tot plek onder die volk versprei het. Dis al lank dat ons in groot verleentheid geraak het as die mense ons vir `n uitleg vra van alles wat hulle met hulle eie oë gesien het en met eie ore gehoor het.

[12] Die opperstadhouer het my self daaroor `n baie netelige vraag gestel wat gemaak het dat ek by die beantwoording daarvan dit erg benoud gehad het! En daarom vermoed ek nou niks meer of minder as dat die wonderbare Jesus uit Nasaret onmiskenbaar die Messias is, soos aan ons aangedui is deur die engel, wat nou op aarde moet wees. Hierdie Messias is miskien selfs een van die vele aanwesiges hier, wat Homself om baie wyse redes nie vroeër aan ons wil bekend maak nie, alvorens ons nie meer waardig sal wees nie as wat helaas tot op hede die geval was!

[13] Daarom is ek van mening en dit sê ek baie openlik aan julle almal: As die dinge so staan, keer ons die tempel en sy waardelose heiligdomme vir goed die rug toe, en sluit ons met elke vesel van ons lewe aan by die Messias van die Judeërs! - Wat is julle mening daaroor?"

[14] Die ander sê: "Sekerlik, daarteen het ons niks in te bring nie! Wat jy as ons owerste sal doen, dit doen ons ook. Ons ken die wese van die tempel, en weet dat binne sy mure geen verlossing meer te vinde is nie, omdat daar geen waarheid, geen liefde en geen trou, maar slegs heerssug, hoogmoed, toorn, wraak, allerlei leuens, vraatsug en swelgery, en allerlei ontug, en hoerery, en egbreuk heers! Dit is nou die elemente van die wese van die tempel! Watter verlossing kan `n mens van so `n instelling verwag? Vloek en verderf, ja, soveel ons maar wou, maar van verlossing kan daar ewiglik geen sprake meer wees nie!

[15] Tydens jou toespraak het ons alles baie diepgaande deurdink, en ons keer mét jou die tempel vir ewig die rug toe. Dit gebeur volkome tereg, want ons het nie iets nuuts uit goedgelowigheid aangeneem nie. Ons het alles vooraf intensief ondersoek, selfs die grootste wonders kon ons nie soos `n blaar aan `n boom omwaai nie.

[16] Noudat ons onsself egter heeltemal van die volle waarheid oortuig het, kan ons ook nie meer anders as om die Waarheid, wat uit die hemele kom, aan te sien vir wat Sy is nie, - en dit des te meer omdat tyd, omstandighede en die oppermag van Rome daarby gunstiger vir ons is as wat ons ooit kon verwag het!

[17] Ons is nou net baie nuuskierig oor die Messias, wat bykans verseker uit Nasaret afkomstig is! Sou dit miskien die Een uit die groot geselskap wees wat `n rooskleurige gewaad dra met `n ligte Griekse, blou merinomantel daaroor, en seker die mooiste hare het wat ons ooit aan `n man gesien het?!"

[18] Stahar sê: "Ja, daarin sou julle beslis gelyk kan hê, want op Hom het ek ook al lankal my oog laat val! Ek sien ook, dat sowel die engel as Cyrenius, tydens hul gesprek en handeling, altyd na Hom omkyk, en Hom as te ware vra of dit wel in orde was wat hulle sê en doen!

[19] Ook al die ander gee Hom `n sekere verborge hoogagting, wat my egter nie ontgaan nie! As dit uiteindelik geen keiserlike prins uit Rome is nie, dan sou ek nou al sweer dat hierdié Mens die Messias is, en geen ander nie!"

[20] Die ander sê: "A, met sulke mooi, blonde hare kan dit nooit `n Romein wees nie! Maar wat kan dan met ons gebeur as ons na Hom toe gaan en Hom `n een en ander vra?!"

[21] Stahar sê: "Laat ons onsself egter eerder tot die engel en tot die opperstadhouer rig. Ons is nou Romeinse burgers, en het die volste reg daartoe."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205