Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 180

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die taak van engele en mense

180 Die engel sê: "Heeltemal geen verskil nie! Laat u gees eers die wedergeboorte bereik, en u gedagte sal in alles wat op die goddelike orde gebaseer is ook as `n heeltemal volmaakte, goddelike wonderwerk `n realiteit wees!

[2] Glo nie dat dit ek is, wat hier handel en doen nie, maar alles gebeur en word bewerk deur die Gees van die Heer, wat feitlik my innerlike wese is en vervul. Ons engele is van oorsprong af niks anders as uitstralingspunte van die goddelike Gees nie! Ons is in `n sekere sin die gepersonifieerde, baie kragtig werkende wil van God. Ons woord is wat Hy sê en ons skoonheid is `n geringe weerspieëling van Sy oneindige Glansrykheid en onmeetbare majesteit.

[3] Maar ook al is JaHWeH God in Sy wysheids- en magsmajesteit oneindig, tog is Hy in die Liefde van die Vaders hier as `n beperkte mens by, en te midde van julle. En juis hierdie Liefde, wat Hom Self tot mens gemaak het vir julle, maak ook ons engele tot mense vir julle, omdat ons andersins slegs lig en vuur is, na buite flitsende deur al die eindelose ruimte as groot skeppende gedagtes, vervul met die woord, die mag en die wil van ewigheid tot ewigheid!

[4] Dit is egter die Gees en nog meer die eie liefdesvlam uit die hart van God wat maak dat julle feitlik egte kinders van God kan word, dit kry julle mense van hierdie aarde eers nou, en daardeur is julle onuitspreeklik bevoorreg bo ons, en ons sal julle weg ook moet gaan om aan julle gelyk te word.

[5] Solank ons engele almal so bly soos wat ons nou is, is ons niks anders as arms en vingers van die Heer nie, en roer en beweeg ons eers om te tree as ons deur die Heer net so bestuur word, as wanneer u u hande en vingers aan die werk sit. Alles wat u aan my sien, behoort aan die Heer. Ons het niks van onsself nie, - alles aan ons is eintlik die Heer Self.

[6] Maar u is geroep en voorbestem om heeltemal selfstandig so te word soos wat die Heer Self is. Want aan u sal die Heer nog sê: 'Julle moet in alles net so volmaak wees soos wat julle Vader in die hemel in Sy eindelose volmaaktheid is!

[7] Maar eers wanneer die Heer dit vir julle mense sal sê, sal julle volledig besef tot watter eindeloos grootse dinge julle geroep en voorbestem is, en wat `n oneindige verskil daar dan tussen julle en ons bestaan!

[8] Nou is julle weliswaar nog maar embrios in die moederlyf, wat met hul eie minimale lewenskrag geen huise kan bou nie. As jy egter uit die ware moederliggaam van die gees wedergebore word, sal jy ook dit kan doen wat die Heer doen!

[9] Ek sê vir julle nog iets wat die Heer Self aan julle sal sê as julle volledig lewend in die geloof en in alle liefde tot Hom sal bly. Kyk, dit sal Hy aan julle sê: 'Ek doen groot dinge vir julle, maar julle sal nog groter dinge doen vir alle mense!”

[10] Sê die Heer dit ook somtyds aan ons? O, beslis nie, want ons is tog net die wil en die daad van die Heer, teenoor wie die Heer dan as te ware teen Homself sou getuig, sou julle dit in die vooruitsig wou stel.

[11] Maar God se eindelose Liefde, Barmhartigheid en oorgrote Erbarming sal ook mettertyd vir ons engele `n weg aanwys waarop ons volledig gelykwaardig aan julle sal word.

[12] Die weg wat die Heer nou Self gaan, sal nog die weg van alle oergeskape geeste van alle hemele word. Dit sal natuurlik nie vandag of more gebeur nie, maar geleidelik, gedurende `n altyd deurgaande verloop van die nooit as te nimmer êrens eindigende ewigheid nie, waarin ons uit God soos in `n oneindige groot kring op en af, en heen en weer gaan, sonder om ooit by die uiterste rand te kom. Maar ook al laat iets so lank op hom wag, dit gebeur uiteindelik tog omdat dit getrou en waaragtig tuishoort in die groot orde van God. Wat homself eenmaal daarin bevind, gebeur ook, -die 'wanneer' is werklik nie so belangrik nie! As dit eenmaal gebeur het, dan is dit daar, asof dit altyd daar was.

[13] U, vriend Philopold, was honderd jaar gelede nog nie gebore nie, en was dus nie daar soos u nou daar is nie. Maar voel u nie asof u al vir altyd hier was nie? Slegs die koele berekening van u verstand sê vir u dat u nie altyd daar was nie, maar u gevoel en u baie lewendige gewaarwording toon aan u die volslae teendeel.

[14] Ook sê u koele verstand dat u eers sal moet sterf en daarmee dat al dit wat u nou is, vir altyd en ewig van hierdie aarde sal verdwyn. Maar vra daarenteen u gevoel en u gewaarwording, die twee sal van `n sterf- of vergaanproses op hierdie aarde niks weet en daarvan ook niks wou weet nie.

[15] Wel, wie het dan die gelyk en die waarheid aan sy kant, - die koele verstand of die warm lewensgevoel? Ek sê vir u: Beide, sowel die verstand as die warm, selfbewuste lewensgevoel! Die verstand as geordende harsingsbiblioteek van die siel sal met die verdwyning van die liggaam verseker ook verdwyn. Tesame met die ander dele van die liggaam en die ledemate moet sy stoflike waarnemings- en berekeningsvermoë, omdat dit verganklik is, ook die verganklikheid in hom voel. Maar dit is anders met die lewensgevoel en met die homself-bewus-wees omdat dit geestelik is en uit God kom, daarom nooit `n begin gehad het nie en daarom ook nooit kan eindig nie!

[16] Daarom kan die siel haar in haar stoflike toestand onmoontlik voorstel dat sy, as `n verganklike iets, eenmaal sal ophou om te bestaan. En daardeur word dit altyd ligter in die siel. As sy dan heeltemal één geword het met die gees uit God wat in haar woon, word die lewensbesef so helder en magtig dat die gevoel van verganklikheid, voortkomend uit die koele berekening van die verstand, elke betekenis en elke krag verloor.

[17] Dit kom deurdat die Gees van God, wat alle lewenskragte van die siel deurdring, ook die dele van die liggaam waar die senuweegees* homself bevind, deurdring en daarmee elke verganklikheidsgevoel ontneem. En dit gebeur omdat deur die gees ten slotte uiteindelik alle eintlike, eteriese, liggaamlike lewensstowwe, netsoos die lewenskern van die siel, onsterflik word. (*Die senuweegees verbind die liggaam met die siel.)

[18] Philopold, u sal, omdat u ook van bo afkomstig is, nou maklik kan verstaan dat `n gees alles kan verwag, en dat geen enkele tydsduur eintlik iets vir hom beteken nie. Eenmaal sal daar na hom, volgens die orde van die Heer, tog ook die seënryke beurt kom, en dan is dit maar `n vraag watter deel van die ewigheid vir hom die langste sal wees, - die deurleefde deel waarin `n mens aktief was, of die toekomstige deurlewende deel, waarin `n mens nog aktief moet word?!

[19] Nou is ek nog wel dit wat ek is, en die skynliggaam is nog lank geen vlees en bloed wat met `n wesenlike siel deur verwekking en geboorte ontstaan het nie. Maar dit is tog al `n sekere benadering daarvan, en die tyd tot die volle verwerkliking van die barmhartigheid sal nie so lank op hom kan laat wag nie en dan sal ek word wat u nou is!

[20] Prys my daarom nou nie omdat u my iets wonderbaarlik sien doen het nie. Want omdat ek eintlik nog geen persoon is nie, maar omdat ek alleen maar die wil van die Heer is, moet slegs die Heer Self geroem en geprys word vir die wonder, want Hy kan dit en nog oneindig groter dinge doen sonder om my verskyning daarby te gebruik.

[21] Maar Hy is nou juis die Een wat die heilige groot toespraak vir Cornelius gehou het, wat ek toe vir hom opgeskryf het. Jy ken Hom wel vanaf Kana by Kis en sal Hom nou nog beter leer ken. - Daar sal nou egter dadelik iets gebeur waarby Hy weer suiwer lewenswoorde sal spreek."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205