Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 192

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Seën en vloek van rykdom

192 Cyrenius sê aan My: "Majesteit en Heer, werklik, sulke vrygewig gesinde en aangename mense het ek nog nooit teëgekom nie. Hierdie mense moet ek beskerming gee teen die inmenging van die afgodepriesters, -al dit kos wat! Die Persiese koning is ook maar `n ondergeskikte van Rome en ressorteer ónder my. O, aan die praktyke van die slegte booswigte moet vinnig `n einde gemaak word! Ook U, o Heer, sou hierdie brawe mense `n besondere guns kan verleen, want ek glo dat hulle dit absoluut werd is!"

[2] Ek sê: "Ongetwyfeld, anders sou Ek hulle nie deur My engel van die sekere ondergang laat red het nie, want as Ek êrens `n wonderwerk laat plaasvind, is daar ook altyd redes daarvoor. En hier is genoeg redes!

[3] `n Groot aardse rykdom in die hande van sulke mense is `n egte, hemelse seën vir `n hele land. As sulke mense bowendien nog hoë wysheid besit, kan hulle wonders daarmee verrig vir die ware welsyn van die mensdom.

[4] Maar `n groot rykdom in die hande van `n vrek of `n woekeraar is `n helse vloek vir `n hele koninkryk, want hy probeer maar net ten koste van alle mense alles na hom toe trek! Geen ellende, geen nood en geen traan van arm, verlate weduwees en wese roer hom nie. Vir `n woekeraar met sy kille blik kan duisende met die hongerdood worstel sonder dat hy iemand `n stuk brood sal gee om die honger te stil!

[5] Maar daarom sê Ek vir julle ook dat hoereerders en egbrekers, en diewe en berouvolle roofmoordenaars eerder die ryk van God sal binnegaan, maar die siel van `n vrek en woekeraar nooit nie, want sy is onverbeterlik, en sy vorm dan ook die materiaal waaruit die duiwels `n onderste hel sal bou!

[6] `n Woekeraar is `n egte helse masjien, gemaak om alle mense ten gronde te rig, en as sodanig sal hy ook vir ewig volledig die eiendom van die hel bly!

[7] Sit `n kroon op `n woekeraar, gee hom `n septer en swaard en `n sterk leër boonop, en dan het jy een satan as die grootste tiran oor die arme mense aangestel wat nie die laaste bloeddruppel van sy onderdane sal spaar nie! Hy sal iemand eerder laat wurg, as om maar een stater deur sy vingers te laat glip of kwyt te skeld! Daarom vervloek Ek elke vrek en elke woekeraar!

[8] Maar die mense wat deur die vlyt van hul hande baie ryk geword het onder invloed van die hemelse barmhartigheid, is `n goeie en edele vrug van hierdie aarde. Hulle is voortdurende versamelaars vir die swakkes en armes, bou altyd nuwe woonplekke vir die dakloses, en weef kleding vir hulle naakte broers en susters. Daarom sal hul loon eendag ook groot wees, want hulle dra reeds in hulle die mooiste en hoogste hemel op hierdie aarde!

[9] As hul siele eendag die liggame sal verlaat, sal die hemel homself uit hul harte uitbrei, en haar in die middel plaas, soos wat die opgaande son haar eie lig versprei en straal uit die groot sentrum van haar uitgaande, en alles tot lewe wekkende en skeppende lig!

[10] Ander goeie mensesiele sal egter slegs salig wees soos die planete, wat van die verwarmende en lewegewende strale van die son geniet, maar waar dit aan één kant tog altyd nag is!

[11] Ja, My beste Cyrenius! Om ryk te wees op hierdie aarde, en vir homself slegs soveel te neem as wat `n mens vir sy eie onderhoud broodnodig het, dus karig te wees op homself om des te vrygewiger vir die armes te kan wees, dit is alreeds die mees gelyke aan God in die aardse liggaam! Hoe groter hierdie egte en alleen ware gelykenis met God by `n mens is, des te meer seën en barmhartigheid ontvang hy uit die hemele!

[12] Dit gaan met so `n mens soos met `n son! Hoe meer lig sy oor die aardbodem laat uitstroom, des te sterker lig gaan sy gee. Maar as sy in die winter kariger word met die skenk van haar lig, ook al is dit net skynbaar, het sy self ook `n armer en swakker lig, ook al is dit natuurlik net skynbaar!

[13] Wie met liefde en vreugde baie gee, sal ook veel daarvoor terug ontvang!

[14] Want as jy in die middel van `n kamer `n groot lig sal plaas, sal daar ook van alle kante baie lig terugkaats na die middel en die groot lig met `n magtige glans omgewe, en daardeur word die sentrum van die lig nog glansryker, magtiger en werksamer. Plaas jy egter slegs `n swak, skemerige lampie in die middel van die groot kamer, dan sal die swak verligte kante ook maar net `n baie spaarsamige lig terugkaats, en die glans van die sentrale lig sal dan nie baie voorstel nie!

[15] Wees daarom, as jy so ryklik geseënd is met aardse goedere, vrygewig, soos wat die son aan die hemel vrygewig is met haar lig, dan sal julle ook wees soos die son en hoër as die son!

[16] Want as jy in goeie aarde goeie saad uitsaai, kan dit maar net `n honderdvoudige oes vir jou oplewer. Goeie werke van `n goeie hart is wel die beste saad, en die arme mensdom is die beste aarde. Laat haar nooit braak lê nie, maar saai oorvloedig in hierdie aarde, en altyd sal jy hier `n honderdvoudige, en in die hiernamaals `n duisendvoudige oes terug ontvang, waarvoor Ek `n betroubare borg is!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205