Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 216

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Stryd van die fariseërs oor die goddelikheid van die Heer

216 Met alles wat daar na die aandete op hierdie sabbat gebeur het, sou tog wel `n totale dagtaak kon gevul het. Maar `n mens hou in die hemele nooit op om goed te doen nie, net soos die hel ook nooit ophou om kwaad te doen nie, en so word daar vir hierdie sabbat ook nog iets baie besonders vir die einde bewaar, waar daar voor middernag nog werk verrig moes word.

[2] Onder die vyftig fariseërs, aan die hoof met die owerste Stahar en met ons reeds bekende spreker Floran, het daar `n verskil van mening ontstaan. Hier het ons nog volgelinge gehad wat half in die ou leer vasgesit het wat in `n tent van Ouran tydens die storm nog allerlei twyfel uitgebroei het, en die manier waarop die lyke nou neergelê word, bevestig baie van hulle twyfelagtige opvattings oor My en My dade. Die verskil van mening wat hulle gehad het, ontstaan omdat hulle merendeels baie nadruklik aangeneem het dat Ek `n buitengewone profeet was, `n soort Elia, - terwyl `n minder verligte deel gemeen het dat Ek ondanks alle kennis van die Skrif slegs `n leerling was uit die katakombes van Egipte en in die tempel te Karnak die wysheid en die egte magie geleer het. Dit sou ook die rede wees vir My warm onthaal deur die Romeine, want by die Romeine het die egte magiërs meer aansien as hulle gode, omdat die Romeine sulke magiërs as vingers van die god Zeus aansien, wat op `n manier onder die mense werk en baie aansien het met die hoë menere! Die Romeine was egter baie verstandige mense en het geweet dat die Judeërs eers te vertrou was as hulle met siel, bloed, huid en haar, Romeine geword het. Dit kon die maklikste bereik word as `n mens die Judeërs deur so `n aartsmagiër uit die skool van Karnak bewerk, omdat hulle daarvoor bekend gestaan het dat hulle baie verslaaf was aan wonderwerke. Dit moes egter wel so gebeur dat die Judeërs daarin ook hulle Moses en hulle profete terugvind, en dit gebeur nou sigbaar met die beste resultaat ter wêreld. Want hy wat hom nie laat bekeer deur woorde en wonderwerke nie, vir hom was menige Romeinse krygsoldate altyd volledig paraat om hulle met vrees te bekeer. Daarom word daar ook met elke geleentheid so fel moontlik teen die tempel te Jerusalem te kere gegaan. Alle moontlike moeite word gedoen om die slegte dinge na vore te bring, terwyl `n mens die goeie dinge agteloos laat verbygaan en ook met geen enkele woord daaroor praat nie, hoewel dit tog bekend was hoeveel goed die tempel altyd verrig het!

[3] Stahar en Floran, wat meer as die ander `n beter mening oor My en die Romeine gehad het, het wel moeite gedoen om hulle kollegas dit uit die hoof te sê, maar hulle het nie baie bereik nie, ondanks die feit dat hulle My geweldig baie opgehemel het as `n profeet wat vergelykbaar was met Elia.

[4] Die teenparty sê: "Kyk maar eers daar hoe die nege drenkelinge medies vakkundig met die koppe heuwel afwaarts en die gesigte na die grond toe neergelê word?! Waarom moet dit so wees?! `n God is almagtig genoeg om ook sonder sulke toebereidsels die drenkelinge weer lewend te maak. As sulke suiwer mediese voorsorgmaatreëls egter getref moet word om die drenkelinge uiteindelik weer in die lewe terug te bring, is daar tog met die suiwer wonderdoenery wel `n stekie los! Ook die drie wat vroeër opgewek was, moes in die kamer gebring word om nie in die koel naglug te lê nie en om die volgende more beter en frisser daaruit te sien! Ons het dit nou wel goed deurgekyk!"

[5] Floran vra hulle egter wat hulle van Rafael dink, wat tog wel die ongelooflikste wonders gedoen het. Dit bring `n aantal weer tot besinning en hulle weet nie wat om daarop te sê nie.

[6] Maar `n vurige teenstander sê tog: "Vriend, ons weet eintlik glad niks nie, maar `n mens mag tog seker veronderstel dat daar in die natuur nog baie geheime en onontdekte kragte sal wees, waarvan ons nog nooit eers van gedroom het nie. Hy het hom in Egipte daarmee vertroud gemaak en is in staat om op `n wyse, wat vir ons heeltemal onbekend is, die geheime natuurkragte sodanig te beheers, dat dit vir ons lyk, dat die beheersing van die stomme natuur verseker as `n suiwer wonder moet voorkom. As die jong man ons die beginsels sou uitlê en die regte handgrepe en middele sou toon, sou ons ook ongetwyfeld wonders kon verrig. O, die mense kan baie merkwaardige dinge doen en die hele natuur aan hulle onderwerp, maar uit niks kan hulle tog nie iets maak nie, dit kan alleen God doen! En dit is ook die groot verskil tussen die almag van God en die wonderkrag van baie skerpsinnige mense.

[7] Laat die jong man maar eers `n nuwe aarde skep met alles wat daarop bestaan, leef en asemhaal, dan sal hy met daardie werk beslis kortasem word! Ja, die reeds bestaande natuur kan Hy manipuleer vir diegene wat dit beheers, wat beslis nie so `n besondere kuns is nie, maar `n wêreld uit niks geskep, of selfs maar `n grashalm sonder saad, of selfs `n mens - maar wel heeltemal uit niks nie! - dan word dit skielik wel duidelik hoe ver die almag van sulke mense reik!"

[8] Floran sê: "Ja, vriend, ek sou geen ernstige groot goudstuk daarop verwed dat beide hierdie mense, as dit werklik noodsaaklik sou wees, ook nie `n wêreld uit niks sou kon skep nie; ek sou dit egter werklik nie dat dit daarop sou uitloop nie!"

[9] Stahar sê: "Ek ook nie, want beide het al vir my té groot dienste bewys! Tewens by beide kom in alles dermate `n groot wysheid tot uitdrukking, dat al my kennis en al my ervaring in die niet versink. Maar waar so `n groot wysheid sigbaar is, werk God se gees, vir wie niks onmoontlik is nie.

[10] Laat ons onsself maar eers herinner waartoe Elia en Moses alles in staat was, dan sal ons onsself daardeur ook kan voorstel hoe hierdie twee juis deur dieselfde almagtige Gees hulle onverstaanbare wonderdade altyd met volledige sekerheid volbring het!

[11] Wel, wat beteken dit dan?! As ons weet dat die dinge maar net vir die almagtige Gees van God moontlik is, wat vir alle mense onmoontlik is, dan is dit baie eenvoudig dieselfde Gees van God wat werksaam is, wat eers die aarde uit niks tot aansyn geroep het en later die wonderbaarlikste dinge deur Moses en Elia laat doen het!

[12] Bowendien het ek nog `n opmerking en ek vra julle: Waar, buite die kringe van die kinders van Israel, het daar ooit `n volk bestaan wat in wysheid en krag meer barmhartigheid gekry het as ons, as egte nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob?! As iemand dus in die huis van Jakob die ware Wysheid en Haar Krag nie kan vind nie, waar sou hy dan andersins dit kon doen en vind?! Ek weet ook wel iets oor die geheime skool van Egipte en wat daar geleer word! Ja, die skool in Karnak kom baie miskien wel tot in die voorhof, maar in die allerheiligste, die binnenste, kom hulle werklik nooit nie!

[13] Maar by hierdie twee kan jy met die eerste oogopslag sien dat hulle presies so vertroud skyn te wees met die allerheiligste, binnenste, soos wat `n huisvrou vertroud is met haar spens. By `n huisvrou wat sorg dra vir haar huishouding, kan `n mens dadelik aan haar opgewekte gesig sien dat die spens goed voorsien is, en by beide kan `n mens ook baie goed waarneem, as `n mens hulle gesigte maar `n klein bietjie bestudeer, dat hulle heeltemal vervul is met opgewekte en sorglose rus!

[14] Wie so `n wysheid en mag besit en met so `n werklike goddelike rus die wêreld kan inkyk en vir wie `n rasende storm net so weinig verontrus soos ons eerste winter wat die aartsvader Adam beleef het, hy is in die allerheiligste sélf reeds `n meester en vrye gebieder! Hy het geen wysheidskool in Karnak nodig nie, omdat die Gees van God Self hom `n beter een in sy hart gegee het! Dit is my mening en nou ook my vaste geloof en dat die geloof van my goed is, sien ek daaraan dat ek ook `n baie goddelike en vrye rus in my hart begin te voel, wat ek nog nooit voorheen gevoel en ondervind het nie.

[15] Ek kan vir julle, as julle gewese owerste, weliswaar nie die geloof en die gevoelens oplê nie, omdat dit nie kan en nooit op te lê is nie, maar ek kan julle wel sê dat die sake so staan en dat julle met julle Egiptiese skool, sonder leidraad in die duisterste katakombes ronddwaal!"

[16] Die spreker van die teenparty wat nou na Stahar se woorde reeds `n aantal koppe minder tel, sê: "Ja, ja, beste vriend, jy het nou wel deurdag en korrek gepraat, maar by ons pla slegs die noodsaaklike mediese plasing van die nege drenkelinge ons. Ook geneeshere en ervare loodse lê drenkelinge so neer en dit gebeur meermale dat hulle net daardeur al in die lewe terugkom, want in hierdie houding loop die water uit die longe uit en as elke lewensvonk nog nie in die hart uitgedoof is nie, keer die lewe daarna weer terug. By drenkelinge sê mense dat die gees nog drie dae in die liggaam bly en daarom moet die drenkelinge op hierdie manier weer tot lewe gewek word, want selfs as hulle twee dae in die water sou gelê het, is dit nog moontlik. Wel, as in hierdie op Elia lykende profeet nou die egte Gees van God gewoon het, waarvoor is die mediese voorbereiding dan nodig?!

[17] Toe Elia volgens die sage `n hele berg doodsbeendere tot lewe gebring en liggame gegee het, het hy geen mediese voorbereiding nodig gehad nie, maar sy woord en Sy Wil was voldoende. Ook deur dieselfde Elia is dade verrig slegs deur die mag van die woord. Waarom was die voorbereidings met die nege drenkelinge nou nodig, asof hulle die krag van die Heilige Gees volledig kwytgeraak het?!

[18] Kyk vriend, as jy op `n reeds deur en deur vervuilde laken nog `n klein vlekkie maak, sal dit die skerpste oog nie opval nie, maar op `n volkome skoon wit laken sal één donker strepie jou al verontrus! En so is dit ook met hierdie groot profeet in wie se hart die volheid van die goddelike Gees moet woon; daar verontrus elke kleinigheid wat nie in ooreenstemming is met die verhewe begrippe en met die allerhoogste waardigheid van die goddelike gees jou. As Hy dit nou maar nie gedoen het nie, sou ek Hom uiteindelik as JaHWeH Self beskou het, want Sy vroeëre woorde en dade was heeltemal van goddelike aard. Maar deur hierdie handeling met die nege drenkelinge het Hy in my oog die hele, vroeëre goddelikheids-nimbus (halo) uitgewis en ek kan nou nie meer heeltemal eens daarmee wees nie!"

[19] Stahar sê weer: "Vriend, as dit jou al so verontrus, dan verwonder ek my baie daaroor of jou geloof in JaHWeH uiteindelik al nie al lankal verontrus was nie, terwyl jy die langsame groei van plante, diere en mense tog reeds goed genoeg bestudeer het! Waarom moet die Almagtige Gees van JaHWeH sulke hinderlike voorsorgmaatreëls tref?! Waartoe het hy eintlik bome, struike en plante nodig om verskillende soorte vrugte langsaam daarop ryp te laat word?! Hy hoef maar net te wil en dan kan dit ryp uit die hemel op die aarde val! Waarom `n akker op die aarde?! Laat die Gees van God liewer die suiwerste en rypste koring uit die hemel laat reën en nog liewer dadelik maar `n goeie en lekker brood! Waarvoor die verwekking by diere en mense?! Waarom moet `n mens eers heeltemal hulpeloos en so swak soos `n muggie gebore word?! Laat hom tog dadelik sterk, wys en van alles voorsien op die aarde val!

[20] Vind jy nie dat dit vir die almag van die goddelike Gees baie verstandiger en waardiger sou wees as die bekende langsaamheidsweg, waardeur `n hongerige kind `n paar weke lank na `n boom moet kyk voordat die vrugte aan die takke ryp word?! Hoe sou, ter wille van die welsyn van hulle kinders, `n besorgde ouerpaar hulle nie verheug het as die kinders reeds vol wysheid soos `n Samuel op die wêreld sou gekom het nie?! Maar hulle moet onder baie pyn gebore word en dan duur dit minstens twaalf jaar voordat `n kind dit sover gebring het dat hy geskik is vir `n hoër soort onderwys en dan moet hy tot die volwasse leeftyd alle ywer aanwend om die nodige agtergrond te verkry in `n bepaalde kuns of wetenskap. Vind jy dit goed passend vir die hoogste wysheid van die goddelike Gees?!

[21] Maar as dit alles die eindelose, goddelike wysheid niks laat inboet nie, hoe kan jy hierdie profeet nou kwalik neem as hy die nege lyke medies korrek laat neerlê?! - Spreek nou, vriend!"

[22] Die teenstander, wat Murel heet, sê: "Ja, ja, vriend Stahar, jy het gelyk en ek sien die onbelangrikheid van my vroeëre bewering baie goed in! Maar nietemin hou iets van wat ek beweer het, my tog nog besig en dit het betrekking op die traagheid van God, wat vir my in baie dinge baie goed lyk, maar in baie dinge weer gladnie! Ja, in baie dinge sou die traagheid selfs nog meer oorheers, soos byvoorbeeld in die dodelike bliksem en in die kort dae tydens die winter; ook die vol maan moes sy volle skynsel beter en langer as nouliks `n paar dae behou! As die bliksem nie so `n verskriklike snelheid sou gehad het nie, dan sou `n mens dit kon ontwyk en dan sou dit minder skade aangerig het; ook die stormwind sou wel minder hard kon gewaai het, waardeur baie skade vermy sou kon word! `n Mens vind in die skepping meestal `n enorme aktiwiteit van die heersende Mag van God, waar Hy die lewende natuur skaad en waar daar volgens my mening `n lang, wel té lange duur seker geen nut het nie, en is daar van vooruitgang haas geen sprake nie.

[23] Wel, elke mens weet uit ervaring dit so is. Maar waarom moet dit dan so wees en waarom sien ek dit dan, ook al sou dit goed wees, as nie goed nie en word ek ook nog ongeduldig en vererg daaroor? Waarom reën dit dikwels as, volgens die siening van al die boere, sonskyn die grootste weldaad sou gewees het en waarom skyn die son wel maande lank sonder om afgewissel te word deur `n reënbui? Ja, vriend, dit is alles belangrike vrae, maar wie gee my antwoorde daarop?"

[24] Stahar sê: "Die groot Heer, daar! Gaan na Hom toe en ek wed jou dat Hy dit presies vir jou kan vertel. Want vir my gaan jou vrae te diep, ja so diep dat ek dit byna dom sou kan noem, maar nie omdat dit werklik dom is nie, maar slegs omdat my onbegrip dit dom vind."

[25] Murel sê: "O, jy is `n mooi een, jy is baie wyser as ek en dan sê jy so iets oor my vrae!? Hoe kan ek so na die Allerwyste gaan?!"

[26] Stahar sê: "Goed dan, as jy dit besef, vra dan nie na die rede van die dinge en verskynsels wat die God se Wysheid al van die ewigheid af gereël het nie Ons mense verstaan oneindig min, ja, ons verstaan eintlik glad niks nie. Want al ons verstand is vergeleke met die goddelike Wysheid nouliks `n sonstoffie, en kan die mens dan rekenskap van God vra waarom Hy dit of dat beskik en bepaal het?! Ons het nog lank nie by die eerste aanset tot die ALPHA gekom nie, en ons vra reeds na die essensie van die OMEGA! O, hoe blind en dom kan ons nog wees!

[27] In die skool te Karnak in Egipte kan dit wel gebruiklik wees by die blinde heidene, maar by die kinders van Israel, wat siende geag word, moet sulke vrae tog nie voorkom nie. Want al het die blinde geen selfkennis nie, moet hy tog voldoende hê om te besef dat ons kennis die hoogste moontlike top van die wysheid bereik het, as ons tot die insig gekom het dat al wat ons weet en ken totaal niks is in vergeleke met één vonkie van die goddelike Wysheid nie!

[28] Sekerlik, die nadenkende gees van die mens sien op die gebied van die wonderbaarlike skeppings van God heelwat wat hy egter met die groot beperktheid van sy verstand nie kan goedkeur nie. Maar laat hy dan terugdink aan sy kinderjare, toe sy wyse ouers wel iets vir hom verborge gehou het wat hom, as hy kennis daarvan sou gehad het, as onervare en ligsinnige kind beslis groot skade sou gebring het! As God se Liefde ons, as onmondige en onervare kinders, nou ook nog baie van ons weerhou wat, as ons dit geweet het, sekerlik groot en onafsienbare rampe oor ons sou gebring het, dan kan ons God maar net loof en prys daarvoor! Want as ons groter wysheid sal kan inneem, sal God haar ook nie van ons weerhou nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205