Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 37

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Julius en die twaalf politieke misdadigers

37 Toe vra Cyrenius: "Heer, wat moet daar nou verder met die vyf gebeur? Hulle het feitlik geen klere aan nie! Sal ek vir hulle kleding gee? Ek het wel klere by my, maar dit is staatsklere, wat slegs deur Romeinse staatslui gedra mag word. Dit kan dus nie. Romeinse bediendekleding het ek ook, maar ek vind hierdie vyf deur hul indrukwekkend groot wysheid tog te verhewe daarvoor. Wat kan ons dan hieraan doen?"

[2] Ek sê: "`n Kledingstuk het slegs maar ten doel om die naaktheid van die liggaam te bedek, of dit nou `n staatsmantel of `n bediendekleed is. Voorlopig is dit dus om te ewe, of jy die vyf `n staatsmantel of bediendekleding gee. Die kleding van `n dienaar ag Ek baie hoër as dié van `n staatsman, gee hulle daarom bediendekleding. In `n staatsmantel sal hulle vanweë die mantel die mikpunt van spot word vir die wêreld en daarvoor is hulle te goed, hoewel niemand eintlik op die wêreld goed is nie! Met verloop van tyd sal hulle ter wille van My Naam nog genoeg spot moet deurstaan en daarom wil Ek nie dat hulle vóór die tyd ook om wêreldse redes deur die wêreld bespot word nie."

[3] Toe Cyrenius dit hoor, stuur hy dadelik `n aantal dienaars om die beste bediendemantels te gaan haal. Binne `n paar oomblikke is dit gehaal en Cyrenius laat dit dadelik aan die vyf uitdeel.

[4] Die vyf bedank hom baie vriendelik en sê: "Die Verhewene uit ons midde sal dit aan u vergoed! Want met ons geheel en al verskeurde flenters was ons skaars in staat om ons skaamte voor die oë van die wêreld te verberg, daarom dank ons u nogmaals baie hartlik daarvoor!"

[5] Vervolgens trek die vyf hul ou vodde agter die nabygeleë struikgewas uit en kom daarna as uitstekend geklede, Romeinse hofdienaars te voorskyn. Terwyl hulle hul baie tevrede by ons aansluit, gaan ons dadelik na die ander politieke misdadigers toe, wat al verlangend na ons uitsien.

[6] Toe ons hulle bereik, val hulle dadelik met hulle gesigte op die aarde neer en smeek om barmhartigheid. In totaal is daar eintlik agt, maar onder hulle is daar `n paar wat slegs met hulle saamgereis het en daarom ook saam gearresteer is.

[7] Ek sê vir Julius: "Vriend, dit is jou taak om hulle te ondervra en op die regte manier tot verantwoording te roep!"

[8] Toe Julius dit hoor sê hy: "Heer, hoewel ek andersins van daardie werk geen hoofpyn sou kry nie, begin dit my hier tog `n bietjie te duisel. U is hier, `n engel is hier, Cyrenius is hier, U leerlinge wat nou al uitermate wys is, is hier, die dertig jong fariseërs en die leviete is ook hier - en nou die vyf hier; om oor die wyse Jarah nog maar te swyg! En, Heer, die vyf, o, die vyf! En voor al dié mense moet ek die politieke misdadigers wat voor ons staan vrae stel en hulle aanhoor? O, dit sal geen eenvoudige werk wees nie! Die beste van die hele geskiedenis is dat ekself nie eintlik ‘Ex fundamento’ weet waarom hulle gegryp en geboei hierheen gebring was nie! Dit kom eintlik heeltemal hierop neer dat hulle deur die tempel uitgestuur is en in opdrag van die tempel kwade gerugte oor Rome moes rondstrooi. Maar wettige getuies is daar nie! Hoe kan `n mens hulle dan laat beken?

[9] Mathael wat agter Julius staan, sê: "Daaroor hoef u nie besorg te wees nie! Wat die getuies betref, is ons vyf beskikbaar, egter nie om téén hulle nie, maar om vír hulle te getuig. Kyk, ons was self oog- en oorgetuies daarvan hoe hulle, om te voorkom dat hulle die vervloekte water moes drink, hierdie opdrag moes aanvaar. Ons ken hulle nogal goed, uiterlik gesien altans, omdat ons feitlik gelyktydig saam met hulle uitgestuur was om die Samaritane te bekeer. So onskuldig soos wat ons vyf is aan alles wat daar met ons gebeur het, so onskuldig is hulle waarskynlik ook. Nou weet u voorlopig voldoende en u kan in alle rustigheid met u ondervraging begin, sonder dat u uself nie in die minste hoef te steur aan ons innerlike wysheid nie."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205