Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 39

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Suetal vertel oor die kennis van die tempeldienaars

39 Die oortuigende, anderse uitkyk wat Julius op die saak het, maak dat die verhoordes versteend staan en Suetal weet eers nie watter kommentaar hy daarop moet lewer nie. Maar na `n rukkie sê hy tog baie ernstig: "U het volkome gelyk, maar daarom staan ons nie minder in ons volste reg nie! Kyk, as u `n kind al vanaf die wieg altyd voorhou dat twee note en twee note tesame vyf note is, dan sal die kind dit glo en dit u nasê en uiteindelik sal dit moeilik wees om die reeds volwasse geworde jongeling uit die droom te help. Wie het tot op hede die wet van Moses so aan ons uitgelê soos u nou? Wat bly daar vir ons oor as om die wet so op te neem soos wat ons dit vanaf die wieg uitgelê is? Ons oudstes verstaan dit self nie beter nie en die hele tempel verstaan dit waarskynlik ook nie, of wil dit nie verstaan nie. Waar sou ons dan die regte begrip vandaan moes kry? Bowendien het ons, leerlinge in die tempel, Moses as sodanig nooit te siene gekry nie, omdat dit slegs maar toegestaan was aan die oudstes en die skrifgeleerdes! En vertel u ons nou waar ons die regte betekenis van die wet vandaan moes kry! Wie sou dit vir ons, soos u, op die regte manier kon uitgelê het?"

[2] Julius antwoord: "`n Mens sou tog na behore wil veronderstel dat mense, sodra hulle as dienaars in die tempel die priesterkleed begin dra, minstens soveel van hul godsdiens sou verstaan het as `n heiden! Vir my was die godsdienste van alle volke altyd baie belangrik gewees, omdat `n mens `n volk die vinnigste in al sy doen en late deeglik daardeur leer ken. Ek dink dan ook dat ek met alle reg kan veronderstel dat elke mens self alles daarop moet sit om die godsdiens van sy vadere so sekuur as moontlik te leer ken. Want slegs so `n godsdiens kan die rigsnoer van die maatskaplike samelewing wees! Bowendien is julle geen jongmanne meer nie, maar manne waarvan mens wel sou kon verwag dat julle - omdat julle ook nog priesters is - jul godsdiens minstens so goed sou verstaan soos `n vreemde soos ek! Wat onderrig die mense dan eintlik by julle op die skole?

[3] Suetal sê: "Daar leer `n mens lees, skrywe en reken, verder ook allerlei vreemde tale en ook `n sekere samevatting van die groot geskrif, waarby as belangrikste punt geëis word dat alles wat die tempel wil en leer, vir die waarheid aan te neem is asof dit regstreeks van God af kom. In daardie geval is dit baie onduidelik hoe ons dan verder aan `n diepere kennis van ons godsdiens sou kon kom! U het dit maklik, want u is in alle opsigte `n magtige en sterk meester. U kan `n hoofsinagoge binnegaan en eise stel. Elke owerste wat daaraan verbonde is, sal u sekerlik toestaan om alles te kontroleer - en wee hom as hy iets vir u sou geheim hou! Hy weet dat u dan alles sal laat deursoek en wat hom te wagte sou wees as daar iets geheimsinnigs gevind sou word! O, dit weet so `n owerste van `n sinagoge baie goed en hy sal u daarom alles laat sien en onthul. Soos wat selfs die hoëpriester te Jerusalem die sogenaamde allerheiligste, wat hy voor die aangesig van die volk en volgens die geloof van die volk self maar tweemaal mag betree, elke dag aan hoë en magtige vreemdelinge moet laat sien en selfs vir geld ook aan ander vreemdelinge laat sien. Iemand van ons moet net probeer om dit te wil sien, dan staan die duiwelswater al klaar!

[4] `n Aantal tempeldienaars, die sogenaamde geheimbewaarders, weet weliswaar hoe dit daar in die allerheiligste uitsien. Maar hulle het ten eerste `n goeie weg en ten tweede word hulle met honderd doodstrawwe gedreig as hulle dit in die minste verraai en daarom weet hulle dan ook om hulle mond te hou. Maar dit gee nog meer aanleiding tot die vraag waar ons dan die ware kennis oor ons hoogs geheimsinnige godsdiens vandaan sou kon kry!

[5] Onder hierdie omstandighede, wat ons u nou vir ons noodsaaklike verontskuldiging uitgelê het, sal u as regter en mens tog hopelik geen ander as `n totaal regverdige oordeel oor ons kan uitspreek nie!

[6] Waarin ons tekort skiet, sal u gewis lankal weet. Hoeveel skuld ons daaraan het, sal u hopelik duidelik kan aflei uit alles wat ons sonder vrees en sonder om iets agter te hou oor onsself vertel het! As daar egter aan u nog ander sake aangaande ons bekend is, beskuldig ons dan, dan sal ons onbevreesd vir u rekenskap gee, want wie moedig kan sterwe, kan ook moedig praat!"

[7] Julius sê heel bedaard: "Dit is ver van my om julle woorde nog verder te wantrou, omdat ek maar al te veel daarvan oortuig is dat dit in die tempel so gaan soos wat julle dit nou vertel het en daarom spreek ek julle van elke verdere skuld vry. Want wie van die dak afval en deur sy val `n kind wat onder die dak speel, ernstig beseer, kan heeltemal niks daaraan doen nie. In hierdie opsig is ons verhoor dus klaar en julle is wat dit betref vrygespreek van enige skuld of straf.

[8] Maar daar is nog iets! Daaroor sal ek julle nog `n vraag stel; die antwoord van hierdie vraag hang af of ek julle vriend of vyand sal wees - let dus op!

[9] Julle sal teen hierdie tyd sekerlik al gehoor het dat daar in Nasaret `n sekere Jesus, `n Seun van die timmerman aldaar, as Verlosser rondtrek en hy skyn sigbaar vir almal groot, ongehoorde dinge uit te voer en `n nuwe leer van God onder die volk te versprei! As julle iets daarvan af weet, sê dit dan openhartig vir my, want ek vind dit baie belangrik!"

[10] Suetal sê: "Ons het wel van ver af iets daaroor hoor fluister, maar dit sal nouliks `n honderdste deel wees van wat u waarskynlik lankal reeds weet. In die eerste plek was ons altyd meer in die suidelike streke besig met die uitvoering van ons fyn uitgewerkte opdragte en ons het slegs `n paar dae gelede in hierdie Galilese landstreek aangekom. Ons is toe gou gevange geneem, en kan u daarom feitlik niks oor u genoemde Verlosser vertel nie, maar dat Sy Naam al tot in Damaskus en Babilon bekendheid verwerf het, is seker. Wat Hy verder as mens is, wat Hy doen en hoe Hy siekes genees, daarvan weet ons nog niks nie. Daarom verlang ons self baie daarna om iets meer daaroor te hoor! Ja, as daar êrens nog `n God is, dan kan Hy die kwaad van die tempel immers nie langer meer aansien nie en moet Hy vir die volk `n verlosser stuur!

[11] Ons wil u wel vertel dat alles wat die mens in sy groot verdorwenheid, in sy meer as sataniese fantasie ook maar kan uitdink, daadwerklik binne die uitgestrekte mure van die tempel gedoen word. Matelose en tallose sondes word daar teen die mensdom begaan en wel so onverskillig brutaal dat u u dit nie kan voorstel nie! Die hoë menere van die tempel skyn die mense nie meer waarde toe te ken as `n nuttelose mossie nie. Ek wil met geen woord spreek oor die baie ligvaardige oortreding van alle gebooie van God nie, maar nuwe gruwels word daar bedink en begaan, waarvan Moses kennelik nooit gedroom het nie, want anders sou hy op sulke gruwels sekerlik `n honderdvoudige dood en `n tienvoudige hel as straf geplaas het! In die belang van die mense is dit egter beter dat ons geen woord meer daaroor spreek nie!

[12] `n Mens sou die mensdom egter sekerlik `n groot diens bewys as `n mens op `n nag die tempel met bewoners en al met één klap sou kon vernietig. Die mensdom het daarom lankal `n verlosser nodig, maar dié moet die mensdom verlos van die helse drake-heerskappy van die tempel en veral nie ons Judeërs van u Romeine nie- want u hoort ook by ons verlossers - ! Dan, meester, sal die arme mensdom in luide gejuig van vreugde losbars, omdat hulle van hulle ergste vyande verlos is!

[13] Vriend, is daar iets meer brutaal denkbaar as die gedagte dat God die Almagtige aan `n baie kwaadaardige stofwurm al Sy mag oor alle mense en oor alle ander skepsele so sou gegee het dat hierdie wurm nou na sy eie kwaadaardige willekeur met God Self en met alle mense en met alle skepsele ongestraf sy meer as sataniese bose opset kan uitlewe?! Nee, nee, meester! Dan is daar óf geen God nie, óf God laat sulke duiwels soos in die tye van Noag en Lot hul helse maat volmaak! O groot, heilige God, waar is U, waar bly U tog? Waarlik, wat die tempel nou uitvoer, gaan alle menslike begrip te bowe! Uiterlik vertoon hy weliswaar nog dieselfde troos- en hulp fluisterende gesig soos in die gunstigste geval in die tyd van Salomo, maar inwendig het hy `n onderste hel geword! Maar dit is beter om geen woord meer daaroor te spreek nie en daarom sal ons swyg en verwag ons om van u meer oor die Verlosser uit Nasaret te hoor!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205