Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 44

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Ek is die waarheid, die weg en die lewe

44 Suetal is heeltemal stom van verbasing en hy vra vir Julius: "Meneer, dit is nie te verstane waar hierdie mens die wysheid vandaan kry nie! Ek ken hom tog goed van die tempel af en daar het hy allermins iets van wysheid laat merk! Toe ons saam met hom per skip uit Genesaret hierheen gebring is, was hy die prooi van `n ontsettende raserny en het hy oor die algemeen nie menslik daar uitgesien nie. Sedert dié tyd is daar maar nouliks vier en twintig uur verby en nou is sy wysheidsvlak so hoog wat geen Salomo in al sy wysheid ooit ook maar daarvan sou gedroom het nie! Vertel ons tog wat daar met hom gebeur het! Hoe het hy so verlig van gees geword?"

[2] Julius sê: "Weet julle dan nie dat by God alle dinge moontlik is nie? Pas dit wat hy nou vir julle gesê het in die praktyk toe, dan sal julle self ervaar hoe `n mens in so kort tydjie so `n graad van wysheid kan bereik! ‘Ex trunco non fit Mercurius’ (`n Boomstomp sal nooit `n Mercurius word nie) sê `n Romeins spreekwoord reeds; `n stomp is onbeweeglik en daaraan is geen aktiwiteit te siene nie, terwyl in die sinnebeeldige godeleer van die Romeine geen god so druk besig was soos Mercurius nie. Met Mercurius word hier dus baie druk besig wees bedoel, en met `n boomstomp die grootste moontlike passiwiteit; daarom sal `n boomstomp nooit `n Mercurius word nie. Die wyse woorde sê dan ook dat jy geheel en al besig moet wees om tot die ware wysheid te kom, `n ander bekende weg daarheen is daar nie. Dit is nie net soos `n ander wetenskap te leer nie, maar is slegs maar te verkry deur die ware besigwees volgens die leer van die wysheid.

[3] As julle dus presies te wete wil kom oor hoe Mathael hierdie wysheid bekom het waaroor julle julleself nou so verbaas, dan moet julle eers in julleself dieselfde weg vol inspanninge na die wysheid inslaan, anders is al julle vrae tevergeefs en ook elke antwoord op julle vraag."

[4] Suetal sê: "Dit is alles goed en wel, maar waar word die weg maklik herkenbaar aangegee?"

[5] Julius antwoord: "Dit is nog nie middag nie en tot die aand is daar nog ruimskoots tyd, in dié tyd sal julle nog heelwat hoor en meemaak en die weg sal vir julle duidelik uitgelê word. Oordink nou egter wat julle gehoor het, dan sal alles wat nog sal volg goed te verstane wees. Hiermee is julle nou ook vry en sonder straf verklaar, maar moet nooit weer die neiging hê om julle ooit teen ons te draai nie, want dan mag dit gewis slegter met julle gaan as nou!"

[6] Na hierdie woorde stap Julius `n paar treë in ons, naamlik na My en Cyrenius, se rigting en vra My of die behandeling en die oordeel heeltemal in orde was.

[7] En Ek sê: "Is jou hart tevrede daarmee, dit wil sê, die innerlike stem van die liefde in jou hart? Wat sê dit?"

[8] Julius antwoord: "Daar heers die grootste tevredenheid daaroor en tewens egte sorg om hierdie mense op die goeie lewensweg te bring!"

[9] Ek sê: "Nou ja, in daardie geval is alles heeltemal in orde en sal daar met hierdie mense sekerlik veel goeds bereik kan word. Maar natuurlik sal hulle nog menige klein proewe moet ondergaan. Dat julle hulle in die vreemdelingelegioen opneem, is goed, maar julle moet hulle voldoende geleentheid gee om verder op die bekende heilsweg te kan gaan. Die vyf, met Mathael aan die hoof, moet julle oor die legioen verdeel. Hulle sal julle almal in My Naam goeie dienste bewys en in `n kort tydjie hul innerlike wysheid op die regte wyse toepas. Maar voorlopig mag hulle hulleself nie in Galiléa ophou nie, want dit sal nie so baie lank duur voordat die tempel snuf in die neus daarvan kry dat hierdie sewe-en-veertig lede hom die rug toegekeer het en deur Herodes sal die tempel op hulle laat jagmaak. As hulle egter nie in Galiléa en ook nêrens anders gevind kan word nie, sal die speurders weer onverrigter sake terugkeer. Mense sal die sewe-en-veertig dan as verongeluk en verlore beskou en hulle nie verder oor hulle bekommer nie. So bly julle Romeine buite skoot en deur julle die sewe-en veertig ook en elkeen is sonder `n leuen ten beste geholpe!"

[10] Cyrenius vra: "In Tirus en Sidon sal hulle tog gewis veilig wees? Want daar is maar baie min Judeërs."

[11] Ek sê: "O ja, daar is hulle veiliger as in Galiléa, maar hulle sou nog veiliger wees in Afrika of in `n stad aan die Pontus Euxinus* (*Gasvrye see, bynaam vir die Swartsee)."

[12] Cyrenius sê: "Goed so, ek sal wel `n goeie plek vir hulle opspoor waar hulle ongehinderd deur die Judeërs kan bly en as hierdie speurneuse ook aan die kant uitkom, dan het ons nog ander middele om hul neuse ongevoelig te maak vir alle geure!"

[13] Julius sê: "Ek vind dit werklik jammer, veral van die vyf, want dit is werklik verbasend hoe wys hulle is. `n Mens sou deur hulle baie gouer die ware lewensdoel kon bereik as wanneer `n mens aan homself oorgelaat is."

[14] Ek sê: "Vriend, die enigste wegwyser, die enigste weg en die enigste doel is Ek! Wie gee aan die vyf wat hulle het? Net Ek! As Ek egter van vyf baie besetenes in `n oogwink baie groot wyses kan maak, sal ek dit met jou, wat nie so besete is nie, ook tog kan doen!

[15] Ek alleen is immers die Waarheid, die Weg en die Lewe! As jy My het, waarvoor het jy dan hierdie vyf nog nodig?! Ja, hulle moet en sal deur My en slegs in My Naam ook talle goeie dienste aan die mensdom bewys. Maar jy het hulle nie nodig nie, te meer omdat daar in die stadjie Genesaret `n Ebahl, `n Jarah en selfs `n Rafael is! Waar op aarde bestaan daar op hierdie oomblik nog `n plek wat in die geestelike opsig beter versorg is?

[16] Het jy nie die vraag van Suetal gehoor nie, wat wou weet hoe en deur wie of wat die vyf so vinnig die grootste wysheid bereik het nie? Kyk, jy weet dit wel, en vir die twaalf is dit nog `n raaisel maar beslis nie vir jou nie! Noudat jy egter weet wat die twaalf nog nie weet nie, hoe kan jy die vyf dan beskou as byna so wys as wat Ek is?"

[17] Julius sê `n ietwat bedremmeld: "Heer, die rede is omdat ek `n bietjie dom was. Maar nou is alles heeltemal in orde en nou eers doen U voorskrif my baie genoeë vir die sewe-en-veertig mense en alles sal stiptelik opgevolg word! Maar sal U, o Heer, my dommigheid deur U goddelike barmhartigheid oorsien!"

[18] Ek sê: "Ek kan niks van jou oorsien nie. As jy egter met en in jouself weer in die reine is, dan is wat My betref ook alles in orde en is al jou sonde kwytgeskeld.

[19] Maar gaan nou en laat vir die twaalf mense brood, wyn en sout bring, want ook hulle het al twee dae lank kwalik meer geëet as `n muggie! Tot nou toe het slegs My wil hulle op die been gehou, maar noudat die geleentheid daar is, moet hulle ook op natuurlike wyse met spys en drank versterk word; laat dit so gebeur!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205