Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 73

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Verwondering oor Rafael se skryfkuns

73 Cyrenius sê: "Ja, ewige, geestelike Majesteit en Heer! Oor hierdie onderwerp het ek nou geen meer verdere vrae nie. Dit is alleenlik hoogs wenslik dat dit alles woordeliks opgeskryf moet wees, want dit omvat `n hele grondwet."

[2] Ek sê: "Kyk, Rafael sal dit vir jou doen, laat daarom skryfmateriaal vir hom bring!"

[3] Cyrenius beveel dadelik sy dienaars om vir skryfmateriaal te sorg, en hulle bring vinnig `n behoorlike hoeveelheid onbeskrewe perkamentrolle, en ook etlike koperplate om op te graveer. Nadat alles gebring is, roep Ek vir Rafael, wat vinnig na ons tafel toe kom en aan Cyrenius vra hoe hy dit geskryf wil hê, op perkament of op koperplate.

[4] Cyrenius sê: "Vir die daaglikse gebruik is dit beter op perkament, maar vir die latere nakomelinge sal dit beter en houbaarder op koperplate bewaar kan word. Maar as ek dit eenmaal volledig op perkament het, sal ek ook sorg vir `n afskrif op die koperplate."

[5] Rafael sê: "Weet u wat, omdat dit my tog nie meer of minder moeite en werk besorg of ek alles nou één of tweemaal opskryf nie, sal ek op één slag die rolle én die plate beskryf!"

[6] Die twaalf aan die aangrensende tafel maak groot oë en wil nou baie graag toekyk en sien hoe die jongman tegelyk met altwee hande sal skryf.

[7] Suetal sê nog spesifiek vir Ribar: "Nou, vir die dubbele skrywery is ek baie benoud! Die groot Heer uit Nasaret moet dus ook `n bekwame skoolmeester wees, want hierdie soort skryfwerk het ek nog nooit gesien nie. Maar die son sal waarskynlik al ondergegaan het voordat hy alles opgeskryf sal hê wat die baie wyse Griek – wat gewis ook `n ouer leerling van die Nasarener is – so pas gesê het!"

[8] Ribar sê: "Dit is sterk afhanklik van sy snelheid van skryf! Miskien kan hy sy toorkuns ook by die skrywe gebruik, waarvan ons net so min weet as van die tot stand bringing van die vroeëre wonderdade. Ons het dit gesien en ook ondervind, maar hoe en waardeur dit tot stand gebring is, daarvan het ons nie die vaagste idee nie! Daarom moet ons `n voorgenome daad by hierdie mense, wat in ons teenwoordigheid al sulke groot dinge gedoen het, nooit vooraf in twyfel trek nie, totdat ons van die teendeel oortuig word deurdat die een of ander voorneme misluk!"

[9] Suetal sê; "Ja, ja, hierdie mening huldig ek ook, maar jy moet tog iets sê!"

[10] Ribar sê: "Broer, dit is hier werklik beter om altyd te swyg en verder maar net te kyk en te luister! Kyk, die jongeling kry die rolle en die plate gereed! Let dus maar goed op, want hy sal nou seker dadelik begin skryf!"

[11] Suetal staan nou op en staar noulettend hoe die veronderstelde jong leerling sal skrywe, maar toe hy skerper toekyk, ontdek hy dat alle rolle en plate alreeds volgeskryf is. Buite homself van verbasing daaroor, roep hy hardop: "Nee, iets groters as hierdie wonder bestaan daar nie! Ons wag nog dat die leerling moet begin met sy dubbele skrywery, en kyk nou, hy het alles alreeds klaar! Ag, dit gaan alle menslike begrip volkome te bowe en van so iets is daar nog nooit gehoor nie!"

[12] Met hierdie uitroep van Suetal staan al twaalf nou op, kyk na die geopende rolle en na die dig beskrewe plate, en almal oortuig hulself daarvan dat die rolle sowel as die plate heeltemal beskrewe is met goeie, suiwer en goed te lese skriftekens, en hulle vra hulleself af: "Hoe is dit nou moontlik?"

[13] Rafael merk die verbasing van sy tafelgenote en sê vir Suetal: "Kyk, dit kom van die agt visse wat ek geëet het, waarop jy ietwat jaloers was. `n Mens moet eers heelwat krag opbou as `n mens so `n werk goed wil uitvoer! - Of dink jy nie so nie?"

[14] Suetal sê: "Beste, wonderbaarlike vriend, jy wil my `n bietjie terg, maar daarvoor gee ek nie om nie, want ek sien dat jy `n enorme dosis goddelike almag besit en met jou sal nie getwis word nie! Die agt visse het jou sekerlik nie so `n almag gegee nie, maar slegs die goddelike, groot Heer uit Nasaret het dit vir jou gegee! Sorg jy daarom dat ons Hom nou vinnig te siene kry! Ons hart laat ons nou nie meer met rus nie, ons moet Hom sien en spreek! - Want nou sou óns ook graag vir Hom wil sien en spreek!"

[15] Rafael sê: "Wees nog bietjie geduldig totdat ek die geskrewene hier heeltemal in orde het, daarna sal ons eers gaan sien waar die groot Heer moontlik vir die blindes en dowes sit!" Daarmee is die twaalf tevrede en voorlopig hou hulle hulleself kalm.

[16] Rafael rangskik die rolle nou ordelik bymekaar en gee dit tesame met die plate aan die ook nie min verwonderde Cyrenius nie, wat dit dadelik deurkyk en die korrektheid daarvan verbasingwekkend vind.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205